Senator McCain vir kleurryke loopbaan onthou

John McCain en sy vrou Cindy in 2008. Foto: AP Photo/Charles Dharapak

Op 29 Augustus 1936 is John Sidney McCain in Panama gebore waar sy vader in die Amerikaanse vloot diens gedoen het. Verlede week is McCain ná ’n kleurryke loopbaan in die ouderdom van 81 oorlede. John McCain sal onthou word vir sy kragdadige teenwoordigheid oor die afgelope meer as drie dekades in die Amerikaanse kongres, eers as lid van die huis van verteenwoordigers en daarna as senator vir die deelstaat Arizona.

McCain het bekendheid verwerf as ’n vegvlieënier wat tydens die Vietnam-oorlog gevange geneem, gemartel en eers ná vyf jaar as krygsgevangene vrygelaat is. Ná die oorlog het hy vir ’n tydperk vir die Amerikaanse vloot bly werk totdat hy in 1982 tot die politiek toegetree het.

John McCain het altyd groot aspirasies gehad. Hoewel hy as student by die Amerikaanse Vloot Akademie in Annapolis slegs 894ste uit ’n klas van 899 studente kon eindig, het hy voortgegaan om ’n bekende vegvlieënier te raak. Ná die Vietnam-oorlog het McCain geen vordering in sy loopbaan in die vloot gemaak nie, net om met die hulp van goeie kontakte in Washington DC en die finansiële bydrae van sy skatryk tweede vrou, ’n suksesvolle verkiesingsveldtog in ’n kiesdistrik in Arizona (waar hy nooit voorheen gewoon het nie) aan te pak.

Kort nadat McCain in 1987 tot die Amerikaanse senaat toegetree het, het die bewerings reeds die rondte begin doen dat hy aspirasies gehad het om homself as presidentskandidaat vir die Republikeinse Party beskikbaar te stel. In ’n harde stryd in 2000 het McCain die nominasie vir presidentskandidaat net-net teen George W. Bush verloor. In 2008 kon McCain uiteindelik daarin slaag om as presidentskandidaat aangewys te word. McCain sou egter voortgaan om teen Barack Obama te verloor.

Oor die afgelope jaar of wat was John McCain nie net in die nuus vir sy stryd teen kanker nie, maar ook vir sy afkeer van die huidige Amerikaanse president, Donald Trump. Hy het selfs sover gegaan om Trump te versoek om ná sy dood nie sy begrafnis by te woon nie.

John McCain se politieke loopbaan sal altyd onthou word vir sy sterk intervensionistiese benadering tot internasionale politiek en sy onvoorspelbare optrede wat partykeer kollegas in sy party verstom het. McCain se stemme ten gunste van liberale regters in die Clinton-era en sy samewerking met Demokrate op verskeie terreine, soos die regulering van die finansiering van politieke veldtogte, is slegs enkele voorbeelde hiervan.

Dit was egter McCain se oorlogslustige benadering tot Amerikaanse optrede in die buiteland wat hom die titel van hoofseun van die intervensioniste besorg het. Hy was ’n groot ondersteuner van die oorloë in Afganistan en Irak en het oor die afgelope paar jaar die Amerikaanse regering aangemoedig om in lande soos Sirië en Libië betrokke te raak. McCain was selfs ’n ondersteuner van Saoedi-Arabië se bloedige oorlog in Jemen en het nog onlangs Amerika aangemoedig om Iran aan te val.

McCain het tydens sy lewe ’n duidelike stempel op die Amerikaanse politiek afgedruk. Hy sal vir sy vasberadenheid as krygsgevange en sy onafhanklike denke as verkose verteenwoordiger van sy mense onthou word, maar ongelukkig ook vir sy steun aan mislukte Amerikaanse intervensionisme en sy gereelde afwyking van gesonde konserwatiewe beginsels.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Charles ·

Senator “McStain”, vyand van die Amerikaanse konserwatiewes; en ‘n ware RINO in hart en siel.

Is dit ‘n MOET dat mens moet se dat DIE onderduimse en manteldraaier van ‘n politikus (EN GESWORE VYAND VAN DIE LEIER VAN DIE WESTERSE RENAISSANCE – PRESIDENT D.J. TRUMP) gemis gaan word, net om *polities korrek* te wees?? Ek hoop nie so nie, want dit is NIE die geval nie.

RINO ·

Jy is reg, Charles; McCain was ‘n “stain” op die mensdom – een massiewe “fraud”. Derduisende gaan hom nie mis nie.

Jerry ·

Mcain het geleef volgens die beginsel van “evil can only truimph when good men do nothing!” Hy het homself dus geag as n goeie man wat binne sy magte en dmv militere ingryping geregtigheid gebring het aan mense wat onder diktatorskap gely het. Die feit dat hy geen geheim daarvan gemaak het dat hy geen ooghare vir Trump gehad het nie spreek boekdele van n man wat onheil op n afstand kon eien en aanvoel.

Willie ·

Baie bly om te sien almal wat kommentaar lewer is bewus van die ware feite rakende McCain.

Marthinus Willemse ·

Leopold Scholtz het `n goeie stuk geskryf oor oudsoldate, en hoe hulle kan help met versoening. [Oudsoldate dui roete vir SA aan, 23 Augustus 2018, Netwerk 24/ Stemme/Menings] Oliver Stone, Viëtnam-veteraan, se fliek “Platoon” eindig met die hoofkarakter wat mymer, dat elke oudsoldaat dit wat hy beleef het, moet terugploeg in die siviele samelewing in, om dit, en die wêreld, `n beter plek vir almal te maak. Dít was nou nie John McCain se lewe en ideale nie.

Omdat ek nog issues met die ou SAW het, het ek Leopold se skrywe besoedel met my smartdig. Maar ek gaan hipokrities wees, en McCain kritiseer: Hy was `n hedendaagse Joseph McCarthy, wat Rusland as die grootste gevaar gesien het, en Rusland en die wêreld as slaaf van Amerikaanse uitsonderlikheid wou sien.

John McCain was een van die grootste gifappeltjies in internasionale politiek. In 2014 was hy op die Maidanplein in die Oekraïne, waar hy die volk opgesweep het om met geweld van hul demokraties-verkose president , Wiktor Janoekowitj, ontslae te raak. Toe word `n staatsgreep uitgevoer, Janoekowitj word deur `n Withuis-marionet vervang, en John en sy mede-valke, soos Lindsey Graham, Hillary Clinton, Samantha Power, hou krismis.

In `n onderhoud met Oliver Stone vertel Wladimir Poetin dat hy McCain se patriotisme, en sy fokus op Amerikaanse leierskap, admireer. John Kerry, voormalige minister van buitelandse sake, was ook soldaat in Viëtnam, en is driekeer gewond. Hy kon rede verstaan, partykeer; McCain was hardvogtig en onbuigsaam, en het baie smarte veroorsaak.

Juan ·

Daar is pow’s wat in die openbaar verklaar het dat McCain nooit gemartel is nie, sy sogenaamde been en arms wat gebreek was, was agv sy beserings toe sy vliegtuig af geskiet is.
Daar is 32 videos van hom gemaak deur N-Vietnam waar hy basies dieselfde stellings gemaak het as Jane Fonda spesifiek rondom die tipe teikens wat VSA geteiken het, nl die bombardering van skole, klinieke en tempels.
McCain het geglo in oop grense en wou graag VSA in so veel moontlik konflik betrokke kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.