Serwië en Kosovo: Kan grensverandering vrede bring?

kosovo-vlag

Die amptelike landsvlag van die Republiek van Kosovo, die jongste land in Europa. Foto: En.wikipedia.org

Die Balkan in Suidoos-Europa is spreekwoordelik vir klein staatjies en ’n etniese lappieskombers wat die oorsaak van eeue se onstabiliteit, oorloë en verowering deur groter moondhede is, tot in die onlangse verlede.

Kosovo, voorheen ’n provinsie van Serwië wat oorwegend deur Moslem-Albanese bevolk word, het na ’n jare lange stryd sy onafhanklikheid in 2008 eensydig uitgeroep. Sedertdien word dit deur die meerderheid van die wêreld se onafhanklike state erken, waaronder die meeste state van die Europese Unie (EU) en die VSA. Serwië as eertydse moederland weier egter om Kosovo se onafhanklikheid te erken. Een rede is ook dat ’n aansienlike aantal Serwiërs in Kosovo woon en dat die moederland hulle nie wil versaak nie. Die Serwies bevolkte deel in die noordooste van Kosovo het ná onafhanklikheid dikwels in opstand gekom omdat hulle nie deel van Kosovo wil wees nie. Verskeie state, onder meer, Rusland en China, maar ook Suid-Afrika, weier om Kosovo se onafhanklikheid te erken, deels uit steun vir Serwië, deels uit vrees om eensydige afskeidings daardeur te wettig.

Kosovo wil graag sy internasionale erkenning verhoog en sowel Kosovo as Serwië wil graag deel word van die EU, maar ’n vredesverdrag tussen hulle is ’n voorvereiste vir algemene erkenning en vir lidmaatskap van die EU. Die EU as selfverklaarde “vredesprojek” kan nie interne territoriale konflik bekostig nie en soek ook nie lede wat vyande van mekaar is nie.

Die onopgeloste konflik oor Siprus byvoorbeeld keer tot vandag toe dat Turkye ’n lid kan word.

In beginsel kon die twee leiers van Serwië en Kosovo, Aleksandar Vucic en Hashim Thaci, saamstem dat hulle hul konflik die beste kan oplos deur gebiede en hul bevolkings te ruil. Die Serwies bevolkte deel in die noordooste van Kosovo met sowat 100 000 mense kan redelik maklik geruil word vir die Presevo-vallei in die suidweste van Serwië, wat sowat 50 000 etnies Albaniese inwoners het en oppervlakgewys feitlik ewe groot is as die deel wat Serwië moet kry. Vir Serwië, ’n land met ’n ouer wordende en krimpende bevolking (anders as Kosovo, wat die hoogste bevolkingsaanwas in Europa het), het die uitruiling ook ’n positiewe demografiese newe-effek. Immers het hulle Kosovo verloor weens die vinnige vermeerdering van die Albanese daar. Kosovo het 2 miljoen inwoners, Serwië het 8 miljoen.

Die magte wat die onafhanklikheid van Kosovo waarborg, soos die VSA en die EU, is in beginsel oop vir so ’n stap as dit tot ’n verstandhouding tussen die twee vyande lei. Die EU se gevolmagtigde vir buitelandse aangeleenthede (effektiewelik die EU se minister van buitelandse sake) Federica Mogherini, wat volgende jaar uittree, is ook positief en sal só op ’n hoë noot en met ’n blywende nalatenskap haar andersins onopwindende termyn beëindig.

Die pragmatiese en eintlik logiese stap om op vreedsame wyse volke by hul onderskeie moederlande te laat aansluit, vind egter veel weerstand uit die kamp van die globaliste, wat etniese verskille en die bestaan van volke ontken en liefs so veel as moontlik verskillende groepe wil saamgooi in een geografiese gebied.

Voorspelbaar is Duitsland se kansellier Merkel gekant teen ’n grensverandering. Daar is wel die risiko dat nou ook ander volke in die streek grensveranderings eis, byvoorbeeld in die multi-etniese Bosnië wat met veel moeite tans redelik vreedsaam is. Die voorvereiste van enige grensverandering moet egter wees dat dit vreedsaam en met wedersydse aanvaarding onderhandel is. Daar waar grensveranderings nie moontlik of prakties is nie, moet die grootste mate van interne outonomie toegestaan word.

Indien die onderhandelinge suksesvol is en ’n gebiedsruiling en ’n wedersydse erkenning bereik word, is al twee lande se kanse goed om lede van die EU te word, en dan sal (waarskynlik ook) buurlande soos Montenegro, Macedonië en Albanië lede word. Of dit goed vir die EU is om nog meer arm lidlande te bekom wat fondse opvra en nie bydra nie, is ’n ander vraag, maar die EU is deesdae meer ’n politieke as ’n ekonomiese unie en die verwagting en hoop is dat lede binne die EU nie oorlog teen mekaar voer nie. Hoe sou die ou Romeine gesê het: Pretium non novit pacem (Vrede het geen prys nie).

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Paul ·

Aha, so beweeg ons al nader na die waarheid toe, soos dit in die wêreld ontplooi. Nou moet nog net die realiteit by die mense insink.

Rasper ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mense eerder sal toelaat dat mense uitgemoor word, voor daar aan grenslyne verander moet word. So asof die grenslyne soos dit vandag is, getrek is toe Adam en Eva in die tuin rondgeloop het. Die ergste is dat die mense wat daardie lyne trek, nie eers bly waar hulle in al hulle wysheid besluit het die lyne moet wees nie. Bv. Die Weskaap kan meer voordeel trek om op hulle eie te wees, as om deel te wees van die groter Suid-Afrika. Vir elke voordeel, sal daar tien nadele wees. Maar vra nou net vir iemand hoekom die Kaap nie kan afstig nie. Die antwoord is “sommer nie”. Maar sommer is nie ‘n rede nie.

Kosie Kramer ·

Ek hou van Federica Mogherini. Sy het die moed van haar oortuiging, maar ook gesonde verstand.

Rupert Ashford ·

Mmm, nou wonder ek hoekom die SA regering nie so ‘n onafhanklike nasiestaat wil erken nie… Selfbeskikking!!! Nou!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.