Sewe maniere waarop die SA regering swart mense stief behandel

SAvlagVerashni Pillay se onlangse artikel in die Mail & Guardian, “Six things white people have that black people don’t”, bring ons nie veel nader aan ’n oplossing vir rassepolarisasie in Suid-Afrika nie.

Te oordeel na die kommentaar deur diegene voor en diegene teen die artikel, glo ek die artikel het in ’n mate bygedra tot die aftakeling van sosiale samehorigheid in Suid-Afrika.

As wit Suid-Afrikaner en ’n senior amptenaar in ’n organisasie wat sommige (hoewel nie alle) gesigspunte deel wat Pillay die harnas in jaag, kon ek nie anders as om in die gesig gevat te voel oor haar simplistiese benadering nie. Die artikel is feitlik sonder enige feitegrondslag en die skrywer gee selfs toe dat sy die probleem in “breë trekke” veralgemeen. Hoewel ek glo dat Pillay ’n uitstekende joernalis is, het haar simplistiese siening van ons geskiedenis en sake van die dag haar met ’n oorvereenvoudigde perspektief gelaat, gestroop van ’n broodnodige nuanse.

Maar my grootste probleem is nie soseer haar duidelike frustrasie met wit mense nie, maar eerder die feit dat hierdie frustrasie misplaas en in ’n verkeerde koers is.

Swart Suid-Afrikaners voer inderdaad ’n sukkelbestaan. Die eintlike probleem is egter nie die gesindheid van wit mense nie, maar dat die Suid-Afrikaanse regering hulle grootliks in die steek gelaat het.

  1. Die opvoedkundestelsel is disfunksioneel. Angie Motshekga, destydse LUR vir onderwys in Gauteng, is berug daarvoor dat sy in 2009 haar stoel by die departement verlaat het om vir Jacob Zuma se presidentskap propaganda te maak. Toe sy daarvoor voor stok gekry is, was haar antwoord dat haar politieke werk by die ANC belangriker is as haar werk by die departement van onderwys. Pleks van dissiplinêre stappe omdat sy haar plig versaak het, is sy bevorder tot minister van basiese onderwys. Sedertdien het ons president haar en haar departement herhaaldelik lof toegeswaai, ondanks die feit dat slegs sowat ’n derde van alle Suid-Afrikaanse leerders die afgelope jaar matriek in die voorgeskrewe 12 jaar kon behaal. Dit is geen geheim nie dat swart kinders swaarder trek wanneer dit by onderwys kom – die meeste disfunksionele skole is immers in swart woonbuurte. Onderwysers in swart staatskole werk gemiddeld 3,5 uur per dag – sowat die helfte van die ure wat onderwysers in die eertydse Model C-skole insit. Motshekga het erken dat sowat 85% van Suid-Afrikaanse skole disfunksioneel is.

 

  1. Regstellende aksie is nie net onwettig kragtens internasionale wetgewing nie, wat ’n oorgangsklousule vereis, maar ook nie bevorderlik vir die meerderheid swart Suid-Afrikaners nie, wat steeds in haglike armoede leef. Die probleem is dat die opleiding en bekragtiging van mense om op ʼn gelyke grondslag te kan meeding, volkome verwaarloos word ten gunste van die obskure beginsel van “verteenwoordiging”. Laasgenoemde impliseer wesenlik dat die mikpunt van gelykheid verwesenlik sou kon word sodra die arbeidsmark verteenwoordigend is van die bevolkingsdemografie – ongeag of daardie swart werknemers bloot daar geplaas is oor hul ras. Dit is ’n duidelik bekrompe poging tot ’n kitsherstel van die gelykheidskrisis op formele vlak, terwyl doeltreffendheidsgelykheid by die agterdeur uitgegooi word.

 

  1. Suid-Afrika het nou basies een diensleweringsbetoging elke tweede dag. In sommige gevalle het swak dienslewering selfs gelei tot sterftes onder inwoners van informele woonbuurte (townships), soos die geval in Bloemhof waar ten minste 15 babas dood is ná die opdoen van waterverwante siektes weens besmette drinkwater. Dit het dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge (SAIRV), aangespoor om te skryf dat hierdie babas gesterf het weens onverdienstelike regstellendeaksie-aanstellings.

 

  1. Die gevolg van ondoeltreffende regering is dat die rykes toenemend dinge privatiseer wat die regering in die eerste plek behoort te gedoen het – en ’n sterk argument is gestel dat regstellende aksie die sondaar is. In 1986 was 95% van alle hospitaalbeddens in Suid-Afrika (117 842 van 123 967) in staatshospitale. Teen 2013 het die getal hospitaalbeddens afgeneem tot 84 920 en die getal beddens in privaat hospitale toegeneem tot 37 869. As hierdie neiging voortduur, sal die getal beddens in privaat hospitale weldra dié in die staatsektor verbysteek. Die SAIRV se bevinding is: Terwyl Suid-Afrika ’n afname van 9% in staatskole tussen 2000 en 2010 beleef het, het die aantal privaat skole in dieselfde dekade met 44% gestyg. Met meer as 9 000 privaat sekerheidsmaatskappye en 400 000 geregistreerde privaat sekerheidsbeamptes (meer as die Suid-Afrikaanse polisie en weermag gesamentlik) is die privaat sekerheidsbedryf in Suid-Afrika die grootste ter wêreld. Nodeloos om te sê, toegang tot privaat hospitale, skole en sekerheidsmaatskappye is duur en meestal ontoeganklik vir die meerderheid swart Suid-Afrikaners wat onder ’n versukkelende staatsektor moet ly.

 

  1. Nog ’n unieke probleem wat deur swart Suid-Afrikaners in die gesig gestaar word, is dat hulle dikwels nie die voordeel van die twyfel kry nie. Die sterk beweging om swart Suid-Afrikaners in te sluit ongeag verdienstelikheid laat vele wit Suid-Afrikaners met agterdog teenoor swart Suid-Afrikaners wat sukses bereik. Huiskomitees by universiteitskoshuise is dikwels ’n teelaarde vir rassewrywing, om maar een voorbeeld te noem. Baie universiteite dwing rassekwotas af op huiskomiteelede. Dit lei tot die tragiese situasie waarin verdienstelike swart leiers, wat ingestem sou word, dikwels misken word as onverdienstelike kwotas wat bloot daar geplaas is om die swart kwotatal te vul. Dieselfde geld vir sport- en beroepsbeleidstellings.

 

  1. Swart Suid-Afrikaners word ook vasgeknel in ’n siklus van armoede en werkloosheid deur ’n verlammende stelsel van maatskaplike toelaes. Sowat 16 miljoen Suid-Afrikaners (omtrent ’n derde van die bevolking) ontvang maatskaplike toelaes, wat die land meer as R109 miljard slegs in die finansiële jaar 2013/2014 gekos het. Die tragiese ironie is: Pleks daarvan om dit as ’n verleentheid te beskou, is dit ’n syfer waarop die Suid-Afrikaanse regering trots is. Tydens die afgelope nasionale verkiesing is dit selfs op plakkate uitgebasuin as trotse toonbeeld van die beweerde doeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse regering. Rojale besteding aan maatskaplike toelaes, tesame met ons rampspoedige onderwysstelsel, dien net om hierdie Suid-Afrikaners in die siklus van armoede en werkloosheid te hou. Sonder ’n duidelike paradigmaskuif sal hierdie situasie net vererger.

 

  1. In teenstelling met die populêre (of moet ek eerder sê populistiese) aanname, sal die arm Suid-Afrikaners kwaai getref word deur die stropingsveldtog teen Suid-Afrikaanse boere. Ondanks die feit dat Suid-Afrikaanse handelsboere jaarliks teen ’n tempo van sowat 134 per 100 000 (in teenstelling met die Suid-Afrikaanse jaarlikse moordkoers van 32 per 100 000) vermoor word, weier die Suid-Afrikaanse regering onwrikbaar om hierdie misdaadverskynsel as prioriteit te stel. Sedert die ANC sy magsgreep verstewig het, het die getal handelsboere in Suid-Afrika van amper 60 000 tot sowat 35 000 gedaal. Voorts sal die steun vir aggressiewe grondhervorming ook tot nadeel van die armes wees; die minister van grondhervorming, Gugu Nkwinti, het erken om so 90% van wit boere se plase onder die swart bevolking te herverdeel, is bloot teenproduktief. Desnieteenstaande plaas die Suid-Afrikaanse regering nou druk op die landbousektor om ’n onmoontlike 1 miljoen werkgeleenthede teen 2030 te skep. As die druk in die landbousektor tot ’n styging in voedselpryse lei, sal arm mense weereens die hardste getref word.

 

Hoewel die organisasie wat ek verteenwoordig geensins beplan om partypolitiek te betree nie, glo ek die enigste blywende oplossing vir swart Suid-Afrikaners sal wees om die party wat hulle aan bewind gekry het toerekeningsvatbaar te hou, of andersins uit die pad te kry. Intussen is dit uiters misleidend en onverantwoordelik, om dit lig te stel, om te impliseer dat die wortel van swart Suid-Afrikaners se kwaad in wit mense se gesindheid opgesluit lê.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Jacques ·

Goeie artikel. My vraag is of dit onder die buiteland se aandag gebring word en indien wel, gaan hul iets daadwerklik doen daar omtrent? Die VSA, Britanje ens het ons in die verlede geboikot maar sit nou terug en kyk hoe RSA vergaan. Wat n skande….

Drieks ·

Ek sal nooit kan verstaan dat hierdie land deur ‘n verkiesing net so oorgegee was aan die Anc nie. Enige mens, Mandela ook, moes eers opleiding kry vir ‘n beroep. As dit reg gedoen was sou die land nie geval het nie. Dis so goed ek gaan lees om ‘n dam te bou en dan gee jul my die kontrak en ek het geen opleiding of prakties gehad nie. Die Anc het nou hierdie land laat val en nou haat hul die witte nog meer, tewyl hul net hul hand kan uitsteek na ons en hierdie land sal opstaan.

Billy ·

Na Madiba se dood het die ANC n baie arogante houding en daar is n baie groot moontlikheid dat Zuma n derde termyn sal kry.

Chris Erasmus ·

Ek het die me Pillay se artikel gelees en het tot die gevolgtrekking gekom, help my reg as ek verkeerd is, dat sy kwaad is dat haar omstandighede nie verbeter het nie. Sy verplaas haar frustrasie soos die meerderheid van die bevolking na die blankes in die land. Ek weet nie wat haar doelstellings met die artikel is nie maar sy sal by onopgeleides van die samelewing aanklank vind aangesien sy op subtiele manier rassepolirisasie aanhits. Sy vergeet gerieflikheidshalwe dat die Indiers in die land in vergelyking met haar stamland ‘n baie hoër lewenstandaard handhaaf. Sy vergeet ook wat het in 1949 en tot ‘n klein skaal in 1961 met die Indiërs in Natal gebeur. Nou probeer sy die blanke as die sondebok uitmaak. Me Pillay se joernalistiek spreek van tipiese onvolwasse demokratiese gedrag. Sy moet haar feite bymekaar kry en nie kulture met mekaar verwar nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.