Sewentien partye tot Nederlandse parlement verkies

Mark Rutte. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Die meeste partye, sedert Nederland in 1918 met ’n proporsionele kiesstelsel begin het, is Woensdag tot die Nederlandse parlement (die Tweede Kamer) verkies. Sewentien partye deel die 150 setels in die Tweede Kamer wat tekenend is van die voortdurende versplintering van die politiek in Nederland.

Die grootste wenner van Woensdag se verkiesing was die progressief-linkse Democraten-66 (D66) wat sy beste prestasie sedert die party se stigting in Oktober 1966 behaal het. Die party is nou Nederland se tweede grootste party. D66 was die afgelope vier jaar deel van die koalisieregering onder leiding van Mark Rutte. D66 was ’n gunsteling van die Nederlandse hoofstroommedia met talle ontledings wat bewys het dat die party baie meer mediadekking kry as wat sy steunvlakke regverdig.

D66 is ten gunste van persoonlike vryheid en ’n vryemarkekonomie, maar is op sosiale terrein duidelik links en kan as een van die mees vyandige partye teen sake wat Christene raak, beskou word. Die party het die afgelope paar jaar ekologiese sake omarm en ’n sterk progressiewe beleid ten gunste van herwinbare energie, die vermindering van Nederland se koolstofvoetspoor en die uitbreiding van natuurgebiede voorgestaan. D66 het selfs voorgestel dat boere in Nederland se veekuddes gehalveer moet word, ’n voorstel wat tot opstande van boere aanleiding gegee het. D66 is ’n stedelike, elitistiese party van meestal ongelowige links-liberale Nederlanders wat globalisties ingestel is en ten gunste van groter integrasie binne die Europese Unie is.

GroenLinks, die party wat tradisioneel hierdie sake in Nederland steun, het byna die helfte van sy steun verloor en hierdie kiesers het waarskynlik almal na D66 oorgeloop. Nog ’n groot verloorder aan die linkerkant van die politieke spektrum is die Sosialistiese Party (voorheen die Kommunistiese Party) en baie van dié party se kiesers het waarskynlik ook D66 gestem.

Premier Mark Rutte en sy VVD is ook ’n belangrike wenner van Woensdag se verkiesing. Vanjaar se verkiesing is die vierde in ’n ry wat die VVD, onder leiding van Rutte, wen. Die VVD het ook Woensdag enkele setels bygewen en is steeds gemaklik die grootste party van Nederland. Vier verkiesingsoorwinnings in ’n ry is in die Nederlandse politiek ’n uitsonderlike prestasie en Rutte verdien krediet hiervoor. Rutte behoort weer ’n regeringskoalisie te kan saamstel. Rutte se verkiesingsoorwinning maak ook van hom een van die mees senior staatshoofde in Europa en sal sy aansien in Europese politiek verder verhoog.

Nog ’n groot wenner Woensdag was die regse Forum Voor Demokratie (FvD) van die charismatiese jong politikus Thierry Baudet. Die party het tot Woensdag slegs twee setels in die Tweede Kamer gehad, maar die party het sy steun vervierdubbel met ’n sterk boodskap teen inperkings en ten gunste van vryheid en identiteit en die behoud van die Nederlandse nasiestaat. JA21 is ’n party wat verlede jaar van FvD afgestig het en dié party het ook enkele setels gewen. JA21 se veldtog was soos FvD sterk gefokus op Nederlandse identiteit, klassiek-liberale en selfs konserwatiewe waardes en ’n sterk boodskap teen immigrasie.

(Foto: Jeroen JUMELET/ANP/AFP)

Die Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders was die afgelope vier jaar die tweede grootste party in Nederland. Die PVV het Woensdag enkele setels verloor, maar steeds baie goed gedoen en derde geëindig. Die PVV se leierskap was duidelik teleurgesteld met die verkiesingsuitslag. Die PVV het steun afgestaan aan FvD en Ja21.

Die grootste verloorder van Woensdag se verkiesing was egter die Christen-Demokratiese Appèl (CDA). Dié party, deel van die afgelope vier jaar se koalisieregering, het heelwat agteruitgeboer en sy steun afgestaan aan die VVD, FvD, Ja21 en selfs die nuwe BoerBurgerBeweging (BBB) wat onlangs gestig is en wat een setel gewen het. Die BBB is opgerig om linkse partye soos D66 en GroenLinks se aanslag op boere te beveg. Tradisioneel het die meeste boere in Nederland nog altyd vir die CDA gestem.

Die CDA, tradisioneel een van Nederland se grootste partye, het tydens die veldtog ’n sentristiese boodskap probeer oordra en kon nie daarin slaag om konserwatiewe en regse kiesers se aandag aan te gryp nie. Die party het veral in landelike, boeregemeenskappe baie steun verloor.

Die ander twee Christenpartye in Nederland het grootliks stabiel gebly. Die Staatkundig Gereformeerde Party (SGP) het goed gedoen en sy steun behou. Die SGP was nog altyd ’n sterk bondgenoot van die Afrikaner in Suid-Afrika. Die meer sosiaal-sentristiese, maar steeds konserwatiewe ChristenUnie het effens steun afgestaan. Saam het die drie Christenpartye egter heelwat minder steun gekry en het hulle waarskynlik stemme afgestaan aan regse partye soos FvD, Ja21 en BBB. Dit is duidelik dat baie Christene in Nederland in plaas van om vir ’n Christenparty te stem eerder vir ’n reaksionêre, sekulêre regse party gaan stem het.

Woensdag se verkiesing is voorafgegaan deur twee dae van vroeë stemme Maandag en Dinsdag. Die stempersentasie in vanjaar se verkiesing was die ongeveer 82% wat die hoogste sedert 1988 is.

Laurens Dassen, leier van die pro-EU Volt-party. (Foto: Olaf Kraak/ANP/AFP)

Nog nuwe toetreders tot die Tweede Kamer is die progressiewe, pro-EU Volt-party, ’n party wat homself as ’n Europese party beskryf wat reg oor Europa in nasionale verkiesings deelneem. Die ekstreem linkse Bij1 het ook een setel gewen. Een van die kandidate van Bij1 was al in Suid-Afrika by ’n verkiesingsaamtrek van die EFF te sien.

Die afgelope vier jaar was die VVD, D66, CDA en CU in ’n koalisie. Hierdie vier party het saam weer genoeg steun om ’n koalisie te vorm. Dit is moontlik dat Rutte die CU uitlaat of met ’n ander party vervang. Sonder die CU sal die Christenstem in die regering nog meer afgewater wees, maar die VVD, CDA en D66 het saam genoeg setels om ’n meerderheidsregering te kan vorm. Die vraag is of die CDA ná sy loesing weer tot ’n koalisieregering gaan instem.

Nog ’n tendens wat Woensdag voortgesit is, is die verlies aan steun vir arbeiderspartye. Gedurende die twintigste eeu was die Partij van de Arbeid een van die grootste twee of drie partye in Nederland. Die party het in 2017 tot nege setels getuimel en kon hierdie week nie juis daarop verbeter nie. Die Sosialistiese Party wat ook ’n arbeidersparty is, het groot steun verloor.

Nederlandse kiesers het Woensdag ’n mandaat aan Rutte gegee om vir nog vier jaar Nederland op sy tipiese sentristiese, pragmatiese wyse te lei. D66 het ook ’n mandaat gekry om saam met Rutte te regeer. ’n Ernstige waarskuwing is deur konserwatiewe landelike kiesers aan die CDA gestuur dat die party se beweging na links nie geduld sal word nie. Terwyl regse partye in totaal gegroei het, is die groot versplintering van regse partye opvallend en sal dit hulle invloed in die parlement beperk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.