Sien jý die keiser se nuwe klere?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Soos wat die Covid-19-pandemie diep letsels op die Suid-Afrikaanse samelewing, politiek en ekonomie laat, is die ANC-regering onder leiding van president Cyril Ramaphosa gedurig in die kalklig.

Vele invloedryke persone in die Suid-Afrikaanse media en kommentariat het besluit om die president en sy administrasie bankvas te ondersteun en steeds die beul van ’n nuwe dagbreek te blaas. In teenstelling daarmee sien ek dat die mees striemende kritiek uit die mond van die gewone mens op straat kom: van ouers, eienaars van familie-ondernemings en boere. Tog wonder vele steeds waarom hulle nie die keiser se nuwe klere kan sien nie?

Ons hoor gedurig van die “nuwe ekonomie” wat gaan verrys uit die as van die ou ekonomie, wat steeds deur die spook van apartheid geteister word. Ramaphosa betower baie met sy beloftes van ’n nuwe, gelyker, regverdiger ekonomie en samelewing wat hy en sy administrasie gaan help bou. Dis opmerklik dat al die ANC se boublokke vir hierdie “nuwe ekonomie” beleide is wat staatsbeheer merkwaardig uitbrei, soos nasionale gesondheidsversekering, meer rasgebaseerde regulasies en die bevordering van die nasionale demokratiese revolusie.

Daar is ’n rede waarom Bheki Cele verkies om alkohol die skuld vir die land se geweldmisdaadpandemie te gee. Die poging om die misdaadprobleem op te los deur alkohol te verbied, behels ’n verdere uitbreiding van staatsbeheer – terwyl beleide wat burgers bemagtig om hulself en hul gemeenskappe te beveilig, deur die regering ingeperk word.

As jy sukkel om ’n oënskynlik absurde ANC-beleid te begryp, stel jouself dié eenvoudige vraag: “Gee hierdie ‘oplossing’ die regering meer mag, of minder?” Helaas, in die lugkastele van die ANC blyk dit dat die heilstaat maar altyd slegs net één staatsbeheerde skema ver is. Die ewige staatsbelofte staan: “Ons sien die probleem raak; al wat ons benodig, is meer mag, beheer en belasting om dit die hoof te bied.”

Boonop het die ANC ook bedrewe geraak daarin om ’n skynvooruitgang te bewerkstellig. Hulle verkondig wyd en syd dat die grootste hindernis wat tussen Suid-Afrika en ongebreidelde voorspoed staan die geharde, byblywende spook van apartheid is. Dié spook probeer hulle dan onverskrokke uitdryf deur Afrikaanse straat- en skoolname te verander, Afrikaans skynbaar met wortel en tak uit te roei en van minderhede die sondebokke te maak. Tog sal die ANC se pogings om die oersonde van rassisme die stryd aan te sê nie ’n énkele werksgeleentheid skep, één maaltyd voorsien, één puttoilet vervang of één siek persoon gesond maak nie.

Al sien ʼn toenemende aantal mense raak dat die keiser geen klere dra nie; is steeds slegs ʼn minderheid onder hulle dapper genoeg om dit hardop te sê. Dit herinner my aan Aleksandr Solzhenitsyn se boek The Gulag Archipelago, waarin hy beskryf hoe Josef Stalin ’n staande toejuiging van elf minute lank ná een van sy toesprake verseker het – want die eerste persoon wat ophou hande klap het, is summier in hegtenis geneem.

Die waarheid bly staan: As die “stille meerderheid” nie bereid is om op te staan ​​vir hul beginsels en waardes nie, dan kan hulle net sowel die minderheid wees. Meer Suid-Afrikaners moet die feit verkondig dat die keiser poedelnakend is – terwyl ons nog mag.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

As jy sukkel om ’n oënskynlik absurde ANC-beleid te begryp, stel jouself dié eenvoudige vraag: “Gee hierdie ‘oplossing’ die regering meer mag, of minder?” 1. Sigaret verbod….meer mag 2. Alcohol verbod….meer mag 3. Skoole oop, toe, oop….meer mag 4. Die klere en skoene wat jy mag dra…..meer mag 5. Net die regering mag kos verspry….meer mag 6. Inperking….meer mag 7. 1000 soldate op straat….meer mag 8. Sekere tye om te oefen….meer mag 9. Mag nie by familie kuier….meer mag. Ons wag nou anstig vir die volgende aankondiging van meer mag. Miskien word petrol en diesel beperk vir die privaat eienaar, maar nie vir taxis, busse en trokke. Jy as privaat eienaar van ‘n motor sal net mag 15L ‘n maand insit….meer mag!

Delon ·

die keiser het nie klere aan nie , en na dekades sukkel afrikaners nou nog om dit te erken

Stof ·

Publieke naaktheid is nou amptelik gewettig. Die nudiste is seker die keiser ewig dankbaar?

Baas van die plaas ·

Nog vae beloftes. Dis die nuwe verkiesingsrympie van die ANC vir 2021se munisipale verkiesings: “NUWE EKONOMIE”
En die groot geld wat nou verdwyn het?
Seker maar vir die verkiesingsveldtog!

DieKriek ·

Die keiser sit poedel naak in n hoek geverf. Dis van daardie verf wat nooit droog word nie. En hy weet dit nie eers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.