Siprus: die tameletjie van ʼn kultuur-hutspot

siprus-distrikte

Die verskillende administratiewe distrikte in Siprus. Foto: En.wikipedia.org

Die klein eilandstaat Siprus in die oostelike Middellandse See het op die oog af niks met Suid-Afrika gemeen nie. Met ʼn nadere kyk gaan dit egter in Siprus, net soos in Suid-Afrika, oor die sleutelkwessie hoe ʼn meerderheid en ʼn minderheid in een land saamleef.

Terwyl Suid-Afrika in ʼn kort tydperk van ʼn staat wat deur die minderheid beheer is en waar sterk federalisme en selfs partisie ʼn opsie was, beweeg het tot ʼn staat waar die meerderheid die minderheid eers halfhartig by die mag betrek en daarna toenemend onderdruk en uitgesluit het, het Siprus ʼn ander rigting ingeslaan: van ʼn multi-etniese staat met ʼn gemeenskaplike regering na meerderheidsoorheersing en etniese geweld, ʼn kort oorlog wat tot partisie gelei het, en nou moontlik na ʼn vorm van sterk federalisme.

Tans is daar weer onderhandelinge op hoë vlak oor hereniging van die eiland aan die gang. Ná ʼn mislukte ooreenkoms in 2004 (wat in ʼn referendum deur die Griekse kant verwerp is), vergader die verteenwoordigers van Siprus, Griekeland, Turkye en Groot-Brittanje (die eertydse koloniale moondheid met militêre basisse op Siprus) tans weer om die hereniging van die eiland te bespreek. Verlede November was daar onsuksesvolle onderhandelings. Nog geen deurbraak kon met die jongste onderhandelinge bereik word nie.

Siprus het in 1960 onafhanklikheid van Groot-Brittanje verkry. Die eiland se etniese samestelling was 80% Grieke en 20% Turke en daar is ʼn gesamentlike regering gevorm, maar die Griekse meerderheid het geleidelik die oorhand gekry en is ook aktief deur Griekeland, wat die eiland met Griekeland wou verenig, ondersteun. Aanvalle op Turke het toegeneem. Die aanvanklik totaal gemengde bevolking het etnies al meer begin konsentreer in sekere dorpe en streke.

Ná ʼn staatsgreep deur nasionalistiese Griekse Sipriote wat vereniging met Griekeland wou bereik (en wat deur die destydse Griekse diktatorskap ondersteun is), het Turkye in 1974 militêr ingegryp en die noordelike deel (36% van die oppervlakte) verower en beset en die Griekse bevolking verdryf.  ʼn Turkse marionetstaat, die Turkse Republiek van Noord-Siprus, is in 1983 uitgeroep. Tot vandag toe is dit een van die nie-erkende kwasi-state. Die grens tussen die twee dele word deur die VN bewaak en geld as wapenstilstandlinie, nie as amptelike grens nie. Deesdae is ʼn beperkte toegang tussen die twee dele moontlik.

Die Siprus-konflik is een van ʼn paar oorblywende gevriesde konflikte uit die Koue Oorlog-tydperk (hoewel dit nie as gevolg van die Koue Oorlog was nie). Daar is egter al vir dekades geen militêre konfrontasie meer nie, en die twee dele bestaan al lank as selfstandige eenhede. Dit is nie die ideale toestand nie, maar ʼn mens kan vra hoekom ʼn gesamentlike staat so noodsaaklik is. ʼn Hereniging kan dalk net weer konflik skep. Wat ons tans het, is partisie, al was dit nie ʼn onderhandelde een nie, maar ʼn militêr gedwonge een. Daar is voorbeelde waar partisie gevolg het waar modelle van federalisme nie gewerk het nie, maar min, indien enige, waar van partisie na federalisme beweeg is. Omdat die partisie egter onwettig was en met uitdrywing en bloedvergieting gepaardgegaan het, sou dit ʼn gevaarlike presedent skep om dit amptelik te aanvaar. Daarom die voortgesette poging om Siprus te herenig.

Die eiland het 1,2 miljoen inwoners, verdeel tussen die Griekse suide, wat die amptelik erkende deel is met 900 000 inwoners, en die nie-erkende noordelike deel met 300 000 inwoners. Die hoofstad Nikosia is in die middel gedeel soos eertyds Berlyn en elke deel is die hoofstad van die verskillende state.

Een van die hoofdispute is die terugkeer van Grieke na hulle eertydse eiendom in die noorde. Noord-Siprus het slegs sowat 300 000 inwoners en is bang dat die etniese dominansie versteur word as te veel Grieke (wat ook ekonomies meer bedrewe en finansieel sterker is as die Turke) terugkeer na die noorde. ʼn Ander twispunt is die aanwesigheid van die Turkse weermag, wat tans as beskermer van Noord-Siprus se (nie-amptelike) onafhanklikheid optree. As die Turkse weermag sou vertrek, sou die Turkse Sipriote weer blootgestel voel aan die Grieks-Sipriotiese weermag. Herinneringe aan die aanvalle voor 1974 word wakker. Die Grieke eis dele van die huidige Turkse gebied  terug.

Indien ʼn onderhandelde skikking bereik kan word, sal die ooreenkoms eers aan die bevolking van die twee dele onderskeidelik in ʼn referendum voorgelê moet word, en elke deel moet apart met ʼn meerderheid daarvoor stem. In 2004 is ʼn ooreenkoms bereik, die Turkse deel het dit aanvaar, maar die Griekse deel het dit verwerp en die hele proses is weer teruggewerp. Regeringsveranderings in die onderskeie dele veroorsaak dat onderhandelinge oor hereniging vir lang tydperke op ys is, na gelang van die onderskeie regerings se gevoel oor hereniging. Die tyd is ook ʼn bepalende faktor. Al minder mense het nog die verenigde Siprus beleef en voel sterk daaroor. Die jonger geslag ken net die huidige status en dit werk vir hulle en die kanse om ʼn meerderheid vir vereniging te kry raak al skraler. Die EU het natuurlik ʼn sterk belang in hereniging en soek, ná talle referendums wat teen hulle sin verloop het, dringend ʼn suksesverhaal.

Die “dark horse” in die hele proses is Turkye se nasionalistiese president Recep Tayyip Erdogan. Die Turkse noorde van Siprus is sy pion om Europa mee te manipuleer. As ʼn ooreenkoms bereik word, sal die Turkse deel ʼn aansienlike invloed hê op Siprus se politiek, en daarmee saam ook op die EU. Die Turkse deel tree egter nie onafhanklik op nie, maar is ʼn verlengstuk van Turkye. Pres. Erdogan het reeds enige onttrekking van Turkse troepe uit Noord-Siprus verwerp.

Die model wat vir ʼn hereniging voorgestel word, is een van die grootste moontlike federalisme. Siprus sal dan bestaan uit twee deelstate wat grootliks hulle eie sake hanteer en selfs ʼn veto oor besluite van die federale regering het. Die Belgiese model met sy twee dele wat hulself regeer en ʼn nasionale konsensusregering moet vorm, werk op ʼn vergelykbare wyse. Ook die konflik in die voormalige Joego-Slawië, by name in die multi-etniese staat Bosnië, is beëindig deur twee etniese deelstate te aanvaar met ʼn groot mate van selfregering, wat dan ʼn losse federale regering vorm (Dayton-ooreenkoms). Hoewel Bosnië onstabiel en swak is, is dit ten minste sedert die ooreenkoms vreedsaam.

Ook Suid-Afrika het met die aanloop tot die 1994-verkiesing (veral vanuit Afrikaner-geledere) met allerhande modelle van sterk federalisme en selfs partisie geëksperimenteer, maar dit is deur die ANC en die NP verwerp.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Nico K ·

Die enigste oplossing vir Siprus en talle ander soortgelyke lande bly om in 2 lande te verdeel. ‘n Federasie is ‘n oplossing, maar daar gaan altyd inmenging van die meerderheid wees. Dit is jammer dat die Grieke in Siprus nou die rol speel wat die ANC in SA doen, naamlik oorheersing deur die meerderheid. Die Blankes in SA het ‘n fout gemaak om nooit federasie vir SA in te stel nie. Die Wes-Kaap kon met kleurling samewerking dan heeltemal apart gefunksioneer het. Hoewel onafhanklikheid sekerlik die beter opsie sou wees want dan kon immigrasie wetgewing toegepas word om die Blank/Kleurling bevolking die meerderheid te hou. . En ja die Blankes self het so opsie verwerp. Selfs die KP was amptelik teen so model gekant.

Reinhardt ·

‘n Federale staat en selfs onafhanklikheid is nogsteeds ‘n moontlikheid vir die Wes- en Noord-Kaap. Daar bestaan reeds n party wat dit as hul mandaat gestel het: Die Kaapse Party (Cape Party). Al wat hulle kort is stemme. By die vorige verkiesing het slegs 4000 mense vir hulle gestem. Dit was nie genoeg om een setel te kry nie.

Dirk Breytenbach ·

Gesien in die lig van huidige gebeure in SA waarom verwerp ons aanhodend partisie? Witmense is nie welkom in SA nie en ek hoef nie voorbeelde aan te haal nie. Dis kortpad na vrede toe.

Sebastiaan ·

Vra dit! Die voorwaarde vir partisie of selfs net ‘n federale deelstaat of streek is egter konsentrasie. In Siprus het dit ongelukkig gepaard gegaan met geweld, maar dit hoef nie so te wees nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.