Sirië bly knelpunt

Bashar Al-Assad van Sirië

Op 28 November word die vredesonderhandelinge oor Sirië in Genève hervat. Hoe ingewikkeld dit gaan wees, blyk daaruit dat die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, reeds aangedui het dat daar geen plek in Sirië se toekoms vir pres. Basjar al-Assad is nie.

Dit is geen nuwe houding van Amerika nie, wat strykdeur volgehou het dat Assad deel van die probleem, nie die oplossing is nie.

Dit het die VSA lynreg opgestel teen Rusland, Sirië en Assad se vernaamste bondgenoot. Een gemeenskaplike belang het Sirië, Rusland en die VSA egter lank in min of meer een kamp gehou – die aanslag teen Isis wat groot dele van Sirië beheer het. Met Isis wat skynbaar nou op verskeie fronte op sy baadjie kry, raak die verskille weer duideliker. Rusland het met ewe groot entoesiasme ook aanvalle op ander rebellegroepe van stapel gestuur wat in wese in die VSA en sy bondgenote se dampkring is. Sirië het so tussendeur weer sy militêre vermoë heropgebou, en ook opspraakwekkende aanvalle begin uitvoer. Die stad Aleppo is byvoorbeeld min of meer vernietig.

Een aanval se reperkussies speel nou ’n bepalende rol in die komende vredesonderhandelinge. In April vanjaar is ’n lugaanval op die Siriese dorp Khan Shaykhun uitgevoer. Dit het gou geblyk dat die aanval met die gifgas, Sarin, uitgevoer is. Altesaam 80 mense, onder wie baie kinders, het omgekom.

Die VSA het die lugmagbasis van waar Siriese magte vermoedelik die aanval uitgevoer het, onder die bomme gesteek.

Sirië het aandadigheid ontken, maar ’n gesamentlike ondersoekspan van die VN en die Organisasies vir die Verbod op Chemiese Wapens het reeds bevind dat Assad aandadig is, al is die verslag nog nie amptelik bekend gemaak nie.

Die implikasie is dat Assad hom aan ’n misdaad teen die mensdom skuldig gemaak het. In beginsel is Tillerson dus reg, Assad kan nie deel van Sirië se toekoms wees nie. Rusland het soos verwag kon word, heftig van Tillerson verskil en gesê iemand se rol kan nie bepaal word voor die onderhandelinge nog begin het nie.

Die Assad-familie, wat Sirië nou reeds twee geslagte regeer, behoort tot ’n minderheid van ’n minderheid. Hulle is Alawiete, ’n sekte van die Sjiiete, wat ’n minderheid teenoor die Soenniete uitmaak. Geweldige improvisasie, soos ’n parlement wat setels aan minderhede, onder wie die Christene, gewaarborg het, asook ’n ruim mate van hardhandigheid, was nodig om aan bewind te bly. Nie alle minderhede is egter ewe goed behandel nie, en die Turkmene is uiters sleg behandel.

Die vraag is of daar in die vredesonderhandelinge nog ruimte is vir moraliteit. Indien wel, sou Assad as iemand wat misdade teen die mensdom gepleeg het, beslis geen ruimte vir betrokkenheid verdien het nie. Werklikheidspolitiek neig egter om jaarliks sterker houvas op buitelandse rolspelers te kry, en moraliteit word algaande onder die mat ingevee.

Maar dit was alles voor die bevindinge oor die gifgas bekend geword het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerhard ·

Dit lyk of jy nie meer terselfdertyd ‘n Trump ondersteuner en ‘n Poetin ondersteuner kan wees nie. Wat ek al voor Trump se verkiesing voorspel het.

Kosie Kramer ·

Vier jaar gelede het Wladimir Poetin aan Russiese joernaliste gese dat die Siriese probleem baie ingewikkeld is. Assad, het hy gese, is nie `n engeltjie nie, maar hy is ook nie skuldig aan alles wat hom toegedig word nie. So 18 maande gelede het Ray McGovern, oud CIA-lid met 30 jaar ondervinding, genoem dat `n groep “moderate rebels” wat deur die CIA opgelei is, in Sirie veg teen `n groep wat deur die Pentagon opgelei is. Dis een van die probleme.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.