Sirië: Die Weste maak droog

Damaskus, 14 April 2018 (Foto: Siriese Sentrale Weermagmedia via AP)

Ná ’n groot media-opbou vir ’n paar dae oor nóg ’n moontlike wêreldoorlog het die Westerse aanvalle op sogenaamde chemiese wapenopslagplekke van die Siriese regering ’n muis gebaar. ’n Klompie missiele is afgeskiet deur die VSA, gesteun deur Brittanje en Frankryk op drie teikens van die Siriese regering. Of enige van dié teikens wel chemiese wapens geberg of vervaardig het, is te betwyfel.

Chemiese aanvalle (of nie)?

Die VSA en sy Westerse en Soenniete Moslemvennote het aangedui dat ’n chemiese aanval deur die Siriese regering laas week naby die hoofstad Damaskus dosyne mense gedood het. Hoewel daar nog geen eenstemmigheid deur deskundiges oor die (chemiese) aard van die aanval is nie, het die Westerse regerings vinnig opgetree.

Die situasie in Sirië is kompleks: die burgeroorlog is reeds sewe jaar aan die gang en daar is verskeie lande betrokke in die konflik. Die Weste (eintlik die VSA) ondersteun Siriese rebelle, hoewel sommige van hulle ironies sterk verbintenisse het met radikale Islamitiese groepe.

Saoedi-Arabië en Turkye is om eie redes ook deel van die anti-Siriese alliansie. Kom ons noem hierdie groep die Soenniete-alliansie met Westerse steun. Daarenteen is daar die Siriese regering onder Bashar al-Assad, ondersteun deur Iran en Rusland. Kom ons noem hulle die Sjiïtiese groep met Russiese steun.

Of chemiese wapens ooit gebruik is en wie dit gebruik het, is egter nie duidelik nie. ’n Internasionale span waarnemers is wel in Sirië om dit te ondersoek, maar hul werk word bemoeilik deur die burgeroorlog en die internasionale rolspelers wat hulle probeer beïnvloed. Die Siriese regering en hul Russiese bondgenote ontken enige chemiese aanval en beskuldig internasionale vrywilligers, oftewel die “wit helms”, van ’n nagemaakte aanval met die doel om internasionale reaksie teen al-Assad te ontketen.

Wat wel waar is, is dat al-Assad stadig maar seker besig is om die burgeroorlog te wen met die hulp van die Russe. Ná die Amerikaanse president, Donald Trump, twee weke terug aangedui het dat Amerikaanse troepe uit Sirië onttrek gaan word, het die chemiese aanval plaasgevind. Hoekom hulle juis in hierdie stadium die aanvalle sou uitvoer wat die VSA langer sou laat aanbly, maak nie regtig sin nie. Nietemin sweer Westerse gesondheidspersoneel hoog en laag dat daar wel ’n chemiese aanval plaasgevind het. Hoe dit ook al sy: terwyl die Weste seker gemaak het om nie Russiese teikens te bombardeer nie, bestaan daar wel die gevaar dat ’n klein insident die konflik verder kan laat ontaard.

Verskeie lugaanvalle in Sirië (wat tans deur die Weste, Rusland, Turkye en selfs Israel uitgevoer word) het heelwat implikasies ten opsigte van internasionale reg. Die Siriese burgerlike bevolking is uiteraard die grootste slagoffers van internasionale lugaanvalle.

Dit lyk asof Trump, asook die Britse premier, Theresa May, en die Franse president, Emmanuel Macron, se optrede oor die “chemiese aanval” eerder poog om binnelands hul politieke gewildheid te versterk. Die oogmerk was eerder om al-Assad te straf en nie sy regering omver te werp nie. Die Weste kan eintlik nie bekostig dat al-Assad se regering omvergewerp word nie, want die chaos wat reeds voorheen in Irak en Libië uitgebreek het nádat die Weste ook daar ingemeng het, het nie net honderde duisende lewens gekos nie, maar ook veroorsaak dat onstabiele anti-Westerse magte gevestig is in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Hierdie onstabiliteit het regstreeks gelei tot die tientalle terroriste-aanvalle deur radikale Moslems in Europa en die VSA, om nie van die “inval” van Moslem-“vlugtelinge” na Westerse lande te praat nie. Ekstremiste midde-in die vlugtelinge mag die Westerse state vir dekades nog terroriseer.

Betogers skree Dinsdag 17 April slagspreuke uit wat die onlangse VSA-geleide lugaanvalle in Sirië veroordeel tydens ʼn saamtrek in Manila in die Filippyne. Dié groep doen ʼn beroep op die regering om ook die beweerde Amerikaanse gewapende aggressie in die Midde-Ooste te veroordeel. (Foto: Aaron Favila, AP)

Die implikasies van Westerse inmenging

Die Weste se eiesinnige optredes in die internasionale arena is in teenstelling met hul verbintenis tot vredespogings deur die VN se konflikbeslegtingsmeganismes.

Sedert die Golfoorlog het die Weste, en meer spesifiek die VSA, eenvoudig die VN Veiligheidsraad geïgnoreer met militêre optredes. In hierdie opsig het die VSA reeds voorheen soveel onstabiliteit in die Midde-Ooste veroorsaak dat mens nie anders kan as om meer sin in China (en selfs Rusland) se meer gebalanseerde beleid teenoor internasionale politiek te sien nie. Daar is ook geen konsekwentheid in die Weste se optrede nie. In dieselfde Midde-Ooste word Saoedi-Arabië, wat die regeringsmagte in Jemen teen Sjiïtiese rebelle ondersteun en burgerlike teikens bombardeer, deur die Weste ondersteun.

Trump het tydens sy verkiesingsveldtog beloof om nie in “dom oorloë” betrokke te raak nie. Nou ondersteun hy die oorlogsugtiges in die Amerikaanse weermag, die Republikeinse Party en sy eie administrasie (die sogenaamde neo-cons) se beleid van militêre inmenging in oorloë wat nie gewen kan word nie.

Dit word moontlik gedoen om die Republikeinse kandidate tydens die middeltermynverkiesings in die VSA te probeer ondersteun (wat in November plaasvind). Hy is in die proses egter besig om homself te vervreem van sy lojale persoonlike magsbasis in die VSA wat daarop wys dat interne struwelinge in Sirië geen impak op Amerikaanse binnelandse veiligheid het nie. Hulle word ook toenemend teleurgestel met Trump se gebrek aan vordering teenoor die oprigting van ’n muur op die VSA-Meksikaanse grens.

Die Weste is deur die Westerse media steeds besig om Rusland as ’n strooipop op te stel, met die oog op militêre optrede teen Wladimir Poetin. Rusland word toenemend internasionaal geïsoleer en beskuldig van alles. Eers was oorlog met Rusland naby weens laasgenoemde se ingryping in die Oekraïne so ʼn paar jaar gelede, en toe word valse berigte versprei wat Rusland impliseer in die inmenging van verkiesings in Westerse lande. Die storie is nou al so holrug gery dat die Westerse bevolkings dit amper as gegewe aanvaar dat Rusland “inmeng” in hul verkiesings. Terselfdertyd word Trump steeds as ’n verdagte beskou wat “geheul” het met die Russe tydens sy verkiesingsveldtog in 2016. Die heksejag teen Trump duur ook voort – veral in die media. Dit is eintlik duidelik dat die Weste afstuur op ’n militêre konfrontasie met Poetin.

Maak geen fout nie: die Russe en Poetin is geen engeltjies nie en gebruik hul staatsmag gereeld om Rusland se invloedsfeer uit te brei en die Weste openlik teen te gaan. Vir Poetin gaan dit oor eer en invloed, en vir die Weste om Poetin te stuit en selfs uit te lok tot konflik. Enige konflik só gaan veral vir Europa swaar tref.

Die chaos in die naam van demokrasie wat die sogenaamde Arabiese Lente sedert 2011 oor die Midde-Ooste laat spoel het, het weer bewys dat die sterk, outoritêre Arabiese regerings nodig is om die groot getalle ekstremiste in toom te hou. Die verwydering van Saddam Hoessein en Moeammar Ghaddafi het die spreekwoordelike Pandora se boks in die Moslemwêreld oopgemaak. Hoewel brutaal, was die twee diktators relatief skadeloos in ’n internasionale konteks. Westerse leuens het Saddam laat tuimel (oor wapens vir massavernietiging) en die Weste het tydens die Arabiese Lente ’n geleentheid gesien om van sy ou vyand, Ghaddafi, ontslae te raak.

Die gevolge was ingrypend. Waar beide diktators Moslem-ekstremiste goed vasgevat het, kan die opkoms van die Islamitiese Staat (oftewel IS) toegeskryf word aan die verwydering van Hoessein, terwyl die verwydering van Ghaddafi nie net ekstremistiese groepe in Afrika ’n reusehupstoot gegee het nie, maar ’n direkte kanaal geopen het vir die instroom van honderdduisende mense van verskeie Afrikalande na Europa, met ingrypende gevolge vir Europa.

Die groot wenner in die konflik in Sirië is Israel. Aangesien sy groot teenstanders – insluitend Iran, Irak, Saoedi-Arabië en Sirië – self betrokke is in die oorlog teen die IS en die burgeroorlog in Sirië, is die kollig deesdae maar flou op die Joodse staat. Die Palestynse kwessie het nou na die kantlyn verskuif en, buiten vir Iran, wat moontlik oor kernwapens beskik, is die Arabiese state nie regtig meer ’n militêre bedreiging vir die Israeli’s nie.

Mense skree slagspreuke teen aanvalle in die rebelbeheerde buurt van oostelike Ghouta in die Siriese hoofstad, Damaskus, tydens ’n optog buite die Russiese konsulaat in Istanboel. Talle mense het Donderdag 22 Februarie Siriese liedjies gesing in protes teen ʼn bomveldtog van die Siriese regering wat hospitale, woonstelblokke en ander burgerlike persele geteiken het. (Foto: Lefteris Pitarakis, AP)

Ewewig nodig tussen Soenniete en Sjiïete

Die militêre betrokkenheid van soveel lande in die Midde-Ooste is sekerlik ’n bron tot kommer. Verder is dit duidelik dat onstabiliteit in die Midde-Ooste gaan voortduur vir etlike jare, soos ons nou reeds generasies daaraan gewoond is. Hoewel: die konflik is nie meer Israel teen die res nie, maar eerder die Soenniete Alliansie (en die Weste) teen die Sjiïtiese Alliansie (en die Russe).

Die groot uitdaging vir die Weste is nie om oorloë in die Midde-Ooste aan te moedig en die gebied verder te destabiliseer nie, maar eerder om weer, soos in die verlede, stabiele regerings te verseker (selfs al neig die Arabiere na kragdadige diktators in hul optrede teen die ekstremiste – soos die Egiptiese president Abdel Fattah el-Sisi). Die Weste se betrokkenheid eskaleer eerder konflik en hul ondersteuning aan Saoedi-Arabië verstewig die Soenniete se eeue oue stryd teen die Sjiïtiese Moslems. Dit is eerder in hul belang om ’n meer stabiele Soenniet-Sjiïtiese ewewig te bevorder in dié streek.

Westerse state het ’n grootheidswaan wat iewers in die 1990’s ontstaan het, toe die VSA die enigste werklike supermoondheid was en wêreldpolitiek oorheers het. Die situasie het intussen verander. Terwyl die VSA strukturele ekonomiese probleme het en die Europeërs militêr agteruitboer, het China (en, tot ’n mindere mate, Indië) meer belangrik geword. Voeg daarby dat die Russe onder Poetin poog om sy eertydse glorie as die Sowjet-unie te herstel.

Dit maak multilaterale oplossings vir groot wêreldkonflikte van groter belang.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jerry ·

Ten spyte van multilaterale oplossings waaraan daar dag en nag aandag gegee word besef mense dat die groot konflik nie net dreigend bly nie, maar aansienlik groter raak, veral tov chemiese oorlogvoering vermoeens. Konflik sonder chemiese wapens is beter as om te wag vir konflik met chemiese wapens. Dit was tyd vir die weste om n streep te trek en hulle het hom baie duidellik getrek. Die bal is nou in die Russe en in Sirie se baan!

BenaYaHU ·

Jerry,
Ek vermoed jou opmerking is ietwat voortydig.
Dit sal jou beslis baat om eers baie seker te maak van wie WERKLIK verantwoordelik is vir die “chemiese wapens” voordat jy, nes die “Westerse-alliansie” (gewoonlik VSA, Brittanje, Frankryk), sommer op jou eie missiele begin afvuur.
Indien jy egter nie die tyd of wil het om dieper navorsing te doen aangaande die ware stand van sake op die globale arena, sal dit beter wees om eerder te lees en dalk nie kommentaar te lewer..?
Maar net my beskeie mening.

Eish ·

Puik artikel en geregverdigde mening en opskrif- Weste maak droog.

DewaldS ·

Dankie vir ‘n goeie artikel, Nico. Ek bestudeer al ook oor ‘n baie lang tyd die internasionale verwikkelinge en ek is dit eens met die meeste van die gevolgtrekkings wat jy maak.

Gerhard ·

Ek wens tog ek kan vir ‘n slag ‘n gebalanseerde artikel lees oor die saak op MM. Dit is so asof daar net nie mense is wat neutraal is in die saak staan nie. Waarom is dit altyd die Weste of die VSA doen dit of dat. Dit is immers Rusland wat gaan inmeng toe die VSA reeds daar was en so die omstandighede meer gevaarlik gemaak het van net ‘n Midde-Oosterse konflik tot iets wat internasionaal kan ontaard. Waarom word daar nie geskryf oor hoe Rusland droogmaak nie. Daar word ook altyd vir jou vertel dit was beter voor die Amerikaners ingegryp het, maar daar word gemaklikheid halwe vergeet van 911. Daar word vergeet van die oorloë tussen Irak en Iran. Daar word vergeet van die verdrukking van kleiner groep en menseregte vergrype, ens. Dan word jy ook oor en oor vertel hoe die regte manier van regering in die Midde-Ooste diktatorskap is om terroriste te onderdruk al weet ons hulle kon dit nog nooit doen nie. Inteendeel, dit het die omstandighede geskep vir terrorisme om te floreer. Al wat lande soos Rusland regkry is om die onvermydelike uit te stel. Dit en om hulle eie ellende erger te maak. Daar word ook vergeet van die groter kans tot konflik tussen Israel en sy grootste vyande Iran en Hezbollah. Dit sal verseker die VSA in die konflik intrek. Rusland se droogmakery moet end kry.

BenaYaHU ·

Gerhard,
Dit sal jou tot voordeel strek om die oogklappe af te haal en werklike ondersoek in te stel.
Volgens jou kommentaar wil dit voorkom asof jy of nie werklik kennis het van die situasie nie, of dat jy nie waarlik WIL weet. Ek vermoed ‘n mate van albei.
Dit sal jou verseker baat om hierdie artikel met ‘n ‘neutrale’ gemoed/houding te lees en dan vir jouself die WARE agenda(s) agter die globale skaakspel na te vors en uit te pluis. Sterkte!

Gerhard ·

BenaYaHU. Ek doen baie meer moeite om te verstaan wat werklik aan die gang is as die wat op Russiese fopnuus webblaaie le. Ek is nie die een met oogklappe aan nie.

BenaYaHU ·

Gerhard
‘Russiese fopnuus webblaaie’ — allemintag, maar jy hou van die lang term rondgooi.. LoL
Nee, ek en die meeste kommentare hier hang nie op diesulke webblaaie rond, of val vir wat jy aanvoor is fopnuus nie.. maar waardeer die waarskuwing.
Jou eenogigheid en vrees/afsku vir die Russe is redelik ooglopend, wees jy egter net gewaarsku dat die nie jou gesonde oordeel affekteer nie.
Terloops, daardie “baie meer moeite om te verstaan” .. moenie ophou nie, die ware situasie sal aan jou openbaar word .. maar, bygese, slegs as jy vir ‘n oomblik verby jou angs/afsku van die Russiese Beer kan kyk..

Hvb ·

Bravo Nico! Eindelik is daar iemand wat wakker is en beskryf hoe die weste droogmaak en aan grootheidswaan ly. Ek self woon in die weste en almal is aan die slaap. Ek stem 100 % saam met die artikel. Die feit dat Israel die groot wenner en opsweper is in die stryd met Sirië is iets wat niemand wil of mag raaksien nie.

BernaYaHU ·

Nico,
Puik artikel.. neutraal, opsommend en duidelik!
Dit sal die meerderheid baat om hierdie artikel te lees, asook vir hulself dieper ondersoek in te stel na wie die rolspelers is wat die duistere agenda dryf.
Welgedaan!

marous ·

Die gewone mense was nog altyd uitgelewer aan die magbeheptes van hierdie wereld. Niks het verander behalwe die wapentuig nie.

Marthinus Willemse ·

Nico, ek verskil op een punt met jou, dat Poetin “poog om sy eertydse glorie as die Sowjet-unie te herstel”.

Poetin het eenkeer gesê,“Enigeen wat nie spyt is oor die einde van die Sowjetunie nie, het geen hart. Enigeen wat dink jy kan die Sowjetunie herskep, het geen verstand.” [My vertaling van die aanhaling deur prof Stephen F Cohen]

Poetin is `n realis, `n pragmatis, en in Rusland beskou hulle hom as gematig; hulle kla dat hy nie aggressief genoeg teen die Weste optree nie. Met `n PhD in internasionale reg, is hy `n voorstander van `n wêreld gebaseer op die “rule of law”.

Soos jy seker weet, was die Sowjetunie `n unie van 15 onafhanklike republieke, en Poetin weet dat die 14 ander nou onafhanklike lande is; hy het geen begeerte om die Sowjetunie te laat herstel nie. Wat hy wel energiek ondersteun, is dat Rusland `n gerespekteerde lid van die wêreldgemeenskap word.

Gerhard,
die 9/11 aanval is uitgevoer deur 15 terroriste; 13 van hulle was burgers van Saoedi-Arabië, wat hulle gefinansier het. Daar is ook historiese bewyse dat, voor die staat Israel in 1948 gestig is, die Palestyne, Jode, Arabiere almal in vrede saamgeleef het. Die probleem het begin in 1967 toe Amerika begin inmeng het. [Lees die werke van William Blum, Noam Chomsky, Stephen F Cohen, Norman Finkelstein – toevallig almal Jode.]

Gerhard ·

Ons almal weet tog dat die 911 terroriste van Saoedi-Arabië afkomstig is. Al wat jou stelling daaroor bewys is dat ek reg is dat diktators nie ekstremiste kan keer nie. Daar is geen bewyse dat Saoedi-Arabië (die staat) betrokke was by die terreur nie. Dit is bloot bewerings wat waarskynlik sy oorsprong op Russiese fopnuus webblaaie het.

Die stelling dat die stamme in die Midde-Ooste in vrede geleef het totdat die Amerikaners begin inmeng het is opportunisties. Die Amerikaners was verseker nie die enigste rolspeler daar nie en daar was verseker nie net vrede voor die Amerikaners daar betrokke geraak het nie. Dit is soos om te se daar was geen probleme in Suid-Afrika nie totdat Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het en te vergeet die Afrikane het mekaar in oorlog vermoor en die Engelse was ook iewers in die mengsel.

John ·

Hier sien ons nou mooi hoe die ‘waarheid’ gedraai en geswaai kan word. Ek vermoed die 007-flieks het mense permanent laat glo dat die VSA die redder van die mensdom is. Was julle al daar? Oei! Watter ontwrigte spulletjie. 1984 is seker die waarste voorspelling wat ‘n gewone mens kon geskryf het. Moontlik is dit die Pentagon se handleiding. Watter lande is deur Rusland beset, soos wat Engeland en Frankryk in die verlede gedoen het? Wie het die moed gehad om Duitsland in WOII op sy plek te sit? Miskien is dit dalk die rede waarom Rusland nou deur die nasate van die destydse betrokkenes as ‘n opperste boef uitgemaak word… kyk maar na die vanne van die mense wat die opperbevel in die VSA het… en Duitsland is sommer so al sy gruweldade vergewe. Alles is nie deur een man, Hitler, gedoen nie. Hoe word ‘n volk so sleg?

Gerhard ·

Wel daar was Afganistan 1978, Kaliningrad (Oos-Pruise), meeste van Oos-Europa. Verder het Rusland nie moed gehad om Duitsland op sy plek te sit nie, Duitsland het Rusland aangeval. Die Russe het in hulle miljoene gesterf om ‘n Duitsland wat nie meer genoeg wapens kon bou nie aan die Ooste terug te dryf. Sonder Amerikaanse en Britse betrokkenheid sou hulle waarskynlik nie ‘n oorlog teen die Duitsers kon wen nie.

BenaYaHU ·

Gerhard
Advies as jy wil: net vir ‘n oomblik, doen jouself ‘n reuse guns en gaan bestudeer die WARE geskiedenis.. NIE die valse nonsens wat tans in s.g. “geskiedenisboeke” opgeteken staan nie.
Tydens daardie dieper studie van geskiedenis sal jy sien dat Deutschland slegs hul soewereiniteit probeer beskerm het (van die Zionistiese, Khazariese, Bolsjewiste –> Jode). Dit sluit in die dele wat hul beskou het as hul grondgebied/bevolking buite sg. grense.. maar, deur mr. Churchill om te koop/af te pers en sodoende Oorlog aan te blaas, het die Agenda sy verloop geneem..
Baie interessante studie, die Waarheid van die verlede.. vir die wat werklik daarin belangstel om beter te verstaan.. sonder daardie oogklappe natuurlik.

Casper Labuschagne ·

Die Weste, en meer spesifiek, die VSA onder Obama en staatssekretaris Hillary Clinton het in die eerste plek die Siriese krisis ontketen deur in die binnelandse sake van Moslem lande in te meng en Arabiese lente opstande te ontketen. Daarna het ‘n siklus van reaksie en teenreaksie eenvoudig hierdie konflik net vererger.

BenaYaHU ·

Casper
Korrek, maar dit het lank voor dit begin.. lank voor dit!
Die ooreenkoms met die korrupte Saoedi’s vir die “petrodollar” (waarsonder die bankort VSA lankal sy einde gesien het) asook die omverwerping van die Shah van Iran..
Inderdaad, die Agenda strek VEEL dieper en kom al geruime tyd aan..

Patriot ·

Nou maar magtig ! As hulle so ontevrede is oor die westerse inmenging en alles… hoekom vlug hulle in hulle honderde duisende na westerse lande ??? Bly dan in jou land en wees tevrede.

T. van Schalkwyk ·

Skitterende artikel wat hierdie jammerlike, skandalige deurmekaarspul so verstaanbaar maak as wat seker menslik moontlik is.

Dit is net nie duidelik waarom president Trump sou dink dat enige militêre optrede sy binnelandse politieke gewildheid sal bevorder nie? Sy ondersteuners is mense wat sat is van oorloë, en sy vyande haat hom al red hy die heelal. Dis jammer dat hy hom laat insleep waar hy nie regtig wil nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.