Sirië: Die Weste maak droog

Damaskus, 14 April 2018 (Foto: Siriese Sentrale Weermagmedia via AP)

Ná ’n groot media-opbou vir ’n paar dae oor nóg ’n moontlike wêreldoorlog het die Westerse aanvalle op sogenaamde chemiese wapenopslagplekke van die Siriese regering ’n muis gebaar. ’n Klompie missiele is afgeskiet deur die VSA, gesteun deur Brittanje en Frankryk op drie teikens van die Siriese regering. Of enige van dié teikens wel chemiese wapens geberg of vervaardig het, is te betwyfel.

Chemiese aanvalle (of nie)?

Die VSA en sy Westerse en Soenniete Moslemvennote het aangedui dat ’n chemiese aanval deur die Siriese regering laas week naby die hoofstad Damaskus dosyne mense gedood het. Hoewel daar nog geen eenstemmigheid deur deskundiges oor die (chemiese) aard van die aanval is nie, het die Westerse regerings vinnig opgetree.

Die situasie in Sirië is kompleks: die burgeroorlog is reeds sewe jaar aan die gang en daar is verskeie lande betrokke in die konflik. Die Weste (eintlik die VSA) ondersteun Siriese rebelle, hoewel sommige van hulle ironies sterk verbintenisse het met radikale Islamitiese groepe.

Saoedi-Arabië en Turkye is om eie redes ook deel van die anti-Siriese alliansie. Kom ons noem hierdie groep die Soenniete-alliansie met Westerse steun. Daarenteen is daar die Siriese regering onder Bashar al-Assad, ondersteun deur Iran en Rusland. Kom ons noem hulle die Sjiïtiese groep met Russiese steun.

Of chemiese wapens ooit gebruik is en wie dit gebruik het, is egter nie duidelik nie. ’n Internasionale span waarnemers is wel in Sirië om dit te ondersoek, maar hul werk word bemoeilik deur die burgeroorlog en die internasionale rolspelers wat hulle probeer beïnvloed. Die Siriese regering en hul Russiese bondgenote ontken enige chemiese aanval en beskuldig internasionale vrywilligers, oftewel die “wit helms”, van ’n nagemaakte aanval met die doel om internasionale reaksie teen al-Assad te ontketen.

Wat wel waar is, is dat al-Assad stadig maar seker besig is om die burgeroorlog te wen met die hulp van die Russe. Ná die Amerikaanse president, Donald Trump, twee weke terug aangedui het dat Amerikaanse troepe uit Sirië onttrek gaan word, het die chemiese aanval plaasgevind. Hoekom hulle juis in hierdie stadium die aanvalle sou uitvoer wat die VSA langer sou laat aanbly, maak nie regtig sin nie. Nietemin sweer Westerse gesondheidspersoneel hoog en laag dat daar wel ’n chemiese aanval plaasgevind het. Hoe dit ook al sy: terwyl die Weste seker gemaak het om nie Russiese teikens te bombardeer nie, bestaan daar wel die gevaar dat ’n klein insident die konflik verder kan laat ontaard.

Verskeie lugaanvalle in Sirië (wat tans deur die Weste, Rusland, Turkye en selfs Israel uitgevoer word) het heelwat implikasies ten opsigte van internasionale reg. Die Siriese burgerlike bevolking is uiteraard die grootste slagoffers van internasionale lugaanvalle.

Dit lyk asof Trump, asook die Britse premier, Theresa May, en die Franse president, Emmanuel Macron, se optrede oor die “chemiese aanval” eerder poog om binnelands hul politieke gewildheid te versterk. Die oogmerk was eerder om al-Assad te straf en nie sy regering omver te werp nie. Die Weste kan eintlik nie bekostig dat al-Assad se regering omvergewerp word nie, want die chaos wat reeds voorheen in Irak en Libië uitgebreek het nádat die Weste ook daar ingemeng het, het nie net honderde duisende lewens gekos nie, maar ook veroorsaak dat onstabiele anti-Westerse magte gevestig is in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Hierdie onstabiliteit het regstreeks gelei tot die tientalle terroriste-aanvalle deur radikale Moslems in Europa en die VSA, om nie van die “inval” van Moslem-“vlugtelinge” na Westerse lande te praat nie. Ekstremiste midde-in die vlugtelinge mag die Westerse state vir dekades nog terroriseer.

Betogers skree Dinsdag 17 April slagspreuke uit wat die onlangse VSA-geleide lugaanvalle in Sirië veroordeel tydens ʼn saamtrek in Manila in die Filippyne. Dié groep doen ʼn beroep op die regering om ook die beweerde Amerikaanse gewapende aggressie in die Midde-Ooste te veroordeel. (Foto: Aaron Favila, AP)

Die implikasies van Westerse inmenging

Die Weste se eiesinnige optredes in die internasionale arena is in teenstelling met hul verbintenis tot vredespogings deur die VN se konflikbeslegtingsmeganismes.

Sedert die Golfoorlog het die Weste, en meer spesifiek die VSA, eenvoudig die VN Veiligheidsraad geïgnoreer met militêre optredes. In hierdie opsig het die VSA reeds voorheen soveel onstabiliteit in die Midde-Ooste veroorsaak dat mens nie anders kan as om meer sin in China (en selfs Rusland) se meer gebalanseerde beleid teenoor internasionale politiek te sien nie. Daar is ook geen konsekwentheid in die Weste se optrede nie. In dieselfde Midde-Ooste word Saoedi-Arabië, wat die regeringsmagte in Jemen teen Sjiïtiese rebelle ondersteun en burgerlike teikens bombardeer, deur die Weste ondersteun.

Trump het tydens sy verkiesingsveldtog beloof om nie in “dom oorloë” betrokke te raak nie. Nou ondersteun hy die oorlogsugtiges in die Amerikaanse weermag, die Republikeinse Party en sy eie administrasie (die sogenaamde neo-cons) se beleid van militêre inmenging in oorloë wat nie gewen kan word nie.

Dit word moontlik gedoen om die Republikeinse kandidate tydens die middeltermynverkiesings in die VSA te probeer ondersteun (wat in November plaasvind). Hy is in die proses egter besig om homself te vervreem van sy lojale persoonlike magsbasis in die VSA wat daarop wys dat interne struwelinge in Sirië geen impak op Amerikaanse binnelandse veiligheid het nie. Hulle word ook toenemend teleurgestel met Trump se gebrek aan vordering teenoor die oprigting van ’n muur op die VSA-Meksikaanse grens.

Die Weste is deur die Westerse media steeds besig om Rusland as ’n strooipop op te stel, met die oog op militêre optrede teen Wladimir Poetin. Rusland word toenemend internasionaal geïsoleer en beskuldig van alles. Eers was oorlog met Rusland naby weens laasgenoemde se ingryping in die Oekraïne so ʼn paar jaar gelede, en toe word valse berigte versprei wat Rusland impliseer in die inmenging van verkiesings in Westerse lande. Die storie is nou al so holrug gery dat die Westerse bevolkings dit amper as gegewe aanvaar dat Rusland “inmeng” in hul verkiesings. Terselfdertyd word Trump steeds as ’n verdagte beskou wat “geheul” het met die Russe tydens sy verkiesingsveldtog in 2016. Die heksejag teen Trump duur ook voort – veral in die media. Dit is eintlik duidelik dat die Weste afstuur op ’n militêre konfrontasie met Poetin.

Maak geen fout nie: die Russe en Poetin is geen engeltjies nie en gebruik hul staatsmag gereeld om Rusland se invloedsfeer uit te brei en die Weste openlik teen te gaan. Vir Poetin gaan dit oor eer en invloed, en vir die Weste om Poetin te stuit en selfs uit te lok tot konflik. Enige konflik só gaan veral vir Europa swaar tref.

Die chaos in die naam van demokrasie wat die sogenaamde Arabiese Lente sedert 2011 oor die Midde-Ooste laat spoel het, het weer bewys dat die sterk, outoritêre Arabiese regerings nodig is om die groot getalle ekstremiste in toom te hou. Die verwydering van Saddam Hoessein en Moeammar Ghaddafi het die spreekwoordelike Pandora se boks in die Moslemwêreld oopgemaak. Hoewel brutaal, was die twee diktators relatief skadeloos in ’n internasionale konteks. Westerse leuens het Saddam laat tuimel (oor wapens vir massavernietiging) en die Weste het tydens die Arabiese Lente ’n geleentheid gesien om van sy ou vyand, Ghaddafi, ontslae te raak.

Die gevolge was ingrypend. Waar beide diktators Moslem-ekstremiste goed vasgevat het, kan die opkoms van die Islamitiese Staat (oftewel IS) toegeskryf word aan die verwydering van Hoessein, terwyl die verwydering van Ghaddafi nie net ekstremistiese groepe in Afrika ’n reusehupstoot gegee het nie, maar ’n direkte kanaal geopen het vir die instroom van honderdduisende mense van verskeie Afrikalande na Europa, met ingrypende gevolge vir Europa.

Die groot wenner in die konflik in Sirië is Israel. Aangesien sy groot teenstanders – insluitend Iran, Irak, Saoedi-Arabië en Sirië – self betrokke is in die oorlog teen die IS en die burgeroorlog in Sirië, is die kollig deesdae maar flou op die Joodse staat. Die Palestynse kwessie het nou na die kantlyn verskuif en, buiten vir Iran, wat moontlik oor kernwapens beskik, is die Arabiese state nie regtig meer ’n militêre bedreiging vir die Israeli’s nie.

Mense skree slagspreuke teen aanvalle in die rebelbeheerde buurt van oostelike Ghouta in die Siriese hoofstad, Damaskus, tydens ’n optog buite die Russiese konsulaat in Istanboel. Talle mense het Donderdag 22 Februarie Siriese liedjies gesing in protes teen ʼn bomveldtog van die Siriese regering wat hospitale, woonstelblokke en ander burgerlike persele geteiken het. (Foto: Lefteris Pitarakis, AP)

Ewewig nodig tussen Soenniete en Sjiïete

Die militêre betrokkenheid van soveel lande in die Midde-Ooste is sekerlik ’n bron tot kommer. Verder is dit duidelik dat onstabiliteit in die Midde-Ooste gaan voortduur vir etlike jare, soos ons nou reeds generasies daaraan gewoond is. Hoewel: die konflik is nie meer Israel teen die res nie, maar eerder die Soenniete Alliansie (en die Weste) teen die Sjiïtiese Alliansie (en die Russe).

Die groot uitdaging vir die Weste is nie om oorloë in die Midde-Ooste aan te moedig en die gebied verder te destabiliseer nie, maar eerder om weer, soos in die verlede, stabiele regerings te verseker (selfs al neig die Arabiere na kragdadige diktators in hul optrede teen die ekstremiste – soos die Egiptiese president Abdel Fattah el-Sisi). Die Weste se betrokkenheid eskaleer eerder konflik en hul ondersteuning aan Saoedi-Arabië verstewig die Soenniete se eeue oue stryd teen die Sjiïtiese Moslems. Dit is eerder in hul belang om ’n meer stabiele Soenniet-Sjiïtiese ewewig te bevorder in dié streek.

Westerse state het ’n grootheidswaan wat iewers in die 1990’s ontstaan het, toe die VSA die enigste werklike supermoondheid was en wêreldpolitiek oorheers het. Die situasie het intussen verander. Terwyl die VSA strukturele ekonomiese probleme het en die Europeërs militêr agteruitboer, het China (en, tot ’n mindere mate, Indië) meer belangrik geword. Voeg daarby dat die Russe onder Poetin poog om sy eertydse glorie as die Sowjet-unie te herstel.

Dit maak multilaterale oplossings vir groot wêreldkonflikte van groter belang.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jerry

Ten spyte van multilaterale oplossings waaraan daar dag en nag aandag gegee word besef mense dat die groot konflik nie net dreigend bly nie, maar aansienlik groter raak, veral tov chemiese oorlogvoering vermoeens. Konflik sonder chemiese wapens is beter as om te wag vir konflik met chemiese wapens. Dit was tyd vir die weste om n streep te trek en hulle het hom baie duidellik getrek. Die bal is nou in die Russe en in Sirie se baan!

Eish

Puik artikel en geregverdigde mening en opskrif- Weste maak droog.

JC

Baie dankie Nico – hierdie is PERFEK.

DewaldS

Dankie vir ‘n goeie artikel, Nico. Ek bestudeer al ook oor ‘n baie lang tyd die internasionale verwikkelinge en ek is dit eens met die meeste van die gevolgtrekkings wat jy maak.

Gerhard

Ek wens tog ek kan vir ‘n slag ‘n gebalanseerde artikel lees oor die saak op MM. Dit is so asof daar net nie mense is wat neutraal is in die saak staan nie. Waarom is dit altyd die Weste of die VSA doen dit of dat. Dit is immers Rusland wat gaan inmeng toe die VSA reeds daar was en so die omstandighede meer gevaarlik gemaak het van net ‘n Midde-Oosterse konflik tot iets wat internasionaal kan ontaard. Waarom word daar nie geskryf oor hoe Rusland droogmaak nie. Daar word ook altyd vir jou vertel dit was beter voor… Lees meer »