Sirië ontbloot groter uitdagings in Midde-Ooste

ʼn Missiel word in Iran afgevuur en teiken die Islamitiese Staat (Isis) in Sirië. (IRIB-nuusagentskap, Morteza Fakhrinejad via AP)

Die ses jaar lange burgeroorlog in Sirië is lankal nie meer net ’n burgeroorlog nie. Terwyl President Bashar al-Assad met die hulp van Rusland en Iran ’n verbete stryd teen rebellegroepe, gesteun deur onder meer Amerika en Saoedi-Arabië, voer om beheer van die land, is die konflik in Sirië besig om die werklike vraagstukke oor mag in die Midde-Ooste duidelik te ontbloot.

Die oorlog in Sirië is besig om ou vraagstukke oor Midde-Oosterse landsgrense wat ná die Eerste Wêreldoorlog deur Europeërs geskep is, weer na vore te bring. Terwyl die Koerde op die punt van onafhankliheid staan, steun sommige Amerikaners soos die voormalige ambassadeur by die Verenigde Nasies, John Bolton, die skep van nuwe landsgrense wat die stryd tussen die Soenni’s en Sjiiette, minstens in Sirië en Irak kan verlig. Die stryd tussen Amerika en sy Soenni-vriende soos Saoedi-Arabië aan die een kant en Rusland en die Sjiiette van Iran aan die ander kant, raak toenemend duideliker, nie net in Sirië nie, maar ook in Irak en Yemen.

Die konflik in Sirië ontbloot ook belangrike vraagstukke oor die toekoms van groepe soos die Koerde, ’n volk wat die noorde van Irak en Sirië en suidooste van Turkye domineer en wat veral in die noorde van Irak op die randjie van onafhanklikheid staan. Die toekoms van die Alawi’s in Sirië en Turkye, sou President Bashar al-Assad tot ’n val kom, is ook onseker. Ook die toekoms van die Yazidi-minderheid is baie onseker met die meeste Yazidi’s wat reeds na lande in Europa gevlug het. Die Christenbevolkings van veral Sirië en Irak is onder groot druk en die vraag kan tereg gevra word oor of die Christendom ’n kans staan om in hierdie lande te oorleef.

Die stryd in Sirië is egter ook ’n stryd om invloed. Beide Amerika en Rusland het belangrike belange in die Midde-Ooste. Oor die afgelope paar weke is Amerika nog verder in die konflik in Sirië ingetrek, en met die Amerikaners se besluit op 18 Junie om ’n Siriese vegvliegtuig af te skiet, kan ’n mens nou sê dat Amerika volledig tot die stryd toegetree het. Waar die Obama-administrasie swaar gefokus was op die ondersteuning van sogenaamde gematigde rebellegroepe, wat veral teen die Islamitiese Staat geveg het, is die Trump-administrasie toenemend besig om direk in konflik met die Siriese weermag te tree.

Terwyl Donald Trump verlede jaar in sy verkiesingsveldtog die teenoorgestelde belowe het, is sy administrasie besig om homself dieper en dieper in konflikte in die Midde-Ooste in te grawe. Ook Rusland bevind homself toenemend dieper ingegrawe in die konflik terwyl sy eie belange, soos belangrike weermagbasisse in die Midde-Ooste, beskerm moet word.

Die konflik in Sirië het die potensiaal om tot oorlog tussen Amerika en Iran en selfs tussen Amerika en Rusland aanleiding te gee. Ook Saoedi-Arabië en Iran grom vir mekaar en is in praktyk reeds in Yemen in oorlog met mekaar gewikkel.

Dapper leierskap en visioenêre denke is nodig om die konflik in Sirië, maar ook in die hele Midde-Ooste, te ontlont. Die huidige stryd om mag en invloed deur lande van die streek, maar ook van groot wêreldmoondhede, voorspel egter eerder meer as minder konflik.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Die Europese grense wat in Afrika getrek is, is natuurlik ook deel van die probleem hoekom daar so baie burgeroorloë in Afrika is. Die ironie is dat die regerings in Afrika tot die laaste druppel bloed sal veg om te keer dat hierdie onlogiese grense verander word. Dit klink my dieselfde situasie is in die Midde ooste. Ek kan nie sien dat daardie grense gou sal verander nie.

John ·

Trump word in die nuwe rigting ingeboelie (dalk met leuens) deur die Pentagon wat die speletjie nie nou skipbreuk wil laat ly nie want langtermynplanne en groot kontrakte is in plek. Saudi-Arabie het Israel se steun om laasgenoemde se buurman te word, vandaar dat Katar, Iran se bedmaat, nou vasgevat en ingebreek word. Sirie se ryk olievelde knipoog vir Saudi-Arabie. Iran, van die Moslem-teenpool, moet ten alle koste nie die harde werk van IS en die rebelle ongedaan maak nie. ‘n Verdere vlieg in die vreemde konkoksie is die Palestyne met hul Turkse en ander korrupte bande. Jerusalem is voorwaar nou omsingel van vreemde gebeure en magte en hul dringende begeertes.

Wondermaarnet ·

Waarom hou die VSA aan om magte te ondersteun wat ander lande destabiliseer? Hulle het waaragtig niks in Sirie” te maak nie. Hulle ondersteuning van “rebelle” is effektief ‘n poging om Bashar Al-Assad te onttroon. Hoekom?

Libie” is ‘n gemors agv die VSA se ongevraagde inmenging en moord op Ghadafi. Nou oorstroom Afrika-vlugtelinge Europa deur hierdie gebroke land se grense.

Irak is ‘n gemors agv die VSA se ongeregverdige en leuen-gebaseerde inval en moord op Sadam Hoessein. Dit het gelei tot burgerloorlog en die huidige ISIS fiasko.

Die ontworteling van miljoene in die Midde-Ooste en die hele Europese vlugtelingsprobleem kan hoofsaaklik aan die VSA se voortdurende inmenging toegeskryf word. En intussen sit hulle hoogskynheilig op hul groot eiland met kernwapens op die wereld gerig en tjank soos ‘n kleuter as ander lande ook kernvermoee” ontwikkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.