Sitrusboere het dalk rede vir optimisme

Deur Justin Chadwick

(Foto: Vaalbos Trust)

Van oesgrootte tot skeepsvervoer – Suid-Afrikaanse sitrusboere het redes om versigtig optimisties te wees oor die 2024-seisoen wat voorlê.

Sover dra die bome goed, die vrugte lyk gesond en die bedryf verwag tans ʼn hoër oesopbrengs as verlede jaar. Dit lyk asof die sitrusbedryf heel moontlik weer ʼn rekordhoeveelheid 15 kg-kartonne hierdie jaar kan uitvoer.

Die Sitruskwekersvereniging is trots daarop dat die land se sitrusboere onder onsekere en dikwels moeilike omstandighede steeds vir sitrus-liefhebbers regoor die wêreld van groot hoeveelhede hoë-kwaliteit sitrus voorsien. Naas Spanje is Suid-Afrika die grootste uitvoerder van sitrus ter wêreld.

Navorsing deur die Sitruskwekersvereniging toon dat indien alle rolspelers in die sitrusbedryf saamwerk, Suid-Afrika 260 miljoen 15 kg-kartonne sitrus kan uitvoer teen 2032. Verlede jaar is 165,1 miljoen 15 kg-kartonne uitgevoer. Die bedryf het dus enorme potensiaal. Indien hierdie groeiteiken bereik word, sal niks minder nie as 100 000 nuwe werksgeleenthede ook geskep word.

Uitdagings met hawelogistiek

Die sitrusbedryf was gelukkig tydens die 2023-seisoen en het grootliks verbeterde hawelogistiek ervaar. Sedert Desember 2023 en gedurende die eerste kwartaal van 2024, het gebrekkige hawelogistiek veral in Kaapstad egter groot kopsere en groot finansiële verliese vir spesifiek die sagtevrugtebedryf veroorsaak.

Hoewel hawelogistiek in die geheel reeds weer begin verbeter het, doen die Sitruskwekersvereniging alles wat hy kan om te verseker dat haweprobleme ter voorbereiding vir die 2024-seisoen en vir die langtermyn opgelos word. Deel van die bedryf se aksieplan is ʼn Hawe-indaba wat ons 8 Maart in Pretoria hou, om seker te maak al ons lede weet presies wat die stand van sake is voor die 2024-seisoen begin.

Samewerking die sleutel

Die vooruitsig van groter samewerking tussen staatsentiteite en die privaat sektor bied hoop, soos ook onlangs aangedui is in fianansiesminister Enoch Godongwana se begrotingsrede. International Container Terminal Services Inc. (ICTSI) is verlede jaar gekies om die Durbanse Pier 2-houerterminaal op te knap en te bestuur. Die wêreld se voorste hawens word op hierdie basis bedryf en vir hierdie rede is ons geweldig positief en ondersteunend ten opsigte van hierdie verandering in Transnet se strategie.

‘n Vragskip van Hapag-Lloyd (Foto: Wikipedia)

Hopelik kan hierdie privaat-openbare-vennootskap reeds ʼn groot impak maak in die 2024-uitvoerseisoen. Die vennootskap bied ook ʼn model van hernuwing wat elders toegepas kan word.

Hoewel daar nog werk voorlê wanneer dit by die hawens kom, lyk sake rondom verskeping beduidend meer rooskleurig. Twee reuse-verskepingsmaatskappye het in Februarie aangekondig dat hulle nuwe uitvoerdienste vir Suid-Afrikaanse sitrus in die komende seisoen gaan aanbied.

Hapag-Lloyd, een van die wêreld se grootste skeepsrederye, betree die mark met ʼn splinternuwe diens wat teen Mei vanjaar sal afskop. Die diens sal loop tot September, en vanaf die hawens in Durban en Gqeberha na Europa en die Verenigde Koninkryk, wat steeds van Suid-Afrika se voorste sitrus-uitvoerbestemmings is.

Hapag-Lloyd se toetrede is die direkte gevolg van ʼn adviesprojek wat deur ʼn aantal varsprodukteverenigings, insluitend die Sitruskwekersvereniging, in 2022 van stapel gestuur is. Daardie jaar het ʼn studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) bevind dat vier uit vyf van alle sitrusprodusente ʼn verlies gemaak het, met uiters hoë verskepingstariewe wat die grootste bydraende faktor tot die skokkende afname in winsgewendheid was.

Die Sitruskwekersvereniging het die toetrede van Hapag-Lloyd gefasiliteer om die kapasiteit en mededinging in die verskepingsmark te verhoog, sodat langtermyn volhoubaarheid vir die sektor verseker kan word.

MSC, ook ʼn groot multinasionale skeepsredery wat reeds vir baie jare al ʼn voorste verskaffer van betroubare verskepingsdienste aan die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf is, het in dieselfde maand die verdere uitbreiding van hul uitvoerdiens aangekondig. MSC se nuwe diensopsie, wat nou elke Dinsdag loop vanaf einde-Mei tot begin-September, is veral goeie nuus vir sitrusboere in Patensie, die Sondagsriviervallei en Katrivier wat hul sitrus vanaf Port Elizabeth en Ngqura uitvoer.

‘n Afvaardiging van die Sitruskwekersvereniging van Suidelike Afrika voor die MV Cool Eagle by die Durbanse hawe in 2021. (Foto: Verskaf)

Dit is van uiterse belang dat alle sitrusboere, ongeag waar hulle geografies geleë is, toegang tot behoorlike en betroubare dienste het.

Uitvoermarkte noodsaaklik

Gegewe die vooruitsig van ʼn toename in produksie oor die volgende agt jaar, het die sitrusbedryf natuurlik meer uitvoermarkte nodig. Asië bied baie geleenthede in die verband. Drie jaar gelede is ʼn finale ooreenkoms met die Filippynse owerhede onderteken wat toegelaat het dat Suid-Afrikaanse sitrus ingevoer kan word. Dieselfde jaar het ʼn hersiene Chinese protokol ʼn belangrike mark uitgebrei en R325 miljoen se inkomste en 800 werksgeleenthede verseker. Die Sitruskwekersvereniging beywer homself ook om handelsverhoudinge met Viëtnam en Indië te verbeter.

Daar is dus hoop en goeie nuus om te vier, so tussendeur al die negatiewe nuus wat Suid-Afrikaanse burgers dikwels moet trotseer. Natuurlik is daar steeds ʼn hele klomp uitdagings en ʼn mens weet natuurlik nie wat in die toekoms kan gebeur nie. Tog getuig onlangse ontwikkelinge in veral verskeping van ʼn sitrusbedryf wat veerkragtig is en altyd die toekoms in die oog hou.

Gesonde en volgehoue samewerking tussen die Sitruskwekersvereniging, sy produsente en verskeie departemente van die Suid-Afrikaanse regering, veral die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, hou die sleutel tot toekomstige sukses.

  • Justin Chadwick is uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Landbou, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Mnr Chadwick, ek koop gereeld sitrus met “Sweet and Juicy” op die verpakking, maar is dan asyn suur, hoekom? Hoekom lewer sitrus produsente ‘n produk wat hulle goed weet is nie eetbaar nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.