Skei Naspers-koerante van sakebelange

Ek het die afgelope tyd met verskeie joernaliste gesels wat bande met Media24 het of gehad het. Ek het nie een raakgeloop wat gelukkig is oor wat van hierdie maatskappy geword het nie. Allerlei bedankings bevestig hierdie suspisie. Dit raak ons wat Afrikaanse media gebruik, nogal op ‘n heel direkte wyse.

Maar eers ‘n bietjie agtergrond: Media24 is die filiaal van Naspers (die gewese Nasionale Pers) wat  koerante soos Beeld, Rapport en ‘n hele aantal gemeenskapskoerante, asook tydskrifte soos Huisgenoot, Sarie en Landbouweekblad publiseer. Ek sou nog ‘n string titels kon byvoeg.

Naspers is die grootste mediamaatskappy in Suid-Afrika en Afrika. Sy internet- en ander belange strek wêreldwyd, tot in China en Rusland. Ook die Multichoice-DStv-M-Net-Supersport-konglomeraat is in die Naspers-kraal. Daarom is die Afrikaanse kykNET eintlik ook ‘n Naspers-kanaal.

Koos Bekker, hoof uitvoerende beampte van Naspers

Dat die Naspers van vroeër (gestig in 1915 om Die Burger uit te gee en genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party te ondersteun) ‘n hoogs suksesvolle, winsgedrewe multimediamaatskappy geword het wat wêreldwyd ‘n gerekende speler is, is ‘n beduidende prestasie. Daarvoor kan mens Koos Bekker, die uitvoerende hoof, krediet gee.

In dieselfde asem moet Ton Vosloo, die nie-uitvoerende voorsitter, die eer kry wat hom toekom. Hy het immers Bekker aangestel en geleentheid gegee om op die rug van ‘n gevestigde maatskappy sy empaaier te bou. En toe dit nie so voor die wind met die internetsake gegaan het nie, het Vosloo vertroue in Bekker behou.

Intussen het Bekker en Vosloo danksy ‘n stygende Naspers-aandeelprys uitermate welaf geraak. Talle ander  senior Naspers-mense het ook met veel meer in die bank afgetree as wat hulle sou kon gedroom het toe hulle as gewone joernaliste by die maatskappy begin werk het. Ek gun hulle dit.

Maar gee die Bekker-Naspers genoeg erkenning aan die rol van joernaliste gespeel het in die opbou van ‘n sterk maatskappy wat die basis gebied het vir die Bekker-inisiatiewe? Ek praat van die joernaliste wat oor dekades heen vir beskeie salarisse die maatskappy baksteen vir baksteen gebou het. Kom ons noem ook maar diegene wat tans in die koerant-loopgrawe lê. Hulle het dit nie maklik nie, veral as hul werk deesdae ‘n paragrafie werd is in Naspers se jaarverslagadvertensie.

Die ewige bestuursveranderinge, rondskuif van mense, die aanstel van bestuurders wat klaarblyklik nie veel weet van die pers of enige agtergrondkennis het van die (gewese) kultuur van Naspers nie, die onredelike laste wat op redakteurs geplaas word, die uitskuif van senior wit joernaliste … Ek sou kon aangaan, maar u kry die prentjie. (Terloops, as u my weergawe te dik vir ‘n daalder vind, gaan lees Jaco Kirsten se eerstehandse weergawe in die feitegegronde roman Om na ‘n wit plafon te staar.)

Ek wonder soms of hierdie onsekerheid ‘n doelbewuste bestuurstaktiek van Bekker is? Of is dit bloot onbevoegdheid van die mindere bestuurders? Waarom sal mens so onaangenaam teenoor uitstekende joernaliste wees? Omdat daar geld te maak is uit die wegdryf van knap mense? Omdat daar altyd ‘n volgende alte gewillige redakteur is? Tog nie.

Koerante maak dalk nie meer soveel geld as vroeër nie, wat te verstane is in die lig van die ekonomie en die geleidelike swaai weg van dagblaaie (hoewel daar ook uitsonderings is). Tydskrifte doen seker nie te sleg nie (as jy na die advertensies kyk). Gemeenskapskoerante doen in bepaalde markte uitstekend. Maar die gedrukte media is lankal nie meer Naspers se groot geldmaker nie. Multichoice en die internetbelange is waar die miljarde gemaak word.

Daarom steur Bekker hom seker nie alte veel aan die drukmediabelange nie, sou jy dink. Nie as my inligting reg is nie. Die Koos-sê-kultuur is in volle swang in die hele Naspers, al is dit via sy lakeie.

Wat my by ‘n eenvoudige vraag bring: Waarom bodder Bekker nog met koerante?

Waarom sny hy nie die Afrikaanse dagblaaie, Rapport en die gemeenskapskoerante af van die moederskip wat tog nie meer erg het aan koerante het nie? (Voeg City Press sommer by. Naspers het die koerant al ‘n slag verkoop en toe maar weer teruggeneem.) Waarom nog kosbare tyd aan hulle bestee as elders meer groot geld gemaak kan word?

Plaas die koerante in ‘n trust of trusts, beheer deur die lesers. Dan kan Beeld, Volksblad en Die Burger hul eie gang gaan. Sink hulle, is hulle daarmee heen. Oorleef hulle, is dit omdat die gemeenskappe wat hulle dien hulle wil hê. So kan selfs gemeenskapskoerante – veral hulle! – waarlik gemeenskapskoerante word waarin die betrokke lesersgemeenskapp regstreekse inspraak het en kan die rekenmeesters wat so graag baasspeel hul talente elders gaan gebruik. (Ja, finansiële dissipline is natuurlik nodig, maar sonder die huidige rekenmeesterskultuur het sommige koerante al ‘n honderd jaar goed oorleef.)

In Engeland behoort twee van die heel beste koerante, The Guardian en The Observer, aan ‘n trust. Elders is daar ook talle voorbeelde van koerante wat losgemaak is van suiwer kommersiële belange. Hierdie koerante moet natuurlik oorskotte genereer, want daar is nie aandeelhouers of ‘n ryk magnaat wat hulle gaan red as hulle sink nie. Maar hulle hoef ook nie dividende aan gierige aandeelhouers te betaal nie.

So sal Piet Cillié, ‘n vorige voorsitter van Naspers, se gedagte (weer) tot uitvoer kom dat die maatskappy nie winste moet najaag nie, maar oorskotte produseer, dus geld wat nodig is om te oorleef en selfs beter en sterker te word.

Dan kan oorskotte in weldeurdagte opleiding gepomp word en senior skrywende joernaliste behou word. Gehalte kan dan die groot mikpunt wees, nie winste nie. Die koerante kan dan onafhanklik van suiwer kommersiële dryfvere na die hoogste professionaliteit en media-etiek streef.

Verstaan my goed. Ek het hoë agting vir ons Afrikaanse dagblaaie en daar is regtig goeie gemeenskapskoerante in die Media24/Naspers-stal. Daar is puik joernaliste en redakteurs van  integriteit. Maar ek dink hulle moet vrygemaak word van eensydige winsgedrewenheid wat deur bestuurders aangevuur word wat net die volgende bonus en beroepskuif in die oog het.

So kom die koerante (wat die lewensbloed van ons demokrasie is) los van selfsugtige sakelui wat elk op hul eie gierige manier geld najaag (soos wat Koos Bekker in Rapport sakelui klaarblyklik instemmend beskryf het).

Ek wil ‘n mediabaas of -base hê wat uitstyg bo die eensydigheid van ‘n Murdoch en die oudmodiese Adam Smith-benadering na die ashoop stuur. Ons kan veel, veel beter doen. Ons moet veel beter doen as die nuusmedia ‘n toekoms gaan hê.

Naspers-groepstruktuur (Mei 2012) Bron: www.naspers.com

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius Buys ·

Uitstekende voorstel Professor Froneman maar die vraag is kan die ANC konstante, goed deurdagte, nagevorsde artikels bekostig wat uiteraard die regerings regime gaan aanval? Ek dink die hand wat die deurknop na dagblad vryheid toehou is polities eerder as ekonomies van aard. Die ANC kan eenvoudig nie ‘n werklik onafhanklike Afrikaner stem bekostig nie, ek hou Media 24 se multimiljoen saak teen onafhanklike Afrikaner regte aktivis Dan Roodt van PRAAG voor as voorbeeld.

Frank ·

Goed gestel Marius, Dan Roodt word gedreig met bankrotskap deur al die hofsake teen hom. Dawid en Goliat. Wys jou hoe graag Naspers en media24 vir Dan Roodt wil stil hou… hulle hou nie van wat hy se nie.

Goeie artikel professor.

Jeroen ·

Ek dink dit is ʼn uitstekende idee.

Maar hoekom kan daar nie nou reeds ʼn nuwe koerant gestig word wat uit die staanspoor so bedryf word nie? Naspers dra buitendien lankal nie meer die Afrikaner se belange op die hart nie. Persoonlik koop ek al vir twee jaar nie meer Naspers koerante nie en ek is tans besig om my intekening op van hul tydskrifte ook te staak.

Ek sien uit na meer onafhanklike media stemme. Praag kan dit nie alleen doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.