Skenk jou ‘twee hoenders’ en help mekaar in die koronakrisis

dr-dirk-hermann-brief

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Solidariteit/Facebook.

Op 7 April 2020 hou die Solidariteit Beweging ʼn Helpmekaardag. Die eerste mylpaal is om R2 miljoen in te samel vir mense wat in maatskaplike nood verkeer en om kinders met hul skoolwerk in die krisistyd te help. Mense is onseker, wonder oor die toekoms en is bekommerd oor hul werk, maar juis in hierdie tyd word dit ʼn helpmekaartyd.

Op 10 November 1917 was dit ook ʼn Helpmekaardag. Dit was die hoogtepunt van die Helpmekaarbeweging ná die Rebellie van 1914. Ná die Rebellie was die land deur absolute armoede en swaarkry getref. Die rebelle moes boetes en skadevergoedingseise betaal.

Veral die Vrystaters was swaar getref. Op Bethlehem is besluit: “Ons moet saamdra en saamwerk” om die nood te verlig. Dié besluit tot die Helpmekaarbeweging gelei.

Die Bethlehem-besluit het vlam gevat in die res van die Oos-Vrystaat en toe versprei na die hele Vrystaat, die Transvaal en die Kaap. Die koerant, Die Burger, het ingespring met ʼn reuse-insamelingspoging. Almal was arm, maar almal het mekaar gehelp. Basaars is gehou. Bedags was vroue se tafels naaldwerkplekke en saans ʼn bakkery. Baie mense het bietjies gegee. Kerke het van deur tot deur geloop om geld te kollekteer. Jongmense het debataande gehou en donasies gevra. Gesinne het sonder vleis en suiker klaargekom om die geld wat so gespaar is, te skenk. Kinders het hul sakgeld gebruik om by te dra. ʼn Bankrot boer het twee hoenders gegee met die woorde: “Ik is geheel uitgeboer en dit is alles wat ik kan gee.”

Op 8 November, twee dae voor die destydse Helpmekaardag, was genoeg geld ingesamel om al die rebelle se skuld te betaal. Aan vandag se waarde gemeet, is meer as R150 miljoen in vier maande deur mense in nood, vir ander in nood, ingesamel. Dit was ʼn inspirerende prestasie.

In wat daarop gevolg het, het ʼn gees van help mekaar posgevat. Instellings soos Sanlam, Santam en Volkskas is gestig. ʼn Volk het vir homself en vir mekaar opgestaan.

In 2020 word Suid-Afrika getoets deur een sy grootste uitdagings nóg vir hierdie geslag. Wêreldwyd word die mensdom geskud met meer as ʼn miljoen mense wat die virus het en die ekonomie wat inplof. Angela Merkel, kanselier van Duitsland, bestempel dit as die grootste krisis sedert die Tweede Wêreldoorlog. Niemand weet nog hoe dit gaan uitspeel nie. Daar is egter instemming dat Suid-Afrika nog maar aan die begin van die krisis is.

Wat ons klaar sien, is dat die staat van afsondering reeds sy tol begin eis. Daar is reeds mense in maatskaplike nood. Salarisse is nie betaal nie. Hulp is afgesny. Mense het hul werk verloor. Ouer mense is alleen en talle sukkel om gesond te eet. Kinders wat by skole kos gekry het, is skielik sonder kos. Daar is skielik onmiddellike nood en die ergste lê nog voor. Die Solidariteit Helpende Hand klim in en help. Hulle het reeds R750 000 se hulp uitgedeel en vestig Josef Silo’s landwyd waar mense kan gaan kos skenk.

Behalwe die maatskaplike nood is daar skielik ook ʼn onderwysnood. Kinders is nie in die skool nie. Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool, ondersteun leerlinge om met hul skoolwerk te kan aangaan. Duisende matrieks kan voortgegaan met ʼn matriekskool. China mag wel binne dae ʼn hospitaal midde-in die koronakrisis gebou het, maar die Solidariteit Beweging het binne dae ʼn matriekskool gebou. Altesaam 53 000 leerlinge het vir Wolkskool geregistreer. Hierdie inisiatief moet dringend radikaal uitgebrei word.

Kleinsake is onder druk en die Solidariteit Beweging het begin om mense aan te moedig om kleinsake te ondersteun. AfriForum het ʼn netwerk van kleinsakeondernemings gevestig en moedig mense aan om hulle te steun. Die beste manier om te help is om koopkrag te mobiliseer.

In die lig van die nood wat besig is om te ontstaan, het die Solidariteit Beweging ʼn noodfonds begin om die maatskaplike nood en die onderwysnood die hoof te bied.

Op 7 April is ʼn Helpmekaardag midde-in die koronakrisis. Die doel is om geld vir die noodfonds in te samel. Dit is die begin van ʼn enorme helpmekaarpoging. In die tye wat voorlê, sal ons mekaar moet help. Ons gaan almal onseker wees en ons gaan almal swaarder kry, maar juis daarom moet ons mekaar help. Dit is ʼn tyd waarin ons moet saamdra en saamwerk. Dit is tyd dat ons ons “twee hoenders” gee.

Die staat gaan ons nie deur die krisis dra nie. Ons sal mekaar moet dra.

Die Virseker Trust het R1 miljoen aan die Solidariteit Beweging se noodfonds geskenk. Op 7 April is ons eerste mylpaal om minstens nóg R1 miljoen bo en behalwe Virseker se miljoen uit die gemeenskap in te samel. Almal moet net hul bietjies vir mekaar gee.

Kom ons roep mekaar op om daar te wees vir mekaar en stuur die boodskap wyd uit.

As jy jou “twee hoenders” of enige ander bedrag wil skenk, besoek www.krisisfonds.co.za

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.