#SkepSaamHoop: Werk hard, staan vas en praat hoop!

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Rozier van Tonder

Onteiening sonder vergoeding, geweldmisdaad, die afskaling van Afrikaans en haatspraak teenoor minderhede is van die probleme wat baie mense moedeloos maak en hoop vir die toekoms laat verloor. Moedeloosheid en ’n gebrek aan hoop hou op sigself egter ’n groter bedreiging vir ons toekoms in as die genoemde probleme.

Moedeloosheid en ’n gebrek aan hoop bring ongelukkig mee dat mense tou opgooi en apaties raak, omdat hulle dink dit is ’n onbegonne taak om die probleme suksesvol te pak. As jy niks doen nie omdat jy dink jy kan niks bereik nie, word dit ’n selfvervullende professie, want jy gaan dan nie die loop van die geskiedenis kan verander nie. Jy word dan bloot ’n slagoffer van die geskiedenis.

Die geskiedenis van Afrikaners en Afrikaanssprekendes is egter gelukkig deurspek met voorbeelde van mense wat onder moeilike omstandighede moed gehou het en deur hoop gedryf is om groot uitdagings te oorkom. Dink maar aan hoe moedeloos ’n mens moes gewees het as jy ná die Tweede Vryheidsoorlog onder Britse bewind na ’n afgebrande plaas moes terugkeer én boonop van jou geliefdes aan die dood moes afstaan in konsentrasiekampe of op die slagveld. Om van voor af te begin bou, kon baie mense maklik laat tou opgooi het. Dieselfde moedeloosheid kon maklik ook verlammend gewees het tydens die grootskaalse armoede onder Afrikaners in die 1930’s. Daar was egter telkens ’n groot genoeg groep mense wat deur hoop en ’n roepingsbesef gedryf is om die probleme te oorkom. Daar is dus geen rede waarom óns geslag nie ook die uitdagings van ons tyd met sukses kan pak nie. Oorlewing is immers in ons bloed!

As organisasie met ’n Christelike grondslag glo AfriForum dat God in beheer is en dat ons deurlopend kan en moet bid vir uitkoms uit die krisisse wat ons tans moet trotseer. Ons besef ook dat ons nie net kan bid, terugsit en wag dat die probleme verdwyn nie. Dit is noodsaaklik dat elkeen van ons ook ons roeping moet opneem en hard werk om ook hier op aarde ’n samelewing te help vestig waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Die vraag is dus wat AfriForum, sy lede, werknemers en die algemene publiek kan doen om draers en skeppers van hoop te wees. AfriForum het vyf vereistes geïdentifiseer waaraan ons organisasie en lede moet voldoen om hoop te kan skep. Dít behels dat ons oor ’n werkbare toekomsplan moet beskik, dat ons oor die vermoë moet beskik om die plan uit te voer, dat ons hard moet werk, dat ons vas moet staan vir wat reg is en dat ons ’n boodskap van hoop moet uitdra wanneer ons praat. Die besonderhede hiervan is soos volg:

  1. ’n Werkbare toekomsplan

AfriForum en die Solidariteit Beweging besef die belangrikheid van ’n werkbare plan om sukses te kan behaal en het daarom reeds ’n omvattende toekomsplan ontwikkel wat byna elke lewensterrein dek. Dié plan staan wat elke lewensterrein betref op twee bene, naamlik (a) om die bestaande werklikhede te probeer verbeter en te beïnvloed, en (b) om onafhanklik van die staat selfstandig nuwe werklikhede te vestig waaroor ons beheer het. Om werklikhede te beïnvloed is druk deur howe, internasionale bewusmaking en die openbare mening dikwels noodsaaklik. AfriForum het al telkens deur hierdie strategie die regering sover gekry om van ’n bepaalde beleidsrigting af te sien of om op te tree om ten minste hul werk te doen.

Soms werk die drukstrategie, maar soms ook nie. Juis daarom is dit belangrik om alternatiewe werkbare werklikhede te skep. ’n Voorbeeld van die tweebeenstrategie is om byvoorbeeld aan die een kant druk op die polisie te plaas om hul werk te doen, maar om terselfdertyd gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe tot stand te bring waardeur ons selfstandig na ons eie veiligheid kan omsien. Nóg ’n voorbeeld is om te veg vir die behoud van Afrikaans aan openbare universiteite, maar terselfdertyd binne die Solidariteit Beweging se stal om ’n Afrikaanse universiteit soos Akademia tot stand te bring waar gehalte-onderrig in Afrikaans gebied word.

  1. Vermoë om die plan uit te voer

’n Werkbare plan is nutteloos indien die Solidariteit Beweging se instellings, waarvan AfriForum deel vorm, nie ook oor die uitvoerende vermoë beskik om die plan uit te voer nie. In hierdie verband is AfriForum dankbaar teenoor elkeen van sy meer as 215 000 lede wie se steun die organisasie in staat stel om ’n sterk infrastruktuur te vestig, kundige personeel aan te stel en tientalle veldtogte van stapel te stuur. Die meer as 7 000 vrywilligers wat praktiese projekte deur AfriForum se plaaslike takke uitvoer, verhoog die organisasie se uitvoerende vermoë aansienlik. Dit bly ’n belangrike fokuspunt om AfriForum verder te laat groei, sodat die instelling in staat sal wees om selfs nóg meer te kan doen.

  1. Werk hard

 My oorlede skoonpa het altyd gesê die enigste plek waar “sukses” voor “werk” kom, is in die woordeboek. By elke ander geleentheid is werk nodig voordat sukses bereik kan word. Daarom is ek dankbaar vir elke AfriForum-lid, -vrywilliger en -personeellid wat met toewyding en harde werk ons projekte aanpak. Ek nooi graag almal wat ons ideale deel maar nog nie betrokke is nie, om saam te kom werk vir ’n beter toekoms.

  1. Staan vas vir wat reg is

 Ons saak is billik, ons bevorder wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe én ons kan in alle eerlikheid daarop aanspraak maak om die morele hoë grond te beklee. Ons moet dit deur ons optrede en standpunte so hou. Ongelukkig is dit so dat diegene wat van ons verskil soms poog om vals etikette om ons nek te hang, veral wanneer ons dit “durf waag” om ’n ander standpunt as dié van die heersende orde te huldig. Sou ons swig voor die onverdraagsames wat nie alternatiewe denke duld nie, sal ons dit moeiliker maak vir enige iemand om dit in die toekoms te waag om alternatiewe sienings te huldig. Daarom moet ons, ondanks druk, nie afwyk van ons billike standpunte en doelwitte nie.

  1. Praat hoop

 Negatiewe praatjies is ongelukkig aansteeklik. Maar gelukkig is positiewe woorde van hoop ook aansteeklik. Ontkennende naïwiteit en paniekgedrewe mismoedigheid is albei twee uiterste pole waarmee AfriForum nie kan vereenselwig nie. Ons kies ’n derde weg, naamlik een wat die werklikhede vierkantig in die oë kyk, maar met die geloof en hoop dat ons geslag, net soos ons voorgeslagte, die uitdagings sal kan oorkom.

Ten slotte wil ek elkeen van julle uitnooi om deur jou woorde en dade saam met AfriForum en die Solidariteit Beweging draers en verkondigers van hoop te word. Ons is dit aan ons kinders verskuldig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

JC ·

Wonderlik! Baie dankie; moenie een tree terugstaan vir wat reg en billik is nie. Veg terug teen ongeregtigheid!

Casper Labuschagne ·

Daar moes ‘n punt nommer 6 gewees het, Staan Saam.

Buiten diegene wat steeds vasklou aan die mite van Mandela se reënboognasie asook wigte en teenwigte, maak elkeen tans sy eie planne, baie beplan om te emigreer, ander verkoop als om af te tree, andere besluit dat slegs die een of die ander organisasie of politieke party en NIEMAND ANDERS NIE, vir SA kan red. En so, omdat ons elkeen sy eie planne maak en sy eie oplossings nastreef, so sal ons dan ook ten gronde gaan. Want elkeen van ons weet soveel beter as enigiemand anders, terwyl diegene wat hul beywer vir ons ondergang bankvas saamstaan met een doel voor oë – die vernietiging van ons volk.

pffft ·

Ag ou Kallie… maak eerder planne om ons eie land te bekom. Julle weet tog daar is net een rigting met die ANC in beheer (“aan bewind”) en dit is ondertoe, en hoe vinniger hoe beter.

As die mat heeltyd onder ons rondgeruk word is dit maar moeilik om te bly staan. Ons moet eers beheer bekom oor die mat. Die mat Kallie. Die mat!

Rasper ·

Die mat was lanklaas so onder my voete uitgeruk, toe ek die berig lees van die dogtertjie wat verkrag is by die Dros. My dogtertjie is ook ses. Klein, fyn….. so onskuldig. Vanaand gaan my vrou vir my vra of ons nie maar moet trek nie. Ek weet dit. Want sy sou ook die artikel gelees het, of dit êrens op FB gesien het. Ons het al gekyk na al die lande se “skilled workers” programme, en ons punte lyk goed. Ek sal hoop praat. Weet nie of dit genoeg sal wees nie, want ons praat dit al lankal. Ek weet ons het dit aan ons kinders verskuldig. Maar ons skuld hulle meer as hoop. Ons skuld hulle ‘n veilige speelplek. Ons skuld hulle meer as wat SA ons bied. Ons skuld hulle meer…. Nee, hel, dinge is nie veronderstel om so te wees nie…

AW ·

Ekke weer…Sê en Dink….Solank as wat ekke Asem Haal is my Teenwoordigheid in SA, ń onaangename Doring in “Hulle Vlees’!!!
Maar ek bly Hoflik teen oor hulle want Hoflikheid kos my nie n Sent Nie!!

Staak saam ·

Kallie ek kan nie genoeg se hoe hoopvol ek vir die toekoms is nie, ek is so posetief, ek loop oor van geloof vir die toekoms maar, dit gaan eers veel slegter gaan as nou voor dit beter gaan word.
Die beterskap wat op ons wag sal ook nie uit hierdie bedeling kom nie.

Hendrik ·

Nee wat ons kyk hier van die rant oor Pretoria en sien hoe spartel almal vir oplossing en die oplossing is regtig ooglopend eenvoudig. Die Solidariteitsbeweging het genoem dat hulle binnekort ontwikkelasareas gaan/het identifiseer waar die Afrikaners kan begin groepeer orals in die land. As jy vra dat almal moet saam staan, staan jy waarskynlik en werk jy waarskynlik nie saam nie. Ons het alreeds werkskepping in ons selfstandige area en die meerderheid mense ry elke dag, vanaf ‘n veilige tuiste na hul werk in die PWV gebied.

Eish ·

Nou hou jul dit alles vir jul eie klooster?
Dis nie juis mededeelsaam nie!
As jul reeds werkskepping het in jul eie selfstandige area, hoekom ry jul so ver werktoe?

Jerry ·

Alles is goed en wel Kallie. Ek kan myself met alles vereenselwig, dit is edel en jy bedoel dit wat jy se opreg! Maar en dit is n groot MAAR, hoekom sal n boer wil terugkeer na n afgebrande plaas wanneer dit verhoed kan word deur eerder met die magshebbers in wen-wen gesprekke te tree en versoenend teenoor mekaar op te tree tot voordeel van Suid Afrika, Suid Afrikaners en Afrikaners. Die boere van daai tyd wat moes opstaan uit die as van oorlog het tog sekerlik agterna besef dat dit alles so onnodig was, die dat hulle nie weer wou oorlog maak nie, maar eerder deur praat hulle interne geskille probeer oplos het. Daar is beslis sekere raakpunte soos bv wetstoepassing waaroor gepraat moet word en so ook elke liewe denkbare lewensterrein. Ons is nie in n oorlog gewikkel nie en daarom moet daar gepraat word, juis om nie in n oorlog gewikkel te word nie. Die boere van die tweede vryheidsoorlog wat teruggekeer het na hulle afgebrande plase sou vir jou gese het as hulle kon, praat met die magshebbers oor dit wat jou pla Kallie en hou aan praat al help dit nie altyd nie, hou tog in vadersnaam net aanhou praat sodat ons nageslagte nooit weer die ellende hoef te ervaar wat oorlog oor ons gebring het! Soos ek gese het Kallie, skep saam hoop is baie edel gestel, maar dit is net edel vir solank as wat dit vrede en voorspoed bring!

Rasper ·

@Jerry. Jy sê ons is nie in ‘n oorlog gewikkel nie… In watter land bly jy? Oorlog is net nie verklaar nie. Die Duitsers het ook nie oorlog teen die Jode verklaar nie. Daar was net gesê dat alles wat in Duitsland verkeerd is die Jode se skuld was. Daar was beslag gelê op hulle eiendom. Klink dit bekend? As jy dit nie oorlog wil noem nie, noem dit maar die ANC se “final solution”. Hulle hoef nie te praat nie. Hulle moet net lank genoeg wag dat ons almal emigreer, doodgaan aan ouderdom en vermoor word. Ons kan nie praat nie, want dit wat ons het, kan hulle vat.

Veritas ·

Ek stem saam met jou Jerry. Diegene wat so maklik van oorlog praat, lewe in ‘n droom. Ons wat betrokke was in die grensoorlog en aktief betrokke was in Angola, het ‘n idee waaroor dit gaan. Vra maar vir die eggenotes wat lewensmaats afgestaan het aan die dood. Kinders wat hul pa vir drie maande elke jaar, nie kon sien nie en ná die drie maande weer ‘n band met hom moes probeer bou. Húlle sal jou kan vertel watse invloed dit op ‘n huigesin gehad het en steeds het. Vele huwelike het as gevolg hiervan in die slag gebly. Nee-wat, oorlog moet slegs as die laaste oorblywende uitweg van oorlewing gesien word. Na my beskeie mening is ‘n vreedsame oplossing die beste vir almal. Hoe om dit te bereik bly egter ‘n netelige kwessie maar ek glo dat die Afrikaner oor die vermoë beskik om hierin te slaag. Die ekonomiese mag en intelligensievlak van die Afrikaner plaas hom in ‘n posisie om ‘n volhoubare, aanvaarbare te beding. Dit moet net nie uit ‘n onderdanige posisie hanteer word nie. In Afrika word ordentlikheid maklik met swakheid verwar. Kyk maar hoe gaan die EFF tekere. ‘n Party wat skaars 10% van die kiesers agter hom kom skaar. Nog ‘n probleem van die Afrikaner is leierskap. Elke Jan Rap en sy maat wil baas wees maar geeneen is bereid om die gepaardgaande opofferings te maak nie.

Henry ·

Ja, daar is derduisende van ons wat groot opofferinge voor 1994 gemaak het. Dit het ook nie na 1994 afgeneem nie. Inteendeel.

Daar is geen aanduiding dat die EFF veel, indien enige, wit lede het nie. Trouens, ek vermoed dat sulke lede nie baie welkom sal wees nie, aangesien dit vir seker nie by hul verklaarde beleid en afkeer van “wit oorheersing, wit monopolië” ens ens sal inpas nie. Daarom kan hulle as rasgenote die ANC sonder vrese dat hulle as rassisties gebrandmerk kan word, aanval, beledig veroordeel en wat ookal. Hulle hoef vir seker nie voetjie-voetjie met CR en die res te speel nie.

Terloops.
Die Joodse gemeenskap in Duitsland het voor 1933 en selfs tot die einde van 1938, gedink, ge-glo en gehoop dat die vernietiging van hul besighede en viktimisasie deur die Nazi regering, van verbygaande aard is.

Kristallnacht se geweld en vernietiging gedurende November 1938, het hierdie illusies soos mis voor die son laat verdwyn. Meer as helfte van die Joodse bevolking het gedurende die volgende maande na die VSA, VK, Argentinië en Palestinië gevlug. Die wat agter gebly het, was nie so gelukkig nie.

Geskiedenis is uiteindelik netso nuttig en waardevol in soverre mens bereid is om lesse daaruit te leer…

CG ·

Kallie. Jy wil hê mense moet hoop hê? Op grond van Afriforum se “plan” en optrede? Dieselfde plan en optrede van die afgelope paar jaar? Ten spyte daarvan dat hoe meer Afriforum doen, hoe slegter dit met die Afrikaner gaan? ‘n Gespartel in ‘n kol dryfsand – hoe meer daar gespartel word, hoe dieper sak jy weg? Maar jy dink Afrikaners moet op grond van dié gespartel hoop hê? Dink jy Afrikaners is onnosel, Kallie? Hulle is nie- hulle emmigreer nou weer soos in 94. Afriforum se futiele gespartel skep geen hoop nie. Julle moet ‘n beter plan maak, Kallie! Die enigste plan wat weer hoop kan skep is selfbeskikking op ons eie grondgebied! Enige iets minder as dit is ‘n hopelose gespartel in dryfsand. Die tyd loop uit- mense emmigreer op strepe…

Hendrik ·

CG ek stem saam en ek hoop Maroela publiseer my bydrae. Ons kan net nie meer wag nie en die moedelose enengie moet nou omgeskakel word in werk, inovasie, … Kom manne (Die solidariteits beweging) ons wag en julle moet dapper wees want ons op grondvlak is en wag dat julle inval dat ons kan begin. Hou op vaag praat en kom ons doen wat gaan noodsaaklik is om ekonomies selfstandig te word en daarna kan ons beding uit ‘n posisie van krag.

leon ·

Op die boonste vlak van Afriforum en Sake Liga slaag die organisasies uitstekend in hul doel. My kritiek is op die take se aktiwiteite op plaaslike vlak. Miskien moet ek my beperk tot Centurion. Ek is nie bewus van enige aksies/inisiatiewe die laaste twee jaar nie.

Daar is talle mense wat graag ‘n bydrae wil lewer en sal floreer met bietjie aanmoediging.

Celtis Africana ·

Ek sou bitter graag die organisasie se finansiële state onder oë wou neem.
Net om te sien dat die hoop nie beskaam nie.
Ek is steeds die mening toegedaan dat territoriale selfbeskikking by verre die beste uitkoms bied synde die verkloostering ter plaatse ons steeds laat met uitlewering aan die regeerders se wetgewing wat ons kan verpletter. Om nie eens te praat van dubbele belasting en geleentheidsdiefstal nie.

Hendrik ·

Ek voel weer dat die aksies wat ons loods regtig halfgebak is. Ons moet regtig areas identifiseer vir Afrikanergroepering soos deur Die Solidariteitsbeweging gepropigeer word en soos kenners soos Prof Koos Malan telkemale uitgewys is. In hierdie gebiede moet werklike werkskeppings programme geloods word. Ons moet in alles betrokke wees van vragvervoer, koerier, vervaardiging, boubedryf ens…Die gebiede is alreeds om die stede daar om ontwikkel word. Ek dink ons wil maarte hart probeer dat die demokrasie werk en ELKE maand word net meer mense werkloos. Ons voel die toestroming van mense wat wil werk en wat werksondervinding het. Maar nog steeds sloer ons. ONS wil maar die hand wat ons sterk maak deur maandelikes bydraes wil nog nog demokratiese speletjies speel. Kallie ons is ernstig en julle moet nou die plan begin!

Jerry ·

Veritas, ek stem saam met wat jy se, maar nie oor ordentlikheid wat in Afrika as swakheid gesien word nie. Dit geld net in die geval van die Zuptas, EFF en BLF en selfs in hulle geval beteken hulle idees tot uitlokking vir konflik en anargie niks wanneer dit blatantweg geignoreer word nie. Wat die gematigde ANC en swartmense aanbetref word die nederigheid van n witmens teenoor swartmense gereken as n teken van innerlike krag en goedgesindheid, wat wedersydse respek, verdraagsaamheid en vertroue verdien en wat vriendskap kweek en nie noodwendig soos jy se, as n swakheid nie. Wanneer n witman egter n sterkman benadering voorhou teenoor swartmense skep dit wantroue en word dit geag as arrogant en word dit bejeen as n bedreiging wat verdien om geteiken te word, nie noodwendig altyd direk nie, maar beslis indirek en wat presies tans in Afri-Forum se geval, geld. Strategies is die ANC reeds besig om Afri-Forum se sterkmanbenadering van regskennis in die howe met OSV te toets en hulle gaan aanhou toets en regskennis en argumente van Afri-Forum melk totdat hulle Afri-Forum met die forum se eie regsargumente sal troef! Wanneer jy dus oor n getoetste vermoe beskik, dan kan jy n sterkmansbenadering volg, maar selfs dan is n suksesvolle uitkoms nie noodwendig gewaarborg nie. Wanneer jy dus in Afrika n sterkmansbenadering volg, met of sonder n getoetsde vermoe sal jou bluf geroep word, hoor my lied! Volg n nederige benadering met versoenende optrede en spaar sodoende die Afrikaner gedwonge vernedering!

Willem ·

Jerry, jy het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie. Nederigheid, empatie, jy soek al die sagte woorde uit, sonder om die realiteit waaroor onderhandeling gaan in ag te neem. Ek kan mos nou saggies met iemand gesels, maar op so ‘n manier, dat hy sal verstaan dat ek nie met hom saamstem nie. As ‘n kar se wiel pap is en die kar die afgrond gaan instort as hy nie dringend stop nie, kan ek dit vir hom nederig en saggies fluister.

Jerry ·

Jy is ook reg Willem. Met my benadering kry n mens redelik en baie vinnig uitsluitsel oor sensitiewe sake en kan almal vorentoe beweeg. Een goeie voorbeeld is dat n aanvaarbare mynbouhandves reeds die lig gesien het waar alle betrokkenes, ingesluit Solidariteit se verteenwoordiger my benadering gevolg het. Nog n voorbeeld is dat ons presies gaan weet waar ons staan met OSV teen Maart 2019. My benadering skep dus n onderhandelingsvriendelike omgewing waar wen-wen uitkomste aan die orde van die dag is en ons vorentoe beweeg na die volgende sake van belang. Met Afri-Forum se ondermynende benadering kry jy nie uitsluitsel oor geen sake nie en staan alles en luier. So bv is daar geen aanduiding, laat staan nog uitsluitsel oor n eie grondgebied. So, ja Willem weereens is jy reg volgens Afri-Forum denke, maar beslis nie volgens redelike en verstandige denke nie! Ek het selfbeskikking en eie grondgebied al vir die afgelope 33 jaar in SA en nou ook al in die buiteland. Julle sukkel nog om te begin met selfbeskikking, laat staan nog eie grondgebied, maar ja, jy is reg Willem. Die feite van wat my benadering bereik vs die Afri-Forum benadering, spreek egter vir ditself! Aan die einde van die dag vorm die verskillende benaderings egter n kombinasie met die AfriForum benadering wat my benadering ondersteun in die sin dat die ANC toegewings maak aan alle groepe wat met hulle praat ten einde AfriForum te isoleer! So, wie moet ons bedank, weereens Virseker, vir AfriForum!

Eish ·

’n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom. Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel. Op elke plek is die oë van die Here , en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies. Sagtheid van tong is ’n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.
SPREUKE 15:1‭-‬4
Is dit nie n groot jammerte dat ons as Christene so moeilik voldoen aan die lewensvereistes van die Woord nie?
Ons word juis gemaan tot n ” sagte tong” nie slegs indien dit omstandighede gunstig is nie, maar selfs in uiterste omstandighede soos wat ons beleef.
Ons Redder het nooit enigiets negatief te sê gehad oor die koloniserende Romeine nie, nooit. Inteendeel, woorde soos ” … betaal aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom. ..”
Aan Pilatus weer het Hy gesê dat dié geen gesag oor Hom sou gehad het, indien dit nie van Bo gekom het nie.
Ons afgodjies word een na die ander uitgeknikker en ons word al kaler.
Die tyd is oorryp om te leef wat ons glo. Moet ons waaragtig alles verloor voor ons gaan lewe volgens die Handleiding?

[email protected] ·

Baie dankie Kallie.
Kan enige Suid-Afrikaner my assebief in ‘n enkele sin inlig wat die Suid-Afrikaanse nasie se NASIE-VISIE is?
Die visie moet kort, eenduidig en memoriseerbaar wees. Die visie moet ‘n uitdaging en hoop aan die nasie bied, die nasie fokus, haalbaar wees en ‘n keerdatum bevat.
Ek wag in spanning op die terugvoer my mede-Suid-Afrikaners. En wat van ‘n Afrikaner-Visie?

Jerry ·

Ek stem saam Eish! Vlakvark, hier is my beskeie visie mening ! Nation vision- To transform SA into a just and non racial democratic society, free of the injustices of the past.
ANC vision- To transform SA into a unjust and sosialist democratic society, free of colonialism and white monopoly capital.
Afrikaner visie- Om die bewaring van ons erfenis met selfbeskikking en n eie grondgebied na te streef vir God, volk en vaderland.
Vlakvark u is meer as welkom om ook n visionere weergawe te gee!

John ·

Oom, oom weet tog self wat die antwoord is: Voor in die wapad brand ‘n lig, die Nuwe Wereldorde in die hande van SA. Weg met wit erfgoed en gene; gebruik Afrikaans slinks om so ‘n volmaakte Mulatto uit te bou; vernietig die Christendom deur groot beelde orals op te rig van heilige voorvaders wat getrou aanbid word om hul geeste gelukkig te stem; en om die een nasie te laat saamstaan word bakhandstaan vir daaglikse hulp vanuit die res van die wereld ‘n absolute moet (zaam met zolle ztook) en deur die oppergesag van die reg afgedwing… want dit is en bly ons enigste human right op oorlewing… ons hier in Mandelalaland. Baai oom.

Werner ·

Jerry en naiewe vriende. Plaas het Jode maar net met Hitler gePRAAT, dan was hulle sekerlik gespaar ne. Kerels, ken julle Afrika nie? Die pen word minagtend weggeslaan en die spies word gegryp. Die enigste taal wat in Afrika verstaan word is mag.

Rasper ·

Ons almal ken daardie stukkie wysheid wat sê, “All that is necessary for evil to triumph, is for good men to do nothing.” So het Neville Chamberlain in daardie strik getrap teen Nazi Duitsland. Baie gepraat, mooi gepraat. Nie die regte man vir daardie tyd in die geskiedenis nie. Toe kom Winston Churchill. Trek ‘n streep, en doen wat moes gedoen word. Die regte man vir die tyd. (Ek is nie ‘n Briste “fan” nie, maar ‘n mens moet uit die geskiedenis leer). Afriforum word beskuldig dat hulle nie mooi praat nie. Maar ek het gesien hoe geduldig en “mooi” Kallie Kriel gepraat het met Andile Mngxitama. Het nie gewerk nie. Nou Andile kan afgeskiet word, maar sy en Julius Malema, en baie van die huidige ANC lede se woorde en denke is presies dieselfde. En al is dit net ‘n klein persentasie van die bevolking in SA, is dit nogsteeds baie meer as die totale Afrikaner bevolking. Miskien is Afriforum net die regte “man” op die “regte tyd”.

Willem ·

So ‘n paar punte om oor na te dink, dit is nou vir ons beterweteriges:
Qualities of a good negotiator:
• preparation and planning skill.
• knowledge of the subject matter being negotiated.
• ability to think clearly and rapidly under pressure and uncertainty.
• ability to express thoughts verbally.
• listening skill.
• judgment and general intelligence.
• integrity.
• ability to persuade others.

Negotiation techniques:
• Prepare, prepare, prepare. Enter a negotiation without proper preparation and you’ve already lost. …
• Pay attention to timing. …
• Leave behind your ego. …
• Ramp up your listening skills. …
• If you don’t ask, you don’t get. …
• Anticipate compromise. …
• Offer and expect commitment. …
• Don’t absorb their problems.

Negotiation tactics are the detailed methods employed by negotiators to gain an advantage. Negotiation Tactics are often deceptive and manipulative and are used to fulfil one party’s goals and objectives – often to the detriment of others.

Cornelia ·

Mnr. Kriel, dankie vir u leierskap en standvastigheid. Dankie vir u inspirasie wat in woord en daad kenmerkend voorop staan. Stap gerus voor, want so was dit bestem. Nogmaals dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.