#SkepSaamHoop: Werk hard, staan vas en praat hoop!

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Rozier van Tonder

Onteiening sonder vergoeding, geweldmisdaad, die afskaling van Afrikaans en haatspraak teenoor minderhede is van die probleme wat baie mense moedeloos maak en hoop vir die toekoms laat verloor. Moedeloosheid en ’n gebrek aan hoop hou op sigself egter ’n groter bedreiging vir ons toekoms in as die genoemde probleme.

Moedeloosheid en ’n gebrek aan hoop bring ongelukkig mee dat mense tou opgooi en apaties raak, omdat hulle dink dit is ’n onbegonne taak om die probleme suksesvol te pak. As jy niks doen nie omdat jy dink jy kan niks bereik nie, word dit ’n selfvervullende professie, want jy gaan dan nie die loop van die geskiedenis kan verander nie. Jy word dan bloot ’n slagoffer van die geskiedenis.

Die geskiedenis van Afrikaners en Afrikaanssprekendes is egter gelukkig deurspek met voorbeelde van mense wat onder moeilike omstandighede moed gehou het en deur hoop gedryf is om groot uitdagings te oorkom. Dink maar aan hoe moedeloos ’n mens moes gewees het as jy ná die Tweede Vryheidsoorlog onder Britse bewind na ’n afgebrande plaas moes terugkeer én boonop van jou geliefdes aan die dood moes afstaan in konsentrasiekampe of op die slagveld. Om van voor af te begin bou, kon baie mense maklik laat tou opgooi het. Dieselfde moedeloosheid kon maklik ook verlammend gewees het tydens die grootskaalse armoede onder Afrikaners in die 1930’s. Daar was egter telkens ’n groot genoeg groep mense wat deur hoop en ’n roepingsbesef gedryf is om die probleme te oorkom. Daar is dus geen rede waarom óns geslag nie ook die uitdagings van ons tyd met sukses kan pak nie. Oorlewing is immers in ons bloed!

As organisasie met ’n Christelike grondslag glo AfriForum dat God in beheer is en dat ons deurlopend kan en moet bid vir uitkoms uit die krisisse wat ons tans moet trotseer. Ons besef ook dat ons nie net kan bid, terugsit en wag dat die probleme verdwyn nie. Dit is noodsaaklik dat elkeen van ons ook ons roeping moet opneem en hard werk om ook hier op aarde ’n samelewing te help vestig waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Die vraag is dus wat AfriForum, sy lede, werknemers en die algemene publiek kan doen om draers en skeppers van hoop te wees. AfriForum het vyf vereistes geïdentifiseer waaraan ons organisasie en lede moet voldoen om hoop te kan skep. Dít behels dat ons oor ’n werkbare toekomsplan moet beskik, dat ons oor die vermoë moet beskik om die plan uit te voer, dat ons hard moet werk, dat ons vas moet staan vir wat reg is en dat ons ’n boodskap van hoop moet uitdra wanneer ons praat. Die besonderhede hiervan is soos volg:

  1. ’n Werkbare toekomsplan

AfriForum en die Solidariteit Beweging besef die belangrikheid van ’n werkbare plan om sukses te kan behaal en het daarom reeds ’n omvattende toekomsplan ontwikkel wat byna elke lewensterrein dek. Dié plan staan wat elke lewensterrein betref op twee bene, naamlik (a) om die bestaande werklikhede te probeer verbeter en te beïnvloed, en (b) om onafhanklik van die staat selfstandig nuwe werklikhede te vestig waaroor ons beheer het. Om werklikhede te beïnvloed is druk deur howe, internasionale bewusmaking en die openbare mening dikwels noodsaaklik. AfriForum het al telkens deur hierdie strategie die regering sover gekry om van ’n bepaalde beleidsrigting af te sien of om op te tree om ten minste hul werk te doen.

Soms werk die drukstrategie, maar soms ook nie. Juis daarom is dit belangrik om alternatiewe werkbare werklikhede te skep. ’n Voorbeeld van die tweebeenstrategie is om byvoorbeeld aan die een kant druk op die polisie te plaas om hul werk te doen, maar om terselfdertyd gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe tot stand te bring waardeur ons selfstandig na ons eie veiligheid kan omsien. Nóg ’n voorbeeld is om te veg vir die behoud van Afrikaans aan openbare universiteite, maar terselfdertyd binne die Solidariteit Beweging se stal om ’n Afrikaanse universiteit soos Akademia tot stand te bring waar gehalte-onderrig in Afrikaans gebied word.

  1. Vermoë om die plan uit te voer

’n Werkbare plan is nutteloos indien die Solidariteit Beweging se instellings, waarvan AfriForum deel vorm, nie ook oor die uitvoerende vermoë beskik om die plan uit te voer nie. In hierdie verband is AfriForum dankbaar teenoor elkeen van sy meer as 215 000 lede wie se steun die organisasie in staat stel om ’n sterk infrastruktuur te vestig, kundige personeel aan te stel en tientalle veldtogte van stapel te stuur. Die meer as 7 000 vrywilligers wat praktiese projekte deur AfriForum se plaaslike takke uitvoer, verhoog die organisasie se uitvoerende vermoë aansienlik. Dit bly ’n belangrike fokuspunt om AfriForum verder te laat groei, sodat die instelling in staat sal wees om selfs nóg meer te kan doen.

  1. Werk hard

 My oorlede skoonpa het altyd gesê die enigste plek waar “sukses” voor “werk” kom, is in die woordeboek. By elke ander geleentheid is werk nodig voordat sukses bereik kan word. Daarom is ek dankbaar vir elke AfriForum-lid, -vrywilliger en -personeellid wat met toewyding en harde werk ons projekte aanpak. Ek nooi graag almal wat ons ideale deel maar nog nie betrokke is nie, om saam te kom werk vir ’n beter toekoms.

  1. Staan vas vir wat reg is

 Ons saak is billik, ons bevorder wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe én ons kan in alle eerlikheid daarop aanspraak maak om die morele hoë grond te beklee. Ons moet dit deur ons optrede en standpunte so hou. Ongelukkig is dit so dat diegene wat van ons verskil soms poog om vals etikette om ons nek te hang, veral wanneer ons dit “durf waag” om ’n ander standpunt as dié van die heersende orde te huldig. Sou ons swig voor die onverdraagsames wat nie alternatiewe denke duld nie, sal ons dit moeiliker maak vir enige iemand om dit in die toekoms te waag om alternatiewe sienings te huldig. Daarom moet ons, ondanks druk, nie afwyk van ons billike standpunte en doelwitte nie.

  1. Praat hoop

 Negatiewe praatjies is ongelukkig aansteeklik. Maar gelukkig is positiewe woorde van hoop ook aansteeklik. Ontkennende naïwiteit en paniekgedrewe mismoedigheid is albei twee uiterste pole waarmee AfriForum nie kan vereenselwig nie. Ons kies ’n derde weg, naamlik een wat die werklikhede vierkantig in die oë kyk, maar met die geloof en hoop dat ons geslag, net soos ons voorgeslagte, die uitdagings sal kan oorkom.

Ten slotte wil ek elkeen van julle uitnooi om deur jou woorde en dade saam met AfriForum en die Solidariteit Beweging draers en verkondigers van hoop te word. Ons is dit aan ons kinders verskuldig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Kallie Kriel

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tommie martins

Ekaanvaar

JC

Wonderlik! Baie dankie; moenie een tree terugstaan vir wat reg en billik is nie. Veg terug teen ongeregtigheid!

Casper Labuschagne

Daar moes ‘n punt nommer 6 gewees het, Staan Saam. Buiten diegene wat steeds vasklou aan die mite van Mandela se reënboognasie asook wigte en teenwigte, maak elkeen tans sy eie planne, baie beplan om te emigreer, ander verkoop als om af te tree, andere besluit dat slegs die een of die ander organisasie of politieke party en NIEMAND ANDERS NIE, vir SA kan red. En so, omdat ons elkeen sy eie planne maak en sy eie oplossings nastreef, so sal ons dan ook ten gronde gaan. Want elkeen van ons weet soveel beter as enigiemand anders, terwyl diegene wat… Lees meer »

pffft

Ag ou Kallie… maak eerder planne om ons eie land te bekom. Julle weet tog daar is net een rigting met die ANC in beheer (“aan bewind”) en dit is ondertoe, en hoe vinniger hoe beter.

As die mat heeltyd onder ons rondgeruk word is dit maar moeilik om te bly staan. Ons moet eers beheer bekom oor die mat. Die mat Kallie. Die mat!

Rasper

Die mat was lanklaas so onder my voete uitgeruk, toe ek die berig lees van die dogtertjie wat verkrag is by die Dros. My dogtertjie is ook ses. Klein, fyn….. so onskuldig. Vanaand gaan my vrou vir my vra of ons nie maar moet trek nie. Ek weet dit. Want sy sou ook die artikel gelees het, of dit êrens op FB gesien het. Ons het al gekyk na al die lande se “skilled workers” programme, en ons punte lyk goed. Ek sal hoop praat. Weet nie of dit genoeg sal wees nie, want ons praat dit al lankal. Ek… Lees meer »