Skeuring in Oosters-Ortodokse Kerk van groot belang

oosters-ortodokse-kerk

Die Christus Verlosserkatedraal in Moskou, Rusland. Foto: Orthodoxy.hk

Die grootste kerkskeuring in die Christendom sedert die verdeling tussen die Rooms-Katolieke Kerk en die Oosters-Ortodokse Kerk 964 jaar gelede, het onlangs plaasgevind toe die Russies-Ortodokse Kerk sy bande met die Patriarg van die Oosters-Ortodokse Kerk verbreek het. Die Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel, met sy setel in Istanboel, is reeds vir meer as 1 500 jaar die leier van die Oosters-Ortodokse Kerk.

Hierdie onlangse kerkskeuring het ’n lang aanloop gehad, en gaan belangrike gevolge – nie net in die Christelike wêreld nie, maar ook in politieke verband – in veral Oos-Europa en Rusland hê. Die Oosterse Ortodoksie is die derde grootste stroming in die Christelike Kerk naas die Katolieke Kerk en Protestantisme. Byna 300 miljoen mense, hoofsaaklik in Oos-Europa, Griekeland, Rusland en die Kaukasus-streek is deel van die Oosters-Ortodokse Kerk.

Die Oosters-Ortodokse Kerk is georganiseerd in verskillende afdelings. Een hiervan is die Russies-Ortodokse Kerk wat aktief is in veral Rusland, Belarus, Litoue en enkele ander voormalige Sowjetunie-lande. Tot onlangs was die Oosters-Ortodokse Kerk in die Oekraïne ook deel van die Russies-Ortodokse Kerk. Die kerk in die Oekraïne het egter ’n versoek aan die patriarg in Istanboel gerig om hulle onafhanklik te laat verklaar. Kort nadat dié versoek goedgekeur is, het die Russies-Ortodokse Kerk verlede week ná ’n sinode-vergadering in Minsk, aangekondig dat hulle alle bande met die patriarg en gevolglik die internasionale struktuur van die Oosters-Ortodokse Kerk gaan verbreek.

Hoewel die afgelope weke se gebeure verband hou met die spanning in die ooste van die Oekraïne en die anneksering van die Krim-skiereiland deur Rusland in 2014, wys dit egter op beide ouer spanningslyne, sowel as huidige politieke verwikkelinge.

Dit hou verband met die geo-politieke vraag oor watter gebiede van Oos-Europa as Russiese invloedsfere beskou kan word. En dit bring ons juis by die huidige politieke dinamika. Oor die afgelope paar jaar het Vladimir Putin, die Russiese president, toenemend die Russies-Ortodokse Kerk gebruik om nasionalisme in Rusland aan te wakker en die invloed van Rusland in Oos-Europa uit te brei. Dit het nie net in die Oekraïne nie, maar ook in ander Oos-Europese lande tot spanning in die kerk aanleiding gegee. Putin droom waarskynlik daarvan dat die setel van die Oosters-Ortodokse Kerk in Moskou eerder as Istanboel moet wees.

Die streek waar die Oosters-Ortodokse Kerk baie sterk is, verskil wesenlik van ander wêreldstreke met ’n groot Christenbevolking. Oos-Europa en Rusland is nooit deur die kerkhervorming en die modernisering wat dit meegebring het, geraak nie. Lede van Oosters-Ortodokse Kerke moes vir eeue in onderdrukking, veral deur Moslems soos die Ottomane, leef en oorleef. Gedurende die grootste deel van die twintigste eeu was dit weer kommunisme wat hulle onderdruk het. Tog het hul geloof en kultuur sterk gebly. Juis daarom verskil die volgers van die Oosterse-Ortodoksie so veel van moderne volgers van die Katolieke en Protestantse kerke.

Die onlangse kerkskeuring gaan bydra tot die spanning tussen Rusland en Oos-Europese lande wat pro-Westers is, maar dit gaan ook ’n hernude fokus plaas op die Oosters-Ortodokse kerk en Oos-Europese konserwatisme in ’n snelveranderende, globalistiese wêreld.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charles

Welke snel veranderende, globalistische wereld?

Ik dacht dat het nationalisme in de lift zat. Ik dacht dat het verwoestende, verstikkende cultuurvernietigende dogma van het globalisme in gevaar is?

John

Charles in watter eeu leef julle? Toe die Oekraine nog deur Russiese prinse regeer is, het die antieke kerk tot stand gekom, maar die huidige regering se kop is so skeef aangeskroef dat die Russe dit nie meer kan uithou nie. Dit is eintlik ‘n tragiese dag. Waarom kom daar nie ‘n Ortodokse Kerk nie in SA tot stand nie. Ek sal die eerste lidmaat word want dit is geskool op die eerste Christelike kerk na Christus die aarde verlaat het. Statig, stemming, respekvol en sonder die oemf van die huidige sirkusagtige-psigiater-#meme-dominees wat nog nooit ooit van die menslike siel/gees… Lees meer »

Boer-in-die-wind

Mmmm, interessant.

JAN

Ons het reeds ‘n Volkskerk soos wat Putin begeer.
Ook volkskole met uitstekende resultate.
Konsep volkstaat is besig om te ontwikkel
Volks geldstelsel is reeds aan die gang.
Alles volkome wettig maar onder die wit radar.

Marthinus Willemse

Dat Poetin “waarskynlik…droom” dat die kerk se setel in Moskou is, is suiwer spekulasie. Die kerk is té belangrik, vir Poetin om dit te misbruik om “nasionalisme aan te wakker”. Die Atlantic Council (Navo se propaganda-afdeling), spog dat die Oekraïnse Ortodokse Kerk op 7 September 2018 onder beheer van die Ortodokse Kerke van die VSA (aartsbiskop Daniel van Pamphilon) en Kanada (biskop Illarion van Edmonton) geplaas is. Hoe sou jy dit verduidelik? Op die webblad orthochristian.com kan jy sien hoe die kerk in die Oekraïne aangeval, en kerkleiers geviktimiseer word. Nie van gister af nie. Zbigniew Brzezinski beskryf in The… Lees meer »