Skeuring in Oosters-Ortodokse Kerk van groot belang

oosters-ortodokse-kerk

Die Christus Verlosserkatedraal in Moskou, Rusland. Foto: Orthodoxy.hk

Die grootste kerkskeuring in die Christendom sedert die verdeling tussen die Rooms-Katolieke Kerk en die Oosters-Ortodokse Kerk 964 jaar gelede, het onlangs plaasgevind toe die Russies-Ortodokse Kerk sy bande met die Patriarg van die Oosters-Ortodokse Kerk verbreek het. Die Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel, met sy setel in Istanboel, is reeds vir meer as 1 500 jaar die leier van die Oosters-Ortodokse Kerk.

Hierdie onlangse kerkskeuring het ’n lang aanloop gehad, en gaan belangrike gevolge – nie net in die Christelike wêreld nie, maar ook in politieke verband – in veral Oos-Europa en Rusland hê. Die Oosterse Ortodoksie is die derde grootste stroming in die Christelike Kerk naas die Katolieke Kerk en Protestantisme. Byna 300 miljoen mense, hoofsaaklik in Oos-Europa, Griekeland, Rusland en die Kaukasus-streek is deel van die Oosters-Ortodokse Kerk.

Die Oosters-Ortodokse Kerk is georganiseerd in verskillende afdelings. Een hiervan is die Russies-Ortodokse Kerk wat aktief is in veral Rusland, Belarus, Litoue en enkele ander voormalige Sowjetunie-lande. Tot onlangs was die Oosters-Ortodokse Kerk in die Oekraïne ook deel van die Russies-Ortodokse Kerk. Die kerk in die Oekraïne het egter ’n versoek aan die patriarg in Istanboel gerig om hulle onafhanklik te laat verklaar. Kort nadat dié versoek goedgekeur is, het die Russies-Ortodokse Kerk verlede week ná ’n sinode-vergadering in Minsk, aangekondig dat hulle alle bande met die patriarg en gevolglik die internasionale struktuur van die Oosters-Ortodokse Kerk gaan verbreek.

Hoewel die afgelope weke se gebeure verband hou met die spanning in die ooste van die Oekraïne en die anneksering van die Krim-skiereiland deur Rusland in 2014, wys dit egter op beide ouer spanningslyne, sowel as huidige politieke verwikkelinge.

Dit hou verband met die geo-politieke vraag oor watter gebiede van Oos-Europa as Russiese invloedsfere beskou kan word. En dit bring ons juis by die huidige politieke dinamika. Oor die afgelope paar jaar het Vladimir Putin, die Russiese president, toenemend die Russies-Ortodokse Kerk gebruik om nasionalisme in Rusland aan te wakker en die invloed van Rusland in Oos-Europa uit te brei. Dit het nie net in die Oekraïne nie, maar ook in ander Oos-Europese lande tot spanning in die kerk aanleiding gegee. Putin droom waarskynlik daarvan dat die setel van die Oosters-Ortodokse Kerk in Moskou eerder as Istanboel moet wees.

Die streek waar die Oosters-Ortodokse Kerk baie sterk is, verskil wesenlik van ander wêreldstreke met ’n groot Christenbevolking. Oos-Europa en Rusland is nooit deur die kerkhervorming en die modernisering wat dit meegebring het, geraak nie. Lede van Oosters-Ortodokse Kerke moes vir eeue in onderdrukking, veral deur Moslems soos die Ottomane, leef en oorleef. Gedurende die grootste deel van die twintigste eeu was dit weer kommunisme wat hulle onderdruk het. Tog het hul geloof en kultuur sterk gebly. Juis daarom verskil die volgers van die Oosterse-Ortodoksie so veel van moderne volgers van die Katolieke en Protestantse kerke.

Die onlangse kerkskeuring gaan bydra tot die spanning tussen Rusland en Oos-Europese lande wat pro-Westers is, maar dit gaan ook ’n hernude fokus plaas op die Oosters-Ortodokse kerk en Oos-Europese konserwatisme in ’n snelveranderende, globalistiese wêreld.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Charles ·

Welke snel veranderende, globalistische wereld?

Ik dacht dat het nationalisme in de lift zat. Ik dacht dat het verwoestende, verstikkende cultuurvernietigende dogma van het globalisme in gevaar is?

John ·

Charles in watter eeu leef julle? Toe die Oekraine nog deur Russiese prinse regeer is, het die antieke kerk tot stand gekom, maar die huidige regering se kop is so skeef aangeskroef dat die Russe dit nie meer kan uithou nie. Dit is eintlik ‘n tragiese dag. Waarom kom daar nie ‘n Ortodokse Kerk nie in SA tot stand nie. Ek sal die eerste lidmaat word want dit is geskool op die eerste Christelike kerk na Christus die aarde verlaat het. Statig, stemming, respekvol en sonder die oemf van die huidige sirkusagtige-psigiater-#meme-dominees wat nog nooit ooit van die menslike siel/gees gehoor het nie. Binnekort sal zolle-stook tydens die diens ‘n moet wees. Mark my word…

JAN ·

Ons het reeds ‘n Volkskerk soos wat Putin begeer.
Ook volkskole met uitstekende resultate.
Konsep volkstaat is besig om te ontwikkel
Volks geldstelsel is reeds aan die gang.
Alles volkome wettig maar onder die wit radar.

Marthinus Willemse ·

Dat Poetin “waarskynlik…droom” dat die kerk se setel in Moskou is, is suiwer spekulasie. Die kerk is té belangrik, vir Poetin om dit te misbruik om “nasionalisme aan te wakker”.

Die Atlantic Council (Navo se propaganda-afdeling), spog dat die Oekraïnse Ortodokse Kerk op 7 September 2018 onder beheer van die Ortodokse Kerke van die VSA (aartsbiskop Daniel van Pamphilon) en Kanada (biskop Illarion van Edmonton) geplaas is. Hoe sou jy dit verduidelik?

Op die webblad orthochristian.com kan jy sien hoe die kerk in die Oekraïne aangeval, en kerkleiers geviktimiseer word. Nie van gister af nie. Zbigniew Brzezinski beskryf in The Grand Chessboard dat Rusland vernietig moet word – deur die Oekraïne af te sny. Ek glo dis nog steeds die aksies van Washington DC, en die kerk word nou misbruik daarvoor.

Onder Michail Gorbatjof, `n erkende ateïs, is kerkgeboue teruggegee en herstel. In 1988 het die regering aktief die duisendjaar-herdenking van godsdiens gevier. Die verbod op godsdiens op TV is opgehef, en kerkdienste is uitgesaai. Gorbatjof was nog altyd `n driftige opponent van die onderdukking van godsdiens. “Die herlewing van geloof was baie belangrik vir ons land,” sê hy. In November 2013 het Poetin die Pous besoek, om die skeuring tussen die Vatikaan en die Russiese Kerk te herstel. Die helingsproses is aangehelp toe pous Franciskus en patriarg Kirill, hoof van die Russies-Ortodokse Kerk, op 12 Februarie 2016 in Kuba ontmoet het. Hulle gesamentlike verklaring het ondermeer genoem dat diegene wat bereid is om Christene te beskerm, wêreldwyd moet saamstaan.

JAN ·

Dankie hiervoor Martinus.
Ek het vergelyking gemaak tussen moord op Tsaar Nikolaas Christen en Verwoerd Christen.
Deur wie dink u?

Marthinus Willemse ·

Jan, Poetin erken sy Christenskap, maar Michail Gorbatjof is moeilik om op te som. Gedoop in die Russies-Ortodokse Kerk, word hy in amptelike biografieë `n ateïs genoem, maar sy besoek aan die graf van Franciskus van Assisi in 2008, waar hy by die graf gebid het, het die indruk geskep dat hy `n Christen is.
In `n onderhoud met Mary Riddell verklaar hy egter, “Ek is `n ateïs. Ek glo nie in God nie”. [“Mikhail Gorbachev: ‘My family paid too high a price for glasnost’”. Telegraph. 7 Mei 2008]

Gorbatjof noem dat Raisa, sy vrou, se pa `n geswore kommunis was, maar dat haar ma wel tot God gebid het. Jy kon uit die Kommunistiese Party geskop word weens godsdiens, maar haar ouers het `n beeld van God in een hoek gehad, en in die ander hoek foto’s van Lenin en Stalin.

In April 1988 het Gorbatjof `n ontmoeting met patriarg Pimen, destydse geestelike leier van die Russies Ortodokse Kerk, gehad, waarna Prawda en Izwestija positiewe stories oor die kerk geplaas het. Tussen 1991 en 1994 het die Russe meer as 6000 kerke gebou of gerestoureer. Ontheiligde kloosters wat plaasimplemente gehuisves het is weer omskep en geheilig, en die Sint Basilius katedraal naby die Rooi Plein, wat in die 1920’s deur die kommuniste tot museum omskep is, is weer oopgestel vir aanbidding.

Vir wat Gorbatjof vir miljoene mense regoor die planeet gedoen het, verdien hy ons gebede vir `n ewige lewe na sy dood.

nico k ·

John ek sien jy praat van die tyd toe Russiese prinse nog oor die Oekraine geregeer het. Imperialisme nê. Is dit dan vir julle as Afrikaners snaaks dat die Oekraine niks met Rusland te doen wil hê nie. Rusland bly die laaste Europese Imperialistiese moondheid. En vreemd dat Afrikaners hulle so erg ondersteun!

Marthinus Willemse ·

Verbeel jou die Afrikaner, die taal Afrikaans, en die NG Susterskerke, het in die Weskaap, in Kaapstad en omstreke, ontstaan. In 1991 het die Weskaap van SA weggebreek, en hulself as soewereine staat genaamd Afrikanië geskep.

Verbeel jou dan dat die VSA `n invalsmag genaamd Navo het, wat van die Atlantiese Oseaan regoor Afrika, tot by die Indiese Oseaan strek. SA en Afrikanië is nie deel nie, want SA word in die media uitgekryt as diktators, imperialiste, wat die arme Afrikaners wil vernietig, en Afrikaans afdwing op almal. Namibië, Botswana, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek, Swaziland, Lesotho, is almal deel van Navo. Hulle soek Afrikanië met `n seer hart, want dan kan hulle SA beheer, en die arme inwoners van Afrikanië bevry van die Afrikaner.

`n Staatsgreep word gefinansier in Afrikanië, so $5 biljoen, volgens Victoria Nuland aan Christiane Amanpour op CNN. Dit gebeur op 21 Februarie 2014. Die Pentagon stuur “sowat” 300 soldate van die 173rd Airborne Brigade in Kaapstad in. SA ontplooi troepe op haar grense. By die VN kla die VSA se verteenwoordiger, Samantha Power, “SA stop julle aggressie. Trek julle troepe dadelik terug”. Die VSA se adjunk prez, Joe Biden, se seun Hunter, word aangestel in Kaapstad. So ook John Kerry se vrou Thereza Heinz, se trustee. Die minister van finansies is nou `n Amerikaanse vrou. In 2018 word die kerk onder toesig van die VSA en Kanada geplaas. [Vervang Kaapstad met Kiëf; SA met Rusland; Afrikanië met Oekraïne. Jammer, my 250 woorde is klaar]

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.