Die Aussies sorg toe vir ʼn groot verrassing om die Drienasieskroon te verower met ʼn skitterende oorwinning oor die All Blacks, of hoe?
Die A-span van die All Blacks was vir die eerste helfte van hulle voete af gespeel en David Pocock was vir my net ʼn tree of twee voor die befaamde Richie McCaw. Daar het Vader Tyd nou ook een van die grotes ingehaal.
Die All Blacks moet beslis ietwat bekommerd wees voor die afskop oor nege dae in die land van die Silwer Varing. Al drie losvoorspelers van die All Blacks het beserings opgedoen en dit moet ʼn vraagteken plaas oor die groot verwagting wat van hulle gekoester word.
Die Aussies moet beslis nou as een van die gunstelinge beskou word, want hulle het ʼn volsterkte span van die All Blacks, veral in die eerste helfte, weggespeel.
Die spanning van die druk deur hulle landgenote rus beslis nou swaarder op die span wat die Wêreldbeker laas in 1987 kon wen.
Dit kan ʼn baie interessante wêreldbeker word, want daar is nou meer as een besliste gunsteling om as oorwinnaar uit die stryd te tree. Ek is van mening dat die top 8 spanne nie meer as 5% verskil wat hulle fisiese vermoëns aanbetref nie en dat die kwessie van wen en verloor op motivering en die wil om te wen gaan berus. Die rol van die sportsielkundige gaan groter wees as die van die hoofafrigter.
Die Leeus is goed op pad na die uitspeelrondtes toe en die Cheetahs is op pad uit. Die poging teen Griekwas was betreurenswaardig. Die Bulle boesem ook geen vertroue in nie, maar is darem nog op die wenpad.
Die Curriebeker-finaal is sleg een week na afloop van die Wêreldbeker-eindstryd en tensy die Springbokke vroeg uitval sal geen Springbok vir die Curriebeker eindstryd beskikbaar wees nie.
Nou lyk dit nog na die Leeus, maar hulle het só lanklaas in ʼn finaal gespeel dat die oomblik dalk vir hulle te groot gaan wees.
Tot volgende keer
Bloubul