Skikking met regering nie eindpunt van raswette-stryd

Flip Buys (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit het ʼn skikking met die regering gesluit oor die wetswysigings wat vervat is in die raswet wat as die Wet op Billike Indiensneming bekendstaan. Die skikking spruit uit ʼn regsaksie wat ons teen hierdie wet ingestel het, en ʼn klag wat Solidariteit by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) ingedien het. Die skikking is by Sol-Tech onderteken deur Solidariteit en die minister en adjunkminister van indiensneming en arbeid. Daarna word dit ʼn hofbevel gemaak en ook as regulasies in die Staatskoerant afgekondig.

Nou eers die slegte nuus. Die skikking skaf nie die raswet af nie. Geen hof in Suid-Afrika of die IAO sal dit tans doen nie. Daarom gaan Solidariteit voort met ʼn proses wat ons by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) begin het en wat na verwagting in Desember by die VN hanteer sal word.

Goeie nuus

Die goeie nuus is dat ingevolge hierdie skikking, die gebruik (misbruik) van ras as enigste maatstaf vir aanstellings wel afgeskaf word. Dit bepaal verder dat niemand op grond van ras afgedank mag word nie. Daar mag ook nie absolute plafonne vir indiensneming of bevordering van mense op grond van ras wees nie. Die wetgewing moet tydelik en buigsaam wees, met ras wat net as een van vele ander faktore gebruik mag word. Dit sal help keer dat die raswette nie net ʼn rastelling word nie.

Hierdie faktore is onder meer die poel van toepaslik gekwalifiseerde en bevoegde persone, besighede se ekonomiese omstandighede, natuurlike personeelomset, die posvereistes en ander geregverdigde gronde vir nie-voldoening aan die wetgewing. Werkgewers sal ook nie meer die swaar boetes opgelê mag word as hulle hierdie geregverdigde gronde kan aanvoer om nie aan die raswette te voldoen nie.

Kort- en langtermyn

Senior regslui wat om advies oor die voorstelle in die skikking genader is, is dit eens dat ons nie nou in ʼn hof beter sal vaar as wat hierdie skikking behels nie. Howe pas immers net wette toe. ʼn Redelike skikking bly beter as ʼn slegte uitspraak. Daarom was ons korttermynplan eerstens om die moontlike benadeling van wit, bruin en Indiër-werknemers met die skikking te keer. Ons gaan egter volstoom met ons langtermynplan voort om die raswette te stop.

Ons het dit vir die regering duidelik gestel dat die uitkoms van al hulle raswette ná drie dekades wys dat raswette nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie wat vir al sy mense kan sorg nie.

Die feit dat die ANC-regering sedert 1994 reeds 116 raswette op die wetboek geplaas het, beteken dat “ras” in die wet is, maar nie dat dit “reg” is nie. Die eerste artikel van die Grondwet bepaal immers dat die land “nie-rassig” is. Daarom gaan ons aanhou veg teen hierdie onreg wat onder die vaandel van “billike wette” gepleeg word.

Groter koek

Die aspek waaroor ons die meeste met die regering verskil, is ons siening dat ekonomiese groei die grootste gelykmaker is. ʼn Groeiende gety lig alle skepe. Dit help nie om ʼn krimpende koek al kleiner en met al strenger rassewette te herverdeel nie. Dit is juis ʼn groot rede hoekom die ekonomie nie groei nie en daar sulke hoë werkloosheid in die land is.

Ons verskil sterk van hulle siening oor gelykheid. Ons sien gelykheid as ʼn “gelyke wegspring”; hulle sien dit as gelyk by die wenpaal aankom in verhouding met ʼn rassegroep se bevolkingsaandeel. Dan sien hulle die gebrek aan gelyke uitkomste as bewys van ongeregverdigde diskriminasie teen swart mense, wat hulle dan met staatsdwang wil “regstel”. Dit is hoekom ons hierdie wette glad nie as “regstelling” of “billike indiensneming” beskou nie, maar as ʼn wanhopige rassekaart om die ANC se politieke steun in aanloop tot volgende jaar se verkiesing te vergroot. Die wet kan dalk die ANC se politieke probleme verlig, maar dit gaan nie hul kiesers se ekonomiese krisisse oplos nie.

Die gevolge van hul rassebeleid het gewys dat hulle kiesers dubbeld daardeur benadeel word: eers deur swakker staatsdienste, en tweedens deurdat hulle nie werk sal kry nie omdat die ekonomie met soveel staatsinmenging nie kan groei nie.

Ekonomiese vryheid

Ons glo sterk aan ekonomiese vryheid. Dit is die vryheid om te produseer en nie, soos radikales dink, die reg om te verbruik wat ander produseer nie. Enige wetgewing wat daarop gerig is om mense op grond van ras te keer om hulle vermoëns te gebruik om vir hulle gesinne te sorg, is ongeregverdig en daarom sal ons aanhou om dit te beveg.

Hierdie skikking is dus nie die eindpunt van ons stryd teen die raswette nie, maar die eerste mylpaal na ʼn normale werksmag waar mense op grond van hulle karakter en bekwaamheid, in plaas van hulle ras, hanteer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Ja Flip doen wat julle moet. Hier in die Suide werk ons ook aan vryheid. Stel julle bronne beskikbaar en help ons. Nog nêrens het jy ons onafhanklikheid openlik ondersteun nie.

JvR ·

Onafhanklikheid en selfbeskikking is wortels wat voor goedgelowiges se neuse gehou word om hul te oortuig iemand gee om.

Republikein in die Wes Kaap ·

Niemand gee om vir niemand. Dis elke ou vir homself. Keuses moet gemaak word.

Ansie ·

Ek is ook van die Wes-Kaap maar ek dink ons moet billikheidshalwe hierdie aspek darem van hulle kant af ook bekyk. Solidariteit veg vir almal en daar kan nie van hulle verwag word om klem te lê op ‘n spesifieke provinsie nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou praat jy soos ‘n gesoute politikus! Hou almal gelukkig.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Land se bestaan is nooit in staal en beton gegiet nie. Defnitief nie na 29 jaar nie. Lande en mense is dinamies. Omstandighede verander. Gaan lees maar op hoe het Europese lande ontwikkel oor honderde, selfs duisende jare. En dis nog steeds nie finaal nie. Ons grondwetproses was ‘n dolle gejaag en nou pluk ons die vrugte daarvan. Steeds baie leemtes. Ons bou nou ‘n huis op swak fondasies. Orals is krake. En die politici hou ons steeds oningelig, selfs vir kinders wat skaars kan lees.

annie ·

Flip het lank gelede gepraat van kantonne vir Afrikaners. Onafhanklikheid moes voor 1994 meer aandag gekry het maar die binnelanders het toe heftig beswaar gemaak omdat hul agter sal moes bly (en onder jou plan weer). Nie eens ‘n blok in ‘n Kaapse buurt sal sonder ‘n ewige oorlog net vir Afrikaners afgestaan word nie. Nie eens deur Zille nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Met Pretoria as hoofkultuurkanton, of so iets. Die trein op pad na ‘n Afrikaner volkstaat het die stasie al in 1950 verlaat. Ons was te laat. Orania is dalk nou die naaste daaraan. Daar gaan dalk nog êrens ‘n paar opspring. Plan B is om ‘n stabiele Wes Kaap federasie te vestig. Almal is gelyk voor die wet en streef na ‘n ekonomies stabiele land. Afrikaners buite die federasie moet maar doen wat hulle wil doen. Johannesburg verskaf glo genoeg vermaak. Terloops, mense van kleur is ook keelvol.

Marthinus W ·

Ek ondersteun Flip se Afrikaner-ankerdorp inisiatief. Afrikaners moet sover as wat dit moontlik is, saamgroepeer by sekere ankerdorpe, bv Bethlehem. So kan ons geleidelik n politieke krag ontwikkel, gesien hoe min ons werklik is.

Ek ondersteun nie onafhanklikheid vir die Weskaap nie. Oekraine is, uit n historiese oogpunt, Rusland se Weskaap, en die grootste enkele probleem wat tot die oorlog vandag gelei het, is dat die Oekraieners nou Amerikaans wil wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

In teorie, ja. Ongelukkig is van die dorpe buite die WesKaap vervalle, bankrot en wittes gee pad. Self Tshwane is bankrot. Indien Afrikaners in hul honderde duisende na die dorpe verhuis is daar hoop, maar dit gebeur nie want ‘n inisiatief ontbreek. ‘n Onafhankike WesKaap bied oplossings binne ‘n bestuurbare oppervlakte. Rusland se geskiedenis strek meer as 1000 jaar terug, Oekraïne nog verder. Selfs dáár is die finale hoofstuk nog nie geskryf nie. Ons is nog skaars klaar met hoofstuk 1.

Koos 100 ·

Flip, dis net uiters waar dat die huidige regering geen respek het vir enige skikking of hofbevel nie. Môre, oormôre het ons weer verkeerd verstaan!

Alida ·

Die belangrikste gevolg van hierdie skikking moet wees dat werkgewers en maatskappye kennis daarvan moet neem sodat hulle nie meer onsinnige dinge kwytraak soos dat geen witmense bevorder mag word nie (ala Dischem verlede jaar). Dit moet wees, die beste persoon, ongeag geslag of kleur, vir die pos, en as maatskappye dit na aanleiding van hierdie skikking in werkplekke toepas, gaan dit reeds baie beter met die land en al sy mense gaan.

houopkruip ·

Uistekende werk Flip, onder ongelooflike moeilike omstandigdhede.
Hou so aan – julle hele span.

Harley Davidson ·

Dit is net die begin ,nou begin die stryd om seker te maak dat dit in die werksplek afgedwing word.

Chris ·

Ek het ‘n eenvoudige beginsel wat ek toepas: Het dit in Spreuke raak gelees. “Wanneer jy met ‘n dwaas redeneer en daar gaan ‘n man verby sien hy twee dwase”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.