Skole: Departement moet e-stelsel skrap

Deur Johnell van Vollenhoven

Panyaza Lesufi (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Skole in die binneland het gister vir die nuwe akademiese jaar vir leerlinge geopen. Alle leerders kon egter nie vir hierdie geleentheid aanmeld nie omdat hulle nog nie in skole geplaas is nie.

Volgens Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, is dit nie die aanlyn stelsel se skuld nie, maar die skuld van ouers wat daarop aandring om hul kinders by voormalige Model C-skole in te skryf. Hy het ook aangevoer dat daar meer as ʼn 100 000 nuwe leerders in dié provinsie geakkommodeer moet word en dat daar nog 100 skole gebou moet word.

Die aanlyn stelsel, wat reeds in 2016 in werking getree het om die eerste groep graad 1- en graad 8-leerders vir 2017 te plaas, het in sy algehele bestaan nog nooit effektief gefunksioneer nie. Talle leerders word jaarliks by skole geplaas waarby hulle nie aansoek doen nie, of verwyder van hul sibbe. Die stelsel is verder teenstrydig met die veronderstelling dat meer mag aan die gemeenskap deur middel van die beheerliggaam gegee moet word en dat gemeenskappe meer verantwoordelikheid vir hul skole moet aanvaar. Skole word in werklikheid deur middel van hierdie stelsel deur die staat gekaap. Hy poog om ideologiese beleide af te dwing met hierdie boelietaktiek waar hy totale beheer wil hê en die onderwysstelsel as geheel wil sentraliseer en verengels.

Om verder aan te voer dat sogenaamde township-skole nie dieselfde aftrek as vorige Model C-skole kry nie, behoort die LUR en sy departement eerder oor te haal om ondersoek na die oorsake hiervan in te stel. ʼn Volledige ontleding van waarom ouers ʼn afsku in hierdie skole het, die implementering van ʼn plan om hierdie skole optimaal te laat funksioneer en kwaliteitonderrig te laat lewer, saam met ʼn veldtog om ouers en leerders na hierdie skole te trek, sou ʼn beter oplossing wees as om bloot hande in die lug te gooi en raai-raai-riepa te speel. Daar is ʼn onderwyskrisis wat juis in hierdie skole plaasvind wat dringende ingryping van die departement verg.

Volgens my is dit dan ook verregaande dat die Gautengse departement van onderwys hom nie gereed gemaak het vir die aantal nuwe leerders wat weens verhuisings in skole binne die provinsie geplaas moet word nie. Dit is geen geheim dat die platteland ontvolk en derduisende gesinne jaarliks na stede verhuis vir beter werks- en ander geleenthede nie. ʼn Effektiewe departement is veronderstel om op hoogte van hierdie tendense te bly sodat hy voldoende kan voorberei om dit te kan akkommodeer, in stede daarvan om dit as verskoning voor te hou om onbevoegdheid te verdoesel.

Oor een ding voel ek wel verheug: Die erkenning dat nuwe skole gebou moet word. Ek dink 100 is te min, maar dit is wel ʼn begin. Die probleem is egter dat hierdie uitlating deur die LUR nie die eerste van sy soort is nie. Jaarliks word daar van nuwe skole gepraat, maar nêrens word hulle werklik gebou (om te hou) nie. Ek glo ook nie Lesufi besef dat die bou van skole meer as die lê van stene behels nie. Dit behels ook die opleiding van bevoegde en passievolle onderwysers. Dit behels die positiewe betrokkenheid van die gemeenskap. Dit behels die beskikbaarstelling en effektiewe bestuur van die nodige hulpbronne. Dit behels die fokus op die ontwikkeling van die leerder op alle vlakke.

Dit is tyd dat die departement van basiese onderwys sy aanlyn stelsel skrap. Dit is tyd vir hom om te desentraliseer en homself meer vanuit funksionele skole te onttrek. Dit is tyd vir hom om meer mag aan beheerliggame te gee. Dit is tyd vir hom om in te gryp waar dit werklik nodig is, en dit is tyd vir hom om meer funksionele skole te bou.

  • Johnell van Vollenhoven is ʼn media- en skakelbeampte by Solidariteit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

casper ·

Hulle geen dit nie skraap nie want dit is kader werkskepping !!

Kobus ·

Ek verstaan nie. Hy beweer die fantastiese skole in Townships trek nie leerders nie. Sy mense wil liewer by die ou model C skole inskryf. Dis ook nie die e-stelsel nie boet, jy is die probleem. Snaaks hoe wit / apartheid geld wanneer dit julle pas

Hoekom ·

Wonder wanneer hulle beplan om hierdie 100 skole te bou, want die laaste 28 jaar het hulle geen skole gebou nie maar menigte skole het toe gemaak of is afgebreek en dit met ‘n staat wat in praktyk sy burgers so baie belas dat dit opgeteken is as die 2de meeste in die wereld…

Mallie ·

Kinders moet naby hulle huise of woongebiede skool gaan. Nie aan gery word na ander voorstede nie dan sal daar minder drama wees. Hy moet hom liewer op ander goed konsentreer
.

Chris dupreez ·

Die grootste probleem in Gauteng onderwys is Lesufi homself, hy is die oorsaak van al die probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.