Skotland en ’n Afrikaner ‘vrystad’

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die omstandighede in die land laat almal soek na oplossings. Flip Buys skryf ’n fiktiewe toekomsverhaal oor Skotland, waar hy die omstandighede skets waarin selfbeskikking noodsaaklik kan word. Hy verduidelik ook die verskil tussen die reg op selfbeskikking teenoor die moeilike toepassing daarvan in Suid-Afrika.

Dit is 15 Julie 2020, en Brittanje is al vir ’n paar jaar in ’n politieke maalkolk. Die Brexit-krisis het in Augustus 2018 die Konserwatiewe regering van eerste minister Theresa May laat val. Die Britse Arbeidersparty onder die verlinkse Jeremy Corbyn het in ’n blitsverkiesing aan bewind gekom. Sy veldtogtema Make it Great Britain Again, het kiesers se verbeelding aangegryp. Corbyn se boodskap van radikale transformasie en ’n heimwee na die Britse “groot” verlede, was soos manna uit die hemel vir die moedelose kieserspubliek. Hy het sy politieke teenstanders geklop, en sy (gematigde) vyande binne sy party uitgeskop. Daar was nie eers een teenstem oor toe hy hul voormalige leier en eerste minister, Tony Blair, uit die Arbeidersparty geskors het omdat hy die Britse werkersklas “verraai” het nie.

Radikale agenda

Corbyn het met sy Make it Great Britain Again-veldtog Downingstraat 10 oorgevat met ’n groot agenda van radikale transformasie volgens klas en (Britse) ras. Dit het uit agt punte bestaan, wat hy, soos hy aan die juigende skares belowe het, binne ses maande deur ’n oorblufte parlement gestoomroller het.

Die eerste punt was die sentralisering van Brittanje. Corbyn het die uitgebreide magte wat vorige regerings aan Skotland, Wallis en Noord-Ierland afgewentel het, teruggetrek, en al drie hul parlemente ontbind. Almal is weer sentraal uit Londen regeer.

Die tweede punt was die herinstelling van Sosialisme, wat met hemelhoë belastings op maatskappye en “ryk” mense befonds is. Hulle was immers sy politieke opponente wat tradisioneel vir die Konserwatiewes gestem het. Die instelling van ’n omvattende welsynstelsel het die lojaliteit van miljoene gewone Britte, Skotte, Walliesers en Iere gekoop.

Britsifikasie

Die derde agendapunt was die radikale “Britsifikasie” van die hele land. Die Skotse en Walliese taal en geskiedenis is in skole verbied en met een grootse Britse meesterverhaal vervang. Die openbare sing van die bekende “Flower of Scotland” is verbied, en die Katolieke van Noord-Ierland is “op hul plek” gesit. Die name van historiese strate, dorpe en selfs stede is verander en met dié van Britse helde vervang.

Die vierde agendapunt was Radikale Transformasie volgens verteenwoordigende bevolkingsformules. Die posvlakke in alle staatsinstellings, die privaat sektor en sportspanne moes landwyd die nasionale bevolkingsgetalle weerspieël: 85% Engels, 8% Skots, 5% Wallies en 3% Noord-Iers. Dit is streng afgedwing met swaar boetes vir oortreders. Lojale pro-Corbyn-aktiviste van die Arbeidersparty is landwyd ontplooi om seker te maak dat sy politieke beleid afgedwing word.

Great Brics

Nommer vyf was ’n nuwe buitelandse beleid. Corbyn het handelsbande met die VSA en die Europese unie verbreek, en Brittanje by Brics laat aansluit. Op voorstel van ’n uitgelate president Putin is die organisasie terstond na Great Brics herdoop ter ere van Brittanje se toetrede. Corbyn het die skielike verswakking van die pond en die skerp styging van die inflasiekoers en staatskuld afgemaak as tydelike verskynsels, gedryf deur vyandige kapitaliste wat sy projek om die armes op te hef, wou dwarsboom.

Punt ses was radikale ekonomiese transformasie om historiese ongelykhede gelyk te maak. Corbyn het ’n beleid van radikale BBBEE (British Broad Based Economic Empowerment) ingestel om die Britse werkersklas te bevoordeel. Drakoniese BBBEE-handveste vir elke sektor het die ekonomie so drasties begin reguleer dat dit in die praktyk op nasionalisering neergekom het. Die ekonomiese inkrimping kort hierna is gevolg deur ’n rekordtekort op die land se lopende rekening, ’n val van sakevertroue en ’n “beleggingstaking”. Die skielike toename in werkloosheid is deur Corbyn teengewerk deur groter staatsindiensname van sy ondersteuners. Ekonome wat gewaarsku het dat die welsynstelsel en staatsdienssalarisse alleen die land oor ’n fiskale afgrond kan stoot, is deur Corbyn beskuldig as onpatrioties en anti-Brits.

Onteiening

Punt sewe van Make it Great Britain Again was onteiening sonder vergoeding. Corbyn het veral die grond van ryk Britte geteiken, omdat hulle dit, volgens hom, deur die histories onbillike klassestelsel verkry het. Hy het ook groot stukke “onderbenutte” grond in en rondom stede en dorpe aan armes uitgedeel, wat informele strukture laat opskiet het.

Massamigrasie

Nommer agt was massamigrasie uit Statebondslande. Ná grootskaalse onluste die behuisingsnood van die nuwe aankomelinge in die openbare kollig geplaas het, het die regering groot behuisingskemas aangepak. Klagtes dat hierdie skemas bykans elke dorp “omsingel” met onooglike staatsbehuising wat eiendomswaardes laat daal, die omgewing benadeel en misdaad laat toeneem, is deur die regering as rassisties afgemaak.

Corbyn se radikale transformasie van die land het tot wye onbestendigheid in Brittanje gelei. Daar was ’n skerp toename in geweldsmisdaad en ’n grootskaalse verval van dorpe, stede en staatsinstellings. ’n Korrupsieplaag het soos ’n veldbrand deur die land getrek, aangeblaas deur onbevoegde politieke aanstellings.

Onluste

Die verswakkende ekonomie kon eenvoudig nie voldoen aan die hoë verwagtings wat die politiek geskep het nie, en die vervallende staatsdiens kon nie die beloftes uitvoer nie. Dit het gelei tot landswye protesaksies wat al meer gewelddadig geraak het. Die regering se planne vir staatsgedrewe ekonomiese groei deur staatsondernemings, is gestuit toe die meeste reuseverliese begin maak het en herhaaldelik deur die belastingbetalers gered moes word. Oproepe vir privatisering is deur regeringslui bestempel as ’n neokapitalistiese projek om weer beheer oor die staat te probeer verkry.

Hofuitspraak

Skotland se historiese Edinburg-universiteit is deur die radikale transformasie van die universiteitsektor gedwing om die universiteitsraad, -bestuur, -personeel en studentekorps volgens bevolkingsformules te transformeer. Geboue, kurrikulums en die onderrigtaal moes aan die eise van Britsifikasie voldoen. ’n Skotse Burgerregtegroep wat ’n hofsaak gemaak het oor die gedwonge transformasie, het hul saak mét kostes verloor. Hulle is in die meerderheidsuitspraak van die getransformeerde hoogste hof en deur die nuwe BBC gekritiseer as verregses wat aan die verlede vasklou en toegang vir voorheen benadeelde klasse probeer strem.

Koalisieregering

Die groeiende krisis in Brittanje het tot sulke groot ontevredenheid gelei dat premier Corbyn ’n vervroegde verkiesing moes uitroep. Die Arbeiders kon nie ’n meerderheid by die stembus kry nie, en is gedwing om ’n koalisie met die Skotse Nasionaliste van Nicola Sturgeon te sluit. Sturgeon se voorwaarde van ’n Skotse referendum oor onafhanklikheid was ’n bitter pil om te sluk vir die regering.

Skotse referendum

Maar Corbyn se naelskraapse sege het niks aan die werklikhede verander nie, en hy is nie ’n tweede wittebrood gegun nie. Graderingsagentskappe het Brittanje op sy tweede inhuldiging as premier tot totale rommelstatus afgegradeer. Sy verleë minister van finansies moes hom hoed in die hand tot die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wend vir noodlenings om die land van bankrotskap te red. Hulle het die land prakties onder administrasie geplaas, terwyl Corbyn magteloos moes toekyk. Sturgeon het deurgedruk met die referendum, en die Skotse kiesers het drie keuses gekry:

  • Bly deel van Brittanje (en hoop dinge word én bly beter);
  • Herstel van Skotse selfbestuur (interne selfbeskikking);
  • Skotse onafhanklikheid (Scotex) (volle selfbeskikking);

Die Nasionaliste het met ’n slagspreuk van “Eersteklasburgers van Skotland eerder as tweedeklasburgers van Brittanje”, die referendum met bykans 75% gewen. In ’n gelyklopende referendum het Wallis net vir die herstel van hul selfbestuur gekies. Die rimpeleffek het Corbyn se regering laat val en die Konserwatiewes het weer oorgeneem. Dit het Sturgeon se nuwe regering laat besluit om sekere afgewentelde magte soos verdediging, ekonomie en buitelandse sake wat deur Corbyn weggevat is, weer op te wentel na Brittanje. Die voorwaardes was dat die nuwe Britse regering Sosialisme laat vaar, weer by Navo aansluit, en sy pro-Westerse buitelandse beleid hervat.


Skotse lesse vir Afrikaners

Dit bly moeilik om oplossings vir die groeiende krisisse in Suid-Afrika raak te sien, omdat dit net menslik is om vas te kyk in die huidige omstandighede en aanvaarde denkbeelde van ons tyd. Daarom het ek hierdie politieke toekomsverhaal oor Skotland geskryf, om te kyk of dit nie kan help om nuut en vars te dink oor die wisselwerking tussen die Suid-Afrikaanse en Afrikaneruitdagings nie.

My ervaring is dat liberale Afrikaners nie die beginsel van selfbestuur of selfbeskikking verstaan nie, en dat die meerderheid voorstaanders van selfbeskikking nie die praktiese toepassing daarvan verstaan nie.

Albei groepe verwar dit op die een of ander wyse met apartheid.

Daar’s nie ’n Afrikaner-Skotland

Die Skotse voorbeeld is met twee redes gebruik. Die eerste is om aan liberale Afrikaners wat net aan individuele regte glo, te verduidelik wat kulturele selfbestuur is en dat dit noodsaaklik kan word vir oorlewing. Die tweede rede is om aan voorstaanders van selfbeskikking te probeer verduidelik dat die praktiese toepassing in ons omstandighede uiters moeilik is.

Afrikaners het nie ’n Afrikaner-Skotland wat deur ons bewoon, besit en bewerk word nie. Selfbeskikking en ’n volkstaat kan dus nie onderhandel, gestem, deur die VN afgedwing, deur die regering gegee, of deur ’n hof beveel word nie. Daar bestaan nie so pasklaarland wat net met ’n besluit ’n werklikheid gemaak kan word nie.

Afrikaners se bestaansuitdaging is dat ons nie gekonsentreerd bly nie, maar yl verspreid. Ons is orals ’n minderheid met dieselfde probleme. Selfbeskikking soos in Skotland kan dus nooit hier ’n volledige oplossing wees nie, maar hoogstens deel van ’n groter oplossing.

Die onverstandige gebruik van die begrip selfbeskikking deur sekere voorstaanders daarvan, het dit so vergiftig dat liberales nie daaraan wíl vat nie, en geloofwaardige voorstaanders nie daaraan kán vat nie.

Grondwet of grondgebied

Hierdie skrywe is ’n boodskap vir liberale Afrikaners dat daar (dalk vinnig!) ’n tyd mag kom dat die Grondwet Afrikaners as persone en/of as gemeenskap nie meer beskerm nie, en dat die enigste uitweg grondgebied is.

As hulle dit dan nie hier kry nie, gaan hulle na ’n ander grondgebied trek soos Kanada, Australië of Nieu-Seeland, tot nadeel van die land en al sy inwoners.

Volkstaat of volkstede

My boodskap aan proselfbestuur-Afrikaners is dat die mislukking van die vroeëre volkstaatprojek juis gespruit het uit die feit dat daar nie ’n Afrikaner-Skotland bestaan wat net in werking gestel kon word nie. Die pogings om massas Afrikaners na ’n groot volkstaat toe te laat trek, was ook ‘n onhaalbare droom.

Maar daar is ’n meer praktiese uitweg, en dit is om klein te begin en groot te bou. As ’n volkstaat nou onmoontlik is, is daar niks wat Afrikaners keer om byvoorbeeld Orania van ‘n dorp tot ’n Afrikaner-vrystad uit te bou nie. So ‘n vrystad kan later tot ‘n provinsie of selfs meer groei. Dit kan deel wees van ‘n landswye risikobestuursplan van groeiende selfbestuur tot kulturele selfstandigheid, deur netwerke van sterk gemeenskapsorganisasies.

Gebruik jul vryheid om ’n stad van onder af te bou, omdat ’n staat nie van “bo” af gegee kan word nie. Dis tog selfs vir liberale Afrikaners beter om te help om ’n veilige “Perth” hier te bou as om jul geliefdes na Perth in Australië te sien trek. Dit kan ’n onderdeel van ’n veel groter en landswye projek van groeiende selfstandigheid wees. Emigrasie is net ‘n oplossing vir ryk enkelinge, nie vir ‘n hele volk nie.

Kom, laat ons ophou om vir mekaar te sê dat ’n suksesvolle ANC-regeerde Suid-Afrika, óf ’n Afrikanerstad, onhaalbare drome is. Kom ons werk eerder aan albei.

Daar is ongelukkig nie meer maklike oplossings oor nie. Daarom sal ons visie oor die toekoms, sterker moet wees as ons geheue oor die verlede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Jakalas ·

Hierdie artikel was nou ‘n baie interesante een. Ek stem nogals saam met baie van sy goed. Ek dink Skotland gaan weer hulle referendum doen na Brexit, want hulle het 52% gekry teen die referendum voor Brexit begin het. Dink hulle behoort the referendum te slaag dié keer. Wonder of Wales en Ierland (al het Ierland ‘n ooreenkoms met Britanje gedoen om dit nie te doen nie) ook dit gaan doen.
Ek dink ook ons wil te vinning te groot gaan met self beskiking. Dit moet klein gegin. Rome, of in dié geval Orania, was nie in een dag gebou nie. As ons regtig wil, kan ons Orania in ‘n Metro verander, maar daar is ‘n sekere unieke aspek van Orania was klein is. Die mense ken almal. In so groot stad kan die mense vervreemd word van mekaar af. Ek dink hulle kan kleiner dorpies in dieselfde omgewing begin en so versprei.

John ·

Ongelukkig is die pad na ‘n droomstaat vir Afrikaners reeds met rotse ontoeganklik afgesper deur eie geledere. Voor ’94 het dwalende nippi-leiers doelbewus roekeloos die volk geminnag/mislei/-ly en daarna volg die mitiese Mandela-euforie grootliks persgedrewe met waanberigte. Malema praat van ‘n volkstaatjie vir Afrikaners noudat hy begin bang raak vir rooi. Dit laat gevaarligte flikker in die noodteater. Enigiemand wat in Orania ‘n oplossing sien, verdien ‘n konsentrasiekamp sonder infrastruktuur met verstokte leiers. Elke land soek met ‘n seer hart ‘n hawe op een grens. Sonder dit betaal jy ten duurste vir elke brokkie brood. ‘n Klomp Afrikaners het reeds vrypag gegee aan elkeen wat ‘hi’ in Afrikaans se en ons dominees is terug tot voor die reformasie. Die staat se naam sal Welsynia heet. Afrikaners kan gerus die rampspoedige dorslandtrek met sy gruwelike Greyling-leier bestudeer. Wil die afneem van eiendom in dorpe/stede aangemoedig word en massa-afdankings met die oog op die ‘niks’ om heen te trek… huh? Waar gaan kos en werk vir GELD vandaan kom of hoop ons op ‘manna’. Ons geagte bloudrukdenkers moes destyds die volk gewaarsku het en nee gestem/geskreeu het. Waar was hulle en die Mulderkuifies toe? Mens ontpop nie eendag skielik visioener nie. Dit is soos om met die helm gebore te word. Ons moet nie weghol nie, asb.
Die Vader is steeds daar. Afrikaners moet die’ een weer deursien soos by Bloedrivier net met ‘n nuwe plan. Dink Flip… dink en bid… Afrikaners!

Dewald ·

John, alhoewel jy n punt beet het, is dit duidelik dat jy geen idee het wat regtig in Orania aan die gang is nie. Dis tyd vir mense om op te hou gevolgtrekkings maak en inligting bekom wat nie ander mense verdag maak oor wat regting daar gebeur nie. Die visie is al daar van voor ’94, met bitter min wat dit as n toekoms gesien het. Al wat dit nou weer ewe skielik op die spits dryf is die politieke onstabilteit in die land.

Reinhardt ·

Stem saam. Dit is n geografiese en ekonomiese feit dat n hawe van uiterste noodsaaklikheid is. Gaan kyk gerus na landvaste nasies, hulle is die armste ter wereld.

Chris ·

Onbetrokke en leunstoel kommentaar oor afleidings gemaak met beeld se naarpers as enigste bron….. Hoe sal jy weet daar is nie reeds grond bekom en hawe in beplanning? Hoekom moet ander altyd plan maak? Lig die agterstewe, raak betrokke …. of bid jy dat iemand anders weer iets aan die benarde situasie moet doen ter wille van jou kinders se toekoms?

Bravo Flip en die pioeniers in Orania!

Jan ·

Dankie Flip. Ek sê al lankal so vir my pelle oor Orania. Skuif jou besigheid soontoe (Vervaardigers sector). Belê jou spaargeld in ‘n klein eenman besigheid wat mettertyd sal groei. Kom ons spring aan die werk

Jerry ·

Besluit watter area sal die beste deug. Besluit met watter teikengroep daar begin moet word bv as dit die ouergarde is wat afgetree het of op aftrede staan en wat inkoop by die idee van n toekoms skep vir hulle kleinkinders, dan moet daar eers mediese sorgsentrums ens. ontwikkel word. Die ouergarde het die finansies en kan net baat by so n projek met kinders en kleinkinders wat later kan volg sou dit tot selfstandige lewensvatbaarheid ontwikkel. Tans is dit die jeug wat hulself in die buiteland gaan vestig met die ouergarde wat later volg. So n projek wat homself bewys as lewensvatbaar vir n veilige toekoms, kan die huidige tendens omdraai, hoekom nie?

Riaan Jacobs ·

Aftreeoord met versorgingseenheid reeds in beplanning vir Orania

Koos ·

Die eerste toekomsvisie gedeelte van Corbyn se Britse regering, is presies wat die ANC hier plaaslik doen en daarom sal Corbyn misluk soos voorsien is.

MAAR, dit is presies ook waarom die ANC plaaslik gaan misluk, ten koste van almal.

Vir die res, dit is weer ‘n ander toekoms droom wat maar moeilik vastrap plek sal kry hier plaaslik!

Frik ·

Frik, daar’s ongelukkig nie meer veel ander alternatiewe as kulturele selfbestuur deur gemeenskapsorganisasies oor nie. Behalwe nou as jy glo dat die ANC als weer goed sal laat gaan. Kom ons werk nou daaraan terwyl ons wil en kan, voordat ons dit moét doen.

jaco ·

vra die ANC om SA se grondwet te herskryf met die volgende daarin:
-rassisme is net rassisme as wit mense lelik is met swart mense. Strawwe daarvoor word duidelik in die grondwet uitgespel.
-lelike optredes van swart mense teenoor wit mense is aanvaarbaar en word nie gestraf nie.
-wit mense word in elk geval tydelike inwoners van 8 van die 9 provinsies. rassisme verdwyn dus later.
-wit mense in 8 van die 9 provinsies mag net sekere soorte werk doen en daars is plafonne oor tot waar hulle bevorder mag word.
-onteiening van wit eiendom sonder vergoeding vind plaas vin al die provinsies behalwe die wes-kaap
-wit mense verloor hulle stemreg
-wit mense met dubbele burgerskap word gedwing om na hulle eintlike lande terug te keer
-al die wit mense buite die wes-kaap word gedwing om te verhuis na die wes-kaap. wes-kaap kry selfregering as ‘n wit tuisland. buitelandse belegging word wel daar toegelaat. Dit word dan soos wat China met Hong Kong maak, of Italië met die Duitssprekendes in die Tirool.
Eks nie dronk of vol dwelms terwyl ek hierdie dinge voorstel nie. dit kan werk. ons mense , beide verligte Nasionale Party leiers en ondersteuners en behoudende regse Konsweratiewe Party leiers en ondersteuners, het vir lank, al sedert 1980, gekom met “dit kan nie werk nie” wanneer sekeres van ons gevra het vir n wit volkstaat. Dink buite die boks en julle “comfort zone” en kruip voor die ANC soos wat ek voorstel. Dit KAN werk.

Gerhard ·

Ons almal wil tog net he die Volkstaat moet na ons kom ;-). Ongelukkig werk dit nie so nie.

Reinhardt ·

Ek hou van hoe jy redeneer Flip. Maar een van ons probleme is dat daar Afrikaners onder ons is wat hierdie drome wil en sal uitbuit vir hul eie gewin. My grootste teleurstelling het so paar jaar terug na my gekom, waar ek besef het dat my mede Afrikaners nie die helde en engeltjies is wat ek altyd gedink het ons is nie. Daar is die wat werklik n beter land (staat, provinsie, wat ook al) vir almal wil skep, dan is daar die wat eenvoudig weer n apartheid staat wil oprig.

Net soos jy noem dat daar niks fout is met kulturele selfbestuur nie, en dat die meerderheid van liberales dit eenvoudig afskryf sonder om eerlik daaroor te besin, net so is hierdie einste liberales se redes gebaseer op konserwatiewes wat dood eenvoudig rasisties is. Moet nou nie my verkeerd verstaan nie, ek is baie seker dat die meerderheid van konserwatiewes nie rasiste is nie, net soos ek oortuig is dat die meerderheid liberales nie sneeuvlokkies is nie, maar dat albei groepe wel deur n klein luidkeelse meerderheid gedomineer word. Dit is daardie mense wat op hul plek gesit moet word om sodoende n oop en eerlike gesprek oor hierdie kwessies te kan begin.

Flip Buys ·

Reinhart, dit help nie om te wag dat almal saamstem of om te hoop dat daar net ‘engele’ saamwerk nie. Afrikaners is gewone mense soos enige ander groep. Ons probeer al ons projekte met deeglike en deurdagte navorsing en besinning aanpak. Dit word gou duidelik wie net praters of wie doeners is, en dade spreek harder as woorde.

Ou Grapkas Bosvark ·

Beste mnr Raath, raadpleeg asseblief die geskiedenis bronne. Interessante studie. Intussen hardloop ons Afrikaners al vér vooruit, vorentoe en opwaarts om ‘n ekonomies wêreldkompeterende volk te wees. En ons geniet die selfaktualisering om kreatief te wees.

Flip Buys ·

Flip Raath, David Ben Gurion het gesê die Jode bestaan al 3 000 jaar sonder definisie, elkeen weet of hy/sy een is of nie. Dieselfde geld vir Afrikaners se 300 of wat jaar. Die Internasionale reg grond groeplidmaatskap op vrywillige vereenselwiging en -aanvaarding. In die praktyk is Afrikaners mense wat hul met ons bestaansgeskiedenis vereenselwig.

Henry ·

“…In die praktyk is Afrikaners mense wat hul met ons bestaansgeskiedenis vereenselwig.”

Kort en kragtig, wat moeiteloos aan die oor geknoop kan word.

Dankie Flip Buys!

Josef du Toit ·

Gegewe die probleme met onafhanklikheidspogings in Katalonië, lyk dit bepaald moeilik vir ’n minderheid om tot onafhanklikheid oor te gaan.
’n Nie-onbenullige hoop vir die voortbestaan van die Boere-Afrikaner, menslikerwys, is emigrasie na en bevolkingsaanwas in Namibië, waarmee daar wel historiese bande bestaan. Die klein bevolking in Namibië maak die daarstelling van ’n Boere-Afrikaanse meerderheid nie so heeltemal onhaalbaar as in Suid-Afrika nie, met vestiging in Walvisbaai, waarna die dan Boere-Afrikaansbeheerde Namibiese regering ’n referendum aankondig ter onafhanklikheid van Walvisbaai, en aan die res van Namibië onttrek sodra die referendum slaag.

Gerhard ·

Daar is die nie-onbenullige probleem dat jy ‘n visa nodig het om na Namibië te emigreer net soos jy een nodig het om Australië te emigreer wat dit amper so moontlik maak om ‘n Afrikanerstaat in Australië te vestig.

Ernst Marais ·

‘n Ander opsie is Luderitz met sy goeie hawe, oseaan op wes grens, omring deur woestyn – en ‘n oorwegend Afrikaans- Duitse kultuur.
Belangrik is egter om die Afrikaanse bruin gemeenskap te laat inkoop op so ‘n visie

Piet ·

Mnr Flip Buys, kan jy asb reageer op Jaco se voorstel. Eerstens moet ek jou grootliks komplimenteer en bedank vir die ongelooflike visie en aanvoor werk wat jul organisasie vir die Afrikaner gemeenskap doen. Terug by die onafhandlike tuisland. Ek het nog nooit in die Weskaap gebly nie en is dus nie om daardie rede bevooroordeeld vir die WP nie, maar daar is baie wat net sin maak. WP is tog waar ons voorouers geland het en waar alles begin het (Plus dit het ñ hawe……baie belangrik). Van die hele land is dit die deel wat ek sou sê ons die meeste aanspraak op het…. natuurlik naas die Khoisan. Kan ons nie met koning Cornelius onderhandel vir ñ deelstaat nie? Ons gemeenskap kan dan oor ñ tydperk van ñ paar jaar migreer na die Weskaap.

Flip Buys ·

Vriende, geen plan kan werk wat homself afhanklik stel van die ANC-regering nie. Dit help nie om voorstelle te maak dat hul die grondwet moet verander om ons ter wille te wees, dat hul die Weskaap vir Afrikaners en Bruines moet afstaan, dat ons n ‘n ander land kan hervestig nie ens. Die toekoms wat ons gaan hê is die een wat ons self skep. Ons voorstel is kulturele selfbestuur vgl ‘n konsentrasiestrategie, baseer op sowat 30 landswye groter dorpe en stede waarna Afrikaners reeds trek. Skep nuwe werklikhede, privatiseer, en kry na die tyd daarvoor erkenning ipv vooraf toestemming.

Gantt-kaart Vlakvark ·

Geagte mnr Buys, baie dankie vir u uitstekende visionêre artikel.
Alvorens ‘n mens ‘n strategie beplan is dit krities belangrik om eerlik met jouself oor jou besigheid of volk te wees: ‘n eerlike SWOT-analise.
Uiters belangrik om ‘n Gantt-kaart op te stel sodat almal betrokke met ‘n oogopslag ‘n prent van die beplanning kan visualiseer.
Geen toekomstige onderhandelinge vir ‘n nuwe grondwet sal volhoubare resultate lewer indien al die partye nie in alle eerlikheid die belange van alle burgers as prioriteit hanteer nie – geen geheime motiewe nie, net naasteliefde.

Jerry ·

Al die opsies wat ons hier noem vir n Afrikaner “vrystad” het potensiaal en kan verwesenlik word deur saam te stem, saam te staan, saam te glo in leef en laat leef en deur n benadering te volg van “met die hoed in die hand gaan jy deur die hele land”. Ons kan dit vir onsself baie makliker maak en ons kan n “vrystad” verwesenlik as ons onsself eerste sien as Suid Afrikaners en ons SA en al sy mense dien “ons vir jou SA”. Eerstens moet ons uitreik na CR en hom help om SA n ware suksesvolle demokrasie te maak sodat ons ook eers as Suid Afrikaners gesien word en beskerm word. Ons huidige benadering gaan die lewe vir onsself net moeiliker maak in SA omrede dit te verdelend inwerk op die psiges van wit en swart en dit net eenvoudig te veel skietgoed gee aan die EFF om wit en swart teen mekaar af te speel. Die strategie wat ons gevolg het, het dit maklik gemaak vir die ANC om ons te isoleer, te straf en is besig om ons meer en meer uit te sluit uit die breer ekonomiese samelewing. Ons moet besin en ernstig begin kyk na n omdraai strategie wat uiteindelik n “vrystad” sonder totale uitsluiting tot gevolg kan he.

Ernst Marais ·

Jan, goeie raad.
Ons sagteware onderneming het reeds 3 programmeerders wat vanuit Orania aan ons produkte werk – die voorloper van ‘n volwaardige Orania Sagteware Huis.
So kom nuwe geld in Orania vir ‘n produk wat nie noodwendig ‘n groot mark in Orania het nie.

leon ·

Dankie Flip, hoop jou artikel stimuleer gesprek. Ek glo die verval wat momentum optel gaan talle Afrikaners, ook skyn liberals, wakker skud. Maak julle planne….”nood leer bid”

Andrea ·

Flip, jy noem dat daar ongeveer 30 dorpe en/of stede is waarheen Afrikaners reeds trek. Is daar êrens waar mens inligting oor hierdie plekke kan kry? Ek staan op aftrede en weet dat my pensioen nie gaan bykom by die hoë lewenskoste in die stad nie. Ek beplan dus om te trek. Maar waarheen? Ek wil nie na punt A trek as ek eintlik na punt Z moes trek nie. Kan jy/jul asb meer inligting hieroor gee? Ek voel dis baie belangrik sodat mense ingeligte besluite kan neem.

Flip Buys ·

Beste Andrea, ons sal dit eersdaags bekendmaak, ‘n span van demografiese-, munisipale- en stadsbeplannings- en ander kundiges finaliseer dit tans. Daar gaan min verassings wees, dis maar die Streeksdorpe en stede in elke provinsie waarnatoe mense reeds trek. Groete

Andre ·

Mense daar is net een manier en dit is om geografies meer groepeerd te raak. Trek wes. Weet net dat dit sal sukkel om om as blanke Afrikaners alleen te kan staan. Betrek die bruinmense. Ons praat immers mekaar se taal

Eric ·

Konsentrasie is absoluut noodsaaklik. Die ANC se strategie is om seker te maak dat alles “verteenwoordigend” is op elke vlak by elke instansie soos skole, universiteite, die werksplek ens. Jy het ‘n “se” in hoe alles moet werk, maar ons is oral min so ons belange kan net geïgnoreer of onderdruk word, soos ons tans ervaar. Waar ons die meerderheid uitmaak is dit moeiliker vir hulle om te doen.

Verder is dit belangrik dan hierdie dorpe relatief naby aan mekaar is sodat dit later verbind kan word, en ‘n kuslyn is natuurlik krities. Ons kan ook begin om ons kapitaal en kundigheid te gebruik om vir ons ‘n toekoms te bou. Ek dink ‘n voorbeeld hiervan is die huidige situasie van rasse diskriminasie teen wit werkers by SASOL. Kan hierdie werkers nie bedank by hierdie idiotiese instansie nie? Hulle kan dan hulle pensioenfondse gebruik om ‘n polimeer besigheid te begin, wat die werkers sal besit, in een van hierdie 30 dorpe.

Hierdie is sekerlik die tipe gesprekke wat Afriforum in sy vele takke kan laat plaasvind. Dit maak sekerlik meer sin as om die heeltyd te kla of te veg teen idiotiese idees soos die NHI. Anders gestel, om verantwoordelikheid te vat vir ons toekoms maak meer sin as om te kla of te onderhandel met mense wat niks vir jou voel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.