Skrapping van vrystelling op buitelandse inkomste het onvoorsiene gevolg

geld 4

Argieffoto.

Deur Amanda Visser

Verskeie organisasies en Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland werk het gewaarsku dat die voorgestelde skrapping van die belastingvrystelling op buitelandse inkomste onvoorsiene gevolge gaan inhou.

Patricia Williams, vennoot by die regsfirma Bowmans, maan dat dié skrapping waarskynlik net laer- tot middelinkomsteverdieners gaan raak. Dit kan boonop belastinginvordering nadelig raak.

Williams is ook voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIB) se belastingadministrasiekomitee.

Die Nasionale Tesourie het in die Julie vanjaar die Konsepwysigingswetsontwerp gepubliseer waarin voorgestel word dat Suid-Afrikaners wat op langtermynkontrakte in die buiteland werk voortaan belasting op hul buitelandse inkomste in Suid-Afrika gaan betaal.

Dit sal beteken dat Suid-Afrikaners wat reeds in die buiteland belasting op dié inkomste betaal, voortaan dubbel op dieselfde inkomste belas gaan word.

Daar word wel voorsiening gemaak dat daar ’n krediet geëis kan word vir belasting wat in die buiteland betaal is.

Die vrystelling is in 2001 ingestel en is van toepassing op Suid-Afrikaners wat vir 183 dae werk in die buiteland verrig het, waarvan 60 dae aaneenlopend in een jaar moet wees.

Williams wys daarop dat heelwat Suid-Afrikaners weens die hoë werkloosheidsyfer in die land gedwing word om in die buiteland werk te soek. Welgestelde Suid-Afrikaners kan dit bekostig om formeel te emigreer indien hulle in die toekoms dubbel belas kan word.

“Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan bloot net minder belasting invorder aangesien ander inkomste (rente en dividendinkomste) dan ook buite die inkomstenet gaan val.”

Aangesien welgestelde persone in staat is om hul belastingverblyfstatus te verander deur te emigreer, gaan die verandering waarskynlik net laer- en middelinkomsteverdieners raak.

“Hulle is juis die weerlose segment van die samelewing wat nie op dié wyse geteiken behoort te word nie,” sê Williams.

Sy wys verder daarop dat salarisse dienooreenkomstig verlaag is in gevalle waar buitelandse jurisdiksies van dié vrystelling bewus is en daar min of geen belasting in die bepaalde land ter sprake is.

“Dit maak die betaling van Suid-Afrikaanse belasting ’n ekonomies onhaalbare opsie. Daar moet ag geslaan word op die feit dat die meeste van dié wat wel geraak gaan word afhanklikes in Suid-Afrika het wat deur hulle ondersteun word,” sê sy.

Hulle dra dus rééds tot die staatskas by aangesien minder Suid-Afrikaners dus van staatsondersteuning afhanklik is.

Jerry Botha, besturende vennoot by Tax Consulting, sê dat Suid-Afrikaners in Brittanje geen belastingaanspreeklikheid het as hulle minder as £11 500 per jaar verdien nie.

As dié bedrag egter teen ’n wisselkoers van R17 teenoor die pond na rand omgeskakel word, is die belasbare inkomste in Suid-Afrika R195 000. Die persoon gaan dus R22 000 aan belasting in Suid-Afrika moet betaal.

“Dit gaan vir die meeste jong studente en nuut gekwalifiseerde professionele mense onbekostigbaar wees,” sê Botha in sy tegniese voorlegging namens die Buitelandse Versoekskrifgroep (Expatriate Petition Group) aan die parlementêre staande komitee oor finansies.

Dié groep verteenwoordig Suid-Afrikaners wat reeds etlike jare in die buiteland woon, maar steeds hul bande met die land behou.

Dit sluit ook professionele mense in wat in die buiteland werk en hul ouers steeds in Suid-Afrika finansieel steun, asook studente wat graag buitelandse ondervinding wil opdoen.

“Ons is nie bewus van enige land wat ’n belastingbeleid ingestel het wat dit moeiliker maak om te studeer of internasionale werksondervinding op te doen nie,” sê Botha in die voorlegging.

Selfs die VSA gebruik sy belastingvrystelling op buitelandse inkomste van $102 100 per jaar om ’n veilige hawe vir sy belastinginwoners te skep. Hulle betaal geen bykomende belasting nie, mits dié drempel ($102,100) nie oorskry word nie.

Williams wys verder daarop dat Suid-Afrikaners wat tans vir lang tydperke in die buiteland woon en werk geen toegang tot die “regeringsdienste” – waarvoor ’n mens gewoonlik belasting betaal – kry nie. Dit is derhalwe onregverdig dat hulle gedwing word om belasting te betaal vir dienste wat hulle nie kry nie.

“AfriSake het deelgeneem aan die openbare proses om kommentaar in te dien. Die organisasie se uitgangspunt bly dat die regering eers sy huis in orde moet kry, ophou geld vermors en verkwansel voordat hulle enige verdere belastings teen enige burgers van Suid Afrika wil gelas,” sê Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregsadvieseenheid by AfriSake.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Dit is nou totaal onnodig. Ons vertrou die regering sal tot sy sinnelose kom met die absurde belasting.

Heinrich ·

Die regering is so kortsigtig, sien nou net die paar rand wat hul ekstra kan steel. Die mense wie hul belasting terug kry, investeer dit nogsteeds IN die land, koop nog ‘n huis, of ‘n lekker voertuig, of stoot die geld in ‘n belegging in, in al drie scenarios is daar VAT en/of Capital gains tax betrokke en jy stimuleer die ekonomie. Nou verander hul die wet, dan besluit daai mense, Hoekom wil ek weg wees van my familie en dalk in haglike omnstandighede moet werk bo in Afrika as hierdie klomp gierige idiote net helfde van jou geld gaan vat om meer te kan steel. Ek vermoed dat die ou wat hierdie kk idee gehad het dieselfde een is wat die E-Tolling sisteem aan ons voorgestel het. Bring eerder ‘n Taxi betaal sisteem in werking sodat die Taks man kan sien hoeveel geld die Taxi base regtig maak, Cash is king

Jordaan ·

As die argument gevoer word dat hulle geen toegang tot “regeringsdienste” het nie en dus nie belasting moet betaal nie, kan dieselfde argument vir ons hier plaaslik geld! Privaat sekuriteit, medies, skole, behuising, ens.

Piet Snot ·

Indien jy die Staat se dienste gebruik, moet jy daarvoor betaal.
Woon jy egter in die buiteland, gebruik jy niks daarvan nie, en ek soek nog iemand wat vir my kan verduidelik waarom so iemand moet betaal vir ‘n staat wat hom letterlik niks gee nie.

Carel ·

Wat van al die immigrante wat in SA bly wat nie ‘n sent belasting betaal nie. En miljarde rande land uit neem. spaza winkels ens. Dit lyk na my na net ‘n manier om werkendes te belas om luiards wat in rye staan te betaal. Robin Hood. Steel from the rich and give to the poor. Great net een probleem armes sal arm bly want hoekom moet ek werk en rykes gaan trek of self verarm. Op ou end is almal in hul moer.

Andrew Muller ·

Dit verstom my dat daar vir my gese is ek kan nie werk kry nie aangesien my vel ‘n sekere kleur is. Ek word ook beskuldig dat ek die land gesteel het alhoewel nie ek of my familie dit kan bekostig om eindom te koop nie.

Ek bou ‘n nuwe lewe vir myself in Britanje en dit gaan goed. Nou word daar tog aan my deur geklop om te vra ek moet tog onthou om asb my ekstra ponde SA toe te stuur.

Eks bloot nie goed genoeg om te kan werk nie, maar my buiteland se fondse word tog gevra. Belaglik is dit nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.