Slagkrete en swak regering voed nie honger mense nie

sonkol-koring-landbou

Foto: Munruthel/Pixabay.com

Deur Christo Pretorius

Op 2 Februarie 1990 het president FW de Klerk tydens die opening van die parlement die ontbanning van die ANC, SAKP en PAC aangekondig.

Voorts het hy in sy toespraak die vrylating van Nelson Mandela aangekondig en hierdie gebeure lei tot onderhandelinge tussen verskillende groepe en politieke partye – na die Konvensie vir ʼn Demokratiese Suid-Afrika of in die volksmond, Kodesa.

Sewentien van die negentien partye wat deelgeneem het, het in Desember 1991 ʼn verklaring van voorneme onderteken wat voorsiening sou maak vir ʼn nuwe Grondwet en ʼn tussentydse regering.

Ten opsigte van grondhervorming is die belofte gemaak dat wit grondeienaars se reg op grondbesit nie onvoorwaardelik bevraagteken of onteien sou word nie.

Trouens, mnr. De Klerk het Afrikaners verseker dat hulle kaart en transport veilig is.

ʼn Verdere ooreenkoms was dat restitusie van grond billik en regverdig aan die hand van ʼn ooreengekome proses sou geskied en dat die afsnydatum 1913 sou wees.

Die verdere gang van die grondkwessie is bekend.

Na die aanvaarding van ʼn tussentydse Grondwet het die eerste verkiesing in terme hiervan op 27 April 1994 plaasgevind en die ANC-SAKP-COSATU-alliansie het met 63% die mag in die Republiek bekom.

Met die mag het die verantwoordelikheid van die beheer en bestuur van grond in die hande van die ANC beheerde staat te lande gekom.

Die grondbeleid van die nuwe regering is gekenmerk deur idealistiese planne en doelwitte en die Heropbou- en Ontwikkelingsplan (HOP), die Growth, Employment and Redistribution inisiatief of GEAR en die Wet op Herstel van Grondregte moes hieraan uitvoering gee.

Hierdie pogings is egter deur talle faktore belemmer en het tot die mislukking van die inisiatiewe gelei.

Van die faktore wat die hervorming van grond belemmer is die gebrek aan ʼn billike beoordeling van geskiedenis en propagandiste soos Julius Malema teer op ʼn verdraaide voorstelling van die geskiedenis.

Tydens ʼn kongres van die Black Management Forum in Oktober 2009 verklaar Malema, toe nog voorsitter van die ANC-jeugliga, dat hulle die vrywillige koper-verkoper-beginsel ondersteun, maar voeg by dat swart mense nie die grond hoef te koop nie, want wit mense het dit van hulle gesteel.

Hierdie drogbeeld ontken die rol wat die Afrikaner gespeel het om die Grondregte van swart gemeenskappe te herstel; grondregte wat nie net deur die gang van die Mfecane en stamoorloë beïnvloed is nie, maar ook deur die Brits koloniale tydperk vertroebel is.

Dit ontken ook ander faktore soos die geweldige bevolkingsgroei en die instroming van nie-Suid-Afrikaanse burgers.

Die ongebalanseerde omgang met die verlede en die demonisering van Afrikaners is ʼn handige middel om die mislukking van die ANC beheerde staat te verbloem en die verbreking van beloftes te regverdig.

Daar is egter ʼn groter waarheid, ʼn meer werklike faktor wat die grondkwessie kompliseer: klimaatsverandering staar Suid-Afrika in die gesig en soos wat Dag Zero in die Wes-Kaap nader kruip, sal Suid-Afrikaners terdeë hiervan kennis neem.

Al eerder, In Maart 2009, tydens ʼn nasionale klimaatberaad in Midrand, het prof. Roland Schulze gesê die staat behoort die kommersiële boere, wat 90% van die land se voedsel produseer, te beskerm.

Klimaatsverandering gaan voedselsekerheid in gedrang bring, trouens in die 2010-studie ‘Climate Change and Trade’, The Challenges for Southern Africa, waarsku Draper, Mbirimi en François Engelbrecht, aan die hand van huidige modelle en vooruitskouings dat ʼn reeds droë Suid-Afrika nog droër kan word.

Dit kan die grondkwessie soveel meer kompliseer. Trouens, die regeerders en propageerders moet daarmee rekening hou dat honger mense nie met slagkrete en swak regering gevoed word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Iets wat die kommersiële landbou goed weet, maar wat die ideologie oor die hand sien, is dat die grootste deel van SA totaal ongeskik is vir bestaanslandbou. Selfs gevestigde kommersiële boere trek noustrop om kop bo water te hou ten spyte van hul kapitaalinsettte, vernuf, tegnologie, voortreflike kommersiële bemestingstowwe, onkruidbeheer en gepaste kultivars. Oor die lang termyn is die bestaande vorm van intensiewe boerdery wat absoluut afhanklik is van fosielbrandstowwe, hoogs tegnologiese toerusting, chemiese bemestingstowwe, meer en meer insek- en onkruitdoders en voortdurend verbeterde kultivars, self geensins ‘n volhoubare bedryf nie. Dit sal hoegenaamd nie veel neem om relatiewe voedselsekerheid na algemene hongersnood te omskep nie.

Eish ·

Anthony Thurton, n opgeleide waterbeplannings wetenskaplike wat jare gelede in diens van die department van waterwese was, se waarskuwings toentertyd, het op dowe ore geval en hy is in die pad gesteek. Nou word al sy waarskuwings soos profesieë vervul.
Gister het die Kommissaris van polisie nie opgedaag vir n parlementêre oorsigkomitee vergadering nie. Die ander generaals wat die stoele vol gesit het se beantwoording van vrae, is om die minste te sê vaag, algemeen en toon gebrek aan deeglike beplanning. Kaukasiërs ingesluit.
Al die peste en plae wat soos n wolk trekspringkane op ons neerdaal, getuig van gebrekkige bestuurskapasiteit. Dit, na bykans n kwarteeu in die nuwe bedeling! Dit is n nasionale skande dat die nuwe bedeling so min bekwame amptenary opgelewer het. Bekwaam in staatskaping en om die aftreenes uit te veer is eerder die kenmerk.
Dít en dít alleen is die helhool se ondergang.

Dejager ·

Hierdie is ń mooi artikel en ek deel die sentimente oor grondbesit.Ek dink egter die krisis in die Kaap is volledig mensgemaak en het min met enige klimaat(behalwe dalk politieke klimaat ) te doen.
In die laat 80s en die 90s het die vorige regering oor hul voete geval om die land te oorhandig aan die ANC.Die skrap van die groepsgebiede en van invloeibeheer het direk aanleiding gegee tot die migrasie uit die Oos Kaap na die Kaap.Na die ANC oorgeneem het.het ons grense porieeus geraak en die hele Afrika het begin Kaap toe migreer.
Die populasie het ontplof.Die kelners,petroljoggies,vissermanne arbeiders in die Kaap is Mosambiekers en Zimbabwiers.
Die Kaapse vlakte is toegebou.Miljoene mense het gaan woon in ń droë kol en vir ń kwarteeu het ń pateties onbeholpe regering hom met uitgediende ideologiëe besig gehou en sy verpligtinge versaak.
Kom ons wees eerlik:Die huidige regime het nog niks geleer nie.Dit sou komies gewees het as dit nie so tragies was nie!

Jerry ·

Die Zuptas het hulle bes gedoen om natuurlike hulpbronne te plunder en water te besoedel. Voedselsekerheid was nooit n prioriteit vir die Zuptas nie, grondonteiening wel. Die denkwyse met bogenoemde was en is nog steeds om die grond van boere te bekom vir die minerale in die grond. Die ANC wil steeds die grond in myne omskep om minerale soos Uraan te myn. Die geld wat die myne verdien sal volgens ANC denkwyse genoeg wees om voedsel en water in te voer vanaf ander lande, sou dit regtig nodig raak. Die Afrikaner se denkwyse is nog altyd om te bewaar en grond te gebruik om te boer en hopelik is dit ook CR se denkwyse. Ek is egter bevrees dat skade mbt grond en water reeds ongekende negatiewe vlakke bereik het. Die skade kan beperk word terwyl CR in die stoel is, maar wat daarna? Sou die Zuptas weer die bewind oorneem, en die kanse is baie goed daarvoor, dan is ek bevrees sal hulle moeilik gestop word om Suid-Afrika in een groot mynhoop te omskep. Die water wat gaan oor wees na CR se termyn gaan so besoedel word deur die ANC se bose planne dat geen mens of dier dit sal kan drink nie en selfs plante sal nie groei nie en daarom se ek moet die Afrikaners realisties besin oor die toekoms. Vandat die ANC aan bewind is het elke jaar versleg. Hulle het oe, maar kan nie die gevolge van hulle dade sien nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.