Slagordes word opgestel vir die Duitse verkiesing

Armin Laschet (regs) saam met Annegret Kramp-Karrenbauer (links) en Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

In die Duitse politiek word die slagordes vir die algemene verkiesing in September vanjaar opgestel.

By die regerende Christen-Demokratiese Unie (CDU) was daar vir sowat twee weke lank ’n leierstryd tussen die pas verkose partyleier Armin Laschet en die Beierse premier Markus Söder oor die pos van kanselierskandidaat. Laschet het ’n paar flaters begaan en is ook landwyd nie baie gewild nie. Hy is ook baie naby aan kanselier Angela Merkel en staan vir die voortsetting van haar linkse beleid.

Söder het die beeld van kragdadigheid, al is hy ’n opportunis soos min en sy oortuigings buigbaar. Op grondvlak is hy gewild, by die lede van die party en ook by die bevolking as geheel, as ’n mens die meningspeilings moet glo. Al hoe meer meer provinsiale strukture het by hom aangedring om hom verkiesbaar te stel as kanselierskandidaat. Hy is egter lid van die CDU se Beierse susterparty CSU en dus het Laschet eintlik die eerste aanspraak. Indien daar ’n stemming onder die lede is, sou Söder waarskynlik wen. Laschet het agter geslote deure met Söder vergader en hom probeer oortuig om te onttrek. Söder het geweier om bes te gee en die besluit in die hande van die CDU se Präsidium (uitvoerende raad) gelê, wat dan egter uit lojaliteit en teen hul beterwete in hul meerderheid vir Laschet gekies het.

Markus Söder. (Foto: Peter Kneffel/POOL/AFP)

Die leierskapstryd reflekteer egter nie goed nie en Laschet se gesag is kort ná sy bewindsaanvaarding as CDU-leier reeds beskadig. Die CDU se steunvlakke het die laaste tyd dramaties geval, van rondom 36% na sowat 26%. Indien hulle nog steeds die grootste party word, sal hulle heel waarskynlik met die Groenes regeer en Duitsland nog verder links skuif, maar nie so dramaties en skielik soos ’n suiwer linkse regering onder leiding van die Groenes nie.

Die koalisievennoot van die CDU, die Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland (SPD), het reeds verlede jaar hul mees prominente verteenwoordiger, Olaf Scholtz, minister van finansies, as kanselierskandidaat bekendgestel. Die dubbelde partyleierspan, Norbert Walter-Borjans en Saskia Esken, is landwyd nog min bekend en ook geen sterk steuntrekkers nie en het dus sonder geveg vir Scholtz plek gemaak as kanselierskandidaat. ’n Ondersoek staar Scholtz egter tans in die gesig oor moontlike politieke beïnvloeding ten gunste van ’n bank uit die tyd toe hy burgemeester van Hamburg was. Met die SPD wat al lankal swak vaar in die meningspeilings en by 15% draai, is die kanse op die kanselierskap in elk geval skraal.

Annalena Baerbock (links) en Robert Habeck van die Groen Party. Foto: (Guido Kirchner/dpa via AP)

Die Groen Party, gunsteling van die media, het twee leiers, Robert Habeck en Annalena Baerbock en moes op een persoon besluit as kanselierskandidaat. Habeck is ouer, het reeds regeringservaring en ook ’n beroepslewe voor die politiek. Baerbock is iemand wat direk uit die universiteit in die Groen Party-aktivisme en politiek beland het en net in partyfunksies werksaam was, sonder enige ervaring van die uitvoerende gesag – nie eens op plaaslike vlak nie. Sy besit ook min vakkennis, maar beeld en voorkoms tel deesdae meer as ervaring en kundigheid. Nogtans het die binnekring, insluitende Habeck, sonder ’n stryd of verkiesing, op haar as kanselierskandidaat besluit. In die eerste plek omdat sy ’n vrou is en ook die mees gereelde gas op nuusprogramme en daarom wyd bekend is. Die Groenes se steun het reeds baie hoë vlakke van sowat 23% bereik, hoofsaaklik oor die foute van die CDU en SPD en die gunstige mediadekking asook die feit dat die twee leiers na buite harmonies met mekaar omgaan en binnegevegte oor beleid iets van die verlede is.

Die Alternative für Deutschland (AfD) aan die regterkant het onlangs hul partykongres gehou. Hulle het ook ’n dubbele leierskap, maar het afgesien van die benoeming van ’n kanselierskandidaat omdat hulle in elk geval nie ’n kans staan om deel van enige koalisie te wees nie, wat nog om die kanselier aan te stel. By hulle tel beleid meer as gesigte. Weens binnegevegte en uiters negatiewe mediadekking staan hul steun tans by sowat 10%, alhoewel hulle eintlik sterk moes baat by die regering se ongewildheid en die CDU se swaai na links. Hulle is ook die enigste party wat teen die beleid van ’n streng grendelstaat staan, maar dit plaas hulle buite die konsensus en maak hulle nog meer onaanvaarbaar en gehaat by die hoofstroom.

Dan is daar nog die liberale Vrye Demokratiese Party (FDP) en die verlinkse party (Die Linke), wat probeer om tussen die groter partye nog aandag te trek. Hulle sal ten beste hul steun van die vorige verkiesing, 10% en 9%, behou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Eden

Waar is die dae van Helmut Kohl en Franz Josef Strauss? In die goeie ou dae toe die CDU/CSU nog konserwatief was. Vandag is die hele spul linksgesind en dit lyk n.a.v. jou skrywe nie of dit gaan verander nie. Dit lyk my die hoop op ‘n sterk regse party (AfD) raak by die dag swakker. Europe is sterk op pad om sy selfmoord te volbring, amper soos die Yanks onder die linkse Biden administrasie daar reeds in SA se skadu leef.