Slawerny terug op die wetboek: Kommentaar op voorgestelde wysiging van onderwyswette

skool 2 klas onderwyser

Argieffoto.

Deur Ruan Comrink

Wie sou kon dink dat die jaar 2017 sou eindig met voorstelle van gewettigde slawerny wat in die Staatskoerant gepubliseer word?

Die publikasie van die voorgestelde wysigings aan die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 (Sasa) en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders van 1998 (EEA) in die Staatskoerant op 13 Oktober 2017 het besorgde ouers met reg in rep en roer. Hierdie voorgestelde wetgewing is die direkte uitvloeisel van sosialisme en kommunisme, gemeenskaplike besitreg en staatsbeheer oor alles, met die gevolg dat daar gereken word mense behoort aan mekaar en aan die staat. Of dan in hierdie geval dat die staat blykbaar meen ons kinders behoort aan hom. Die ander naam vir wanneer een mens aan ʼn ander behoort, is slawerny.

Die voorgestelde wysigings van die wet kom daarop neer dat magte, veral ten opsigte van die indiensneming van opvoeders, toelatingsbeleid van skole en die taalbeleid van skole, verskuif word, weg van beheerliggame en na staatsamptenare, soos die provinsiale hoofde van die onderwysdepartement en die minister van onderwys. Die wet bevat egter ook klousules wat aanspreeklikheid van die staat verminder. Die staat wil hiermee dus meer beheer uitoefen, maar minder aanspreeklikheid aanvaar vir openbare skole.

Dit is duidelik dat die wetgewing nie in belang van die leerders is nie, maar van die staat. Die staat wil hiermee wetgewing misbruik om ʼn bepaalde politieke ideologie te bevorder, soos in die motivering van die voorgestelde wetgewing telkens uitdruklik gesien kan word.

Gelowiges van veral Christelik gereformeerde kerkverbande wie se lidmate hul kinders tot doop bring waar die belofte voor God gemaak word om hul kinders in hierdie leer te onderrig en te laat onderrig, moet hierdie wetgewing ten sterkste teenstaan! Alle ouers word aangemoedig om kommentaar op hierdie wysigings in te dien.

Hoewel baie ouers daarna streef om gebruik te maak van alternatiewe onderwys soos Christelike Volkseie Onderwys, privaat skole of tuisonderrig is dit nie vir almal moontlik nie en is hulle tans afhanklik van die openbare skole waartoe hul hardverdiende belastinggeld wel bydra. Die magte van beheerliggame stel hierdie ouers tans in staat om inspraak te hê en tot ’n mate toe te sien dat hul kinders se skole aan die vereistes van God as die hoogste gesag voldoen. Die voorgestelde wysigings wil beheerliggame van hierdie magte ontneem.

Verder wil die staat deur hierdie wetgewing selfs alternatiewe soos tuisonderrig dwing om op eie koste van die staatskurrikulum en eksamens gebruik te maak. Deur hierdie wetgewing word leerders dus ingedwing in ʼn stelsel wat al meer deur die staat beheer word.

Die Bybel skryf in Romeine 13 wel aan die staat die swaardmag toe. Dit beteken egter dat dit die staat se rol en taak is om wet en orde te handhaaf, daarom behoort opvoeding en onderrig sover moontlik in die hande van die mense wat die beste belang van die kinders op die hart het, gelaat te word. Die staat behoort die ruimte en middele vir onderrig te verskaf sonder om beheer daaroor uit te oefen.

Ons kinders behoort nie aan die staat nie! Ons kinders behoort aan God, net soos wat ons aan Hom behoort.

Ons kry ʼn mooi voorbeeld hiervan in die Bybel in Markus 12. Die vraag wat aan Jesus gestel word, handel oor die betaling van belasting aan die keiser al dan nie. Ons ken almal die baie bekende antwoord van die Here Jesus: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”

Maar alvorens Jesus hierdie uitspraak gemaak het, het Hy iets anders gedoen. Hy het vir hulle ʼn muntstuk gevra en nadat hulle vir Hom een gegee het, het Hy gevra: “Wie se beeld en opskrif is dit?” Natuurlik was die keiser se beeld daarop, daarom behoort dit aan die keiser!

Wat ons nou moet vra, is: Wie se beeld vertoon ons kinders? Die antwoord: God se beeld (Genesis 1:27). Daarom behoort ons kinders nie aan die staat of die gemeenskap nie.

Ons word nie toegelaat om dit wat aan God behoort aan enigiemand anders as God te gee nie – veral nie aan die keiser nie. Kinders behoort nie eens aan hulle ouers nie. God het bloot aan die ouers gesag oor sy kinders gegee om hulle op te voed en groot te maak tot eer van sy Naam en om in sy diens te staan.

Ons sekulêre staat staan net in diens van homself en diegene wat die staat gekaap het. Daar kan nie van die staat verwag word om beheer oor ons kinders te neem en dan aan ons kinders te lewer wat selfstandige, denkende individue sal wees nie, want wat die staat meer as enigiets anders nodig het, is slawe – afhanklik en onnadenkend. Hierdie voorgestelde wetgewing wil slawerny by die agterdeur inbring. Kinders moet nou die slawe van die staat se ideologie word.

Beheerliggame, privaat en CVO-skole, asook die tuisskoolbeweging waarin ouers van leerders, sowel as gemeenskapsverteenwoordigers en -leiers aan stuur van sake staan, het nog altyd ten doel gehad om in die beste belang van die kind op te tree. Die staat, daarenteen, tree duidelik in eie belang op en is in alle opsigte bewysbaar onbevoeg. Daarom is dit elke ouer, beheerliggaam en kerk se profetiese roeping om die voorgestelde wetswysigings ten sterkste teen te staan.

Ons het nie ons kinders as eiendom ontvang nie, maar het wel van God die verantwoordelikheid vir ons kinders ontvang. Waar die staat met hierdie voorgestelde wetgewing meer beheer wil opeis en minder verantwoordelikheid wil aanvaar, is dit tyd vir ouers om op te staan en ons verantwoordelikheid na te kom. Dit is ons verantwoordelikheid dat ons kinders deur gepaste dissipline en opvoeding produktiewe lede van die samelewing word – nie ter wille van die staat nie, nie eens ter wille van die kinders of onsself nie, maar tot eer van die Here se Naam.

  • Die artikel is met die vergunning van Die Boodskapper, ’n publikasie van die Afrikaanse Protestantse Kerk, gepubliseer. Lees die oorspronklike artikel hier.
  • Suid-Afrikaners het net tot Vrydag 10 November om kommentaar op die wysigings lewer. Enigiemand wat kommentaar wil lewer, maar onseker is waarheen dit gestuur moet word, kan van Solidariteit se gebruikersvriendelike kommentaarplatform gebruik maak by die #VIRskole-platform. Elkeen se kommentaar sal afsonderlik aan al die korrekte partye aangestuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

wel die staats skolle is so swak daar om wil hy alle skool onder sy beheer he dat alles swak is dan kan daar mos nie gese word van dit is beter as ander nie

Ghia ·

Hierdie is ‘n groot bekommernis. Die leiers is swak en swak word aanvaar ORAL – hospitale, skole, polisie… Al wat hierdie wesens wil he is dat SWAK aanvaarbaar word sodat alles van goeie en ordentlike mense weggesteel kan word – ons kinders se opvoeding (tugtiging in die huis / skool), goeie geleerdheid daarom brand die klomp die universiteite af – hulle wil nie werk nie, hulle will nie leer nie, hulle wil nie betaal nie en nou moet families sonder huise gaan, etc. om een arrogante klein snotneus te akkommodeer ingeval hulle ‘kwaad word’. Verniet skoling is vir skoliere belowe in 1994 , nie vir studente nie. As jy nie die universiteit kan bekostig nie, gaan werk en maak soos al ons ander wat nie universiteite kon bekostig nie. Werk sal al jou kwale, lui ingesluit, oplos. Die MEC moet liewer die skole wat soos geboue lyk wat deur ‘n stormwind vernietig is, reg maak en mense wat opgelei is in ‘n vak (wiskunde, fisika, etc) toelaat om die vakke aan te bied wat hulle kan en nie geskiedenis onderwysers wat nie wiskunde kan doen nie, aan te bied nie. Studip bring meer stupid. Waar kan ‘n petisie teen die nuwe skole voorstelling geteken word?

John ·

Kwaliteit (is daar so ‘n woord erens in ‘n Afrotaal?) is nie die erns van ons huidige regering nie, eerder kwantitatiewe goddelose mag. Hoe gehalte onderwys het na 1994 vervaag toe ongekwalifiseerde mense in duisende tot die onderwysberoep toegetree het. (Ons het selfs talle mediese spesialiste wat vir geen dag mediese opleiding ontvang het nie, nie eens as lewensredders by ‘n plaaslike swempoel nie… maar beklee skaamteloos die poste in die hoop om ‘n Oscar los te slaan.) En nou moet ouers en kinders hulle ook verbeel ons onderwysstelsel is van die beste in die wereld met gratis swak naskoolse opleiding om eendag hulle te verbeel hulle is akademici, sakemanne, ministers en presidente. Miskien sal Kammaland ‘n beter naam vir SA wees en rubberbote vir reise en bakhandstaan elders goeie projekte vir wanneer die kataklismiese atoomkragstasie-projekte skipbreuk ly.

Sowaar ·

God bly in beheer, al sê die regering ook wat.

Ek is onderdanig aan my God en nie aan mens nie. En Hy het wel die mag aan sekere amptenare gegee, mits die amptenare ook onderdanig is aan Sy gesag. As ek kyk na wat gebeur in ons land is dit duidelik dat daar geen meer orde of respek is nie. My God is ‘n God van orde…

Ek en my huis- ons sal die HERE dien.

Pieter Duvenage ·

God is groot en maak nie saak wat hy se nie ons weet waar ons vandaan kom en waarheen ons eendag gaan as ons lewe tot n eiende kom ek sal nooit my kinders benadeel te gunste van die staat nie 60 /70 kinders per klas is ontmoontlik daai arme onderwyser gaan net doen wat hy of sy kan en die res aan genade oorlaat Ons moet daarteen skop al vorder dit hoe ver

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.