‘Slegs Maori’s in Nieu-Seeland’ en ander nuus

Dagsê aan al die lesers.*

Uiteindelik breek die langverwagte, grootste sportgebeurtenis van 2011 aan. ʼn Indrukwekkende openingseremonie gaan die eerste wedstryd vooraf. Wat my onmiddellik opval is dat daar slegs Maori’s in Nieu-Seeland is, want daar word net op een kultuur en op een groep se aktiwiteite in die openingseremonie gefokus.

Dit is ʼn jammerte dat die wêreld so fokus om polities korrek te wees en dat voorheen benadeeldes al die prominensie geniet. Ek het gedink dat dit net van toepassing op ons eie land is, maar toe was ek heeltemal verkeerd. My bronne in Nieu-Seeland sê ook dis al waaroor gepraat word in die strate en kuierplekke en dan ook met gemengde gevoelens.

Wat die wedstryde betref is daar ʼn paar interessante afleidings wat gemaak kan word. Die All Blacks ly nog aan bomskok wat deur twee agtereenvolgende nederlae voor die openingswedstryd veroorsaak is. Die Tongane het ook gewys dat die All Blacks se pak getem kan word. Die flouerige vertoning, veral die tweede helfte, teen Tonga moet egter nie gesien word as dat die All Blacks onder die druk van verwagting gaan sukkel nie. Die Wêreldbeker word nie in die eerste ronde gewen of verloor nie.

Wat verder opvallend is, is dat die sogenaamde kleintjies die grotes laat les opsê het al dui die eindtellings nie daarop nie. So het Namibië, Japan en Roemenië vir Fiji, Frankryk en Skotland onder groot druk gehad tot naby die einde. ʼn Verrassing of twee is dus nie uitgesluit nie.

Wat die Bokke betref is die vier punte vir die oorwinning in die sakkie maar die geluksgodin het breed vir die Bokke geglimlag. ʼn Mislukte skepskop en ʼn maklike strafskop is deur die Walliesers verbrou en een strafskop was net-net mis, wat die Springbokke met ʼn gemaklike 8 punte kon laat verloor het.

Die moeilikste wedstyd in die uitspeelfase vir die Bokke is verby maar dit beteken dat die ander spanne in afdeling D nooit onderskat mag word nie. Gelukkig het die Springbokke na ʼn hoër rat oorgeskakel in die wedstryd teen Fiji. Alhoewel dit nie ʼn foutlose vertoning was nie behoort die ander spanne kennis te neem van die 49-3 oorwinning. Ierland het bewys dat daar nog ʼn paar groot verrassings wag, maar om die Wallabies nou af te skryf sal ook net ʼn dwaas op hierdie stadium doen. Dit kan dalk net die wekroep wees wat hulle nodig gehad het om tot die eindrondte deur te dring.

Intussen gaan die Curriebeker ook voort en die Leeus lyk verseker van ʼn plek in die uitspeelrondes. Die Bulle het weer bewys dat hulle nie op Loftus onderskat mag word nie. Dit het WP met ʼn skok agtergekom. Griekwas is besig om stadig maar seker uit die bus te val. Nie dat ek die Pumas hulle oorwinning misgun nie – hulle het gewys dat hulle enige grote kan klop en toe moes Griekwas dit ontgeld. Die Haaie sal ook moet herbesin want om 50 punte teen jou te kry, is nie ʼn goeie advertensie vir een van die Grotes nie.

Rugbygroete
Bloubul

*Tegnologiese probleme het veroorsaak dat velede week en die week se wedstryde saam bespreek word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.