Smeer aan en kom!

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Lank gelede was daar ʼn oom en sy vrou wat diep in die platteland ver van die naaste dorp af gebly het. Hulle het net ʼn donkie gehad om mee te ry. Daar was net een probleem – die donkie was steeks: hy het viervoet vasgesteek as hy moes loop. Een Saterdag moes die oom en tannie dorp toe vir ʼn dringende afspraak. Maar soos gewoonlik, het die esel botweg vasgesteek. Hy wou nie roer nie.  Maar hierdie keer was die oom reg met ʼn plan.

Hy het opgeklim, die tannie ridderlik opgehelp, en ʼn botteltjie terpentyn uit sy sak gehaal. Toe leun hy agtertoe en smeer ʼn stewige skeut terpentyn onder die stomme dier se stert. Die donkie het vir ʼn oomblik geskok verstar, maar toe met ʼn skielike sprong soos ʼn pyl uit ʼn boog weggespring. Met ʼn hoë gilletjie het die tannie hals oor kop agteroor afgeval – en in die middel van die pad die skielike resiesdonkie agterna gekyk terwyl sy floutjies skreeu: “Stop, wag vir my!” Maar die oom het geweet hy gaan nie die donkie weer aan die gang kry as hy nou stop nie. Hy gryp toe weer na die botteltjie terpentyn, gooi dit oor sy skouer in die tannie se rigting – en skreeu: “Ou vrou, smeer aan en kom!”

Dis presies hoe ek partykeer voel as ek die kritiek hoor van mense wat sit en “stop, wag eers!” kritiek vir ons skreeu as ons iets doen aan die probleme in die land. Dis meestal mense wat sit met ʼn “wenslys” met wat die regering moet doen, eerder as met ʼn “doenlys” wat hul self kan doen. Dis soos toeskouers wat langs die rugbyveld sit en vir die spelers of skeidsregter skree wat om te doen − asof iemand na hulle luister.

‘Regse rassiste’

Mense wat soos die tannie in die stofpad sit en vir ons skree “wag!” in plaas van om saam vorentoe te gaan, kom nou al ʼn lang pad. Dit het in 1998 begin toe ons op grond van deeglike navorsing gewaarsku het dat die sogenaamde “Wet op Billike Indiensneming” nie oor gelykheid gaan nie, maar oor verteenwoordigendheid. Anders gestel, dit gaan nie oor ʼn gelyke wegspring nie, maar oor gelyk by die wenpaal en “Afrikaan-oorheersing”. Dit was vir ons ooglopend dat die onbedoelde, maar voorsienbare gevolg, van “radikale transformasie” die ineenstorting van groot dele van die staatsdiens en openbare ondernemings soos Eskom sou wees. Ons is toe op die brandstapels van die Afrikaanse openbare mening verbrand as regse rassiste wat net negatief oor die nuwe demokrasie is.

Dieselfde beskuldigings is geslinger toe ons gesê het dat bevrydingsbewegings soos die ANC nie gerat is om ʼn moderne land te regeer nie. Of toe ons gesê het dat die grondwetlike beskerming van individuele regte nie genoeg is om ons groepsregte soos gelykheid in die werksplek of Afrikaanse skole of universiteite te beskerm nie. Ons is uitgelag toe ons gewaarsku het dat die ANC by die grondwetlike onderhandelings net toegewings gemaak het om die mag te kry, maar dat hulle later die mag sou gebruik om hulle oorspronklike doelstellings deur te dryf.

Onmoontlik en onwenslik

Elke nuwe projek wat ons begin het, is uit die staanspoor teengestaan en verdag gemaak, en ʼn rassis is onder elke bed en agter elke bos bespeur. Die stigting van Solidariteit Helpende Hand nadat wit jongmense van studiehulp uitgesluit is, is kritiseer sonder om aandag aan ons redes te gee. Dieselfde het gebeur toe ons Sol-Tech gestig het om Afrikaanse jongmense ook toegang tot gehalte tegniese opleiding te gee. Met die stigting van Akademia het ʼn Stellenbosch-filosoof met groot stelligheid verklaar dat ʼn Afrikaanse privaat-universiteit onwenslik en buitendien onmoontlik is. Selfs sekere Afrikaanse taalkenners het ons in die media aangeval.

Private vervolging is deur ʼn bekende wetsgeleerde beskryf as “grondwetlik gesproke onmoontlik” toe AfriForum adv. Gerrie Nel se eenheid stig. So het dit gegaan met die stigting van bykans al dertig gemeenskapsinstellings wat ons begin het. Dieselfde koortjie sit nou weer hoog en luidkeels in hoe boos die Kaapse Forum is en hoe dit kamstig sal platval. Skynbaar moet ons eerder saam met ons kritici vasklou aan die ou bekende resepte wat nou al vir dekades met dofsware plof geflop het.

Werk met werklikhede

Gelukkig het ons deurlopend geweier om ons spoed aan te pas by diegene wat die stadigste was om agter te kom wat aangaan. Ons het eerder met werklikhede as met ons wense gewerk. Ons houding was deurgaans: “Smeer aan en kom!”. Deur skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes, kon ons met die hulp van duisende ondersteuners uiteindelik ʼn groot Helpmekaarbeweging opbou wat noodsaaklike besluite kon neem én self uitvoer. Ons bou volstoom aan die kulturele infrastruktuur wat Afrikaners en ons vennote in staat sal stel om blywend suksesvol in suidelike Afrika te bly. Dit is die enigste wyse waarop ons ʼn volhoubare bydrae tot die land en al sy mense sal kan maak.

Namate die werklikhede van ʼn ANC-regering wat weer ʼn nuwe rassebedeling ingestel het gaandeweg ingesink het, het baie van die wat ons beskuldig het ontnugter geraak met wat besig is om te gebeur. Maar steeds is elke nuwe projek wat ons aangepak het wantrouig van links én regs af met skrefiesoë bekyk en met ʼn neusoptrekkery beruik vir ʼn sweempie van snaakse motiewe. Met elke institusionele “geboorte” uit ons stal is skynheilig gevra of dit nou kamtig “uitsluitend” sal wees, wetende dat hulleself niks doen om te sorg dat Afrikaanse mense ook ingesluit word nie.

Intussen het die ou onverkwiklike verdelingslyne gelukkig vervaag, en is dit vervang met ʼn “nuwe middel” van gewone demokratiese verskille. Ons projekte het oorweldigende steun begin kry, en die ANC het begin regkry wat geen Afrikanerleier nog kon nie, en dit is om eenheid onder Afrikaners te bewerk. Die weerstand teen vernuwing het algaande in aktiewe steun vir ons projekte begin verander. Terselfdertyd het ander groepe soos talle bruin Afrikaanssprekendes ook besef dat hulle nie swart genoeg vir die nuwe bewindhebbers is nie, en dat hulle in die naam van gelykheid heeltemal ongelyk behandel word.

Skaamkwaad

Die afgelope jaar was dit asof ʼn damwal van steun begin breek, en word ons oorval deur mense wat betrokke wil raak. Daar het selfs ʼn paar bekendes wat ons vroeër vermy het, skaamkwaad nader begin staan, aanvanklik net toe hulself hulp nodig kry. Maar ons hoor darem al baie minder hoe “regs” ons is, en al hoe meer hoe verkeerd die ANC is. Net ʼn klein groepie bitterbekke bly steeds met hulle voete stewig in die lug geplant staan. In hulle oë, bly die verdediging van grondwetlike regte wat hulself vroeër bepleit het, regs. Hierdie krimpende vals koortjie bestaan uit ʼn klein groepie “kommentators”, joernaliste en enkele ivoortoring-akademici, wat ons steeds met die teerkwas probeer bykom, in die hoop dat hulle nuutgevonde kritiek op die ANC hulle nie “regs” sal laat lyk nie.

Burgers en onderdane

Ons staan voor ʼn uitdagende maar opwindende tyd, waar die meerderheid Afrikaners vandag vrye “burgers” eerder as slaafse onderdane wil wees. Ons kies eerder die onsekerheid van die sukses van selfdoen, as die sekerheid van die mislukking van wat die ANC aanvang. Ons planne word vandag al deur meer as 500 000 gesinne ondersteun. Ons moenie diegene wat nog nie op die wa geklim het nie beveg of verwyt nie. Maar aan diegene wat steeds twyfel en weifel, mag ons seker maar vriendelik sê: “Smeer aan en kom!”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Petrus Albertus ·

Dr. Buys, u praat die waarheid. Soos u al dikwels vantevore uitgewys het, die toekoms het klaar in die Noorde van die land aangebreek maar ek wil my verstout om te sê die toekoms wat nog vir die wêreld voorlê het klaar in Suid-Afrika aangebreek. Hoe jammer dat Suid-Afrika haar tyd so ver vooruit was en is maar hoe gelukkig vir ons dat ons leiers het soos u wat steeds bereid is om voor te loop en te wys wat bereik kan word en by wie daar wel ‘n toekomsverwagting leef.

Herman L ·

Doen so voort Solidariteit en Afriforum! Julle maak van ons land ‘n beter plek. Die wat agterbly word al minder.

hendrie ·

Dankie Flip Buys.
Indien Solidariteit genoeg fondse en middele kan bekom om ‘n Afrikaanstalige koerant, tydskrifte, radio, tv ens te vestig, sal daar nog groter steun vanuit Afrikaanse geledere, res van die RSA se inwoners en die sakewêreld natuurliker-wys volg. Mynsinsiens.
Natuurlik weet julle dit. N24 se oorheersing van die media, is vir seker geen bate vir die meerderheid van ons nie.
Nietemin, alle sukses vorentoe!!!

MARTIE ·

Doen so voort asseblief en baie dankie vir dit wat reeds gedoen en vermag is.

Dries ·

Nader aan die waarheid kan niemand kom nie. Ek sal myself weerhou om sogenaamde intillektueles by die name te noem nie alleenlik omdat mnr Buys ons vra om hulle nie te verwyt nie. Al wil ek so graag. Ek sal ook maar net sê SMEER AAN EN KOM

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek stel voor ons noem die ANC se kommunistiese National Democratic Society : “Mzansibabwe “.

Wie wil met hul nageslagte in Mzansibabwe agter bly? Om wat te bereik? Smeer en kom!

Abraham ·

Ek dink dat as wyle Wimpie de Klerk nog gelewe het sou hy die bitterbekke, nl die hedendaagse sodanige liberale as Verkramp bestempel het. Hulle pas netjies in daaardie boksie – pedanties en hardnekkig teen verandering of ‘n ander oplossing vir die mislukking van wat in 1991 en waarskynlik in Dakar belowe is..
Daarteenoor is die sogenaamde hedendaagse regses nou die Verligtes – aanvaar die status quo maar poog om die beste van ;n hopelose situasie te maak.

wildtuin ·

Baie dankie Solidariteit wat julle vir ons Afrikaners doen. Julle doen vir ons on der moeilikke omstandighede baie. Moenie julle steur of laat intimideer deur die bitterbekke wat self nie veel doen nie. Ek bou n weersin op in die sogenaamde elite wat julle opt rede afkraak

Sterling ·

Oom Flip, dankie en sterkte! Die taak wat voorlê is uiters uitdagend, maar ons is afkomstig van ‘n pioniersstam wat voortdurend die onmoontlike vermag het.

Ons sal weer so maak en ons sal self so maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.