Smoor die boosheid in die land nóú

rhoda-kadalie

Rhoda Kadalie. Foto: Reint Dykema

My haarkapper, wat geen naskoolse opleiding het nie en ook baie jonk is, is waarskynlik een van die beste ontleders van plaaslike sowel as internasionale politiek. Terwyl sy kla oor die stand van internasionale sake en die huidige gebeure in Suid-Afrika, het sy onlangs moedeloos gesê: “SA is tans in boosheid gehul en ek hou nie van hoe ek voel oor my land nie.”

Sy slaan beslis die spyker op die kop. Baie mense voel soos sy.

Pres. Jacob Zuma maak oorlog teen die mees senior minister in die kabinet, Pravin Gordhan, wat ook ʼn geëerde lid van die ANC is. En die geveg ís bitter. Ons, die publiek, kyk toe soos onskuldige omstanders wat moet toesien hoe die volwassenes dit uitbaklei in die openbaar. En baie het in die kruisvuur ongevalle geword. Die jongste is die Gupta-ryk se Nazeem Howa, uitvoerende hoof van Oakbay. Eens was hy ʼn eerbare mens, maar nou het hy saam met sy staatskapers soos ʼn pak kaarte gevou.

Hy is nie die enigste een sedert 1994 nie. Baie eerbare mense is geruïneer deur die ANC en sy eie gierigheid, gewillig om die demokratiese waardes, wat vir ons so belangrik is, op te gee. Dit is ʼn onderwerp vir ʼn doktorsgraad.

En waaroor gaan die politieke slagting alles? Dit gaan oor die Groot Vader wat die familie se silwer uitdeel aan ʼn onwelkome swendelaar, nie omdat hy lief is vir die Guptas (wat hy heel moontlik aanbid vir al die geskenke wat hy en sy familie kry) nie, maar omdat hy ons haat.

Hierdie onheilige spektakel het die kwesbaarheid van ons finansiële instellings ontmasker, hoe medepligtig hulle is saam met die politieke elite en hoe regsgrense tussen die inkomstediens, die
reserwebank en banke oortree word om groot hoeveelhede kapitaal (ten minste 72 verdagte betalings volgens een koerant) te skuif oor die grense van Suid-Afrika na kornuite wat absoluut niks bygedra het tot die ontwikkeling van die land nie. Die transaksies sluit rekenaars, uraan, media, steenkool, mynrehabilitasie en ʼn wye reeks ander misterieuse transaksies in.

By ons nasionale sleutelpunt, die Waterkloof-lughawe, is die Guptas toegelaat om ons nasionale veiligheid te skend vir ʼn familietroue uit Indië.

Berigte onthul staatskaping het die aanskaffing van een minerale bate na ʼn ander ingesluit – en natuurlik is Duduzane Zuma, seun van die president, die alomteenwoordige bullebak op die agtergrond. Daarom het Zuma dit moeilik gevind om reguit vrae te beantwoord wat aan hom gestel is deur adv. Thuli Madonsela.

Gewone burgers skop teen wat aangaan, aangesien die ontvanger, wat elke sent wat ons verdien buiten ons gewone salarisse, fyn dophou en onbeskaamd groot happe daaruit vat. Ek moes toevallig ʼn som geld oorsee oorplaas en dit het maande geneem om goedgekeur te word deur die inkomstediens en die reserwebank. My lewe is so eenvoudig dat ʼn rekeningkunde 101-student my finansiële lewe binne tien minute kan ontrafel. Nietemin kry hierdie groot skelms dit vir jare lank reg om ons finansiële instellings ʼn rat voor die oë te draai.

Toe die minister van finansies Pravin Gordhan en sy adjunk Mcebisi Jonas aanvanklik geweier het om die Brics-beraad in Goa saam met Zuma by te woon, was dit aanduiding dat die onderlinge vernietigende stryd ernstig is. Die afkeur jeens en minagting vir No. 1 is duidelik. Gordhan het ʼn streep in die sand getrek met sy hofaksie teen Shaun Abrahams deur hom effektief tot skande te maak omdat hy speletjies speel met ongegronde dreigemente. Dit moet vir die kabinet moeilik wees om werklik belangrike kwessies in die land te hanteer as vyandigheid tussen ministers en faksies teen die president hoogty vier.

Die ANC speel al sedert 1994 met vuur met sy baantjies-vir-boeties-optrede en nepotisme. Met die Guptas het boetie-kapitalisme sy hoogtepunt bereik en sulke onverantwoordelikheid, as dit nie nou in die kiem gesmoor word nie, sal lei tot ons finansiële ondergang. Met mense soos Gordhan en Madonsela in die omtrek, is daar wel hoop.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa ·

Dankie. Ek hou van die perspektief wat jy gee – in die kol.

Theuns ·

Rhoda jy is ook een van Suid Afrika se helde al le die land aan skerwe! Dankie vir jou kommentaar!

John ·

Zuma is nie die Groot Vader nie. Moet nie hoofletters gebruik nie en nog minder so ‘n vergelyking! Dit is juis ons disrespek vir ons Groot Vader, Sy woorde en Sy etiese standaarde wat ons in hierdie chaos laat verval het. Net Hy kan ons uit hierdie Nineve kry. Ek sal graag wil sien wat Maroela met my kommentaar gaan doen…

let wel ·

Dis so waar! Selfs die studente wat kriminaliteit openbaar, is inderdaad n byvoeging van n lang lys hoe hierdie land besig is om te ontaard. N Wettelose regering’s uitkyk kweek n wettelose nasie. Mense probeer bose grense al hoe verder verskuif om te sieen of hul kan wegkom met dit.

Knikkebollen ·

Die Guptas (of enige ander korporatiewe entiteite) het nie Staatskaping gepleeg nie. Die huidige Politieke Klas is die Staatskapers. (En die Guptas en ander korporasies- gebruik die Staatskapers tot hulle eie voordeel). Peter Oborne maak in sy boek ‘The triumph of the political class’, ‘n skrikwekkende analise van die nuwe Politieke Klas wat mekaar oor party politieke grense heen ondersteun in hulle gekonsentreerde poging om die Staat te beheer in absolute vyandigheid teenoor die kiesers.

Willem ·

Ek stem heelhartig saam,,daar is net twee persone in die ANC wat ons land,[RSA] van algehele ineenstorting, sal kan verhoed.Dit is die twee persone na wie verwys word minister Gordhan steeds as minister van finansies en die gewese O.B Madonsela maar as die staatspresident van dieRSA.Zuma en sy kaders wil mos ‘n vroue staatspresident in sy plek verkies.Geen beter kandidaat is en sal daar in die huidige staatsamtenary gevind word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.