Snelweg of grondpad vir SA arbeidsverhoudinge?

In die laat 1980’s was Suid-Afrika by die kruispad en het die futuris Clem Sunter vir Suid-Afrika ná 1990 ʼn snelweg- (“high road) en ʼn grondpad- (“low road”) scenario voorgestel. Die lae weg se uiteinde sou volskaalse opstande en burgeroorlog beteken, en die hoofweg ʼn onderhandelde politieke skikking.

Stakings2In afwagting op wat die sogenaamde “stakingseisoen” gaan oplewer, is die land se arbeidsverhoudingestelsel die keer by die kruispad. Arbeidsverhoudinge beleef weer ‘n groot omwenteling, vergelykbaar met die waterskeidingsaanbevelings van die Wiehahn-kommissie wat tot Cosatu se stigting in 1985 gelei het, en die 1994-omwenteling wat die huidige arbeidsbestel tot gevolg gehad het. Dit is moontlik dat die 2013-salarisonderhandelinge in die mynboubedryf die finale vonk gaan wees om die kruitvat aan te steek wat volskaalse opstand oor die hele mynbedryf tot gevolg sal hê en na ander dele van die ekonomie kan oorspoel. Die hartseer ironie is dat die konflik in die arbeidsverhoudingeveld nie weens tradisionele werkgewer/vakbond-wrywing geskep word nie, maar hoofsaaklik deur wedywering en spanning wat tussen vakbonde en binne vakbondfederasies bestaan.

Hierdie jaar gaan bepaal of arbeidsverhoudinge in die toekoms op die “snelweg”- of die “grondpad”-roete gaan wees.

Die snelweg-scenario

Vir die snelweg-scenario om te realiseer en arbeidsverhoudinge in die land min of meer te stabiliseer (want onthou, dit was sedert die 1922-staking nog nooit stabiel nie), sal daar tot “brood en botter”-sake teruggekeer moet word. Tans word daar van die vakbonde en werkgewers se onderhandelaars verwag om van die land se sosio-ekonomiese, maatskaplike, dienslewerings- en politieke probleme om die salarisonderhandelingstafel op te los. Verder word die kompleksiteit van arbeidsverhoudinge in die mynbedryf en binne Cosatu-geledere verhoog weens vakbondwedywering en tweespalt, wat verder aangevuur word deur sekere individuele vakbondleiers wat hul vakbondplatform misbruik om ʼn politieke loopbaan van die grond af te kry.

Om arbeidsverhoudinge te suiwer van alle eksterne bagasie sal daar meer gedoen moet word as die aanstel van ʼn presidensiële taakspan bestaande uit die land se adjunkpresident en betrokke ministers wat indringende samesprekings met vakbondleiers in luukse hotelle te voer. Sedert die Marikana-skietery op 16 Augustus 2012 het die leiers van die belanghebbende partye al verskeie vredesakkoorde onderteken en taakspanne aangestel in ʼn poging om vrede te bewerkstellig. Die oplossing gaan nie gevind word by leiers wat vredesooreenkomste teken vir die simboliese waarde daarvan nie; ook nie by ministers en politici wat in die openbaar kant kies nie; en nóg minder by vakbondleiers wat onder andere dreig om die ekonomie op sy knieë te dwing. Om op die snelweg te kom, moet die verandering ook op grondvlak geskied. Die raakpunt tussen werkgewers en vakbonde is die “werknemers” en “vakbondlede” wat uiteindelik dieselfde mense is. ʼn Verantwoordelike vakbond sal daarna streef dat die werkgewer/werknemer-verhouding op wedersydse vertroue gebaseer is en ʼn klimaat vir gesonde arbeidsverhoudinge geskep word. Ten spyte van sekere geïsoleerde gevalle, is die tyd verby en die ideologie uitgedien waar “wit kapitaal” en werkgewers deurgaans die vyand is en daarop uit is om werknemers uit te buit en vakbondlede sodoende slegs deur hul vakbond verteenwoordig kan word.

Om op die snelweg te kom, moet vakbondleiers hul lede toelaat en aanmoedig om ʼn arbeidsverhoudinge-ooreenkoms spesifiek vir hul eie werksplek met hul eie werkgewer te sluit. Die mynbou-onrus het juis die leemte uitgewys dat daar ʼn kommunikasiegaping bestaan tussen die werkgewer en veral intreevlak-werknemers. Die rede hiervoor is dat kommunikasie aangaande arbeidsverhoudinge gewoonlik vanaf die werkgewer deur die vakbondstrukture na die werknemers geskied, met die hoop dat vakbonde die boodskap korrek sal oordra. Die tyd het aangebreek dat werkgewers hulle in ʼn ooreenkoms met hulle werknemers verbind tot billike arbeidspraktyke; dat oop kommunikasiekanale gevestig word; dat griewe spoedig hanteer word; dat daar ʼn einde kom aan die onregverdige bevoordeling van een vakbond bo ʼn ander; dat vryheid van assosiasie rakende vakbondlidmaatskap ʼn werklikheid word; dat “trekarbeiders” gereelde verlof ontvang; en dat werknemers verseker is van beskerming tydens arbeidsonrus-situasies. Daarteenoor moet werknemers hulle verbind tot die aanvaarding van die werkgewer se dissiplinêre kode, veral rakende geweld en intimidasie teenoor medewerknemers, deelname aan onbeskermde stakings en afwesigheid van die werkplek. Op ʼn kollektiewe vlak moet die werkgewer aan die een kant en ʼn vakbond, sy lede en werknemers aan die ander kant hulle verbind tot ʼn produktiwiteitsakkoord waar daar ʼn balans is tussen die werkgewer se ideaal vir verhoogde produktiwiteit en die werknemers se behoefte vir verhoogde vergoeding. Daar moet ook wegbeweeg word van die huidige konflikterende posisionele salarisbedingingsmodel na ʼn belange-gebaseerde bedingingsmodel waar die kernbehoeftes van beide partye geakkommodeer word.

Die moontlikheid vir die ontplooiing van ʼn vredesmag by veral die brandpunte in die mynboubedryf sal ook bydra tot die herstel van die oppergesag van die reg en die uitwissing van die mag van ʼn klein groepie militantes wat die meerderheid onskuldige werknemers en hul gesinne in vrees laat lewe.

Die snelweg sal egter ʼn uitdaging bied aan ons kollegas by Amcu wat nou vir die eerste keer uitgedaag word om op die groot verhoog by die Kamer van Mynwese en op werksvloervlak by die land se drie grootste platinummyne vir salarisverhogings moet onderhandel. Indien die verwagtinge van Amcu se lede afbestuur kan word en hulle tot die besef kom dat hulle met of sonder ʼn staking nie ʼn beter verhoging sal kry as enige ander vakbond in die mynbedryf nie en bloot aan Amcu behoort weens ʼn nuwe lojaliteit en verbintenis, sal Amcu-lede se wedywering met ander vakbonde ook tot ʼn einde kom.

Die sukses van die snelweg berus egter daarop dat vakbondleiers van strydende vakbonde deur eie oortuiging of weens invloed van die presidensiële taakspan die moed van oortuiging sal hê om die strydbyl te begrawe in belang van die land, arbeidsverhoudinge en hul eie lede. Die land se president sal ook nou sy kabinet moet lei en verseker dat die betrokke staatsinstellings gemoeid met ekonomiese groei, behuising, infrastruktuurontwikkeling, maatskaplike hulp, onderwys, vervoer, gesondheidsorg en veiligheid hul grondwetlike plig nakom en belastinggeld met kundigheid en integriteit aanwend. Niks in hierdie scenario is onmoontlik nie of te veel gevra vir ʼn land wat ná 1990 die “snelweg” betree het nie.

Die grondpad-scenario

Die Nasionale Demokratiese Revolusie wat deur prof. Andre Duvenage as die ANC se grondliggende raamwerk (paradigma van denke) beskryf word, verwys na die belangrikheid van die “motive forces” as daar onder andere na intreevlakwerkers verwys word. Intreevlakwerkers was effektief deur die UDF gebruik om deur optogte druk op die NP-regering te plaas en Cosatu het ná sy stigting in 1985 dieselfde intreevlakwerkers gebruik om die ekonomie tot op sy knieë te dwing. Die intreevlakwerkers is die onbesonge helde van die vryheidstryd en selfs prof. Carel Boshoff het in 1990 tydens ʼn toespraak by die Universiteit van Stellenbosch aangedui “die swart arbeidsmag in Suid-Afrika het die vryheidsmag vir swart mense geword”. Dieselfde groep was steeds ná 1994 deur sekere vakbondleiers gebruik met ʼn “huur-‘n-skare”-beginsel om strate toe te gaan en iemand anders se agenda te bevorder. In hierdie opsig is die spanning besig om op te laai omdat hierdie werkers nou tot die besef kom hulle en hul afhanklikes verarm deur al die stakings weens die “geen-werk-geen-betaling” beginsel, en dat hulle misbruik word. Die tekens van ontkoppeling tussen die intreevlakwerkers en hul politieke en vakbondleiers was duidelik te bespeur tydens die Marikana-insident met die aankoms van die regerende party hooggeplaastes en die grootste vakbondfederasie se leierskap by die berugte Marikana-koppie in blink voertuie en blink pakke om die stakende werkers te kom toespreek.

Met die ontkoppeling wat besig is om plaas te vind, het daar nou ʼn geveg om die beheer van die “motive forces” ontstaan met Amcu as die nuwe opposisie. Amcu, wat aan Nactu, ʼn swart bewussyn georiënteerde vakbondfederasie behoort, het kragte saamgespan met die African People’s Convention en Demokratiese Sosialistiese Beweging en hierdie groepering is besig om beheer te kry oor die platinum myne se “motive forces”. Die gepaardgaande stigting van die Workers and Socialist Party (WASP) word nou stelselmatig ʼn bedreiging vir die regerende driepartyalliansie, aangesien daar ʼn groepering aan hul linkerkant onstaan het wat hul tradisionele steun kan wegrokkel. Dit verklaar dan ook die toetrede van senior lede van die driepartyalliansie se betrokkenheid en negatiewe uitsprake teenoor die groepering aan hul linkerkant wat ook hul ideologiese ideaal van “een bedryf, een vakbond” vernietig het. Hierdie uitsprake is soos ʼn rooi vlag wat voor Amcu gewaai word.

Stakings1Amcu floreer egter op die grondpad en het van nagenoeg 30,000 lede tot 120,000 lede in die afgelope 18 maande gegroei sonder om enige verbeterde diensvoorwaardes of salarisverhoging vir lede te beding. Die misleidende 22% vergoedingspakket wat by Lonmin beding is, was nader aan ʼn 4% verhoging is en so in die media gemanipuleer dat dit baie meer indrukwekkend geklink het. Laasgenoemde het egter nou ʼn verwagting by Amcu-lede geskep wat verseker nie deur normale onderhandelinge bereik sal word nie. Die werwingsresep van geweld en intimidasie was egter uiters suksesvol en het hul maandelikse ledegeld inkomste sedert Januarie 2012 met nagenoeg R5 miljoen per maand verhoog. Ewe skielik word lede ook in rand-en-sent-terme beskou en Amcubeamptes ervaar die voordele van hul nuwe ampte wat nou ten alle koste beskerm moet word. Indien Amcu uiteindelik weier om op sentrale vlak by die Kamer van Mynwese te onderhandel, gepaardgaande met die huidige spanning tussen veral mynbouvakbonde, sal die gevolge verreikend wees: ʼn voortsetting van onbeskermde stakings; die ontmoediging van plaaslike en internasionale beleggers; marginale myne en skagte se sluiting met gepaardgaande afleggings (met of sonder politieke inmenging); beperkings op uitvoere; ʼn groeiende tekort op die land se handelsrekening; ʼn rand wat toenemend verswak en inflasie wat ver buite die Reserwebank se bande styg. Hierdie voortgesette werksplek-anargie wat outomaties oorspoel na ander bedrywe is dan ook die ideale teelaarde vir populisme in die aanloop na die volgende nasionale verkiesing.

Die grondpad se ergste scenario is dat die spanning weens die arbeidsverhoudinge-onrus só toeneem dat dit ʼn skeuring in Cosatu tot gevolg kan hê en selfs ʼn skeuring na links binne die ANC kan veroorsaak.

Slotsom

Die snelweg is die waarskynlike scenario, maar soos die pendulum terugswaai na normaliteit moet dit steeds deur die onstabiele fases beweeg, wat beteken dat arbeidsonrus nie oornag gaan verdwyn nie. Deurlopende gesprekvoering bly egter steeds die sleutel. Soos Winston Churchill gesê het: “Om te praat-praat, is altyd beter as om te oorlog-oorlog.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.