Só gaan adv. Gerrie Nel vervolg

Kallie Kriel en Gerrie Nel. Foto: Rozier van Tonder/AfriForum.

’n Groeiende ongeduld is besig om onder baie mense te ontwikkel rakende die grootskaalse korrupsie en staatskaping wat Suid-Afrika tans teister. Hierdie ongeduld word aangevuur deur deurlopende onthullings oor hoe die Guptas, Zumas en ander hooggeplaaste regeringsamptenare die belastingbetalers se geld plunder. Dít, tesame met die kultuur van straffeloosheid wat heers deurdat die staat se vervolgingsmasjinerie skynbaar nie gretig is om korrupte persone tot verantwoording te roep nie, is genoeg om enige wetgehoorsame burger warm onder die kraag te maak.

AfriForum deel die publiek se ongeduld. Dit is juis om dié rede dat die burgerregte-organisasie vir adv. Gerrie Nel as hoof van sy private vervolgingseenheid aangestel het. Die doel van die eenheid is juis om te help toesien dat daar gelykheid voor die reg is en korrupte persone nie vervolging vryspring weens hul magsposisie of politieke verbintenisse nie. Ongelukkig draai die wiele van die gereg nie so vinnig soos wat AfriForum en talle lede van die publiek sou wou hê nie. Binne hierdie konteks is die taak van AfriForum se private vervolgingseenheid om toe te sien dat die wiele van die gereg aanhou draai en nie deur die kaping van staatsinstellings tot stilstand gedwing word nie.

Daar is natuurlik ’n aantal kommentators wat geen moeite ontsien om AfriForum te probeer diskrediteer nie, selfs al moet hulle hul tot die verdraaiing van die waarheid wend. Die jongste voorbeeld hiervan is Piet Croucamp, wat onlangs in ʼn artikel in Rapport gepoog het om die verstaanbare ongeduld met korrupsie onder die publiek te omskep in verwyt teenoor AfriForum en Nel, omdat die burgerregtewaghond nog nie met vervolging teen mense soos die Zumas en Guptas begin het nie. Indien die verwyt van iemand afkomstig was wat nie weet hoe die regsproses werk nie, sou ’n mens dit nog kon verstaan. Iemand soos Croucamp, wat homself as kommentator uitgee, behoort hom egter eers van die werking van die regstelsel te vergewis voordat hy met soveel selfvertroue ’n oningeligte mening oor Nel se werksaamhede lewer.

Ter wille van Croucamp en ander mense wat moontlik nie weet hoe private vervolging werk nie, gee ek graag ’n kort verduideliking. Soos AfriForum reeds tydens Nel se aanstelling duidelik gemaak het, kan private vervolging slegs geskied nadat daar ’n staande besluit van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is om iemand wat die reg oortree het, nie te vervolg nie. Wat die 783 aanklagte teen pres. Jacob Zuma betref, word die NVG se ondeurdagte besluit destyds om Zuma nié te vervolg nie, tans in die appèlhof betwis. Daar kan verwag word dat Zuma hom na die konstitusionele hof sal wend sou hy ook sy appèlsaak verloor. Hierdie regsproses moet eers afgehandel word en daar moet ’n staande besluit wees om Zuma nié te vervolg nie voordat AfriForum of enigiemand anders privaat kan vervolg.

Wat die Gupta-staatskaping betref, werk die regstelsel ongelukkig ook so dat die SAPD of Valke éérs ’n kans gegun moet word om die saak te ondersoek, selfs al het baie mense en instellings, AfriForum ingesluit, bedenkings oor of hulle dit wil doen. Ná die ondersoek moet die NVG ook ’n besluit neem om nié te vervolg nie voordat private vervolging kan plaasvind. AfriForum se hande is gelukkig nie afgekap in dié proses nie. Sou dit blyk dat bewys kan word dat die Valke, soos vermoed word, nie die Gupta-bewerings ondersoek nie, kan AfriForum ’n mandamus (aansoek om te verplig) voor die hof bring om die Valke te dwing om hul werk te doen.

Dit is egter voortydig om nou al dié roete te volg. Sou die NVG daarna versuim om ’n besluit oor vervolging te neem, kan hulle met ’n soortgelyke hofaansoek gedwing word om ’n besluit te neem. Sou die NVG dan besluit om nie te vervolg nie, kan AfriForum privaat vervolg. Dit is ongelukkig ’n tydsame proses, maar die enigste alternatief om uiteindelik te help verseker dat geregtigheid geskied. AfriForum bly daartoe verbind om ten spyte van die uitgerekte aard daarvan, die proses voluit te deurloop om te verseker dat korrupte persone uiteindelik hulle verskyning in die hof maak.

Dit is ook so dat private vervolging binne 90 dae ’n aanvang moet neem nadat die NVG ’n nolle prosequi-sertifikaat aan ’n voornemende private vervolger uitgereik het wat bevestig dat hulle nie gaan vervolg nie. Dit vereis dat wie ook al private vervolging wil aanpak, sy ondersoek- en voorbereidingswerk vooraf deeglik moet doen voordat regstappe kan begin. Nel en sy span berei reeds hard voor vir verskeie sake. Indien alles volgens plan verloop, behoort die proses van private vervolging met betrekking tot twee belangrike sake reeds voor die einde van die jaar af te skop.

Croucamp se beskuldiging dat AfriForum se besluit om te verseker dat Grace Mugabe vervolg word, veroorsaak dat ander belangrike sake met meriete op die organisasie se voorkeurlys moet afskuif, getuig van onkunde oor AfriForum se vermoë om tientalle hofsake en letterlik honderde projekte gelyktydig met sukses aan te pak. AfriForum se byna 198 000 lede stel die organisasie se 120 takke, 100 buurtwagstrukture, 133 personeellede en 5 000 vrywilligers in staat om volstoom met hul werk voort te gaan om plaaslike gemeenskappe deur selfstandigheidsprojekte te verbeter en te beveilig, ongeag of die Mugabe-saak aangepak word.

AfriForum se veldtogte teen onder meer plaasmoorde en ter bevordering van Afrikaans gaan ook onverpoosd voort. Die Mugabe-geval is deel van die groter probleem van straffeloosheid in die land en dit is van kritieke belang dat sy, die Guptas, die Zumas en ander tot verantwoording geroep moet word om die kultuur van straffeloosheid te beveg. Dit is nie die een of die ander nie, maar AfriForum is vasbeslote om al hierdie gevalle te takel.

AfriForum gaan hom nie deur kantlyn-kritici – wat behalwe om kritiek te lewer, self niks kan doen om korrupte persone en aanranders in magsposisies tot verantwoording in die howe te roep nie – van stryk laat bring nie. Ons werk met die geloof dat geregtigheid uiteindelik sal seëvier en is bereid om alles moontlik te doen om toe te sien dat dit gebeur … selfs al is dit ’n lang proses.

  • Hierdie artikel is oorspronklik in Rapport gepubliseer en met die toestemming van die skrywer gebruik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Verwonderd ·

Ek wonder soms of die seunse weenkoor nie gereeld vergader om beleidsrigtings te bespreek nie?

Mielie ·

Hoeveel tyd het die NVG om n ondersoek af tr handel. As mens kyk na mense wat al ses jaar geskors is en nog n salaris verdien dan wonder mens net hoe lank gaan Zuma se ondersoek duur

Eish ·

Baie dankie vir die verduideliking wat heelwat meer begrip van die kompleksiteit van van die situasie verskaf. Hef aan met jul goeie werk. Kritiek sal daar altyd wees, die artikel soos hier bring baie begrip by ons gewone mense, waardering.

Adriaan ·

Daar is individue en organisasies (soos Afriforum) wat hulle werk doen sonder dat dit uitbasuin word. Daar is aan die ander kant ook individue (en organisasies) wat hulle gepraat praat praat uitbasuin sonder dat daar werk gedoen word.

Joe ·

Baie dankie vir die skrywe Met goeie kommunikasie is daar minder wonder en frustrasie

Minnie Pretorius ·

Piet Croucamp, Max du Peez en Jan-Jan Joubert plaas ek in dieselfde kategorie. Dit wat hulle oor die eter kwyt raak, is ‘n CV van hulleself. Ek sou huiwer om so ‘n CV by enige instansie in te gee!

Henriette Jacobs ·

Baie sterkte vir elke regsaksie en dat julle nie skroom om standpunt in te neem waar reg en geregtigheid in die gedrang kom nie. Seen toegebid!

Callie ·

Sterkte. Dis hier waar saamstaan begin. Die Crouckamps is maar soos die Guptas, ingewurm bydie ANC.

Theresa ·

Dankie vir al die onverpoosde harde werk. Ons is SOVEEL beter aan als toe omdat jul nie skroom om te staan op beginsels en regverdigheid nie. Jul het ongelooflik gegroei tot ‘n pragtige organisasie – trots op jul – veral omdat jul nie onsin kwytraak nie, maar staan op die waarheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.