Só gaan DA-beheerde Kaapstad beurtkrag stopsit

Deur Geordin Hill-Lewis

Geordin Hill-Lewis. (Foto: Twitter)

Van al die uitdagings wat ons land in die gesig staar, is beurtkrag waarskynlik die dringendste. Na byna 15 jaar van beurtkrag het die meeste mense noodgedwonge die tekort aan elektrisiteit as ʼn hartseer feit van die lewe in Suid-Afrika aanvaar. Weens die gevoel van magteloosheid wat so baie van ons in die aangesig van die agteruitgang van Eskom en die nasionale regering ervaar, het baie mense maar stilletjies met beurtkrag vrede gemaak. Wanneer die ligte afgaan, skakel ons maar gedienstig die opwekker aan, of ons steek maar die kerse aan.

Die wyse waarop ons ons lewens aangepas het om rondom beurtkrag te werk, is ʼn voorbeeld van die veerkragtigheid van Suid-Afrikaners. Terwyl dit natuurlik bewonderenswaardig is om te sien hoe besigheidsmense en hul werknemers aangepas het om met beurtkrag saam te leef, is dit egter nie iets wat ons óóit as “normaal” behoort te aanvaar nie.

Ek is bekommerd dat die veerkragtigheid van ons land se mense juis beteken dat baie van ons opgegee het met die idee dat Suid-Afrika ooit weer ʼn betroubare voorraad van elektrisiteit sal hê. Dit is natuurlik wat die nasionale ANC regering wil hê ons moet dink. Die ANC buit inderwaarheid die veerkragtigheid van Suid-Afrikaners in die aangesig van beurtkrag uit. Hul grootste vrees is juis dat Suid-Afrikaners sal ophou om mislukkings soos Eskom te aanvaar.

Dit is presies wat die DA in Kaapstad beplan. Ons is gereed om te bewys dat beurtkrag nie ʼn feit van die lewe hoef te wees nie, en dat Suid-Afrikaners nie ʼn donker, koue en depressiewe bestaan sonder krag gelate hoef te aanvaar nie. Onder voortgesette DA-beheer gaan Kaapstad die eerste stad in Suid-Afrika word om beurtkrag stop te sit.

Wanneer ʼn mens met vars oë na die probleem van beurtkrag kyk, word dit duidelik dat daar drie noodsaaklike bestanddele is om ʼn betroubare voorraad van elektrisiteit te verseker. Die eerste bestanddeel is bloot tegnies van aard: die vermoë om potensiële energie in kinetiese energie om te skakel en sodoende elektrisiteit op te werk. Gegewe die oorvloed van hernubare bronne wat deesdae beskikbaar is, was dit nog nooit makliker om hierdie tegniese uitdaging te oorkom nie. Die mensdom weet immers reeds vir meer as 100 jaar hoe om natuurlike hulpbronne soos steenkool en sonenergie in elektrisiteit om te sit.

Die tweede bestanddeel wat benodig word om in die elektrisiteitsbehoeftes van enige samelewing te voldoen, is ʼn gepaste wetlike raamwerk wat elektrisiteitsverskaffers genoegsaam aanspoor om elektrisiteit op te wek, te versprei en uiteindelik te verkoop. Dit is die tekort aan hierdie bestanddeel in Suid-Afrika wat veroorsaak het dat ons land reeds vir byna 15 jaar lank gyselaar gehou word deur Eskom se staatsmonopolie. Weens die ANC se verknogtheid aan die ideologie van gesentraliseerde staatsbeheer was dit tot dusver wetlik onmoontlik vir onafhanklike kragverskaffers om genoegsame elektrisiteit op te wek, asook vir besighede en munisipaliteite om elektrisiteit direk by sulke verskaffers aan te koop.

Namate Suid-Afrika egter al hoe nader aan bankrotskap beweeg, het dit stadigaan selfs aan die ANC duidelik geword dat die staat eenvoudig nie die geld het om Eskom se kapasiteit met die tienduisende megawatt wat benodig word te verhoog nie. Daarom het Gwede Mantashe uiteindelik teen sy sin einde verlede jaar die deur vir munisipaliteite oopgemaak om elektrisiteit direk by onafhanklike verskaffers aan te koop. Meer onlangs is Mantashe ook gedwing om privaatondernemings toe te laat om tot 100 megawatt sonder ʼn lisensie op te wek.

Met die wetlike deur wat nou oopgemaak is, verg dit die derde bestanddeel om daardie deur wawyd oop te skop: politieke wil. Daar sal moontlik verdere tegniese en wetlike uitdagings voorlê, maar met politieke wil in plek is dit nou vir munisipaliteite heeltemal moontlik om hul eie elektrisiteit te begin aankoop en op te wek.

Dit is waarom dit so belangrik vir Suid-Afrikaners is om daarvan kennis te neem dat die DA die enigste party is wat uitdruklik onderneem het om beurtkrag in Kaapstad stop te sit. Ons glo die tegniese en wetlike oplossings is nou beskikbaar, en ons het die politieke vasberadenheid om seker te maak dat Kaapstad die eerste stad in Suid-Afrika word sonder beurtkrag. Terwyl nie ʼn enkele ander party ʼn woord rep oor die wyse waarop beurtkrag besighede en lewens verwoes nie, het die DA ʼn duidelike aanbod in hierdie verband en ʼn bewese rekord dat ons dinge gedoen kry.

Die tyd het vir Suid-Afrikaners aangebreek om beurtkrag nie vir ʼn dag langer gelate te aanvaar nie. In Kaapstad het die DA die bestanddele in plek om hierdie euwel iets van die verlede te maak. Al wat ons nou nog nodig het, is ʼn oorweldigende mandaat van die kiesers van Kaapstad op 1 November.

Om beurtkrag te stop, is waarskynlik die enkel belangrikste ding wat ons kan doen om Kaapstad se ekonomie op die herstelpad te sit ná die skade wat die nasionale regering en die Covid-pandemie aangerig het.

Die einde van beurtkrag in Kaapstad sal beteken dat kleiner sakelui geld aan nuwe beleggings eerder as aan opwekkers en brandstof kan spandeer. Dit sal lig bring aan skoliere en studente wat tans kerslig tydens beurtkrag moet gebruik om hul huiswerk gedoen te probeer kry. Dit sal mettertyd aan verbruikers verligting bring soos die groter aanbod van elektrisiteit tot laer elektrisiteitspryse lei. Verder sal dit ook groot maatskappye in staat stel om met vertroue in Kaapstad te belê en duisende Kapenaars in diens te neem.

Ons is gereed om hierdie historiese geleentheid aan te gryp om Kaapstad op ʼn nuwe trajek van snelle en volhoubare ekonomiese groei te sit. Die eerste stap van daardie reis is vir die mense van Kaapstad om dit duidelik te maak dat hul nie ʼn dag langer die euwel van beurtkrag sal duld nie deur op 1 November hul kruisie langs die DA te trek.

  • Geordin Hill-Lewis is die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Sal maar sien, die regering beheer alle provinsies. Hulle sal seker ook `n grot hap van die krag en geld wil he.

Jammer DA mooi verkiesings praatjie, maar ek glo nie so nie!

Baardman ·

Nou waarom het die DA nou eers wakker geskrik. Dis darem wonderlik wat n naderende verkiesing kan regkry. Ewe skielik word daar planne beraam. Tot die stemme gekry is, dan trek hulle weer vir 5 jaar lekker salaris.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja, stede moet begin hul eie krag opwek en ook vir die platteland rondom hulle. Maar moenie mooipraatjies maak om die komende verkiesing te probeer wen nie. Beurtkrag gaan nog ten minste ‘n jaar of so NA die begin van onafhanklike kragverskaffing met ons wees, want die agterstand met minimale instandhouding van infrastruktuur moet eers ingehaal word.

Eend Bessinger ·

Die enigste twee probleme, DA:
1. Beurtkrag sal nog ten minste ‘n jaar met ons wees NA onafhanklike kragopwekking begin.
2. Politieke partye se oggend- en aandpraatjies stem nooit ooreen. Groot beloftes nou met geen resultate na die verkiesing.

Philip ·

As ek nou al n oppertunistiese uitspraak moes aanhoor is dit presies wat ons DA vriend aan die stemvee probeer verkwansel.My dierbare DA vriend konsulteer ASB eers met die nodige raadgewers wat n absolute hogere kennis van die omstandighede en oplossings het dit is nie net n verklaring wat alles vinnig sal kan verbeter nie.

Kokerboom ·

Wonderlik. Jou planne moet net nie opraak. Doen dit DA en wys die kaders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.