Só kan Cyril die Grondwet wysig

willie-spies-facebook

Willie Spies. Foto: Facebook.

Terwyl TV-kykers verlede week in afwagting was om te hoor wie die verkiesing in Zimbabwe gewen het, is die uitsendings van die SABC se nuuskanaal onderbreek vir die nou reeds veelbesproke aankondiging deur die ANC-president, Cyril Ramaphosa.

Die aankondiging dat die ANC kennis geneem het van die sterk sentiment ten gunste van ’n grondwetwysiging om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak en dat die party dus ’n wysiging steun om die omstandighede waarin grond sonder vergoeding onteien kan word, duideliker uit te spel, het skokgolwe deur die land gestuur.

Die redakteur van City Press, Mondli Makanya het geskryf dat Suid-Afrika nog hierdie dag sal berou  waarop ons, net soos Zimbabwe 18 jaar gelede, respek vir die oppergesag van die reg verruil het vir populisme.

Selfs die News24-redakteur, Adriaan Basson, wat drie maande gelede nog kwaad was vir AfriForum oor die organisasie se veldtog om internasionale bewustheid te skep van die regering se planne om grond sonder vergoeding te neem, het sedertdien in ’n artikel te kenne gegee dat hy nie meer seker is of ons dalk wel op pad is om ’n tweede Zimbabwe te raak nie.

Onsekerheid oor waarheen die wetgewende raamwerk gaan ontwikkel, het reeds ’n regsvakuum geskep waarbinne anargie en gewelddadige grondbesettings deur ongeduldige massas aan die orde van die dag is.

Maar hoe gaan die ANC die Grondwet wysig?

As die ANC die Grondwet wil wysig, benodig hy die steun van ses provinsies in die nasionale raad van provinsies en minstens 267 uit die 400 lede in die nasionale vergadering.

Die party kan maklik ses provinsies se steun kry want hy regeer 8 uit die 9, maar die 267 lede van die nasionale vergadering, is ’n ander saak.

Tans het die ANC 249 setels in die nasionale vergadering. Om die Grondwet te verander, het die party dus die samewerking nodig van minstens nog 18 LP’s.

Die 25 EFF-lede is dus een opsie en waarskynlik die eenvoudigste, maar gevaarlikste. Die EFF se uitgesproke beleid en doel is dat alle grond genasionaliseer word en slegs by wyse van 25 jaar konsessies as huurpagte beskikbaar gestel word. Dit is dus onseker of die party ’n wysiging van artikel 25 sal steun wat nie verder gaan as om slegs uitsonderings te skep waaronder grond sonder vergoeding onteien gaan word nie.

Dit laat die ANC met twee ander opsies: om met die DA se 89 lede saam te werk – wat onwaarskynlik is weens die DA se onwrikbare verbintenis om artikel 25 onveranderd te laat – of om met van die kleiner partye soos IVP, NFP, UDM, VF Plus, Cope, ACDP, AIC, PAC, APC en Agang se altesaam 37 lede (waarvan 10 van die IVP kom, 4 van die VF Plus en drie elk vanaf Cope en die ACDP) saam te werk.

Die IVP sal net saamstem as die tradisionele gebiede wat deel van die Ingonyama Trust uitmaak, veilig onder die Zoeloekoning se hand bly. Die VF Plus, Cope en die ACDP se teenkanting teen onteiening is weer oorbekend. Uit die geledere van die kleiner partye laat dit die totaal wat moontlik sal saamstem met ’n wysiging op 17 – wat een te min is om die vereiste 267 stemme te haal.

President Ramaphosa se opsies is dus baie beperk.

Die enigste manier waarop die ANC sy besluit sal kan deurvoer om die Grondwet te wysig, sal met die steun en op voorwaardes van die EFF moet wees.

Hy sal dus óf die vernietigende besluit moet neem om op die EFF se voorwaardes te wysig aan die Grondwet óf die vernedering moet sluk dat sy voorgestelde beperkte wysiging nie die vereiste 267 stemme in die nasionale vergadering oplewer nie.

Terwyl ons onseker is oor wat presies die bewoording van die moontlike grondwetwysiging gaan wees, is enigiets dus steeds moontlik.

Hoe mens ook al daarna kyk, president Ramaphosa het duidelik ’n afdraaipad gekies waarop die risiko’s vir hom en sy party – maar belangrikste van alles, die regsorde en ekonomie van Suid-Afrika – onmeetbaar groot en gevaarlik is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oom Kalahari

Hierdie krappery aan artikel 25 gaan nog baie kopsere en ongemak veroorsaak. Zuma het met iets begin en Ramaphosa wil dit graag deutvoer om die massas se stem vir 2019 te kan behou. Solank hy sy termyn kan deurgaan het hy vrede met die ekonomie en is gelukkig met sy plase. Solank alle grond onder gedrang kom vir verspreiding van Zulu Koning, die in die Regering se besit, Indier gronde ens.

Paul

Ramaphosa se dilemma is dat hy die oog van die bal afgehaal het en nou op ander dinge konsentreer, maar daardeur is hy net nog ‘n verdere remskoen wat keer dat die ekonomie aan die gang kom, al die verkeerde besluite word geneem.

Marieta Bodenstein

As hulle dan moet karring aan die grondwet – dan moet ALLE gronde oor die hele land in ag geneem word. As daar uitsonderings vir konings en staatsgrond gemaak kan word, hoekom dan nie ook vir ons boere wat kos op die tafel bring nie? Die koningsgrond en staatsgrond lê leeg – die boere plant en bewerk tot Suid Afrika se voordeel. Dis n tragedie wat ons almal tref – ekonomie wat inmekaar stort en niemand wat bereid is om uit Zim se foute te leer nie. Daarby doen die boere-moorde steeds voort . . .

Gerhard

M.a.w. die enigste manier waarop grondonteiening kan gebeur is een waar die EFF ‘n belangrike inset het. Siende dat die ANC reeds besluit het om dit deur te voer is die enigste manier waarop dit kan gebeur iets baie radikaal waar die EFF beleid beïnvloed. Dit is dan heeltemal die teenoor gestelde as wat Jan Jan Joubert in sy artikel voorstel, waar hy beweer dat EFF beleid die kleinste kans het om te seevier.

John

… en die DA was so oorgretig om ‘n paar vervonkfaaide stede te bestuur dat hul skynbaar selfs met adders sou saamwerk, toe kies hulle maar die EFF. En daar gaan ons. Die amperste-nie-party-tjie word die voordanster vir verandering. Nou gooi die DA wal, maar die stadsmuur het reeds geval en die Kaap in ongure vloede twak vasgevang. Da-Da se woorde dwarrel nou weg in die wind wat deur Malema opgeskop word…. Slim vang sy baas.