Só kom die rugby toe tot ‘n einde

Met ʼn sagte, verslae sug kom die Super 15 toe vir die Suid Afrikaanse spanne tot ʼn niksseggende einde.

As dit te pessimisties klink kan ons sê dat die Sharks wondere verrig het om vanaf die 6de posisie tot in die eindstryd van die Super 15 deur te dring. Dit het ʼn ongelooflike klomp energie getap en dit het ongelukkig ná 15 minute in die eindstryd duidelik gewys.

Mense kan redeneer soos hulle wil, maar om in 14 dae se tyd twee keer oor die Indiese oseaan te vlieg moet redelik uitmergelend op die liggaam wees. Geen logiese denker kon die Sharks ʼn wenkans gegun het nie, en dit is maar die ewige optimisme en lojaliteit van die Suid Afrikaanse ondersteuner wat dit wel vir die Sharks gegun het.

Te midde van die Olimpiese prestasies en die doen en late van die Suid-Afrikaanse medaljewenners is daar darem genoeg geskryf oor die wedstryd sodat almal kan sien dat die Sharks redelik futloos was en nie naasteby ʼn kans gestaan het om die wedstryd te wen nie.

Die ironie van de saak is dat die Sharks in hulle eerste Curriebekerwedstryd weer die Stormers op Nuweland sal pak.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die twee spanne sonder hul Springbokke teen mekaar sal opweeg. Ek dink die WP (Dis mos nou Curriebeker) sal die wedstryd gemaklik wen. Al is dit net oor die nagevolge van die vliegtuigryery.

Gelukkig het Heyneke Meyer twee weke kans om met die Springbokke te werk voordat die Argentyne op Nuweland gepak word. Ek is van mening dat die Pumas nie dieselfde uitdaging as die Rose sal bied nie en kan Heyneke aan sy span begin bou. Ek is bly oor die insluiting van Siya Kolisi. Gemeet aan sy spelpeil in die Super 15 is hy ʼn welverdiende keuse, waar Heyneke ook al besluit om hom te speel. Gelukwense aan die nuwe Bokke, Kolisi, Celliers, Vermaak en JJ Engelbrecht. Vraagtekens hang oor die keuses van Morné Steyn en Pierre Spies wat beslis nie op die peil is wat van ʼn Springbokrugbyspeler verwag word nie.

Die Curriebeker spring weg met ʼn wedstryd tussen die Bulle en die Griekwas op Loftus op die 10de en dit sal interessant wees om te sien hoe die Bulle sonder hulle kaptein en die ander Springbokke vaar.

Dit sal onvanpas wees om die blog af te sluit sonder om ons Olimpiese medaljewenners die nodige lof toe te swaai. Die prestasies van Cameron en Chad en die vier roeiers het trane in my oë gebring en ek dink vir elke sportliefhebber in die land ook.

Gelukkig is die Spele nou daar, maar die ses kanale wat gelyktydig uitsaai verwar my, want ek is so ʼn groot sportliefhebber dat ek niks wil mis nie.

So ek spring maar tussen die kanale rond en hoop om een te vind waar die SA-atlete ook ʼn medalje wen.

Groete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.