Só lyk die arbeidsmark se eis aan Afrikaanse universiteite

piet le roux 1

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia. Foto: Solidariteit Beweging

Ons werk deesdae, sê Klaus Schwab van die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF), in die nasleep van drie industriële revolusies. In die 1700’s is produksie met stoom gemeganiseer. In die 1800’s volg massaproduksie met elektrisiteit en ʼn versnelde internasionale verdeling van arbeid. In die 1900’s word produksie geoutomatiseer, met elektronika en inligtingstegnologie wat op die kennisekonomie sou uitloop. En nou, in die 2000’s, beleef ons ʼn vierde industriële revolusie, met die fusie van die fisiese, digitale en biologiese sfere.

Soos elkeen van die vorige industriële revolusies bring ook die vierde een veranderinge in die arbeidsmark mee. En soos by elkeen van die vorige revolusies sal daar ook nou diegene wees wat dink dat tegnologie mense gaan vervang.

Skaars 20 jaar gelede het die sosiale en ekonomiese kommentator, Jeremy Rifkin, byvoorbeeld reuseverkoopsyfers met sy boek, The End of Work, behaal. Daarin het hy voorspel dat die kennisekonomie binnekort sou lei tot massawerkloosheid van “honderde miljoene”. Tensy regerings ingryp, was al mense wat glo hul werk sou behou ʼn klein elite van hooggeskoolde tegnici en senior bestuurders.

Maar soos met die doemprofete van die vorige industriële revolusies, is ook Rifkin se voorspellings nie bewaarheid nie: Tegnologie het mense nie vervang nie; tegnologie het mense se arbeid net vermenigvuldig. Al wat masjiene, robotte, kan oorneem, is programmeerbare roetinewerk. Die gevolg is nie die afskaffing van menslike werk nie, maar die vrystelling van mense vir ander werk in ʼn groter ekonomie. So word goedere en dienste wat voorheen te duur sou wees, nou bekostigbaar.

Die werk wat oorbly – ook in hierdie vierde industriële revolusie – is tweeledig.

Eerstens sal mense dit wat ons kortweg robotte kan noem, bly uitstof – selfs wat sekere programmeerbare take betref. Daar sal altyd take wees wat tegnies deur robotte gedoen sou kon word, maar wat weens ʼn kombinasie van ekonomiese en tegniese redes eenvoudig te duur is vir robotifisering. Tog bly dit ʼn onvaste terrein; en diegene wat robotte op hul sterk vaardigheidsgebied, oftewel forte, wil uitstof, sal besonder aanpasbaar moet wees en voortdurend hul eie tegniese vaardighede opskerp.

Tweedens sal robotte, gegewe hul programmeringsaard, nooit onprogrammeerbare take kan verrig nie. Ter sake is daardie take wat drie eg menslike kenmerke vereis: skeppendheid, oordeelsvermoë en empatie. ʼn Robot kan nie ʼn kunswerk skep nie, ook nie ʼn vakman se afronding nadoen nie. ʼn Robot kan nie ʼn entrepreneur wees nie, ook nie geskiedenis skryf nie. ʼn Robot kan nie met ʼn sagte hand ʼn mens die lewe deur of die dood in begelei nie; nog minder aandui of ʼn groot nuwe gebou van God of mens moet spreek nie.

Dat robotte ʼn klomp goed nie kan doen nie, en mense vrystel om meer van die onvervreembare menslike dinge met groter toewyding te kan doen, is die ekonomie van die toekoms waarvan ons kennis moet dra. Die vraag na eg menslike arbeid gaan, danksy die ekonomiese groei wat deur tegnologie moontlik gemaak word, ʼn bloeitydperk binne.

Toepaslike universiteite, vir die hedendaagse arbeidsmark, beteken dus die voorbereiding van studente wat robotte selektief en tydelik sal uitstof op hul eie terrein (en dit is goed) of studente wat altyd sal floreer op daardie eg menslike terreine buite robotte se bereik (en dit is onmisbaar). Dit beteken dat ons anders moet dink oor wat studente leer: tegniek en kennis is nie meer goed genoeg nie.

Waar laat dit ons as gemeenskap in ons soeke na alternatiewe te midde van die huidige verlies aan histories Afrikaanse universiteite? Dit beteken dat ons verder moet dink as net die heroprigting van die universiteite wat verengels het, maar dan in Afrikaans. Dit beteken dat ons, onder meer, ook deeglik kennis moet dra van die arbeidsmark van die toekoms.

Die universiteitsonderwys wat ons moet nastreef, moet gespesialiseerde kennis met diepgaande opvoeding kombineer. Studente moet nie net weet hoe om iets te doen nie, maar ook waar hulle vandaan kom en hoe die samelewing in mekaar steek. Hulle moet gereed wees om internasionale makropolitieke en tegnologiese veranderinge te antisipeer, die impak daarvan te verstaan en dan toegerus wees om, met ʼn groot historiese verwysingsraamwerk en insig in die menslike toestand, sinvolle antwoorde te formuleer.

Geen wonder dat van die wêreld se top-entrepreneurs mense met ʼn BA-agtergrond is nie – dink maar aan Peter Thiel, een van die meesterbreine agter PayPal en die eerste groot belegger in Facebook. Sy begrip van ekonomiese, politieke en ander maatskaplike beginsels het hom medetoegerus vir sy sukses. En vra maar top-sakelui vandag – almal, of die persoon nou ʼn natuurwetenskaplike, ingenieurs-, bestuurswetenskappe- of enige ander agtergrond het, sal beklemtoon dat hul sukses van sowel tegniek as breë insig in die samelewing afhang.

Die vierde industriële revolusie vereis dus breedgevormde studente: gespesialiseerde kennis én diepgaande, vormende opvoeding. As ons as gemeenskap daarin slaag om in Afrikaans studente hiervoor toe te rus, hoef daar geen kommer oor ons studente se toekoms in die arbeidsmark te wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Wie wil nou robotte-programeer sodat hulle lekker werk kan doen en ons sit droebek en werk vir hulle? Dit gaan nog ‘n groot petalje afgee en ‘n paar fabrieke gaan in ligte laaie staan. Die wapenbedryf gaan veral die poppies begin inspan om lande se vuilwerk te doen. Die VV sal beslis ‘n stokkie steek voor robotwerkverskaffing wat wanorde en chaos sal meebring. Ons kan maar rustig slaap… vir eers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.