Só lyk die lesse van 1976 vir 2016

A bungee jumper at the Orlando Towers in Soweto Township, South AfricaDit is vandeesweek die veertigste herdenking van die Soweto-jeugopstande van 1976. Die kernles van hierdie stuk geskiedenis is dat ʼn taal nie op mense afgedwing moet word nie. Almal moet vry wees om die taal van hulle keuse in onderwys te gebruik. Maar omdat die 1976-opstand op die oog af teen Afrikaans as onderrigtaal was, kan verwag word dat die gebeure steeds teen Afrikaans as onderrigtaal misbruik gaan word.

In 1976 was die swart jeug se kreet “Óns wil nie in Afrikaans leer nie”. Veertig jaar later is die radikale se kreet, “Júlle mag nie in Afrikaans leer nie”. Dis “óns wíl nie” teenoor “júlle mág nie”. Hierdie twee krete is wêrelde van mekaar verwyder. Die een was op die oog af ʼn stryd vir demokrasie, die ander ʼn strewe na verdrukking. Die 1976-geslag het in die naam van hulle eie vryheid geveg. Die 2016-geslag se Lesufi- en EFF-radikale veg teen Afrikaanse leerders en studente se vryheid om hulle taal en kultuur uit te leef. Dit blyk dat radikale soos mnr. Lesufi en min. Blade Nzimande die stryd teen Afrikaans bloot voortsit met staatsmag. Maar die les van 1976 vir 2016  is dat studente se reg op moedertaalonderrig gerespekteer moet word, anders lei dit tot swak onderwys, vervreemding en opstand.

Politieke mag

Die 1976-kreet was die voorspel van “Liberation before Education”. Dit het ʼn groot rol gespeel om die onderwys en indiensneembaarheid van ʼn hele geslag jong swart mense te ondermyn. Die gevolge hiervan is vandag nog te sien in die vorm van werkloosheid, ongelykheid en die voortgesette struggle-kultuur in skole. Vandag is die kreet “Transformation before Education”, waardeur radikale faksies en slap universiteitsbesture die volgende geslag wit en swart jongmense se toekoms ondergrawe. Hoewel die meeste swart studente net goeie opleiding wil kry, lyk dit of hulle aan die neus gelei word deur hulle studenteleiers en visielose universiteitsbesture. Daardeur gaan nog ʼn geslag jong swart mense die boot laat sink waarin hulle self moet vaar.

Maar as ons kyk na wat die ANC se “1976-geslag” as vandag se regeerders intussen met die land gemaak het, blyk dit terugskouend dat 1976 meer oor mag as taal gegaan het. Nie oor politieke regte nie, maar oor politieke mag en ekonomiese voordele. Soos Breyten Breytenbach in sy kommentaar op dr. Van Zyl Slabbert gesê het: “Slabbert did not realise that the ANC is neither about building a new nation nor about reconstruction and development, but about divvying up the spoils of victory.”  ʼn ANC-woordvoerder Smuts Ngonyama het dit reguit gestel: “Ek het nie gestruggle om arm te wees nie.”

ANC-beheer

Maar die feit is dat daar ʼn nuwe stryd teen Afrikaans, Afrikaanse skole en ʼn Afrikaanse leefwyse op die histories Afrikaanse skole en kampusse is. Soms word die stryd openlik teen Afrikaans en sy sprekers gevoer, soos die EFF by Tuks en mnr. Lesufi teen Afrikaanse skole. Meermale is die rassetransformasie van die universiteit die doel, en is perke op die toegang vir Afrikaanse studente en ʼn stadige dood vir Afrikaans die voorspelbare gevolg.

Dis belangrik om te besef dat die radikale se doel nie beperk is tot die afskaffing van Afrikaans nie, maar dat hulle werklike doel is om beheer oor skole en universiteite te kry. Die rede hiervoor is dat skole en universiteite van die min ruimtes in die samelewing is wat nog nie volledig deur die ANC beheer word nie. Beheer is vir hulle belangriker as die sukses van hierdie instellings. Die waarheid van hierdie stelling kan daarin gesien word dat daar ʼn regstreekse verband is tussen die mate van ANC-beheer en die prestasie van instellings. Die Wes-Kaap is die beste voorbeeld daarvan dat provinsies, dorpe én skole beter presteer as hulle nie onder ANC-beheer staan nie. Dieselfde kan van die wêreldgehalte Afrikaanse skole gesê word. Aan die ander kant is die verval van groot dele van die staat die beste bewys daarvan dat ANC-beheer oor instellings rampspoedig kan wees. Die Afrikaanse geveg is dus nie net vir moedertaalonderwys nie, maar vir die vryheid van skole en universiteite om wêreldgehalte prestasies te lewer. Maar die ANC se hardnekkige pogings om sy magsgreep oor alle skole en universiteite te vestig, wys duidelik dat die stryd nie gaan om toegang vir swart kinders nie, maar in werklikheid teen Afrikaners as kultuurgemeenskap is.

Vryheid deur moedertaal

Die vraag is wat Afrikaanse jongmense se reaksie hierop moet wees. Die regte strategie is een van “Vryheid deur Afrikaans”, oftewel, “Vryheid deur Afrikaanse Onderwys en Opleiding”. Die rede is dat goeie onderwys en opleiding vandag éérs die sleutel tot sukses is. Dit maak jong Afrikaners betreklik vry van drakoniese rassewette, en is die oorsaak dat werkloosheid onder jong wittes teen 12% steeds ʼn breukdeel van die werkloosheid onder swart jongmense van 43% is.

Met goeie onderwys en opleiding kan en gaan Afrikaanse jongmense altyd vir hulself kan sorg – deur werk te kry of deur selfindiensneming – soos ʼn klein besigheid. Hulle moet net moed hou, want ʼn ekonomie werk uiteindelik nie op grond van ras nie, maar van kennis, vaardighede en harde werk.

Maar ons jongmense moet besef dat Afrikaanse onderwys en opleiding nie verniet was nie. Al het jy dit verniet gekry, het jou ouers en grootouers dit teen groot koste en opofferings opgebou. Dis jou voorreg om dit nou te bewaar en weer vir die volgende geslag aan te gee, sodat hulle dieselfde kans op sukses kan hê as wat jy gehad het. Hierdie keer is die stryd nie soos in 1976 teen Afrikaans en ʼn onversetlike regering wat apartheid afdwing nie. Die stryd in 2016 is teen die afdwing van Engels deur ʼn onversetlike regering se omgekeerde apartheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

bertus ·

Daar is baie meer swart jong mense as wit jong mense. Net so is daat baie meer swart mense in suidafrika as wit mense. Dit wil se alles sal volgens statestiek erger lyk vir die swart mense. Hulle se wit mense het dit maklik en is geld se baas. Maar dis omdat daar so min van ons is dat dit so lyk. Dit beteken nie dat die swart mense die meerderheid is dat hulle die meerderheid geld sal he. Hulle verdeel net dit wat beskikbaar is in kleiner porsies sodat hulle kan oorleef. Plaas van minder voortplant en beter lewe.

JC ·

Jy maak ‘n bitter belangrike punt Bertus.
Goed van jou om die stukke insig te openbaar en met almal te deel!

Wikus ·

Ja, dis nogal ironies. In 1976 wou hulle nie Afrikaans as onderrigtaal gehad het nie, maar nou 40 jaar later word Engels op ons afgedwing en daar is geen protes daaroor nie.

Hou jy net aan Hom vas ·

Hulle wil “beskaafte mense” wees deur net in Engels te wil leer en hulle maak hul eie taal dood. So jammer. Onthou dis die regering se strategie om die mens se siel te wil dood maak. Gees van Babilon. Nou ook in ons grondwet. Hoogmoed sal val,die goddelose gaan val,die wat na hul eie belange omsien,gaan val. Die land gaan aan ons terug gegee word. Hou net moed.

Karel ·

Kan ‘n Maroelamediaskrywer dalk vir ons ‘n gebalanseerde beskrywing van die aanloop en verloop van gebeure van die 16 Junie 1976 opstand gee? Niks gebeur in ‘n vakuum nie en selfs volgens deelnemers en toentertydse leiers van die opstand was die ANC betrokke by die beplanning, organisering en logistiek van die jeugopstande. Die verloop van die gebeure was allesbehalwe “vreedsaam” soos tans voorgehou word.

Max Berg ·

Was die 1976 jeug se gedrag aangeleer of spontaan ? Was hul gedrag vreedsaam? Wie het hulle voor gese ? Waar was hul ouers, onderwysers of toesighouers ?

Paul ·

Ek sekondeer so ‘n voorstel dat ‘n gebalanseerde beskrywing van die 16 Junie 1976 gebeure gegee word. Kry eerstehandse inligting by die polisiemanne wat op daardie dag diens gedoen het. Ek het so oudpolisieman geken wat vertel het hoe die kinders vorentoe gestoot is in die skare… Dis was nog altyd vir my vreemd dat kinders aan so ‘n politiek verwante optog deelgeneem het. Ek gee te veel vir my kinders om om hulle toe te laat om aan so iets deel te neem — ek trek hulle velle af!

MC Horak ·

Die beste verweer teen die subtiele aftakeling van dekades se bloedsweet om Afrikaans te bou tot n volwaardige wetenskapstaal, regstaal, moedertaal en uitdrukkingstaal is burgerlike verweer deur wakker, energieke organisasies soos afriforum. Geen ander instansie in die landjie veg daarvoor met soveel passie en kundigheid nie. Wie het gese ons is leierloos?

Kobus ·

Vandag weet ons dat Afrikaans nie werklik die oorsaak van die 1976 opstande was nie. Die ANC het opstande gestook onder leiding van die CIA. Lees gerus Gerard Ludi se boek: “The Communistification of the ANC”. Die ANC het ‘n insident geskep en kinders op die kritiekte tyd na die voorpunt van die plunderaars optog gestoot. ‘n Skoot van agter uit die skare was die katalis van die geskiedenis wat die meeste mense vandag ken. Die ANC het in sy doel geslaag en ‘n beeld van SA Polisie wat kinders skiet is via die strukture van die CIA die wêreld ingedra.

Ek dink dis onnodig om baie te top oor die swart jeug se sogenaamde weersin teen Afrikaans. Dit is ‘n grootliks polities gefabriseerde storie. Netso word die onlangse #Afrikaansmustfall veldtog deur die EFF gedryf nadat die #Zumamustfall veldtog grootliks misluk het. Ons weet dat Malema deur bankiers in Engeland befonds word en dat die aksies deur MI6 gedryf word. MI6 en CIA is tans besig met ‘n program om die BRICS lande te destabiliseer. Dieselfde ou storie herhaal hom net 40 jaar later.

Henry ·

Dit is ‘n geskiedkundige feit dat die ANC nie ‘n benul gehad het dat die opstande sou plaasvind nie. Hulle het dit nie beplan of aangevuur nie.

Die Swart Bewussynsbeweging wat ook die Swartmag betogings in die VSA gemotiveer het, is onder andere deur Steve Biko verkondig. Was deel van die PAC se ideologiese oortuiginge. Oortuiginge wat verskil het van die ANC/SAKP se Russies geïnspireerde Marxisme.

Trouens, die ANC was destyds net so verras oor 16 Junie se dinge, as wat die SA regering was. Ronnie Kasrils het gedurende die gebeure aan ‘n kollega van hom erken dat: “…the party had been woefully lagging behind…”

Die ANC was egter beter as die PAC ge-rat om die geleentheid uit te buit. Die skoliere wat landuit na die buurstate gevlug het, is deur die onderskeie ANC kantore in die buurstate opgevang. Sodoende is ‘n hele spul nuwe rekrute vir Umkhonto gewerf. Rekrute met geen benul van die Marxisme wat hul nuwe leermeesters aan hul verkondig het nie.

Hulle was hoofsaaklik van Biko, PAC en Black People’s Convention bewus, terwyl die ANC grootliks onbekend was.

Die ANC het met die hulp van hul Russiese en Oos Duitse leermeesters, die opstande tot hul voordeel uitgebuit. Tot vandag toe slaag hulle daarin om talle siele en selfs regerings te oortuig dat die Soweto opstande een van hul talle ‘suksesse’ is – wat loutere onsin is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.