Só lyk die vooruitsigte vir reën

Prof. Hannes Rautenbach is die dekaan van die fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia. Foto: Verskaf.

Deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit Natuurwetenskappe, Akademia

 Die begin van September word alom beskou as die aanbreek van lente. Dit is ʼn tyd wanneer almal opgewonde is oor die vooruitsig van vernuwing en groei, wat in die somerreënvalgebied veral saamval met ʼn verwagting van warmer somerdae en reën.

In Suid-Afrika is dit normaalweg droog in die winterreënvalgebiede, terwyl ons weet dat daar verseker reën gaan voorkom in somerreënvalgebiede. Laasgenoemde is belangrik om te noem, aangesien dit ʼn gegewe is dat reën wel gaan voorkom. Die belangrike vrae is egter wanneer die reën gaan begin val, hoeveel dit gaan reën en hoe gereeld dit gaan reën. Antwoorde op hierdie vrae word al hoe belangriker in ʼn omgewing waar groei en produksie reën- en temperatuurafhanklik is, en waar voortydige beplanning noodsaaklik word.

Met al die wetenskaplike kennis waaroor ons beskik, is die voorspelling van reënval alleen oor lang periodes in die toekoms nog nie haalbaar nie. Benaderings van toekomstige reënvalpatrone is egter wel moontlik deur gebruik te maak van ons kennis rakende stadig veranderende reënvaldrywers.

Een so ʼn drywer is stadig veranderende seeoppervlaktemperature. Die logika hieragter berus op die feit dat alle kontinentale reën grootliks afkomstig is van warmer seewater wat verdamp, en die daaropvolgende windpatrone wat dan die vogtige seelug oor die land inwaai. Daarbenewens verander seeoppervlaktemperature stadig en kan dus tot maande vooruit voorspel word.

ʼn Bekende oseaandrywer is die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso). Die Enso beskryf beide die omvang van seeoppervlaktemperature in die ekwatoriale Stille Oseaan en gepaardgaande windpatrone oor dieselfde gebied. Vir Suid-Afrika geld dat warmer seewater in die oostelike ekwatoriale Stille Oseaan (El Niño-toestande) meestal gepaard gaan met ondergemiddelde somerreënval, terwyl kouer seewater oor dieselfde gebied (La Niña-toestande) meestal aanleiding gee tot bogemiddelde somerreënval.

In  hierdie stadium word die Enso-vooruitsigte vir die komende somerseisoen as neutraal beskryf, met seewater wat ietwat warmer as gewoonlik is. Dit beteken dat dit moeilik is om die Enso alleen te gebruik om ʼn voorspelling te maak oor Suid-Afrikaanse reënvalverwagtinge vir die komende 2019/20-somerseisoen. In so ʼn geval is dit meer wenslik om gebruik te maak van gekoppelde oseaanatmosfeerklimaatmodelle.

So ʼn model beskryf die reaksie van globale windpatrone op voorspelde seeoppervlaktemperature wat oor die hele aarde voorkom, en kan dus waardevolle inligting verskaf oor die vooruitsing vir reën as gevolg van aanlandige vogtige lugvloei.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens maak gebruik van ʼn gesofistikeerde gekoppelde oseaanatmosfeerstelsel om op ʼn maandelikse interval seisoenale voorspellings van tot so ver as drie maande vooruit te bereken. In die mees onlangse Seisoenale Klimaatsuitkyk, wat op 30 Augustus 2019 uitgereik is, word reënvalvooruitsigte vir die komende somerseisoen as twyfelagtig beskryf, hoofsaaklik as gevolg van die neutrale Enso-toestande wat voorspel word. Ten spyte hiervan, dui die gekoppelde oseaanatmosfeerstelsel daarop dat reënval vir die 2019-lenteseisoen stadig sal begin inskop, met ʼn mengsel van ondergemiddelde en bogemiddelde reënvalverwagtinge oor Suid-Afrika vir September en Oktober, terwyl droër toestande vir November 2019 voorspel word.

Foto: Erik Witsoe/Unsplash

Daar is egter wel ʼn sterk aanduiding dat goeie reën vanaf Desember 2019 kan voorkom.

Wat egter duidelik is, is dat die winterstelsels nog sterk van krag is, veral verwysende na die koel tot koue lentedag op 1 September 2019. Daar word voorspel dat nog ʼn kouefront teen Donderdag 5 September 2019 reën oor die suidelike en oostelike kuslyn tot gevolg sal hê, en dat hierdie reën teen Vrydag met koel toestande na Gauteng mag uitbrei.

Alhoewel die winterstelsels steeds domineer, kan ons heel waarskynlik binnekort die eerste lentereën verwag.

Moet egter nie te gou die winterkaggelvure blus en die somersambrele uithaal nie.

  •  Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se Seisoenale Klimaatsuitkyk kan afgelaai word by Weathersa.co.za

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lou

Weervoorspellers is soos ekonome. Daar is nooit enige sekerheid nie en ‘n agterdeur word altyd oop gehou vir ingeval die voorspelling nou nie heeltemal so so akkuraat is nie.
Dit is ‘n tong in die kies opmerking MM so moet asb. nie weer my kommentaar verwyder nie.

Wat

Ek weet nie eintlik wat ek wys geword het met die lees van die artikel?

Interessant

Sal gaaf wees as ons meer gereeld sulke artikels kan sien wat ons dalk kan verwag.

Mornay

My Voorspelling
Dit sal reen daar waar die son nie skyn
Die son sal skyn as dit nie reen nie

Leon

Gauteng se reen kom van die trope. Die bome haal asem, vog word in die lug ingestuur, beweeg Suid en ons kry reen.
Daar is minder bome in die trope. Minder bome haal asem. minder vog word in die lug ingestuur. Minder vog beweeg Suid. Minder reen vir Gauteng.
Dit is hoekom Brasilië nie die bome moet verwyder in die Amazone nie.