Só lyk transformasie se formule

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Deur Christoff van Wyk

80-9-9-2 Dít is die formule waarmee transformasie vandag in Suid-Afrika toegepas word.

Die getalle 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër, verteenwoordig breedweg die Suid-Afrikaanse demografie in terme van ras.

Wanneer die ANC-regering dus op enige platform, of teenoor enige instansie, praat van transformasie, is dit wat hulle bedoel. Hieroor moet daar geen twyfel meer wees nie.

Transformasie het ʼn ideologiese wapen van demografiese verteenwoordiging gegrond op ras geword, wat niks met die waardes van die Grondwet en die 1994-oorgang na demokrasie te doen het nie. Die ANC-regering gebruik die afgelope paar dekades hierdie wapen uiters effektief om die een na die ander organisasie te kaap vir sy eie doelwitte en hulle effektiewelik lam te lê in gehoorsaamheid aan die Staat.

Die uiteindelike doel met hierdie beweging is nie beter geleenthede vir voorheen benadeeldes of die regstel van vergrype van die verlede nie, maar die afbreek van enige instelling wat nog deur ʼn meerderheid wit mense besit of bestuur word. Dít is die uiteindelike implikasie van die streng toepassing van transformasie.

Die verdere uitwerking hiervan is dat geen instelling, ongeag of dit staat of privaat is, deur ʼn meerderheid witmense bestuur kan word nie. Dit hou enorme implikasies in vir die wit bevolking van Suid-Afrika.

Die meerderheid ondernemings en ander instansies in Suid-Afrika stem klaarblyklik hiermee saam. Gaan tik gerus die woorde ‘transformation charter’ in op jou soekenjin en wees gereed om verstom te staan oor hoe gretig en in baie gevalle verplig, organisasies en instellings in Suid-Afrika is om gebiedend gehoor te gee aan die ANC-regering se ‘evangelie van transformasie’.

Transformasie is nou die heilige koei in Suid-Afrika. Dit is een van die ANC-regering se top-prioriteite vir Suid-Afrika. Nie die swak ekonomie of die droogte wat steeds in dele voortwoed, of die swak peil van onderwys nie. Transformasie.

Hoe het ons hier uitgekom? Dit voel so ver verwyderd van die ‘1994-ooreenkoms’? Die rede hiervoor is eenvoudig.

Ons Grondwet, in samewerking met die Grondwetlike Hof, maak voorsiening daarvoor dat wetgewing geïmplementeer kan word wat regtens teen sekere mense kan diskrimineer om sodoende ‘die bereiking van gelykheid te bevorder’.

Artikel 9(2) van die Grondwet lees as volg: “Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.”

Die regering het toe presies gaan doen waarvoor die Grondwet ruimte gelaat het. Hulle het verskeie stukke wetgewing gaan opstel om ‘die bereiking van gelykheid te bevorder’. Hieronder tel die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging, die Wet op Breë-Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging,  die Wet op Gelyke Indiensneming en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, om maar ʼn paar te noem.

Deur die implimentering van hierdie wette en vele ander, word elke instansie en instelling stelselmatig gekaap en gekoöpteer om eerstens onder hoofsaaklik swart bestuur te val en tweedens sodoende deur die ANC-regering beheer te word. So breek die ANC-regering alle moontlike teenstand af van enige organisasie se kant. Dit is natuurlik nie die boodskap wat verkondig word nie, maar dit is die realiteit.

Intussen is hierdie rassistiese ideologie van transformasie besig om enorme en selfs onomkeerbare skade aan die ekonomie aan te rig. Transformasie het een van die hoofredes geword waarom wit mense die land verlaat. Die impak van emigrasie op die ekonomie word al hoe erger. Talent verlaat die land en neem hul bates en geld saam, terwyl onwettige immigrante, wat meestal uit hul lande van herkoms vlug, hier ʼn ander heenkome kom soek. Dit vererger natuurlik die situasie en skep vrees by baie wit Suid-Afrikaners oor hulle en hul kinders se toekoms in die land. Dit is glad nie meer ongewoon om te hoor hoe ouers hul kinders aanmoedig om oorsee te gaan en permanent daar te bly nie. Dit val natuurlik reg in die kraal van die ANC-regering se plan om wittes uit te skakel en uit die land uit te werk.

Die ironie van die saak is hoe harder die staat sy transformasiebeleid afdwing, hoe slegter gaan dit met die land. In ʼn ope brief aan die minister van arbeid, skryf Gerhard Papenfus, die hoof uitvoerende bestuurder van die Nasionale Werkgewers Vereniging van Suid-Afrika, die volgende oor transformasie: “Minister, these policies are destined to bring poverty and hardship over the very people it envisages to benefit. Just as in the case of apartheid, this is legalised injustice, which deprives a whole nation of the ability to prosper.”

Die mees onlangse uitbarsting oor transformasie het natuurlik van die minister van sport, Fikile Mbalula, gekom. Hy het besluit die regte van die vier grootse sportliggame, om te wedywer vir die aanbieding van internasionale sportgeleenthede, moet summier opgehef word. Die rede? Transformasieteikens is nie behaal nie. Die minister noem transformasie, moreel ‘die regte ding om te doen’, in ag genome die ongeregtighede van die verlede. Duidelik het die minister en sy regering nie die vaagste benul wat morele waardes behels nie.

Flip Buys het onlangs die term TransforNazi’s gebruik om die geagte minister te beskryf en die vraag kan tereg gevra word: Is ons op pad na ʼn Nazi-staat? Of nog erger, is ons reeds daar? Die analise en vergelyking wat James Myburgh in sy 2014-artikel Race quotas: The terrible power of ‘demographic representivity’ tussen Suid-Afrika en Nazi-Duitsland maak, is genoeg om koue rillings teen enige persoon se rug af te stuur en dit is definitief die moeite werd om te lees.

Die probleem is duidelik. Die vraag is nou, wat is die oplossing? As individue staan ons nie ʼn kans nie. Die mag waarteen ons te staan kom, is te groot. Die antwoord lê dus in gemeenskaplike pogings. Ons is saam sterker en deur aan te sluit by organisasies wat veg vir burgerregte, kan ons ʼn verskil maak. Dit is natuurlik ook kritiek dat ons geestelike leiers sterk en eenparige boodskappe begin uitstuur oor wat moreel aanvaarbaar is, sodat ons nie op transformasie-predikers, oftewel sportministers, hoef staat te maak om ons denke hieroor te rig nie. In kort, raak aktief betrokke en maak so ʼn verskil. Niemand gaan dit vir jou doen nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Basson ·

Goed gestel CvW!

Minderhede se bestaansreg is hulle ontneem. Ekonomiese, kulturele, akademiese en sosiale welvaart word ontneem van ons – die plan is baie duidelik, totale onderdrukking en vernietiging van dit wat nie swart (en ANC) is nie.

Ons is tydsgewys al omtrent deur ‘n hele generasie siklus mbt tot BEE, (so die wit ‘bevoordeling’ is nou al lankal omgedraai), maar nog steeds word minderhede net meer en meer onderdruk. Die sielkundige stryd word baie mooi gespeel.

Ek glo en vertrou jou oplossing is al wat gaan werk in die toekoms, maw betrokkenheid!

Cobus ·

BEE is ‘n kommunistiese beleid, punt. Hulle agenda was om ‘n blanke skuldgevoel te skep, besigheidsbelange van die blanke te VAT soos dit tans gaan (100% kommunisties). Hulle sal net soos met grond nie end kry tot hulle álles het nie. SA is ‘n proefkonyn vir wat in die res van die wêreld ook gaan volg as daar nie ‘n ingryping van die God van Abraham, Isak en Jakob kom nie…

Loeis ·

In kort bepaal rasse se tempo om voort te plan hul politieke posisie in die land.

Veronderstel die demografie verander skielik – veronderstel. Ek wonder of die ANC dan nog absolute verteenwoordiging sal voorstaan.

Tom ·

Mooi stil kniel, wag vir die einde. Het die reg teen hulle gebruik. Nou word dit teen ons gebruik. Wat sal die oplossing wees?

Piet ·

Ek was nog nooit ‘n voortstander van ‘n volkstaat nie maar was altyd oop daavoor. Ek dink dis dalk ons enigste uitweg. Die keuse is nou volkstaat of emigrasie.

François ·

Die ANC sal nooit ‘n volkstaat toelaat nie. Emigrasie is die enigste opsie.

Done ·

Francois, emmigrasie is beslis die maklikste opsie vir die wat dit kan doen. Maar die meerderheid witmense is te oud of het nie die kapitaal of kwalifikasies om te emmigreer nie, en ons moet aan hulle beslis ook dink.

Hendrik ·

Piet dit is baie belangrik dat die gebiede ekonomies moet ontwikkel. Werk moet geskep word deur klein besighede op te rig. Dit moet gebasseer word op goeie besigheidsbeginsels. Van daar af gebeur dinge natuurlik en een ding volg op die ander. Francois niemand praat van volkstate nie en hierdie is natuurlike ontwikkelingsgebiede. Dink wyt en moenie dat die ANC jou visie belemmer nie.

John ·

Ons mense moet die grondwet mooi bekyk, Artikel 9(2) en enige ander wat daarmee verband hou. Daar word gepraat van beskerming, ontwikkeling (van persone en kategoriee) wat deur onbillike diskriminasie benadeel is. Waar word gese private maatskappye moet topposte afstaan. Duidelik moet mense in ‘n maatskappy geleentheid kry om te ontwikkel en opleiding kry, maar waar staan dit dat iemand sommer instap en indruk en iemand anders uitgegooi of ingeperk word, sonder dat eersgenoemde eers die leer van ontwikkeling en bevordering geklim het. Baie maatskappy gooi sommer die baba saam met die badwater uit, uit angstigheid en/of om die regering te ‘please’.

Lance ·

Kyk maar na die werloosheidsyfer wat vandag bekend gemaak is …al die reels en wette …en minder mense het werk …waneer gaan die mense wakkerskrik en besef die arbeidswet is n groot afskrik middel vir mense wat wil investeer….die staat stel min mense permanent aan en werk van kontrak na kontrak ….want hy weet en besef hoe moeilik dit is om van iemand ontslae te raak wat nie sy werk doen nie

Johan 2 ·

Baie eenvoudig, kommuniste hou van arm, werkloos onopgevoede massas hul want hul “verslaaf” die maklikste…Die oplossing. ..vet weet. Ek oorleef deur die maatskappy klein te hou maar dit is nie vir almal volhoubaar nie.. .en Johan om jou te antwoord, het jy al vir werk by bv. eskom getender, 20% (?) van jou “punt” om die werk te kry is oor wat jou “bee” status is. So jy moet 20% laar tender as jy (wit) teen n swart ou tender.

Brett ·

Ja, maaar….

Die Nasionale Demokratiese Rewolusie se oogmerk om wit Suid Afrikaners se maatskaplike sekerheid te vernietig, en dit was vir 19 jaar die effek van ‘Transformasie’.
In die eerste sertifiseringsaak het die Grondwetlike Hof beslis dat doelbewus-verslegtende maatreels teenstrydig met die reg sou wes. Julle laat die debat oor aan progressiewes instede daarvan om die Grondwet te eien en hulle lei mooi die aandag en die debat af van presies wat die effek van ‘Transformasie’ op regte i.t.v Artikel 27 van die Grondwet.

Wil iemand ‘n foto he van ‘n wit gesin wat in Ontdekkersweg in Roodepoort in ‘n tent op die sypadjie woon? In hierdie weer? Daar is die effek van ‘Transformasie’, die ANC se kaping van ons onderwys en ‘n de facto quotastelsel in indiensneming.

Renate Barnard ·

Uitstekende artikel. Ons by Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke werk elke dag met die harde werklikheid van die regering se transformasie ideologie. Ons het te doen met mense wat ontnugterd en kwaad is omrede hul nie werk kry nie, nie welverdiende bevordering kry nie en deesdae ook toenemend nie meer toelating tot ‘n universiteit van hul keuse kry nie en dit alles in die naam van transformasie. Ek stem heelhartig met die skrywer saam – die enigste werkbare oplossing is om saam te staan en hierdie praktyke hand en tand te beveg. Saam is ons inderdaad sterker.

Done ·

Sou entrepreneurskap n moontlike oplossing wees? Of diskrimineer hierdie rassistiese wette ook teen regtig klein sakemense ook, insluitend die wat nie met die regering sake doen nie?

alida ·

Die 80% swart het somtyds nie eers matriek nie maar sy velkleur is sy paspoort hemel toe. Hulle moet vergeet van kleur en die BESTE kandidaat aanstel ongeag sy kleur. Wanneer gaan hulle dit besef. Hierdie stelsel WERK nie.

Loeis ·

Ons moet ook by leuens verby kom, Alida. Maroela Media het so paar maande terug oor Chris Hart berig wat ene Chiloane gese het:
“Te veel swart mense het die proei geword vir roofsugtige indiensnemingsgebruike, ongelykheid en diskriminasie binne die finansiele sektor. Chiloane het verder gese te veel swart mense word oor die hoof gesien vir bevorderingen dat ongekwalifiseerde wit mense ‘n kans gegun word”.

PRESIES die teenoorgestelde gebeur, maar die swart bevolking word konstand met propaganda soos daardie gebreinspoel.

Swart bevoordeling word deur die ANC, DA en EFF voorgestaan. So, wat gaan julle hierdie jaar stem mense? Ons gaan hulle nie in ‘n verkiesing verslaan nie, maar mens kkan vir ‘n party stem wat vir jou belange staan.

Andre ·

Ek is ‘n redelik goed gekwalifiseerde HSE profesioneel met baie goeie diens skrifte. As ek aansoek doen vir werk, word ek eerder weg gewys as ‘n “voorheen benadeelde”. BEE is al vir 25 in werking. Om skool klaar te maak en ‘n doktors graad te kry is ongeveer 25 jaar (Minder as jy dit actually ernstig op neem en nie betoog vir aller hande strond nie). Die antwoord is dus dat ek “Currently disadvantaged” is, of hoe?

Selfs meer so, dit is ‘n fantastiese artikel, maar hoe om dit by die regte ore te kry. Hoe om die artikel gelees te kry deur iemand wat iets daar omtrent kan doen…

FC ·

Hierdie persentasies is reeds verbygesteek in feitlik alle staatsdepartemente en munisipaliteite. Jy sien eenvoudig nie meer enige wit gesigte daar nie. Ek was nou onlanges by die Dept van Onderwys se kantore aan op Empangeni. Daar was sekere meer as 200 mense wat daar werk, nie ‘n enkele wit gesig nie.
As die regering die persentasies wil toepas moet hulle mos die voorbeeld wees. Kom ANC, sê vir ons hoeveel wit burgermeesters en munisipale bestuurders het julle by die munisipaliteite wat julle beheer?

Frans C ·

Die huidige grondwet is net so goed of sleg,afhangende hoe jy daarna kyk.Artikel 9 in engels gebruik die woorde ‘may be taken’. en artikel 9(5) lui. ‘Discrimination on one or more of the grounds listed ib sub-section (3) is unfair unless it is established that the discrimination is fair.

Die ANC MOET dus nie dinge doen nie maar MAG dinge doen as bewys kan word dat ‘diskriminasie’ geregverdig is.Die ANC is nou meer as 22 jaar aanbewind wat ongeveer die helfte is van die tydperk wat die NP effektief aanbewind was.

Die vraag wat nou gevra moet word of daar nog steeds gronde vir diskriminasie bestaan vir diegene wat nie stemgeregtig was in 1994 en die wat daarna gebore is.Of is dit ‘n geval van dat die ANC in Bybelse terme die ‘sondes’ van die ‘vaders’ tot in die derde en vierde geslag gaan straf.

As dit die geval is is immigrasie dalk die antwoord maar dan moet jy ook besef dat jy daarmee die doodsertifikaat van die Afrikaner onderteken want ‘n krimpende blanke bevolking sal alhoemeer minder in tel wees onder ‘n swart regering en sal op die ou einde onder die oormag verdwyn omdat alhoemeer huwelike oor die kleurgrens die norm sal word, met ‘n kleiner getal bittereindes omdat die grondwet nie voorsiening vir volke met ‘n eie grondgebied wat histories hul eiendom is maak.

Done ·

Het iemand al n wetenskaplike studie gedoen wat die korrelasie tussen performance en die mate van “equity” aandui? Is daar enige verband tussen hoe meer van een ras n organisasie is en hoe goed of swak hulle presteer? Volgende wat informeel waarneem wat mense se is daar wel n baie groot korrelasie, ek wonder net of iemand dit al wetenskaplik bewys het met harde stats.

John ·

Ons hou aan redeneer asof die regering nie bewus is van wat hulle doen nie of dalk nie die grondwet mooi verstaan nie. Dit is die witmense wat nie die grondwet mooi lees en daarop staan dat dit reg toegepas word nie. Hierdie is ‘n brutale magsoorname wat telkens met ‘n gebalde vuis in die lug beaam word. Die mag is deur De Klerk & kie oorgegee aan ‘n groep wat alles wil he in die land. Wat ons nou sien is 2 wit broers met ‘n 3-minuut-spreekbeurt in die parlement en ‘n massa ander met ‘n paar leiers wat ook no 1 wil word maar hulle gebruik net verskillende roetes om by die goudpot uit te kom. Geen leier vir die Afrikaners is nou beter as ‘n slegte een. Kaboem-ooms gaan fataal wees. Ons het ‘n strateeg nodig soos nog nooit te vore nie.

Ander Piet ·

Die oplossing is om die transformasiebeleid aan te val met ñ hernude transformasiebeleid. Transformeer weg van getalle oorheersing deur dom mense. Transformeer weg van tradisionele ubuntu kulture. Basseer demokrasie op gelyke demografiese verteenwoordiging teenoor algehele getalle oorheersing. Transformeer weg van nepotistiese aanstellings en korrupsie.

Oupa Hen ·

Die 80-9-9-2 sien ek eerde as die pesentasies van die grysstof wat nie gebruik word nie.

Cobus ·

Baie interesante stellings en menings. Dink julle om te praat bring oplossings? Doen dinge binne die wet met die sterk breinkrag wat bestaan en skep ‘n nuwe toekoms. Ons gaan absoluut nêrens kom soos dit nou aangaan nie. Sit julle krag en energie agter Afriforum & Solidariteit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.