Só moet grondwetlike SA-talewet lyk

Die regering is klaarblyklik vasbeslote om voort te gaan met sy huidige optrede ten opsigte van die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale wat, vir alle praktiese doeleindes, Afrikaans as ‘n amptelike taal sal uitskakel. Die Wetsontwerp, in sy huidige formaat, vereis van die regering om drie amptelike tale te gebruik, waarvan twee inheemse swart tale moet wees en die ander een van die “voorheen bevoordeelde tale”, Engels of Afrikaans. Omdat Engels die algemeen aanvaarde gebruiktaal is, sal Afrikaans onvermydelik in onbruik verval, soos die outeure van die wetsontwerp wel bewus is en duidelik beoog.

Lid van die Parlement en Portefeuljekomitee oor Kuns en Kultuur voorsitter, Thandile Sunduza

Protestering deur regeringsamptenare dat hulle geen bedoeling het om Afrikaans “dood te maak nie” klink eenvoudig nie opreg nie. Die outeure van die wetsontwerp weet presies waarmee hulle besig is en dit is moeilik om tot die slotsom te kom dat hulle optrede nie tot ‘n mate deur kwade bedoelings gemotiveer is nie. Die Komitee Voorsitter, Thandile Sunduza, het saamgestem dat indien ‘n taal vernietig word, die volk wat dit praat, ook vernietig sal word. Sy het ook voortgegaan om die totaal ongegronde aantyging te maak dat “dit is wat apartheid gedoen het. Dit het begin deur ons mense se name te vernietig en om hulle Westerse name te gee. Dit is hoe ‘n mens ‘n nasie vernietig.”

Dit is nie net Afrikaans wat onregverdig behandel sal word nie, maar ook sewe van die nege inheemse swart tale wat klaarblyklik ook nie vir amptelike doeleindes gebruik sal word nie.

Die Grondwet is duidelik oor die kriteria wat gevolg moet word wanneer besluite geneem word oor welke amptelike tale gebruik behoort te word op nasionale en provinsiale vlakke. Artikel 6(3) bepaal dat

  1. Die nasionale regering en provinsiale regerings mag enige besondere tale vir regeringdoeleindes gebruik;
  2. Hulle moet gebruike, praktiese oorwegings, koste en streeksomstandighede in aanmerking neem; en
  3. Hulle moet die balans van behoeftes en voorkeure in aanmerking neem
    > van die bevolking as geheel; en/of
    > die betrokke provinsie.
  4. Die nasionale regering en elke provinsiale regering moet ten minste twee amptelike tale gebruik.

Daarbenewens is daar ‘n oorkoepelende vereiste in terme van Artikel 6(4) dat alle amptelike tale gelyke aansien moet geniet en gelyk behandel moet word. Die huidige weergawe van die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale voldoen duidelik nie aan hierdie vereistes nie, in die wyse waarop dit handel met Afrikaans en die sewe swart inheemse tale wat nie amptelike status sal geniet nie.

Daar is geen twyfel nie dat in terme van gebruik, praktiese oorwegings, koste, streeksomstandighede, en die balans tussen die behoeftes en voorkeure van die bevolkings in die Wes-Kaap, die Noord-Kaap en Gauteng, Afrikaans een van die amptelike tale in daardie provinsies vir beide provinsiale en nasionale departemente behoort te wees. Insgelyks, sal dit geen sin maak vir nasionale departemente in die Noord-Wes Provinsie om Engels, Zulu en Sepedi te gebruik in ‘n streek wat Setswana praat nie.

Dit was om hierdie rede dat die Stigting in sy voorlegging aan die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Kuns en Kultuur die volgende benadering voorgestel het:

A. Elke regeringsdepartement behoort, op nasionale vlak, twee amptelike tale vir regeringsdoeleindes op die volgende basis te aanvaar

  1. Een van die nasionale tale sal Engels wees
  2. Een derde van nasionale regeringsdepartemente sal hul tweede amptelike taal kies uit die isiXhosa, isiZulu, isiNdebele en siSwati taalgroep
  3. Een derde van nasionale departemente sal hul tweede taal kies uit die Sapedi, Sesotho, Setswana taalgroep;
  4. Een derde van nasionale regeringsdepartemente sal hul tweede amptelike taal kies uit die Afrikaans, Tshivenda, Xitsonga taalgroep;
  5. Elke staatsdepartement sal aansporings aan sy amptenare bied om bykomende amptelike tale aan te leer.
  6. Aanstelling tot, en bevordering in nasionale departemente sal bevoegdheid in beide die departement se amptelike tale vereis.

B. Elke nasionale regeringsdepartement behoort, by sy kantore op provinsiale vlak, twee amptelike tale vir regeringsdoeleindes op die volgende basis aan te neem

  1. Een van die provinsiale tale sal Engels wees;
  2. Die tweede amptelike taal sal die taal wees wat die wydste in die betrokke provinsie gepraat word;
  3. Elke departement sal aansporings aan sy amptenare bied om bykomende amptelike tale aan te leer en te gebruik;
  4. Aanstelling en bevordering in die provinsiale departemente van nasionale departemente sal bevoegdheid in die amptelike provinsiale taal, of as daar twee sulke amptelike tale is, in twee van die tale vereis.

C. Elke provinsiale departement behoort ten minste twee amptelike tale aan te neem vir regeringsdoeleindes op die volgende basis

  1. Een van die provinsiale tale sal Engels wees;
  2. Die tweede amptelike taal sal die taal wees wat die wydste gebruik word in die betrokke provinsie;
  3. Elke provinsiale departement sal aansporings bied aan sy amptenare om bykomende amptelike tale aan te leer en te gebruik;
  4. Aanstelling en bevordering in die provinsiale staatsdiens sal bevoegdheid in die amptelike taal van die provinsie, of as daar meer as een amptelike taal is, in twee van die tale vereis.

D. Elke munisipaliteit behoort ‘n taalbeleid te aanvaar wat op die taalgebruik en voorkeure van die inwoners gegrond is.

  1. Een van die munisipale amptelike tale sal Engels wees
  2. Die tweede, of bykomende amptelike munisipale taal(e) sal die taal(e) wees wat die wydste gebruik word in die betrokke munisipaliteit;
  3. Elke munisipaliteit sal aansporings aan sy amptenare bied om bykomende amptelike tale aan te leer en te gebruik;
  4. Aanstelling en bevordering in die munisipaliteit se diens sal bevoegdheid in die provinsie se amptelike tale, of as daar meer as een taal is, in twee van die tale verg.

Die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale in sy huidige formaat, voldoen nie naastenby aan die duidelike vereistes van artikel 6 van die Grondwet nie. Nog erger, daar is ‘n sweempie van rassistiese seëviering in die wyse waarop die wetsontwerp opgestel is en deur die Parlement geloods word. Daar is ook ‘n gevaarlike persepsie dat die meerderheid in die Parlement glo dat hulle kan maak soos hulle goeddink deur hul wil af te dwing tot nadeel van kulturele- en taalminderhede. Dit is nie alleen ongrondwetlik nie, maar uiters verdelend en gevaarlik in ons multi-kulturele gemeenskap.

Die ANC moet dringend sy posisie hersien en in goeder trou met verteenwoordigers van al ons taalgroepe beraadslaag om ‘n wetsontwerp te skep wat aan die vereistes van die Grondwet en nasionale eenheid voldoen.

*Verklaring uitgereik deur die FW de Klerk Stigting op 5 Maart 2012.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dave Steward

Dave Steward is Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting en voormalige ambassadeur van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemsbok ·

Selfs in hierdie voorstel is daar geen vooruitsig dat Afrikaans op nasionale departementele vlak gebruik sal word nie.

Dit is egter ‘n funksie van die demografie en Afrikaans sal hom moet bepaal by die Wes- en Noord-Kaap vir oorlewing.

Ek kan egter geen rede sien waarom dit verpligtend moet wees om Engels orals as verpligte taal te plaas nie. Dit werk in elk geval slegs sentralisasie en magsmisbruik in die hand.

Theo Prinse ·

“In ons multi-kulturele gemeenskap.”
Dit is beter in die internasionale Westerse konteks te speken van multi etniese groepe.
By “multi-kulturele gemeenskap.” lig die klem op gemeenskap.
Die gemeenskap is altyd een in die sin van ‘n regs moraal.
Dus “in ons” en “multi-kulturele” en “gemeenskap.” is daar verskeie teenstellings.
Hoe kan “ons” in funksie van ‘n (1) regs moraal en een (1) regs kultuur … > Multi <(regs) kultuur wees?

Dus dat daar naas die Westerse sekulêre regs kultuur 'n thocratische Islamitiese shariah regs kultuur en 'n kommunistiese eiendomsvolk regs kultuur is?

Los van die noodzakelikke Constitutionele stryd vir die mooi Afrikaans (en haar kultuur) in die politieke bestuurslagen en van die regering na die burger het die Europese politiek (Sarkozy, Merkel, Cameron, Rutte, Wilders, ens) die begrip "multiculturalisme" reeds as 'n links-intellektuele fiksie, 'n links anti-autoriteits en anti-regering politiek konsep herken … as links antwoord op die gevolge van die oop grense in Europa.

Vir Suidelike Afrika geld dat dit die beste opgevat kan word as 'n Afrikaans Europa en dat die stelsel van thuislanden tot 1994 opgevolg moet word deur 'n confederaal stelsel en dalk later onafhanklike state.
Die debat oor die Konfederasie van Suidelike Afrika sluit die debat oor die Afrikaans in.

Die blanke gemeenskap van 8% op 50 miljoen betaal 80% van die belasting dus is daar geld genoeg om met private onderwys het Afrikaans en wat historiese politiek en historiese kultuur te onderrig. Dit kan byvoorbeeld in toenemende mate goedkoop via die internet.
Die stryd vir die Afrikaans en die stryd om die Afrikaner kultuur is 'n winbare stryd. Uiteindelik gee die ekonomiese verhoudinge waar die Afrikaans deur haar sprekers sterk staan ​​die doorslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.