So neem jy eienaarskap van jou geskiedenis en jou toekoms

Dr. Danie Langner, Danie Goosen en Jacques Muller by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se onthulling van ʼn brons borsbeeld van dr. NJ van der Merwe, eerste hoof en medestigter van die FAK (8 Februarie 2019). Foto: Johann van Staden

Op 16 Desember 1913 word die groepbeeld by die Vrouemonument onthul. Die monument is, soos baie monumente van daardie tyd, opgerig met klein bydraes uit die volk. ʼn Verarmde volk met die vernietiging van die oorlog nog vars in hul gedagtes. Daar kan maklik gevra word waarom hulle bereid was om die bietjie wat hulle het, op te offer om ʼn monument op te rig wat as ʼn ewige herinnering sal dien van ʼn tyd wat hulle dalk eerder sou wou vergeet. En dit boonop onder ʼn vyandige regering.

Die FAK het onlangs ʼn projek van stapel gestuur wat ten doel het om drie nuwe beelde te laat maak wat deur Afrikaners self gefinansier word. Die beelde wat beplan word, is Die Penkop, wat moontlik by Doornkloof in die Vrystaat opgerig gaan word; Sorg, wat ’n kampsuster in ’n konsentrasiekamp uitbeeld en wat 13 Oktober in die Irene-kamp onthul word; en die NJ van der Merwe-beeld wat Vrydag by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul is. Van der Merwe was die eerste hoofleier van die Voortrekkers.

Vandag is daar seker ook diegene wat vra waarom ons monumente en beelde oprig in onseker omstandighede soos hierdie. Hoekom belê in erfenisstukke terwyl soveel Afrikaners apaties raak en sommige oorsee gaan? Hoekom bou onder ʼn regering wat met hul optrede wys dat hulle nie die Afrikaner goedgesind is nie.

Ná afloop van die Anglo-Boereoorlog was Afrikaners se moraal op ʼn laagtepunt. Dit was nie maklik om terug te keer na afgebrande plase met die karkasse van vee wat op groot skaal deur Britse troepe doodgeskiet is nie. Baie het weggestap van trane in die aarde wat ʼn klein kissie bedek. Sommige met berge skuld. Daar was vrouens wat uit die hekke van die konsentrasiekamp gestap het met letsels wat hulle tot hul dood sou saamdra. Daar was mans wat dae gelede nog moes toekyk hoe boesemvriende voor hulle gewond word en eers dae later aan hul wonde beswyk. Tien jaar later het genesing nog nie gekom nie, maar die wonde was bietjie dieper weggebêre. Soos grond wat jaar ná jaar ʼn dikker laag vorm en die verborge seer ʼn bietjie dieper wegsteek. Toe sommige dus begin praat van monumente oprig, was daar sekerlik diegene wat nie wou onthou nie en die wat wou weet of dit enigsins van waarde sou wees.

Soos meer as ʼn 100 jaar gelede kan die antwoord vandag steeds geld: Want ons moet onthou. Deur te onthou weet ons wie ons is en waar ons vandaan kom. Monumente anker ons dieper aan die plek, dieper aan die kontinent – en kan diegene wat dalk in die raadsale regeer, maar aanhou sê (tot hulle blou word in die gesig) ons hoort nie hier nie.

Ons weet van beter. Ons wortels bewys hulle verkeerd. En deur eienaarskap te neem van ons verlede, wys ons dat ons toekoms ook hier lê.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Peet Schabort ·

Het ons iewers ‘n betroubare museum waarin die regering nie ‘n sê het en wat ook nie in privaat besit is? Ek en nog andere het items wat bewaringswaardig is. Wanneer gevra word wat gaan daarvan word wanneer die dood intree dan is die antwoord ‘Ek weet nie’. Ja, daar is die Erfenisstigting maar ek sou graag goed uitgestal wil sien en nie net bewaar. Iewers iemand met ‘n finansiële plan om hierdie eiendom in die hande van ons toekoms te plaas?

John ·

… nie ‘n sè het nie… Wat het van ‘eie sake’ geword waaroor DeKM Edms Bpk so gekwyl het? Of het ons die gedagte self by die agterdeur uitgevee saam met ons nasietrots? Dit wil so lyk want die VF het nou sy + gevind by mense wat nie hulself wil wees nie. Ons sal deur hierdie nuwe aanhangsels gedwing word om ons trotse geskiedenis af te sweer vir welsyn en abba. Die P-kuifies het AfriForum binnegesypel om die appel van binne leeg te vreet. Ons het Afrikanerleiers met integriteit nodig want soos by die ANC val die deurslotte uiteindelik af en die geraamtes klim uit. Diè has been’s het ‘n vieslike manier om ‘n paartie te bederf.

Stephan de S ·

Dankie vir hd artikel. n Mens sonder n historiese bewussyn en perspektief is soos n persoon wat aansoek doen vir n hoëvlak pos sonder enige werkservaring met die houding : maar ondervinding is mos outyds/ nie nodig nie.

Charles ·

Baie dankie James- al wat ek kan se van jou artikel is dat dit ‘n grootse inspirasie is, en jou opnuut hoop gee vir die toekoms!

JAN ·

Peet,
Orania het en is omtrent ‘n museum.

Baie dankie James – die omvang van die ABO offerandes is onbeskryflik erg.
Ironies genoeg – as dit nie vir die ANC was nie sou die geheime {Wit !!! } argiewe van die grootste misdaad , nooit bekend geword het nie.
Maar oppas dat alles nie op een plek versteek word nie.

Ernst Marais ·

Ek kry gister ‘n oproep oor die geskiedenis projek.
Die vooropgestelde resitasie klink op ‘n haar na soos die beller van Sakeliga wat in my geval suksesvol was.
Dit vul ‘n leemte gelaat deur die AHI

Alles verdienstelike sake maar elkeen betaalbaar deur ‘n debietorder, administrasie van nog ‘n organisasie

Vraag aan Afriforum:
Wat van net een debietorder wat volgens die instruksie van die lid onder Afriforum, Sakeliga, Helpende Hand, Orania Beweging, geskiedenis skrywing ensovoorts toegedeel word?
Dit sal baie aan bankkostes spaar wat groter bydraes kan motiveer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.