Só stroop ons Moeder Aarde leeg

a-mm-een

Twee apies van die 80 spesies wat uit Peru na Mexiko gesmokkel is. Foto: Verskaf.

In Afrika word alles wat leef en beweeg, gevang en opgeëet. In Brasilië word dit gestroop en gesmokkel. In die tempo wat die mens besig is om die planeet Aarde te verwoes – die dierelewe het in 40 jaar met 58% gekrimp – het ons 1,6 Aardes nodig om veel langer te oorleef.

In die WWF se jongste verslag meld hy dat die voël-, soogdier- en reptielbevolkings in ʼn ontstellende tempo vernietig word.

Die seelewe loop ook deur onder die mens se hongeraanslag. Daar is reeds versmorende eilande van plastiek in die oseaan. Die Chinese blaas koraalriwwe op vir ekstra grondgebied in die vorm van eilande, wat hulle in staat stel om hul gebiedswaters uit te brei. En nou praat ons nie eens van wêreldwye droogtes en aardverwarming nie.

Die meeste van Australië se dierelewe is endemies: 87% van ons soogdiere, 93% van ons reptiele, 94% paddas en 45% van alle voëlspesies word net daar aangetref. Maar die land beleef ook die wêreld se grootste uitwissing, want 30% van sy inheemse soogdiere het die afgelope 300 jaar uitgesterf.

Die primêre oorsake is jakkalse en wildekatte, wat na berekening 75 miljoen diere per nag doodmaak. Ander wilde herbivore soos varke, bokke, hase, donkies, perde, kamele, buffels en wildebeeste deel in die vernietiging.

Brasilië se swartmark

Brasilië het die grootste verskeidenheid diere ter wêreld, waarvan minstens 627 bedreigde spesies is.

Wat bedreigde voëlspesies betref, is dié land boaan die lys met 165, teenoor Suid-Afrika se 46, Australië se 50 en Namibië se 28. Voëllewe is belangrik vir die verspreiding van saad en die beheer van talle insekte.

In Brasilië se geval speel die fragmentasie van die woudhabitat ʼn groot rol, maar die grootste skade word deur stropers aangerig onder die gesogte sang- en ander inheemse voëls. Dis ook nie net voëls nie: 38 miljoen wilde diere word jaarliks uit hul habitat gesteel en verkoop. Hulle haal tot $3 000 in Europa, en likkewane word teen $10 000 verkoop. Tot 90% van die diere vrek in transito, maar dit keer nie die stropers nie.

Die land se swartmarkhandel in dierelewe word op $2 miljard per jaar geskat en 40% van die sindikate is ook betrokke by dwelmhandel en ander strafregtelike dade.

a-mm-twee

Een van 11 otters wat in onafgehaalde bagasie op ‘n lughawe in Bangkok gevind is. Foto: Verskaf.

Afrika se bosvleis

In Afrika is een van die ontstellendste verskynsels die handel in bosvleis op die markte: kolobusape, rietrotte, vlermuise, duikers, dik-dikke, bobbejane, voëls en ystervarke. Talle ongerepte woude het geen noemenswaardige dierelewe wat nog nie gevang en opgeëet is nie.

Die volle omvang van die bedryf is pas deur internasionale vakkundiges bestudeer en hulle het bevind dat die jag op bosvleis daartoe lei dat 301 landsoogdiere deur uitwissing bedreig word. Byna al die spesies is in ontwikkelende lande wat bedreig word deur landbou-uitbreiding en menslike indringing.

Die grootste krisis is in Afrika, Asië en Suid-Amerika en die redes vir die handel is veelvoudig: kultureel, ekonomies, godsdienstig, medisinaal en die bevolkingsontploffings.

“Biodiversiteit vorm die grondslag van gesonde woude, riviere en oseane. Neem jy hierdie spesies weg, sal die ekostelsels en daarmee saam skoon lug, water en die klimaat in duie stort,” lui die WWF se verslag. Die welstand van meer as 3 700 spesies is in die verslag bepaal en die WWF doen ʼn beroep op mense om die natuurlike omgewing te waardeer en bewus te word van klimaatsverandering en die rol wat hulle daarin speel.

Grootwild word meedoënloos gestroop

Ook grootwild word uitgewis. Elephants Without Borders skat Afrika se huidige olifantbevolking op 60 000 nadat ongeveer 230 000 tussen 2009 en 2015 gestroop is – ʼn gemiddeld van 50 000 oftewel 400 ton ivoor per jaar.

Dit is ook nie net olifante  en renosters wat in die onstabiele Oos-Afrika onder gewapende plunderaars deurloop nie. Dieselfde lot tref groot getalle buffels, kameelperde en sebras wat voedselbronne word.

Tanzanië se olifantbevolking het van meer as 100 00 in 1979 tot net 13 000 gedaal. Van Kenia se 167 000 olifante is 28 000 oor en in Mosambiek is 20 000 grootvoete en al die land se renosters in net vier jaar doodgemaak.

a-mm-drie

Een van drie oerangoetangbabas wat uit ‘n woud in Indonesië gesteel en op ‘n lughawe onderskep is. Foto: Verskaf.

Oseane in krisis

Ons oseane verkeer ook in ʼn mensgemaakte krisis. Oor dekades is sleutelspesies so te sê uitgewis en besmet met koolstofdioksied, toksiese chemikalieë, afval en plastiek.

Die oseane bevat triljoene stukkies plastiek – afgebreek van plastiekbottels en visvangtoerusting wat weggegooi is. Die grootste versameling plastiek – Die Groot Stille Oseaan Afvalhoop – bedek ʼn gebied twee keer groter as Texas. Dis ʼn bose kringloop: Die meestal klein stukkies plastiek bevat talle giftige chemikalieë en word deur visse en voëls geëet wat dit vir plankton aansien. Uiteindelik beland dit ook in die menslike dieet.

Die planeet Aarde het sy versadigingspunt bereik.

Kan die plastiek verwyder word? Nee – daar word bereken dat 68 skepe ʼn jaar lank tienuur-skofte sal moet werk om net een persent van die plastiek in die Noordelike Stille Oseaan op te ruim! Kommersiële vissers het die afgelope eeu die meeste spesies met tussen 75% en 99% vernietig.

Die WWF voorspel in sy jongste Lewende Planeet-indeks dat soogdiere, voëls, reptiele en ander werweldiere teen 2020 met tweederdes verminder sal wees. Die Aarde het sy versadigingspunt bereik.

“Die teorie is dat ʼn meteoriet die dinosourusse uitgewis het. Die huidige vernietiging is die skuld van homo sapiens (wat ironies genoeg ‘wyse man’ beteken.”

Allerlei internasionale maatreëls word ingespan om te keer dat die mens die planeet Aarde vernietig, maar dit verg min insig om te besef dat die proses onomkeerbaar is teen die oormag van vernietiging.

En die kolonisering van Mars is geen oplossing nie: Die mens sal nie op hierdie radioaktiewe planeet kan oorleef nie, tensy hy diep ondergronds leef en op ʼn innoverende manier kos kweek. En onthou: die man wat in die fliek The Martian met gekweekte aartappels oorleef het, is net fiksie . . .

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Valie ·

Ontstellend, die mens is sy eie beste vyand. Elon Musk sal sorg vir oorlewing van die mens deur 1 miljoen van hulle Mars toe te stuur. Wonderof daar dierelewe is…??

Wicus ·

Die mens het te veel en te slim geword. Ek huil saam met die natuur en ek doen mee, elke keer as ek my kar aansluit, elke keer as ek ‘n lig aanskakel, elke keer ………..

Jan ·

Gee dit vir die SA boere, hulle sal dit red deur kommersieel daarmee te boer.

Wim ·

Jan stem heeltemal met jou saam. As ek korrek is, kan dalk al verander het, is jag heeltemal in Kenia en Tanzanie gestop hoe is dit dan moontlik dat hulle Olifante se getalle so gedaal het? SA het ons wildgetalle waarmee geboer word net vermeerder, maar probeer dit in die groenes se koppe kry.

Denise ·

Te veel mense en die diere se spasie word oor geneem deur die mense dit is hartseer en dan word hulle nog geeet ook so krimp die diereryk en die mense raak net TE veel!!!!!

Theuns ·

Org ek stem 100% met jou saam en huil saam met almal hierbo! Die mens se oordadigheid en bevolkings aanwas is besig om alles te vernietig. Kommersiele boere spuit hulle lande en in die proses word duisende van die moeiste voels word gedood! Daar is nog ander goed ook maar ek het nie genoeg MM spasie om te se wat ek dink is nodig om gese te word nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.