Só suig ons land se jeug aan die agterspeen

Deur Paul Maritz 

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. (Argieffoto)

“Die jeug is die toekoms” – so lui die ou bekende slagspreuk. Die volgende generasie moet ondersteun en bemagtig word, want aan hulle behoort die toekoms. Die jeug is inderdaad die toekoms en moet soveel moontlik ondersteuning ontvang. Dít kan nie betwis word nie. Tog word dit al hoe duideliker dat die jeug in Suid-Afrika toenemend op hulself aangewese is. Van ondersteuning is daar maar min sprake; trouens, dit sou te verstane wees as jong landsburgers die staat en al sy vele organe as aktief vyandig beskou.

Solidariteit Jeug het onlangs sy derde herdenking gevier, en hierdie artikel is ʼn opsomming van die uitdagings waarmee Suid-Afrikaanse jongmense elke dag gekonfronteer word. Dit is ons wens om lig op hierdie onderwerpe te skyn, en toenemend aan maghebbers te vra: Waarmee op aarde is julle besig? Soos Dawid teenoor Goliat gestaan het, so staan die jeug van ons land met vyandige reuse na alle kante toe. Hier is ʼn paar van daardie reuse:

Departement van basiese onderwys en leerders

Die groot skandaal van die week is die bykans R431 miljoen wat op onreëlmatige wyse deur die Gautengse departement van basiese onderwys bestee is aan onnodige “diepgaande reiniging” van skole in 2020.

In komende weke sal die waarheid uitkom oor wie die ontvangers van hierdie ruim kontrakte was, maar dit is nie die eerste skandaal waarby hierdie departement betrokke is nie. Op 30 Oktober 2019 is bekendgemaak dat die einste departement onreëlmatige uitgawes van meer as R1 miljard gehad het, en in April 2020 het dit aan die lig gekom dat ʼn R30 miljoen-tender vir IT-dienste binne 24 uur aan ʼn maatskappy toegeken is wat die Moroka Swallows-sokkerspan borg, ʼn span waarvan die eienaars insluit ene mnr. Panyaza Hendrik Lesufi. Dat geld wat ons toekoms moes bou so vermors word, is meer as ʼn skande.

NSFAS en studente

Die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) help jaarliks derduisende studente, met meer as 604 000 studente wat in 2018 hulp ontvang het. Ondanks die noodsaaklike rol wat hierdie instelling speel, kom dit nie voor asof kommunikasie met studente sy eerste prioriteit is nie.

Sedert November 2020 gaan daar nie ʼn dag verby dat Solidariteit Jeug nie deur minstens twee nuwe ouers genader word nie, ouers wat nie meer weet watter kant toe nie. Sonder waarskuwing is meer as 5 200 studente se NSFAS-finansiering aan die einde van 2020 onttrek, wat natuurlik daartoe gelei het dat heelparty van hierdie studente tans nie toegang tot hul betrokke universiteit se aanlyn portale kry nie, aangesien hul uitstaande skuld te hoog is. Die kliëntediensnommer wat NSFAS op sy webblad bemark, hou net aan lui en die e-posadres [email protected] reageer met ʼn kennisgewing dat jou e-pos nie ontvang kon word nie omdat die posbus vol is. So min dink hierdie uiters belangrike instelling van ons jeug dat geen klagtes hulle kan bereik nie.

Saro en jong onderwysers

In Suid-Afrika, soos in die meeste ontwikkelde lande, moet afgestudeerde studente dikwels registreer by ʼn professionele liggaam voordat hulle in hul spesifieke sektor mag werk. In die geval van onderwysstudente is die liggaam waar hulle moet registreer die Onderwysraad (Saro). Indien studente nie geregistreer is nie, kan hulle nie aangestel word as onderwysers nie. Dit gebeur jaarliks dat jongmense Solidariteit Jeug nader nadat hulle ʼn tweede of selfs derde keer al hul dokumente gestuur en betaal het, asook allerlei navrae gerig het, sonder enige bevredigende antwoorde. Terwyl die land met ʼn tekort aan onderwysers sit, is daar aspirantonderwysers wat ʼn volle jaar lank iets anders moet doen, aangesien hulle nie mag skool gee nie.

Departement van hoër onderwys en werkloosheid

Suid-Afrika het ʼn vaardigheidstekort, dit kan enigiemand agterkom wat te hore kom hoe vinnig Sol-Tech se studente aangestel word, en hoe hoog in aanvraag hulle is. Tog, ten spyte daarvan dat ons land ʼn tekort aan ambagslui het, word daar jaarliks groot groepe graduandi deur universiteite gelewer wie se grade hulle nie in staat stel om werk te kry nie.

Dit is duidelik dat daar nie ʼn gesprek tussen kundiges oor die werksmag en toelatingskantore is nie, want universiteite hou aan om graduandi te lewer wat nie seker is van ʼn aanstelling nie, en heel moontlik deur die een of ander staatsdepartement aangestel moet word.

As navorsing toon dat vakmanne en ambagslui nodig is, dan is dit tyd dat die patetiese bestuur van TVET-opleidingsentrums aangeraak word, en dat onderrig ooreenstem met beroepe waaraan daar ʼn behoefte is.

Departement van gesondheid en plasings

Sekerlik die grootste jaarlikse kopseer wat ons by Solidariteit Jeug ervaar, is die plasing van jong dokters, verpleegsters, tandartse en heelwat ander aspirantmedici. Jaarliks word daar aan finalejaarstudente belowe dat hul plasing teen Oktober op die ICSP-stelsel sigbaar sal wees. Dít is die aanlyn stelsel waar plasings bekend gemaak word. Sonder uitsondering is Solidariteit Jeug sedert 2018 van November tot Februarie besig om e-posse aan hooggeplaastes te stuur, nommers te skakel wat net aanhou lui, en moedelose ouers en studente te bemoedig.

In Suid-Afrika is daar minder as die helfte soveel dokters per landsburger as die wêreldgemiddeld, en tog sit daar jaarliks heelparty afgestudeerdes by die huis omdat plasing nie vir hulle verseker kon word nie. In 2020 was die rede vir die dilemma dat daar nie finansiering was om al die finalejaardokters te plaas nie. Let wel, finalejaarstudentgetalle wat die regering sedert 2014 gehad het. In vorige jare is kommunikasie tussen die nasionale strukture en provinsiale strukture so swak uitgevoer dat jong medici dikwels in Januarie twee of drie keer moes trek, namate hul plasing onverwags verander is of bestaande poste skielik teruggeneem is.

Soveel as wat ons by Solidariteit Jeug doen om jongmense te help (soms met ʼn kwaai brief aan ʼn amptenaar, soms deur amptenare op sosiale media te pla), is dit duidelik dat die huidige benadering tot jeug onvolhoubaar is.

Die tyd het gekom vir hooggeplaaste amptenare om aanspreeklik gehou te word vir die gemors wat daar tans van jeugontwikkeling gemaak word. Internasionale verslae wys dat ons onderrig nie op standaard is nie, dat ons jongmense in rekordgetalle werkloos is, en dat spesialiste so gou moontlik padgee. So kan dit nie aangaan nie.

  •  Paul Maritz is die bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack

Die groot vraag is: Waarom is die dienslewering van die ANC beheerde regering ten opsigte van onderwys vir die jeug so swak? Is dit onbevoegdheid en/of ongeêrgdheid en/of moedswilligheid ? Is dit ewe swak vir alle bevolkingsgroepe? Is dit as gevolg van diskriminasie? Hoe kan ‘n mens tot enige gevolgtrekking kom en dit verwoord sonder dat jy in rassisme of kru taal verval?

Susan

Jack, ek dink die grootste oorsaak van al ons ellende is maar onbevoegdheid. En hier is die groot sondebok kaderontplooiing en ‘n transformasiebeleid waar daar blote vevanging van kundigheid met onkundige kaders en partylojaliste plaasgevind het.