Só vorder Gerrie Nel met privaat vervolgings

Kallie Kriel, Monique van Oosterhout, Gerrie Nel en Monique Taute.

Advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het onlangs aangekondig dat hy met ʼn proses begin het om George Bizos se seun, Alexis, privaat te vervolg. Dit volg nadat Alexis Bizos sy vrou aangerand en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het hom om te vervolg. Volgens AfriForum is Bizos Jnr. nie vervolg nie weens sy pa se politieke verbintenisse.

Na adv. Nel se aankondiging in hierdie verband, het ʼn aantal lesers van Maroela Media gevra wat van die vorige privaatvervolgingsake wat AfriForum aangekondig het, geword het. Ek gee daarom graag terugvoer.

In drie van die sake wat adv. Nel aangepak het, is daar nou goed gevorder tot op die punt dat die nasionale direkteur van openbare vervolgings, Shaun Abrahams, binnekort moet besluit of die nasionale vervolgingsgesag (NVG) vir Duduzane Zuma op ’n klag van strafbare manslag gaan vervolg, of voormalige president Jacob Zuma uiteindelik in die beskuldigdebank gaan staan op aanklagte van korrupsie en of die voormalige waarnemende direkteur van die NVG, “adv.” Nomgcobo Jiba, op aanklagte van bedrog, meineed en regsverydeling tereg sal staan. Abrahams gaan waarskynlik nie meer lank sy pos beklee nie. Sou dit gebeur, sal sy opvolger gekonfronteer word met dieselfde besluite wat geneem moet word.

In die saak van strafbare manslag teen Zuma se seun, Duduzane, het die NVG in 2015 in die geheim besluit om Zuma jr. nie te vervolg nie. Dié saak hou verband met ’n motorongeluk in 2014 waar Zuma jr. se nalatigheid tot ’n motorongeluk gelei het waarin ’n jong vrou, Mekelina Dube, oorlede is. Toe die NVG se besluit om nie te vervolg nie, bekend geword het, het Gerrie Nel ’n proses begin om Zuma jr. privaat te vervolg. Hierdie stap het direk daartoe gelei dat Shaun Abrahams aan die einde van Januarie vanjaar besluit het om die NVG se besluit, om nie te vervolg nie, in heroorweging te bring. Sou Abrahams, of wie hom ook al opvolg indien hy afgedank word, nou besluit om te vervolg, is dit ’n wen. Sou Abrahams besluit om nie te vervolg nie, sal Gerrie Nel en sy span voortgaan om privaat vervolging in te stel.

Dieselfde geld vir die saak teen “adv.” Nomgcobo Jiba. AfriForum se privaat vervolgingseenheid het ook in hierdie geval met ’n proses begin om haar namens genl. Johan Booysen vir bedrog en meineed te vervolg, nadat die NVG besluit het om haar nie te vervolg nie. Die hoë hof het intussen beslis dat die besluit om haar nie te vervolg nie irrasioneel was en het dit ter syde gestel. Die NVG het nie hierteen appèl aangeteken nie. Abrahams of sy opvolger moet nou weer besluit of hy Jiba gaan vervolg, maar hy weet dat Gerrie Nel sélf sal vervolg as die NVG weer sou weier.

In die saak van korrupsie teen voormalige president Zuma het die howe ook die destydse besluit om hom nie te vervolg nie ter syde gestel. Ook in hierdie geval moet Abrahams of sy opvolger nou besluit of die NVG Zuma gaan vervolg of nie. Indien nie, is die weg gebaan vir Gerrie Nel om Zuma privaat te vervolg.

Wat die Guptas betref, het die verkrummeling van Zuma se magsbasis en openbare druk daartoe gelei dat die Valke en die SAPD uiteindelik met optrede teen hierdie staatskapers begin het. AfriForum se privaat vervolgingseenheid, wat ook sy visier op die Guptas het, sal hierdie optrede fyn dophou en indien nodig self toetree.

AfriForum se pogings om toe te sien dat Grace Mugabe ook haar dag in die hof kry, vorder ook goed. Die hofsaak wat AfriForum aanhangig gemaak het om die diplomatieke immuniteit wat die Suid-Afrikaanse regering onregmatig aan Mugabe gegee het ter syde te laat stel, word op 10 en 11 Mei in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor.

Benewens hierdie sake gaan Gerrie Nel in die komende maande nog verskeie sake aankondig waar ’n proses vir privaat vervolging ingestel gaan word. Daar is reeds hard gewerk om hierdie sake te ondersoek en voorbereidings te tref, sodat AfriForum ten volle voorbereid sal wees om die saak verder te voer wanneer die aankondigings gemaak word.

Natuurlik draai die wiel van geregtigheid nie altyd so vinnig soos wat ons almal graag sou wou hê nie. Mediadruk, die val van voormalige president Zuma, AfriForum se privaatvervolgingseenheid se harde werk en die pogings van ander burgerlike organisasies het alles meegedoen om te help toesien dat die wiel van geregtigheid wel aanhou draai. Die tafel is nou gedek om te help dat die wiel van geregtigheid vinniger begin draai.

Die huidige stand van sake is ’n pluimpie vir die krag van die burgerlike samelewing en die media, wat deurlopend gehelp het om korrupsie te onthul tot op die punt waar die ANC nie anders kon as om ’n leierskapverandering te ondergaan nie. Ek is veral dankbaar vir die steun van AfriForum se 206 000 lede, wat dit vir Gerrie Nel en sy span moontlik maak om voort te gaan om te doen wat nou gedoen moet word om Zuma en sy bondgenote tot verantwoording te roep.

Die verkiesing van ’n nuwe president in Zuma se plek is ’n positiewe wending. Dit sou egter dwaas wees om te dink dat die stryd teen korrupsie en staatskaping nou reeds gewen is. Daarom sal AfriForum, die media en ander burgerlike organisasies met vasberadenheid moet voortgaan om alles moontlik te doen om die stryd teen korrupsie voort te sit. AfriForum is gereed om juis dit te doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jo-Aan Janeke ·

Wie gee om oor die klein sake, as ons as n land of n nasie grond onteiening in die gesig staar! Kom ons begin meer fokus op die regte probleme!

Nicolaas ·

Kan jy nou regtig niks positief kwytraak nie? Baie mense ondersteun Afriforum. Wat doen jy om die land ‘n beter plek te maak??

Helena ·

Sal ons – deur AfriForum, ons kan beskerm teen onteiening, ons het duur betaal om in ons huise of op plase te bly nou kan die EFF en sy aanhangers net kom en jou goed vat waarheen gaan jy dan want as hulle jou huis va,t vat hulle jou meubels, kar en sommer al jou ander goed
Welkom in die “NUWE” Suid-Afrika

Johann ·

So Kallie. Wat se dit van jou strategie wanneer jy eers nadat daar vele vrae was oor die stand van sake, jy eers dit goed dink om te reageer? GEEN sprake van pro aktiewe inligting of kommunikasie nie? En ek staan soos vele ander by mt punt: jy jaag duiwels na wat min tot GEEN invloed op kritieke kwessies in die hede het nie. En dit gooi wat ook al jy dink jy gaan bereik in die buite land toe onder n wolk van irrelevantheid.

Joe Hall ·

Johann
Ek kan nie as ou Kallie se woordvoerder optree nie. Ken hom van g’n kant af nie.
Nietemin vermoed/aanvaar ek dat hy baie besig met konstruktiewe sake is, soos dit wil blyk uit die enkele voorbeelde wat hy aanhaal.

Ek hoop tog nie dat hy en sy helpers hul waardevolle tyd en energie gaan vermors met ‘pro-aktiewe inligting’ aan MM se lesers nie.

Wat my betref, moet hy/hulle gerus volstoom voortgaan met aksies en optredes om die ongeregtighede wat die regime teen ons minderheid pleeg, te beveg.

Dasietyt vir allerlei ‘wolke van irrelevante’ en ‘pro-aktiewe kommunikasie’ nie.

HEVW ·

Groot dankie aan Afri Forum. Ons kan nie maar net meegesleur en geplunder word deur kriminele nie, en onderhewig raak aan n uitwissende kondisioneringsproses nie . Op n wyse moet die krag van die burgerlike bevolking tot sy reg kom.

DelaRey ·

Dankie vir die terugvoering Kallie. Julle doen uitstekende werk. Doet so voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.