So werk private vervolgings

dr-llewellyn-curlewis

Dr. Llewellyn Curlewis, ‘n voormalige president van die Prokureursorde van Suid-Afrika. Foto: Morné Prinsloo.

Deur Dr. LG Curlewis

Die Strafproseswet verwys na twee soorte private vervolgings, ʼn private vervolging deur ʼn individu op die grondslag van ʼn sertifikaat van weiering om te vervolg en ʼn private vervolging ingevolge statutêre reg. Laasgenoemde is egter nie werklik ʼn private vervolging nie, want ʼn private statutêre vervolging betrek nie ʼn vervolging deur ʼn individu wat gegrief is deur die vervolgingsgesag se weiering om te vervolg nie.

Private vervolging ingevolge statutêre reg

ʼn Liggaam of persoon wat die statutêre reg het om iemand vir ʼn misdryf te vervolg, kan dit doen in ʼn hof wat jurisdiksie het, soos sommige munisipaliteite, ná oorleg met die betrokke direkteur van openbare vervolging en nadat die direkteur sy reg van vervolging teruggetrek het.

Private vervolging deur ʼn individu met ʼn sertifikaat van weiering om te vervolg

Private vervolgings spruit uit die beginsel dat ʼn gegriefde individu in sekere omstandighede ʼn private vervolging kan instel en behartig en dus in die plek van die staat optree as die staat weier om te vervolg. Die individu se reg om ʼn private vervolging in te stel, is as’t ware ʼn veiligheidsklep in die masjinerie van strafreg en in sekere mate ʼn vorm van indirekte beheer oor moontlike korrupsie en onbevoegdheid in die vervolgingsgesag.

Hoewel private vervolgings skaars is, is dit nodig. Dit is nie ʼn geïsoleerde geval van burgerlike deelname aan die strafregsplegingstelsel nie, soos wat private individue in sekere omstandighede ʼn plig het om ʼn polisieman by te staan in die uitvoering van ʼn arres of wanneer leke versoek word om as assessore in strafregtelike sake deel te neem.

Private vervolging verloop in alle opsigte net soos ʼn vervolging waarin die staat optree, wat beteken dat ʼn beskuldigde al die proseduele regte het en soos in ʼn openbare  vervolging, geregtig is op ʼn billike verhoor soos gewaarborg in die Grondwet.

Regsbevoegdheid van ʼn private aanklaer

In gevalle waar ʼn direkteur van openbare vervolging (DOV) geweier het om te vervolg, kan ʼn private persoon, wat ʼn wesenlike en besondere belang kan bewys weens die misdryf, ʼn eggenoot, indien die misdryf deur die ander eggenoot gepleeg is, ʼn eggenoot of kind, of naasbestaande van ʼn oorledene wie se dood na bewering deur die misdryf veroorsaak is of die wettige voog of kurator van ʼn minderjarige of kranksinnige ʼn vervolging instel en voortsit in ʼn hof wat regsbevoegdheid het.

ʼn Private aanklaer moet R3 500 inbetaal by die landdroshof in die gebied waar die beweerde misdryf gepleeg is as versekering dat hy die aanklag sonder onbehoorlike vertraging sal deurvoer. Dié landdroshof bepaal ook die bedrag wat ʼn beskuldigde moet inbetaal of deponeer as versekering vir die koste wat hy vir sy verdediging mag aangaan.

Koste van ʼn suksesvolle private vervolging

Die algemene reël is dat koste en uitgawes van ʼn private aanklaer deur die private aanklaer self betaal word, maar die hof kan gelas dat die skuldige persoon of die staat die koste en uitgawes van die vervolging betaal.

Koste van ʼn onsuksesvolle private vervolging

Indien die aanklag teen die beskuldigde afgewys word of die beskuldigde vrygespreek word of sy appèl slaag, kan die hof die private aanklaer gelas om die beskuldigde te vergoed vir sy koste. Indien die hof meen ʼn private vervolging is ongegrond en uit kwelsug ingestel, moet hy besluit om die beskuldigde te vergoed. Die hof kan egter besluit die aanklag is ter goeder trou ingestel en geen koste toeken nie.

Private vervolgings is inderdaad moontlik in Suid-Afrika. ʼn Burgerregte-organisasie, soos AfriForum of sy nuwe vervolgingseenheid, met adv. Gerrie Nel aan die stuur, sal weliswaar privaat persone kan bystaan indien hulle ʼn sertifikaat bekom het en AfriForum se regspan aanstel om namens hom as aanklaer op te tree. Die organisasie kan egter nie uit eie beweging doodeenvoudig strafregtelike regstappe begin nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Jane ·

EK LOVE DIT .. waar is prof Vos nou met sy snedige aanmerkings en negatiwiteit tov privaatvervolgings, ons was onder die indruk hy is so ‘n hoogsgeleerde man. Oops, lyk my jy kan ook jou kennis SELEKTIEF aanwend as jy dit binne ‘n sekere boksie wil laat pas. DANKIE vir die objektiewe artikel/meningstuk.

Nico K ·

Sal dit nie al klaar help as ons net bloot siviele eise teen kriminele instel nie. As iemand my skade berokken deur bv. bedrog, diefstel ens. en daardie persoon word deur die staat skuldig bevind, kry ek nie noodwendig my geld terug nie. Ons moet hierdie ouens laat betaal vir wat hulle doen. Bv. die betogers wat so skade aan universiteite aangerig het. Sit ‘n siviele eis teen hulle vir al daai skade.

Ek stem Nico ·

Dit klink vir my ook reg. Dit is nou wel nie ‘n kriminele saak nie, maar ‘n siviele saak en hoekom moet mense wegkom daarmee? Universiteite en skole word verniel en ek het nog nie van EEN student of leerder gehoor wat moet terugbetaal vir skade aangerig nie. Ek glo net in een ding, as jy nie wil hoor nie moet jy VOEL, en met voel bedoel ek nie geweld soos ander politieke partye mee dreig nie, ek bedoel jy moet dit aan jou SAK voel, dan sal jy volgende keer MOOI dink voordat jy weer ‘n klip optel.

Loeis ·

Julle is heeltemaal reg, maar siviele aksie kos geld. Dit is baie makliker as daar eers ‘n skuldigbevinding is, want dan weet jy dat ‘n hof reeds gese het wie ‘verkeerd’ was. As iemand dan siviele aksie neem, is dit net soveel makliker om daardie saak te wen.

Loeis ·

‘n Baie goeie uiteensetting.

As ek reg onthou, moet die Direkteur van Openbare Vervolgings ‘n sertifikaat uitreik alvorens ‘n private aanklaer kan vervolg. Die Direkteur (die man is ‘n vrind van ‘n bekende) kan dit egter ook weier, en dan sal dit ‘n hofaansoek kos om hom te dwing om dit te doen. Llewellyn, kan jy lg bevestig?

Ek sinspeel natuurlik op iets hierbo; hopelik sal die reg sy gang gaan.

John ·

Geen reg wat regverdig is moet iets kos nie. Dit is goddeloos!

Ockert de Bruyn ·

Ek voel dat die organiseerders van optogte in hulle personlike kapasiteit verantwoordelik gehou moet word vir enige skade wat tydens so ‘n optogte of saamtrek veroorsaak word.
As daar nie ‘n optog gereel was nie, sou daar nie skare gewees het wat hand uitruk geluk het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.