So word meerderheid se stemme uitgedoof

Terblanche Delport was een van die sprekers tydens die . Foto: De Wet Potgieter

Terblanche Delport was een van die sprekers tydens die . Foto: De Wet Potgieter

Deur Christoff van Wyk

Nadenke oor die debakel oor Afrikaner-identiteit

Ek kom laat aan by die apartheidstronk op Konstitusieheuwel. Vroeër net genoem “die Fort”, maar nou ʼn museum. Die gesprek oor “Re-imagining Afrikaner Identity” vind vandag hier plaas in die vroue-afdeling waar selfs Winnie Mandela aangehou is. Die stemme weergalm effens in die volgepropte deel van die tronk waar ronde tafels ingedruk is en die “kluisdeur” wat na die isolasie-sel lei, duidelik agter die sprekers se tafel uitstaan.

Almal is (gelukkig) laat en die geleentheid begin toe ek instap. Die verwelkoming, openingstoespraak en ʼn kort vraag-en-antwoord-sessie volg op mekaar. Daarna tee en toe kry die sprekers geleentheid om hulle standpunte te stel. Stadigaan kry ek die gevoel dat ek my spreekwoordelik in die leeukuil bevind. Oral om ons is tekens en herinneringe van pyn, lyding en smart en wie is verantwoordelik daarvoor? Die Afrikaner. Wie het met teologiese argumente en die mag van die NG Kerk mense oorreed dat apartheid reg en regverdig is? Die Afrikaner. Wie het basies al die grond in Suid-Afrika gesteel en nie die plaaslike gemeenskap ooit daarvoor vergoed nie? Die Afrikaner.

En as jy nog enigsins twyfel oor die boosheid van die Afrikaner, as jy enigsins twyfel oor of hy moet bestaan, kyk net om jou. Lees hier op hierdie bordjie hoe hulle swart vroue, onwettig in die isolasie-sel toegesluit het. Kyk hier wat moes die prisoniers dra. Lees hoeveel swart vroue dood is in die tronk. Nog voor Terblanche Delport met sy selfmoord- en uitsterf-praatjies begin het, was daar reeds een gedagte wat by my opgekom het. Hierdie is nie ʼn geleentheid om Afrikaner-identiteit te bespreek nie. Hierdie is eenvoudig ʼn prelude vir ʼn soort “Afrikaner-oplossing” in die linkse sprekers se ideale Nazi-Mzansi.

Dit sou maklik wees om op hierdie punt uit te stap en terug te keer na my “veilige” hawe van gesin, kerk en werk. Veilig, want hier word ek nie uitgedaag nie (behalwe deur vier kleuters, maar ek vorder al met hulle). Hier kom ek nie van aangesig tot aangesig in aanraking met radikale linkses en hul sieninge nie. Dis maklik om dit in die koerant te lees en ʼn vinnige uittreksel op die nuus te sien, en dan is dit verby.

Maar, ek het nie weggestap nie. Ek het gebly en geluister. Ek het gesoek na iets van waarde. Iets wat ek kon wegvat van hierdie geleentheid sodat ek nie ʼn hele dag gemors het om hierheen te kom nie. Gelukkig het ek dit wel gevind. Twee temas het opgeduik en hierdie twee aangeleenthede het dringend aandag nodig in ons nasionale bespreking.

Waardes en identiteit.

Waardes

In 2001 het 79,8% van die bevolking aangedui dat hulle aan die Christelike godsdiens aanhang en in 2013 het hierdie syfer gestyg tot 84,18%, ofte wel 44 602 155 van alle Suid-Afrikaners. Die mees onderliggende Christelike waarde is tog liefde. Liefde vir God en liefde vir jou naaste (ongeag velkleur of oortuiging). Waar was hierdie liefde verlede Donderdag op Konstitusieheuwel? Wat ek ervaar het, was haatgedrewe retoriek teenoor wit mense in Suid-Afrika en die Afrikaner spesifiek. ʼn Uitvloeisel van liefde is tog vergifnis. Is vergifnis een van die waardes wat hoogty vier in Suid-Afrika waar soveel mense bely hulle is Christene? Hoekom voel die huidige rasgebaseerde wetgewing wat steeds deur die staat nog verder uitgebrei word soos vergelding en straf? Wat word van respek? Ons het nie versoening nodig wat met ʼn groot kwas ons verskille wil toeverf in ʼn sogenaamde reënboognasie nie. Ons het wedersydse respek nodig. Wat word van eerlikheid? Suid-Afrika het die afgelope paar jaar konstant geval op Transparancy International se indeks van korrupsie in die land. Ek kan nóg aangaan oor waardes, maar die punt bly staan dat die meerderheid Suid-Afrikaners nie doen wat hul sê nie. Hulle eggo waardes wat nie uitgeleef word nie.

Daar is nóg ʼn Christelike waarde wat nou dringend na vore moet kom en dit is verantwoordelikheid. Waar is die self-verantwoordbaarheid wat nodig is om die blameer-kultuur te beëindig en iets daadwerkliks aan die situasie in Suid-Afrika te doen? Die politieke wil bestaan nie, en dit beteken dat gemeenskappe op grondvlak, ten spyte van die swak regering, verantwoordelikheid sal moet neem en weer moet begin (of dalk vir die eerste keer) om hul waardes waarlik uit te leef.

Identiteit

ʼn Jong Xhosa-meisie wat tans ʼn student aan die UP is en ook daar in ʼn koshuis woon het ʼn belangrike ding gesê. Sy het gesê as sy op ʼn Sondagaand terugkom by die koshuis en dan moet deelneem aan koshuisaktiwiteite wat nie deel is van haar kultuur nie, skend dit haar identiteit en voel sy asof daar indirek vir haar gesê word, jy kom van die berge af, bly stil. Ongeag of dit ʼn objektiewe siening van gebeure is, beklemtoon hierdie stelling haar gevoel van hoe haar identiteit en kultuur geskend word. Interessant genoeg neem wit jong mense wat ná 1994 gebore is met trots die titel op van “born-frees” terwyl swart jong mense, oor die algemeen, niks daarmee te doen wil hê nie. Vir die wit jong mense is dit ʼn soort manier om te sê “ons het regtig niks met apartheid te doen gehad nie”, en dis vir hulle belangrik om blaam wat so geredelik op hulle gepak word te probeer ontduik. Maar vir swart jong mense wat byvoorbeeld steeds in ʼn tweede taal van kleins af moet leer, wat dalk swakker vaar op skool en selfs uitval voor matriek en met swak werksvooruitsigte sit, beteken hierdie term net mooi niks nie. Hul identiteit word geskaad, nie deur rassisme of apartheid nie, maar deur onder meer die ontneming van moedertaalonderrig, geïmplementeer deur swak, radikale leiers wat dan hierdie identiteitskrisis kaap vir hul eie politieke doelwitte.

Terselfdertyd ontstaan daar ook onder Afrikaner-jong mense ʼn gevoel van identiteitloosheid, aangevuur deur geleenthede soos “Re-imagining Afrikaner Identity”. Jong Afrikaners begin wonder of daar steeds ʼn plek en ʼn toekoms vir hulle in hierdie land is? Hulle kry die idee dat hul hele herkoms opgesom kan word in een woord: apartheid. Dit is natuurlik nie waar nie en rig groot skade aan. Veral as hul ouers ook te kort skiet met antwoorde op vrae oor identiteit.

Snaaks genoeg, terwyl ek daar in die tronk gesit en luister het na verskillende standpunte, het ek hoop gekry vir Suid-Afrika. Want die deure van die tronk was nog oop. Daar is nog tyd om te keer dat die minderheid radikales die stem van die meerderheid uitdoof. Maar dít gaan verg dat ons luister, opstaan en doen waarin ons glo. Voordat die tronkdeure weer toeklap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dan ·

van Wyk jy loop wye draaie om jou self te streel, ons was ook in n tydperk uitgemoor verkrag en ons huise uitgebrand en vroue en kinders omgekom, en nou weer al die moorde op die blankes, hoekom loop julle met oogklappe op. Ander moet altyd bejammer word asof hulle niks verkeerd doen nie. Ons moet mekaar se foute insien

Loeis ·

Wie het die 1914 Landsact geskryf? ‘n Britse lord.
Wie het (ongeveer) 13 000 swartes in konsentrasiekampe laat sterf? Die Britse weermag.
Wie het selfs voor die Tweede Vryheidsoorlog vir Ghandi van ‘n trein in Natal gegooi? Die Britte.
Wie het die grondslag vir die gehate pasboek stelsel daar gestel? Die kolonialis en Boerehater, Milner.

Tog is dit polities korrek om skuld tot die Afrikaner te beperk, met vele Afrikaanssprekendes wie lustig daaraan meedoen. Iemand het op Praag die wens uitgespreek dat Delport Terblanche die voorbeeld stel en vir ons demonstreer hoe die samurai selfdood werk. Dit is lankal tyd dat die klomp selfveragtendes hul eie nood verlig.

In die taal van die werkliker ondrukker word dit “Good riddance” genoem.

Trolle ·

Jy moet verskriklikke haat he vir die afrikaner waar kom dit vandaan?Ek kan nie onthou wat ons so erg aan die engelse gedoen het nie,behalwe dat suid afrika die eerste land in die wereld gewees het waar onskuldige vrouens en kinders in konsentrasie kampe gesit was om van honger en elende om te kom.Wat gaan jy bereik om ou koeie uit die sloot te grawe wil ons dan nie vorentoe beweeg en verlede agter ons los nie.

Tom ·

Almal saam na die hiernamaals. Sag lê by ons voorouers. Waarheen sal ons vlug? Ek vlug nie meer nie. Ek sal rustig die ewigheid afwag.

Marius ·

Dankie vir ‘n goeie artikel. Die punt is dat die Afrikaner net so lank(in baie gevalle nog steeds) die Britte blammeer vir konsentrasiekampe en onregverdige vat van hulle grond. Moenie verwag dat apartheidswette en Afrikaner bevoorregting gou vergeet sal word nie. Ware versoening het nooit tussen Boer en Brit plaasgevind nie, want daar was skynbaar nie so baie ware Christene wat vergifnis gevra of gegee het nie. Dis die eintlike probleem en dis waarom die Heiland self gesê het baie sal sê Here, Here en hy sal sê: “gaan weg, ek ken julle nie” Ware gelowiges is eintlik baie minder as wat ons dink, en ons almal weet dit maar eintlik.

Marius ·

Dit lyk vir my of jy nie die artikel verstaan nie beertjie. Ek dink dis objektief en nugter sonder goedkoop sentiment geskryf. Ek rook niks nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.