Só word Suid-Afrika ge-Zumafiseer

President Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor die staatsrede Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

President Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor die staatsrede Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Daar is toenemende ooreenstemming dat die land in ʼn groeiende krisis inbeweeg, en dat  pres. Jacob Zuma deel van die probleem eerder as die oplossing is. Die tekens daarvan is orals te sien: van die internasionale verleentheid wat sy staatsrede geword het, tot die skandale wat deurlopend rondom staatsinstellings en hulle hoofde losbars.

Maar dit raak al duideliker dat daar onderliggend aan al hierdie gebeure, ʼn sinistere strategie ontvou, naamlik die Zumafikasie van die land. Maar wat behels hierdie strategie? Die Zumafisering van die land vind plaas deurdat mnr. Zuma al meer die land nie deur sy instellings soos die grondwet, parlement, kabinet en staatsdepartemente bestuur nie, maar deur ʼn persoonlike netwerk van bevoordeling en begunstiging. Hierdie netwerk van persoonlike ondersteuners word in sleutelposte oor die hele land ontplooi, en voer die president se eie agenda uit in ruil vir mag en geldelike gewin. So word die staat gaandeweg gekaap deur die letterlike koöptering van die hoofde van die staatsinstellings. Daarmee word voortgebou op die post-1994 verskynsel dat politieke poste die snelweg na persoonlike rykdom word.

Dis belangrik om te verstaan dat ʼn staat deur sy instellings werk en selfs daaruit bestaan. Die grondslag van die Zumafikasie van die staat is gelê deur die ANC se Staatsideologie van Transformasie. Dít het ten doel het om ANC-beheer oor alle hefbome van mag te verkry, soos ANC ideoloog Joël Netshitenzhe dit gestel het. Die proses is vergemaklik deurdat die ANC as party homself al meer as sinoniem met die “mense”, met die regering en met die staat gesien het. Die grense het al vinniger begin vervaag, en landsbelang en partybelang het heeltemal verweef begin raak. Terselfdertyd het die skeiding tussen die wetgewende, uitvoerende en regterlike bene van die staat al dowwer geraak en plek-plek totaal verdwyn. Daarna het mnr Zuma se binnekring hulself as die Party begin sien, gevolg deurdat mnr. Zuma homself as die Party, en sy eie belang gelyk aan Staatsbelang, begin sien het. Daarom was dit vir hom logies dat die staat vir hom ʼn woonkompleks van miljoene rande bou, ʼn eiland van luuksheid midde ʼn see van armoede. Hy ís dan die Mense, die Party, die Staat, die Stelsel.

Zumafikasie ketting

Die Zumafikasie ketting het gevolglik met transformasie begin, waarmee die party die beheer oor al die staatsinstellings oorgeneem het. Hierdie “demokratiese” beheer is verdiep met kaderontplooiing, wat gesorg het dat staatsinstellings verpolitiseer is om die party eerder as die land te dien. Die feit dat politiek eerder as kundigheid bepalend vir aanstellings was, het die doeltreffendheid van staatsinstellings en daarmee saam die staat as geheel ernstig begin verswak.

In die volgende stap het mnr. Zuma die staatsinstellings stelselmatig onder beheer van sy eie persoonlike netwerk geplaas, deur die politieke ruiltransaksie van wedersydse blinde lojaliteit, beskerming en geldelike begunstiging. Zumafikasie is nie ʼn nuwe verskynsel nie. Martin Meredith, bekende historikus en skrywer oor Afrika, meen dis die oorsprong van die “Groot Man” verskynsel in Afrika, waarvolgens talle presidente eintlik “demokratiese” diktatorskappe geword het.

Kaping van die staat

Die belangrikste metode van die Zumafisering van die staat gebeur deur die sleutel aanstellings wat die president ingevolgde die Grondwet maak, aangevul deur sy indirekte magte van aanstellings en invloed daarop. Dis ysingwekkend hoeveel staatsinstellings alreeds só deur Zumafikasie gekaap is. Ingevolge die Grondwet stel die president ministers aan, hoofde van nasionale staatsdepartemente, die hoofregter en ander regters in oorleg met die Regterlike Dienskommissie, die hoofde van die weermag, die polisie, die geheime dienste, dieh van openbare ondernemings soos die SAUK, Eskom en SAL, asook sleutelinstellings soos SAID en die goewerneur van die Reserwebank. Maar dis nie waar dit ophou nie. Hy stel ook die hoofde en lede van die artikel 9 grondwetlike instellings aan wat oor die grondwetlike demokrasie moet waak, onderhewig aan die aanbeveling en goedkeuring van die parlement. Met die 62% meerderheid van die ANC is dit ʼn formaliteit.

Hierdie is grondwetlike instellings soos die Openbare Beskermer, die ouditeur-generaal, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Menseregtekommissie en ander grondwetlike liggame. Waar onafhanklike denkers soos die Openbare Beskermer hom teengaan, word die instelling ondermyn deur sy fondse te sny. Daarbenewens het mnr. Zuma as ANC-leier met sy groot KwaZulu-Natalse meerderheid in die party, ʼn groot en selfs bepalende invloed in die aanwysing van provinsiale premiers, uitvoerende burgermeesters en ander invloedryke besluitnemers soos die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid (Valke). Kernpersone met persoonlike bande met mnr. Zuma word daarby ontplooi as ministeriële raadgewers in staatsdepartemente. So het mnr. Zuma sy mag om sleutelaanstellings te maak en of bepalend te beïnvloed ver buite die grense van die wet uitgebrei, en daarmee saam sy knelgreep op staatsinstellings en die hele staat.

Vasgesement

Hierdie kettingnetwerke van persoonlike regering en bevoordeling is stewig vasgesement deur die persoonlike voordele wat dit vir alle betrokkenes inhou, en die gepaardgaande persoonlike gevare as iemand dit sou waag om uit te breek. Die uiteinde van hierdie Zumafikasie is dat die staatsinstellings die belange van die Zuma-magsnetwerk dien, en nie dié van die land nie. Die logiese gevolg hiervan is dat korrupsie met staatstenders soos ʼn veldbrand versprei, en op sistemiese verrotting uitloop.

Groeiende weerstand

Die goeie nuus is dat daar ʼn groeiende weerstand besig is om teen hierdie Zumafikasie van die land op te bou. Dit kan gesien word in die toenemende kritiek deur meningsleiers regoor die spektrum soos joernaliste, politici, asook van die land se top sakelui, akademici en invloedryke buitelanders. Die onlangse spektakel in die parlement en die mediastorm wat dit ontketen het, het ook die ANC geskud. Dit kan aanvaar word dat die party se ringkoppe baie bekommerd is dat die EFF en DA se steun daardeur kan groei. Daarom kan verwag word dat die druk op die president gaan toeneem. Hierdie druk word aangehelp deurdat die Zumafisering die staat al meer verlam, wat tot ʼn groeiende woede en weerstand onder gewone ondersteuners van die ANC lei omdat hulle dorpe se dienste nie werk nie.

Suid-Afrika is ook baie ver van ʼn tipiese Afrika “hoofstadstaat” af, waar bykans alle belangrike gebeure en mense in die hoofstad saamgetrek is. Dis ʼn land met verspreide politieke-, ekonomiese-, etniese-, burgerlike-, geografiese en organisatoriese magsentrums, wat nie goedsmoeds permanent gekaap kan word nie. Dit is reeds duidelik dat daar ʼn sterk informele magsblok teen die Zumafikasie ontstaan, wat daagliks meer momentum kry. Daarby het die buiteland ʼn groot invloed op wat in die land aangaan, en is die president se skades en skandes al meer onder die internasionale soeklig. Daarom – teenstellend soos wat dit mag klink – gaan hierdie Zumafikasie met al die skade wat dit aan die land aanrig, uiteindelik tot sy eie ondergang lei.

 

Die vervanging van mnr. Zuma gaan die regeringsprobleem oplos, maar nog nie die dieper bedelingsprobleem nie. Die probleem is groter as mnr Zuma, en ʼn groter oplossing is nodig as net sy verwydering. Die Grondwet gee die president te veel magte, en die gewone meerderheidsbedeling is besig om tot meerderheidsoorheersing te lei. Mnr. Zuma is nie die alleenoorsaak van die krisis nie, maar die ernstigste gevolg daarvan. Die land word prakties ʼn eenpartystaat, met baie demokrasie maar al minder vryheid. Nietemin kan die vervanging van mnr. Zuma ʼn belangrike eerste stap wees om die land én die bedeling te verbeter.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

HEVW ·

Baie dankie Flip. Dit is in n baie verstaanbare taal weergee. Ek meen die zumafisering het nog ander faktore wat daartoe bydrae. Die invloed uit sekere geledere van die internasionale wereld kan nie geignoreer word nie. Kyk wie is sy vrinne anderkant die water. Hoe word hy daardeur bevoordeel, en in sy opsessie versterk. Sy leberaal – kommunistiese rugryers uit bekende geledere is ook olie op die vuur wat n batetjie en n possie verkry. Min wetende dat daar n uur sal kom dat hulle soos n uitgesuigde lemoen op n vuil straat sal beland.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.