Soedan en Omar al-Basjir

Omar al-Basjir. (Foto: ANA)

In Soedan vind tans geskiedkundige gebeure plaas met die staatsgreep teen langtermyndiktator Omar Hassan al-Basjir. Die staatsgreep het wel binne die bestaande magsorde plaasgevind, uitgevoer deur mense naby aan Basjir, maar die oorsaak was maandelange betogings teen die bewind. Die betogers is bly dat Basjir verwyder is, maar wil self ʼn leier kies en soek nie ʼn ander generaal of voormalige vertroueling van Basjir as sy opvolger nie. Die magshebbers het die vasbeslotenheid van die betogers onderskat en beloof dat hulle ʼn kandidaat van die opposisie sal aanvaar. So iets sou baie bemoedigend vir Afrika met sy geskiedenis van wrede langtermynleiers wees en merkwaardig vir ʼn land soos Soedan wat lanklaas enige ondervinding van burgerlike deelname gehad het.

Gebeure is tans besig om te ontvou en kan enige kant toe gaan. Wat wel seker is, is dat Basjir, wat sy land 30 jaar lank met ʼn ystervuis regeer het, iets van die verlede is. Of hy rustig in luukse ballingskap gaan aftree, aan die Internasionale Strafhof uitgelewer sal word, waar ʼn saak weens volksmoord teen hom aanhangig is, of in sy eie land tot rekenskap geroep sal word, is nog nie duidelik nie. Basjir is selfs in die konteks van Afrika ʼn besonder langdurige en besonder wrede diktator. Hy het self deur middel van ʼn staatsgreep in 1989 aan bewind gekom, in ʼn jaar waar elders orals diktatorskappe tot ʼn val gekom het.

Om Basjir en sy opkoms en bewind te verstaan, moet ʼn mens eers ʼn voëlvlug oor Soedan se geskiedenis gee. Soedan is ʼn geweldig uitgestrekte land – voor die afskeiding van Suid-Soedan was dit die grootste staat van Afrika. Dit was ʼn Britse kolonie en is vir lank uit Egipte, waar die Britte goed gevestig was, bestuur. Vir Brittanje was Soedan veral strategies belangrik omdat die Nylrivier deur die gebied vloei, omdat dit aan die Rooi See grens (belangrik vir die beheer oor die seeroete na Indië) en omdat dit ʼn skakel in die Britse doelwit van ʼn geslote koloniale ryk van Kaapstad tot Kaïro was. Ekonomies was die land veral belangrik as produsent van katoen langs die Nylrivier, maar andersins van min waarde. Die suidelike deel, gekenmerk deur die groot Sudd-moerasse, was feitlik ontoeganklik en van die laaste gebiede in Afrika wat ontdek is, terwyl die noordelike deel veral woestynagtig is.

Daardie geografiese verdeling val ook saam met ʼn etniese verdeling tussen die Moslem-Arabiere in die Noorde en die Nilotiese Christene of animiste in die Suide. Dit lê aan die wortel van die meeste interne oorloë van Soedan en die latere afskeiding van Suid-Soedan. Die wrede onderdrukking van die mense van die Suide (onder meer Darfoer, wat nie afgeskei het nie) is ʼn konstante in Soedan se meer onlangse geskiedenis, en Basjir veral het dit tydens sy lang Islamitiese bewind by uitstek gedoen.

Soedan se Islam-fundamentalisme strek terug tot in die koloniale era. In die 1880’s was die berugte Mahdi-opstand, wat die Britse gesag ernstig uitgedaag het. Mahdi was ʼn godsdienstige leier wat beweer het dat hy die Moslems se messias is. Hy het groot getalle aanhangers in Soedan versamel en op die hoofstad Khartoem gemarsjeer en die Britse goewerneur Charles Gordon vermoor. Eers generaal Kitchener (ook berug in Suid-Afrika) kon dit in 1898 regkry om die Mahdi-opstand te onderdruk en weer die orde te herstel.

Met die dekolonisasie was Soedan een van die eerste lande wat onafhanklikheid gekry het in 1956. Die verdere geskiedenis het onstuimig gebly. Reeds twee jaar later was daar ʼn militêre staatsgreep, kort daarna ʼn opstand in die Suide teen die onderdrukking deur die noordelike Moslems, en ʼn Islamitiese diktatorskap onder generaal Jafar Nimeiri wat van 1969 tot 1985 aan bewind was, het gevolg. Ná ʼn kortstondige oorgangsregering het die Islamities gemotiveerde staatsgreep van Basjir gevolg. Daarna het die land ook na buite toenemend aggressief geraak en hom vierkantig by internasionale Moslem-ekstremisme en -terrorisme geskaar (Osama bin Laden het byvoorbeeld in die 1990’s in Soedan geskuil). Verhoudinge met die buurlande Egipte en Ethiopië het ook verswak. Die ontginning van olie in die Suide het die bewind gestut.

Soedan het egter ná die 11 September-aanvalle en die wêreldwye veldtog teen Islam-terreur toenemend geïsoleerd geraak en het (ter wille van Basjir se politieke oorlewing) ʼn verstandhouding met die VSA gesoek. Op druk van die VSA is onderhandel vir selfbeskikking van Suid-Soedan, wat uiteindelik in 2011 afgeskei het (waardeur die land omtrent ʼn derde van sy oppervlak en 90% van sy oliebronne verloor het). Terselfdertyd het Basjir egter ʼn wrede volksmoord teen die swart mense van Darfoer van stapel gestuur en word deur die Internasionale Strafhof as oorlogsmisdadiger gesoek. Ten spyte van eksterne druk kon Basjir deur ʼn kombinasie van wreedheid en slim taktiek, ook teen potensiële teenstanders binne sy bewind, aan die mag vasklou. Ook verskeie proteste oor die ekonomiese toestande kon hy onderdruk. Die laaste reeks proteste, wat reeds verlede jaar begin het en net toegeneem het, het egter sy val beteken.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

En SA sal hom dan nou nooi om hier te kom bly? Sy tjommie sit mos reeds op Nkandla. Ek ons het mos al bewys dat ons hom nie sal uitlewer nie.
Welokm in SA, Mnr. Omar al-Basjir.

Trekarbeider ·

Ek werk en woon al die afgelope jaar hier in Sudan, aangesien bekwame, ervare wit mans nie meer welkom is in SA nie.

Na die sporadiese proteste in Desember 2018, het die protesteerdes na 6 April 2019 (‘n belangrike datum vir beide Sudan en Suid Afrika) hulle greep op die regering versterk deur die weermag HK en Omar al Bashir se paleis te omsingel en nie die knie te buig nie. Dit was nie maklik nie, aangesien Bashir se NISS bondgenote elke aand met skerppunt ammunisie op die betogers losgebrand het. Soveel so dat die weermag naderhand die betogers begin beskerm het. Hierde aksie van die weermag het die einde van Bashir se regering beteken.

Wat nog insiggewend was, is die manier waarop die betogers hul gedra. Geen verbranding or roof of enige wetteloosheid nie, hulle het deurentyd vreedsaam geprotesteer en omgegee vir mekaar. Daar was dag- en nagskofte, apteke en vragmotors met bloed indien iemand ‘n bloedoortapping sou benodig.

Ek hoop waarlik dat die gewone Sudanese mense hierdie juk nou vir eens en altyd kan afgooi, en ook dat betogers in SA kan sien mens hoef nie wetteloos op te tree om ‘n verskil te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.