Soedan: hoop op uiteindelike demokrasie?

Betogers naby die militêre hoofkwartiere in Kartoem, Soedan [9 April 2019]. (Foto: AP)


Soedan was vir dekades een van die slegs regeerde lande selfs in die konteks van Afrika: ’n brutale militêre diktator, Omar al-Basjir, wat verantwoordelik was vir afgryslike menseregteskendings, etniese geweld, ’n internasionale muishondstatus weens sy steun vir Islam-terrorisme, ’n ekonomie wat afhanklik is van enkele kommoditeite en wat deur ’n korrupte elite beheer word, te midde van armoede en hongersnood.

Soedan was die Zimbabwe van noordelike Afrika.

Heel onverwags het daar aan die einde van verlede jaar proteste teen die verhoging van die prys vir brood en brandstof tot algehele opstande gelei wat nie meer onderdruk kon word nie en wat tot die val van diktator al-Basjir in April vanjaar gelei het, nadat sy eie binnekring in die weermag hul steun onttrek het. Die mag is deur ’n militêre oorgangsraad oorgeneem. Anders as in talle ander gevalle in Afrika was die betogende bevolking egter nie tevrede om net ’n nuwe gesig te kry terwyl die stelsel voortbestaan nie (dit is wat in Zimbabwe gebeur het met die wisseling van Mugabe na Mnangagwa). Hulle het voortgegaan met hul betogings en besettings. Die militêre raad het egter die mag nie uit die hand gegee nie en aan die begin van Junie selfs probeer om die demokrasiebeweging bloedig te onderdruk. Die beweging het nie bes gegee nie, want dit het die bevolking en die internasionale gemeenskap agter hulle.

Ná volgehoue druk het die militêre leierskap toegegee en het die twee groepe ’n ooreenkoms bereik om die mag in ’n oorgangsregering te deel, wat die land oor drie jaar na vrye en regverdige verkiesings sal lei en op 1 September die leisels sal opneem. Die president van die oorgangsregering sal generaal Abdel Fattah al-Burhan wees wat tans die militêre oorgangsraad lei, die eerste minister, wat die burgerlike kant verteenwoordig, sal Abdalla Hamdok, ’n ekonoom, wees. Die ministersposte is feitlik gelykop verdeel tussen militêre en demokratiese kant, en ná die helfte van die oorgangstyd sal die presidentsamp aan ’n verteenwoordiger van die demokrasiebeweging oorhandig word.

Dit is merkwaardig dat die demokrasiebeweging ingestem het tot die lang oorgangstydperk van drie jaar, maar dit was juis ’n wyse besluit: sou daar ’n skielike verkiesing kom, onder die deurmekaar omstandighede wat tans heers, sou die generaals geleentheid hê om die uitslag in hul guns te beïnvloed en om met die seël van ’n verkiesing verder te regeer. Die staatsdiens is deurspek met aanstellings van al-Basjir en dit sal tyd neem om eers die strukture te demokratiseer. ’n Verkiesing is nie die begin van ’n demokratiseringsproses nie, maar die kroon daarvan.

Die ooreenkoms is ’n sukses, maar die groot toets kom in by die nakom daarvan. Volgehoue druk en internasionale monitering sal nodig wees sodat die militêre leiers nie weer terugval in die vuilspel uit al-Basjir se tyd nie.

Al-Basjir, die hoofskuldige aan Soedan se ellende van baie jare, word tans verhoor, al is dit net vir korrupsie en nie vir sy aandeel aan die volksmoord op die mense van die Suide en van Darfoer nie. Dat ’n voormalige president hoegenaamd aan die pen moet ry en nie iewers in ’n ander land in weelde kan aftree nie, is as sodanig  ʼn groot sukses en iets wat in Afrika ongelukkig nog veels te min gebeur. Indien al-Basjir vir al sy misdade verhoor gaan word, sal van sy eertydse ondersteuners binne die weermag, wat nou in magsposisies sit, noodgedwonge ook geïmpliseer word. Dalk is dit die rede hoekom besluit is om hom eerder slegs vir korrupsie te verhoor en nie die hele blik wurms oop te maak nie.

Soedan was eens die grootste staat van Afrika (oppervlakgewys) voor die afskeiding van Suid-Soedan in 2011. Dit is nog steeds ’n baie groot land met sowat 40 miljoen inwoners, hoofsaaklik van Arabiese afkoms en meestal Moslems (nadat die swart Christene en animiste in die Suide afgeskei het), maar daar is nog steeds groot minderhede soos die Darfoeriane. Dit is ’n tipiese koloniale skepping en het vir Brittanje beheer oor ’n deel van die Nylvallei en die Rooi See gegee. Die ekonomie is sterk afhanklik van die verbouing van katoen asook, meer onlangs, van die ontginning van olie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.