Soedan: hoop vir vrede in Darfoer?

Foto: (AP Photo)

Ná die val van die diktator Omar al-Basjir in Soedan in April verlede jaar het die kanse effens verbeter dat dié geteisterde land, wat sedert onafhanklikheid in 1956 nooit ʼn tyd van vrede geken het nie, uiteindelik en geleidelik in die regte rigting beweeg, al is dit teen ʼn slakkepas.

Daar het reeds ʼn paar bemoedigende dinge gebeur, wat veral in die konteks van Afrika eerder die uitsondering as die reël is:

  • Betogings teen prysverhogings en later teen die bewind, is nie – soos talle ander kere – wreed onderdruk nie.
  • Die weermag het teen hul eie leier gedraai, hom ontsetel en in huisarres geplaas en hy is selfs aangekla (wel vir korrupsie, nie vir sy erger wandade nie).
  • Die betogers was nie tevrede om die adjunkpresident as nuwe leier te aanvaar nie, maar wou seggenskap hê en het voortgegaan met die proteste. Dit is in kontras met Zimbabwe, waar een wrede leier (Mugabe) deur ’n ander een (Mnangagwa) vervang is en niks wesenlik verander het nie.
  • Ná aanvanklike pogings om die betogings bloedig te onderdruk, het die leierskap besef dat die mense nie hul hoop op vryheid en ʼn beter lewe weer sal laat vaar nie en het op dialoog en ʼn magsdelingsooreenkoms besluit.

Natuurlik is die kanse nog klein dat Soedan uiteindelik ʼn vreedsame, demokratiese en stabiele land sal raak. Die afskeiding van Suid-Soedan, wat vir dekades deur al-Basjir en sy voorgangers gruwelik onderdruk is, het ook nie veel gehelp om die twee dele vreedsamer te maak nie.

Suid-Soedan het nou sy eie burgeroorlog en Soedan het nog steeds sy etniese verdeeldheid. Soos in talle Afrika-lande lê die koloniale grense aan die wortel van talle probleme, alhoewel dit verkeerd sou wees om die blaam net op die geskiedenis te plaas. Talle voormalige kolonies kon stabiliseer en ontwikkel.

Die strukturele probleme van Soedan is ook kenmerkend van talle state in die Derde Wêreld: die mag is geografies in die hoofstad Khartoem gekonsentreer en in die hande van ʼn Arabiese, Islamitiese elite, wat feitlik almal offisiere is en uit die noorde van die land kom.

Een deel wat veral afgeskeep en selfs wreed onderdruk word, is die streek Darfoer in die Weste van die land. Daar woon swart saaiboere, wat in opdrag van al-Basjir, ʼn noordelike Arabier, deur wreedaardige berede veeherders, die sogenaamde Janjaweed-milisie, in ʼn orgie van geweld gedood of van hul grond verdryf is. Dit was etniese suiwering op sy ergste en het ook die aandag van die Verenigde Nasies getrek. Dit is deel van die rede hoekom al-Basjir deur die Internasionale Strafhof gesoek word.

Met die oorgangsregering wat nou die beheer oorgeneem het, is daar ’n kans dat ʼn vredesooreenkoms met Darfoer (wie se mense deur verskeie rebellegroepe verteenwoordig word) bereik word. Een probleem daarby is egter dat lede van die oorgangsregering self by die Janjaweed-aanvalle betrokke was oftewel dit beveel het. Na regte moet die volksmoordenaars, ten eerste al-Basjir self, veroordeel word.

Dit is egter onwaarskynlik, want die militêre leiers sal waarskynlik ’n amnestie eis as voorwaarde vir ʼn ooreenkoms. Die Darfoeriane het, behalwe vir die Internasionale Strafhof, min aan hulle kant. Die gevaar bestaan altyd dat die generaals, om hul greep op die mag te behou, etniese spannings aanhits om dit dan te onderdruk in die naam van “nasionale eenheid”.

Baie is nog om te doen en baie water sal nog met die Nyl afloop voor blywende vrede in Soedan bereik kan word, maar die kanse is darem aansienlik beter as in die verlede. Ná die slegte ondervinding met Suid-Soedan blyk onafhanklikheid vir Darfoer buite die kwessie te wees, maar outonomie moet in so ʼn uitgestrekte en etnies verdeelde land soos Soedan die aangewese pad wees.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Afrika blameer kolonialisme vir sy probleme, behalwe die een groot rede, naamlik koloniale grense. Hulle sal baklei tot al die bloed gevloei het om daardie (onlogiese) koloniale grense te behou.

Trekarbeider ·

Ek woon en werk in Soedan en was ook hier gedurende die proteste wat al Basjir tot ‘n val gebring het. Die probleem hier is dat die nuwe regering nog nie veel ,gedoen het om die gewone Soedanees se lewe te verbeter nie, aangesien 75% van die nasionale begroting steeds aan die weermag en sekuriteits departemente gaan. Totdat die nuwe regering daadwerklike verbetering gaan bring sal Soedan sukkel om te verander na ‘n demokratiese, moderne land (in elk geval dit bly Afrika). Dit sal ook baie help as die land sekulêr word, en afstaan van Sharia wette en Islamitiese regering.
Maar tenspyte van al die probleme, is die mense vriendelik, en hier is min tot geen misdaad – baie arm mense nieteenstaande. Baie veiliger as SA !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.