Soek ‘n nuwe republikeinse vuur

21 Maart 1960 – Sharpevilledag. Hierdie dag, 52 jaar gelede het die geskiedenis van Suid Afrika onherroeplik verander.

Op daardie stadium was Suid-Afrika op ’n mespunt. In die Afrikaner-wêreld  is gereed gemaak vir die 50 jarige herdenking van Uniewording en die republikeinse vuur het reeds sterk gebrand.

In die swart wêreld was daar egter onder stedelike swartmense ontevredenheid oor paswette en oor huur wat betaalbaar was op huisvesting  in die woongebiede rondom Suid-Afrika se groot stede. Sporadiese geweld het uitgebreek en revolusionêres het intimidasie-tegnieke gebruik om massadeelname aan die betogings te verkry.  Daar is bewyse dat die PAC intimidasie gebruik het om die skare te lok om te betoog, wat ingesluit het; die sny van telefoonlyne in Sharpeville, die distribusie van pamflette wat mense aangemoedig het om nie werk toe te gaan op hierdie dag nie en om busdrywers te intimideer.

‘n Groep van 5,000 – 7,000 saamgekom by die plaaslike polisiekantoor in Sharpeville. Daar was slegs 20 polisiemanne in die polisiekantoor.

Slegs twee maande tevore is 9 polisiemanne in soortgelyke omstandighede by die polisiekantoor in Cato Manor, Natal, vermoor nadat die polisiekantoor onder soortgelyke omstandighede deur ’n groot skare omsingel is.

Hierdie gebeure was nog vars in die geheue van die handvol polisiemanne in die stasie. Toe die skare begin klippe gooi na die handvol polisiemanne en hulle voertuie, het die polisiemanne begin skiet, sonder dat so bevel gegee is. 69 betogers is gedood.

’n Noodtoestand is afgekondig en meer as 10 000 aktiviste is landwyd deur die polisie in hegtenis geneem.  Op 8 April 1960 – slegs 19 dae na die tragedie by Sharpeville – is die ANC en die PAC verban en op 9 April 1960 is die destydse eerste-minister dr. Hendrik Verwoerd swaar gewond in ’n mislukte sluipmoordaanval deur David Pratt by die opening van die Randse Skou in Johannesburg.

Die aandelemarkte het geval, geld het uit die land gevloei en Suid-Afrika was op die rand van ’n afgrond. Deur harde werk, toewyding en doelgerigtheid het die destydse regering egter die stryd voortgesit. Suid-Afrika sou ’n jaar later ’n republiek word.

Tuislande sou toenemende outonomie verkry en die dekade wat gevolg het, was ’n tydperk van ongeëwenaarde ekonomiese groei in Suid-Afrika – die sogenaamde goue sestigs. In 1967 sou die slaagsyfer van swart matrieks die hoogste in die geskiedenis wees.

Dertig jaar later sou die regering van die dag egter swig onder soortgelyke – of selfs mindere – druk. Wat het dertig jaar later – in 1990 – ontbreek?

In 1960 was die Afrikaner regering van destyds besiel met ’n ideaal. Die republikeinse ideaal. Daardie ideaalbeeld of visie het die leiers van destyds in staat gestel om deur donker tye te stuur. Om die oog op die front te hou en om opbouend en doelgerig te werk aan ’n bedeling wat werklik vryheid vir almal in Suid-Afrika kon bring.

Waarskynlik kan die ontbrekende bestanddeel van dertig jaar later – 1990 – in een woord opgesom word: doelgerigtheid.

Doelgerigtheid kom vanself waar daar idealisme en visie is.

Vandag 52 jaar na die donker dae van 1960 verkeer die Afrikaner eweneens in ’n donker tyd. In hierdie donker tyd kan ’n nuwe republikeinse ideaal weereens aan Afrikaners die doelgerigtheid help gee wat nodig is om op te staan en vorentoe te gaan. Hierdie nuwe republikeinse ideaal behels dat Afrikaners instellings moet vestig, moet uitbou en suksesvol moet bedryf.

Deur suksesvolle en volhoubare Afrikanerinstellings kan Afrikaners hulleself weer vry werk.

Die stryd duur dus voort – die slag is dit ’n stryd na ’n nuwe republikeinse ideaal.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gemsbok ·

Beste Willie,

Die republikeinse strewe word onderlê deur die beginsel van selfverantwoordelikheid en die vermoë om inspraak te lewer in die prosesse wat jy met jou belastinggeld befonds. Die republikeinse ideaal is dus direk verbind met die beginsel van selfbeskikking.

Inus Aucamp, voormalige leier van die NP in die Vrystaat, skryf in sy doktorale proefskrif oor die laaste dekade van die NP as regerende party dat: “Die party (NP) het met groeiende desperaatheid onsuksesvol probeer om ‘n manier te vind om die sogenaamde reg van Afrikaners en wit Suid-Afrikaners tot selfbeskikking in hul eie land in stand te hou, en wel op ‘n manier waardeur ander Suid-Afrikaners se ewe legitieme eise vir volle politieke regte geakkomodeer kon word.” (Hy verwys na die tydperk tot en met PW Botha se leiding.)

Uit die verloop van die geskiedenis is dit duidelik dat die republikeinse strewe van Afrikaners bots met die belange van ander Suid-Afrikaners, omdat Afrikaners as spesifieke groep op al die lewensterreine in Suid-Afrika ‘n minderheid vorm waar die spesifieke belang gesien word om strydig te wees met die algemene belang (die spesifieke belang is nêrens gelyk aan die algemene belang nie).

Nou my vraag: Jy stel dat ons ‘n nuwe republikeinse ideaal benodig, maar hoe moet daardie ideaal lyk (veral hoe moet hy verskil van ons vorige republikeinse ideale) ten einde die konflikte van die verlede te vermy (wat ons reeds verloor het) en tog ‘n antwoord op ons huidige probleme te bied?

Louis du Plessis ·

Willie ~

WAAR IS DIE PLEK?

Veronderstel Afrikaners sál slegs oorleef in ‘n eie republiek. En veronderstel meeste Afrikaners ervaar die doelgerigtheid wat jy tereg bepleit, wáár gaan hulle die republikeinse ideal uitleef?

Met agting

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.