Soek redes vir voorspoed, nie armoede

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

As jy op die verkeerde plek soek, sal jy nooit kry waarna jy soek nie! Suid-Afrika is nog baie ver van oplossings vir armoede, want die ANC soek steeds op die verkeerde plek. Twee uitsprake van die afgelope week het my weer herinner hoekom die ANC se medisyne vir armoede dodeliker as die siekte is.

Die eerste kom van Sello Hatang, hoof van die Mandela-stigting. Hy het tydens ʼn webinaar van die departement van justisie gepraat ter viering van die ondertekening van die Grondwet en Internasionale Menseregtedag. Hatang het onder meer gesê die rede vir die voortslepende ongelykheid is dat die Grondwet misbruik word om die met mag se eiendom te beskerm in plaas dat die Grondwet gebruik moet word om eiendom te verdeel. Hy glo dat ʼn ekonomie wat op menseregte gebou is, nodig is om ʼn meer gelyke gemeenskap te bou wat Mandela en die grondwetskrywers se ideaal was.

Die tweede uitspraak was deur Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie. Hy glo “die land se ekonomie bly skeefgetrek omdat dit nie die demografie van die land weerspieël nie”. Hy glo dringende staatsingryping is nodig.

Herverdeling in plaas van groei

In kort, hierdie twee menere glo dat die vermindering van ongelykheid met herverdeling deur staatsmag belangriker is as die vermindering van armoede deur ekonomiese groei van die privaatsektor.

Kom ons ontleed hulle sosialistiese kodetaal en vertaal dit in gewone Afrikaans. Rapport berig die naweek dat Suid-Afrika se treindienste 160 jaar na die ontstaan daarvan besig is om dood te loop. Suid-Afrika se reuseafstande en Gauteng se ligging ver van die hawens af verg ʼn wêreldklas spoornetwerk om die land deel van die internasionale ekonomie te hou. Tog loop daar op die besigste roete vir vragvervoer – die roete tussen Johannesburg en Durban – agt keer minder treine as in die 1950’s! In Gauteng werk net 11% van passasierslyne, volgens ʼn verslag van die Brenthurst-stigting se David Williams. Dr. Joash Mageto, senior lektor in vervoer aan UJ, waarsku dat SA se spoornetwerk dieselfde afdraandepad as talle Afrikalande loop, maar wys dat Kenia dit reggeruk het deurdat die staat net die infrastruktuur verskaf, maar die bedryf aan die privaatsektor oorlaat. Getrou aan die ANC se regeerstyl leef hulle maar met die probleem saam eerder as om dit op te los. Want oplossings verg veranderings, nie ʼn verbete vasklou aan uitgediende onwerkbare idees soos staatsmonopolieë op spoorvervoer nie.

Die verval van Transnet is tekenend van die tragiese demodernisering van Suid-Afrika. Die ANC dekoloniseer alles Westers, behalwe natuurlik Engels en die koloniale grense van Suid-Afrika. Die wortel van die demodernisering en deïndustrialisering in die land lê in die uitgediende opvattings van Hatang, Bonakele en hulle regerende geesgenote. Die kern daarvan is dat die geskiedenis by hulle verbygegaan het. Hulle het niks uit die geskiedenis geleer nie, daarom moet almal wat wél daaruit geleer het onder hulle ideologie ly. Hulle maak veral vyf groot foute:

  1. Hulle sien die staat steeds as die broodwinner in plaas van die huishoudster.
  2. Hulle glo dat die gelykmaking van ongelykheid belangriker is as die oplossing van armoede. In kort, hulle dink die oplossing is om die “rykes” armer te maak, in plaas van om die armes ryker te maak.
  3. Hulle glo eerder aan staatsgedrewe herverdeling as privaatgedrewe ekonomiese groei.
  4. Hulle sien “gelykheid” as gelyk by die wenpaal, en nie ʼn gelyke wegspring nie. Hierdie gelyke uitkomste ingevolge die bevolkingsamestelling sal soos oral anders waar dit al probeer is tot die einde van vryheid én gelykheid lei.
  5. Hul verstaan nie dat herverdeling nie werk nie, omdat dit “vrugte” gee in plaas van “saad”. Herverdeling vat van werkendes en gee vir armes die vrug van ander se produksie. Armes bly dan altyd arm, want sosialiste leer hulle nie om self te produseer nie. Om armoede op te los, is “saad” nodig en opleiding oor hoe om ʼn boom te laat groei. As jy heeltyd net die vrugte van ander se bome vat, hou dit net tot dit opgeëet is.
  6. Linkses soek altyd oorsake vir armoede, in plaas van oorsake vir voorspoed. Die mensdom was vir duisende jare brandarm, tot ʼn groepie uitgevind het hoe om voorspoed te skep. Linkses kyk dus altyd in die truspieël, maar nooit deur die voorruit nie. Hulle vra nie “wat het ons verkeerd gedoen en wat moet ons nou reg doen” nie. Hulle vra “wie het dit aan ons gedoen en wat moet ons nou aan hulle doen”. Daarom vorder hulle nooit, blameer almal anders, en neem nie verantwoordelikheid nie. Die “ander” bly die probleem én die oplossing.
  7. Ekonomiese werklikhede bepaal dat ʼn groep se aandeel van die ekonomie bepaal word deur sy bydrae tot die ekonomie. Dis uiters belangrik om armoede op te los en ongelykheid te verminder. Die bewese suksesresep om dit te vermag, is om die armer groep se bydrae te verhoog deur goeie onderwys, werkende infrastruktuur, minder staatsinmenging, beskerming van eiendomsreg, en die handhawing van wet en orde.
  8. Hatang se misbruik van die Grondwet om gedwonge sosialistiese herverdeling deur die staat te bepleit, het oral waar dit gedoen is tot hongersnood en verdrukking gelei. ʼn Grondwet kan net werk as dit mense se vryhede beskerm, nie as dit “gelykheid” probeer afdwing nie.
  9. Sosialiste haat “kapitalisme”, maar is verslaaf aan die vrugte van kapitalisme, naamlik geld en (mooi) goed. Byna soos die kat in ʼn huis – kom hulle dan nie agter dat hulle totaal afhanklik is van die mense wat hulle verpes nie! Hulle hou van die verbruik, maar haat die produksie!
  10. Hulle wil nie erken dat die staatsideologie van transformasie misluk het nie. Dis nie vreemd nie, alle rewolusies het misluk. Die oplossing is veel eerder om te kyk na die Japanse Restourasie van 1868, in plaas van om te bly vashaak by die Russiese Rewolusie van 1917.

Linkses soos Hatang en Bonakele sal die geveg teen die geskiedenis verloor, soos almal voor hulle wat teen die werklikheid oorlog probeer maak het. Armoede, werkloosheid en hongersnood is mensgemaakte tragedies. Die geskiedenis van die mensdom het gewys dat armoede die “normale” toestand is as daar nie uit die lesse van voorspoed geleer word nie. Daardie selfde geskiedenis het bewys dat die vryemarkstelsels die enigste is wat die skeppende energie van die mensdom só sterk aanvuur dat dit miljarde mense uit armoede kan lig. Die sterkste krag agter ontwikkeling bly die vrye wil van mense om hulle eie omstandighede te verbeter.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Petrus Albertus ·

Uitstekende neutedop opsomming van die kompleksiteit van Suid-Afrika se huidige probleme! Welgedaan! Stem 100% saam!

Nici ·

Baie goed geskryf! Ek dink dat diegene wat kapitalisme haat, het diepgewortelde jaloesie vir diegene wat die vermoens het om suksesvol besigheid te bedryf en geld te maak. Karl Marx self het nie gewerk nie en sy ouers leeggesuig. Wanneer daar weggevat word by die mense wat skep is hongersnood die gevolg want die wat verniet kry het nie die vermoe om te skep nie.

Dries ·

Dr Dirk Herman en mnr Flip Buys is werklike Afrikaner leiers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.